Jesus se lewe en bediening
Sielsangs in die tuin
NADAT Jesus klaar gebid het, sing hy en sy 11 getroue apostels lofsange aan Jehovah. Dan kom hulle af uit die bovertrek, betree die koel duisternis van die nag en steek die dal Kidron oor op pad terug na Betanië. Maar langs die pad vertoef hulle eers by ’n geliefkoosde plekkie, die tuin van Getsemane. Dit is op die Olyfberg of in die omgewing daarvan geleë. Jesus het dikwels vantevore hier tussen die olyfbome met sy dissipels saamgekom.
Jesus laat agt van die apostels agter—moontlik naby die ingang van die tuin—en beveel hulle: “Sit hier onderwyl Ek daar gaan bid.” Toe neem hy die ander drie—Petrus, Jakobus en Johannes—en gaan ’n bietjie dieper in die tuin in. Jesus word bedroef en erg verontrus. “My siel is diep bedroef tot die dood toe”, sê hy vir hulle. “Bly hier en waak saam met My.”
Jesus gaan ’n bietjie verder, kniel neer en met sy aangesig teen die grond begin hy vurig bid: “My Vader, as dit moontlik is, laat hierdie beker by My verbygaan; nogtans nie soos Ek wil nie, maar soos U wil.” Wat bedoel hy? Waarom is hy “diep bedroef tot die dood toe”? Deins hy terug van sy besluit om te sterf en die losprys te voorsien?
Geensins nie! Jesus vra nie om die dood vry te spring nie. Selfs net die gedagte om ’n offerdood te vermy, soos Petrus eenkeer aan die hand gedoen het, is vir Jesus verfoeilik. Hy verkeer eerder in sielsangs omdat hy bevrees is dat die wyse waarop hy eerlank gaan sterf—as ’n veragtelike misdadiger—oneer op sy Vader se naam sal bring. Hy besef nou dat hy binne ’n paar uur aan ’n folterpaal genael gaan word as die slegste soort mens wat daar is—’n godslasteraar! Dít is wat hom so erg verontrus.
Nadat hy lank gebid het, kom Jesus terug en vind die apostels aan die slaap. Hy rig hom tot Petrus en sê: “So was julle dan nie in staat om een uur saam met My te waak nie? Waak en bid, dat julle nie in versoeking kom nie.” Hy besef egter dat hulle reeds groot spanning verduur het en dat dit al baie laat in die nag is; daarom sê hy: “Die gees is wel gewillig, maar die vlees is swak.”
Jesus gaan nou vir die tweede maal opsy en bid dat God “hierdie beker”, dit wil sê Jehovah se aangewese deel, of wil, vir hom, by hom moet laat verbygaan. Toe hy terugkom, vind hy weer die drie aan die slaap, terwyl hulle moes gebid het dat hulle nie in versoeking kom nie. Toe Jesus met hulle praat, weet hulle nie wat om hom te antwoord nie.
Dan gaan Jesus die derde en laaste maal van hulle af weg, omtrent so ver as ’n mens met ’n klip kan gooi, kniel neer en bid met sterk geroep en trane: “Vader, as U tog maar hierdie beker van my wil wegneem!” Jesus verduur groot smart weens die smaad wat sy dood as ’n misdadiger oor sy Vader se naam sal bring. Om as ’n godslasteraar beskuldig te word—iemand wat God vervloek—is vir hom feitlik ondraaglik!
Jesus bid nietemin verder: “Laat nogtans nie my wil nie, maar u wil geskied!” Jesus onderwerp hom gehoorsaam aan God se wil. Op hierdie tydstip verskyn ’n engel uit die hemel en versterk hom met bemoedigende woorde. Bes moontlik deel die engel Jesus mee dat hy sy Vader se goedkeuring wegdra.
Watter verantwoordelikheid rus daar nogtans op Jesus se skouers! Sy eie ewige lewe en dié van die ganse mensdom is op die spel. Die emosionele stres is geweldig. Daarom bid Jesus met nog groter inspanning, en sy sweet word soos bloeddruppels wat op die grond val. “Hoewel dit ’n baie seldsame verskynsel is”, sê The Journal of the American Medical Association, “kom bloedsweet . . . wel soms onder hoogs emosionele toestande voor.”
Daarna kom Jesus vir ’n derde keer by sy apostels en vind hulle weer eens aan die slaap. Hulle is uitgeput van skone droefheid. “Op ’n tyd soos hierdie slaap julle en rus julle!” sê hy verbaas. “Dit is genoeg! Die uur het gekom! Kyk! Die Seun van die mens word deur verraad in die hande van sondaars oorgelewer. Staan op, laat ons gaan. Kyk! My verraaier is naby.”—NW.
Terwyl hy nog spreek, kom Judas Iskariot daar aan, en saam met hom ’n groot menigte met fakkels en lampe en wapens in hulle hande. Mattheüs 26:30, 36-47; 16:21-23; Markus 14:26, 32-43; Lukas 22:39-47; Johannes 18:1-3; Hebreërs 5:7.
◆ Waarheen lei Jesus die apostels nadat hulle die bovertrek verlaat het, en wat doen hy daar?
◆ Wat doen die apostels onderwyl Jesus bid?
◆ Waarom verkeer Jesus in sielsangs, en wat vra hy van God?
◆ Wat word aangedui deur die feit dat Jesus se sweet soos bloeddruppels word?