Waarom geregtigheid najaag?
IN DIE gewelddadige wêreld voor die Vloed was een man opvallend anders. Daardie man was Noag. Hy en sy gesin het met God gewandel terwyl die res van die mensdom Hom geïgnoreer het. Gevolglik was ‘Noag ’n regverdige man’ in daardie goddelose tye, en hy het “’n prediker van geregtigheid” vir ongeërgde wêreldlinge geword.—Genesis 6:9; 2 Petrus 2:5.
Omstreeks 56 van ons Gewone Jaartelling was die apostel Paulus in die tronk in Cesarea. Toe hy uit die tronk laat haal is om voor goewerneur Felix te verskyn, het Paulus die geleentheid aangegryp om vir hierdie hooggeplaaste Romeinse amptenaar te preek. Wat was die kern van sy woorde? ‘Hy het gespreek oor geregtigheid en selfbeheersing en die toekomstige oordeel’ (Handelinge 24:25). Ja, Paulus was ook ’n prediker van geregtigheid.
Hierdie twee getroue knegte van God se belangstelling in geregtigheid was waarlik gepas. Jehovah is “’n regverdige en reddende God” (Jesaja 45:21). Daarom deel die geïnspireerde spreuk ons mee: “Die wandel van die goddelose is vir die HERE ’n gruwel, maar hom wat geregtigheid najaag, het Hy lief” (Spreuke 15:9). Al God se knegte moet geregtigheid najaag.
Ongelukkig het baie mense vandag ’n onverskillige gesindheid ten opsigte van hierdie eienskap. Hulle sê: ‘Ek doen my naaste geen leed aan nie; ek is dus seker dat ek God behaag.’ Of hulle sê dalk: ‘Daar is baie weë wat na geregtigheid lei. Alles sal in die haak wees solank ek opreg is oor my godsdiens.’ Dink jy so ’n slap gesindheid is vir God aanvaarbaar?
Sommige opper moontlik ’n ander geskil. Hulle is miskien bewus van Paulus se woorde: ‘Ons is uit die geloof geregverdig’ (Romeine 5:1). Met die oog hierop wonder hulle dalk: ‘Hoe moet Christene, wat reeds regverdig verklaar is, aanhou om geregtigheid na te jaag?’ Hoe sal jy so ’n vraag beantwoord?
’n God van geregtigheid
Volgens die woordeboek is geregtigheid sedelike juistheid, reg, harmonie met goddelike of sedewet. Aangesien Jehovah ’n God van geregtigheid is, moet almal wat hom wil behaag in hierdie noodsaaklike eienskap belangstel. “[Jehovah] is regverdig”, het die psalmis gesê. “Hy het geregtighede lief; die opregtes sal sy aangesig sien” (Psalm 11:7, vgl NW; Deuteronomium 32:4). Die apostel Petrus het gesê: “Die oë van die Here is op die regverdiges en sy ore tot hulle gebed.”—1 Petrus 3:12.
Ons kan dus nie, soos baie van die Jode, teenoor hierdie saak onverskillig staan nie. Baie van hulle was ongetwyfeld ordentlike mense wat hulle naaste geen leed aangedoen het nie. Hulle was ook opreg—selfs ywerig—wat hulle godsdiens betref. Maar in die eerste eeu was die meerderheid in God se oë nie regverdig nie. Paulus het gesê: “Ek getuig van hulle dat hulle ’n ywer vir God het, maar sonder kennis [“juiste kennis”, NW]. Want omdat hulle die geregtigheid van God nie ken nie en hulle eie geregtigheid probeer oprig, het hulle hul aan die geregtigheid van God nie onderwerp nie.”—Romeine 10:2, 3.
Waar het die Jode die pad byster geraak? Paulus sê dat hulle nie geregtigheid volgens juiste kennis nagejaag het nie. Hulle waarskuwende voorbeeld is vir ons ’n aanduiding dat dit nie genoeg is om net ’n aangename persoonlikheid te hê en nie kwaad te doen nie. Dit toon ook dat daar nie baie verskillende weë na geregtigheid is nie. Daar was uiteraard iets verkeerd met die weg wat die meeste Jode in die apostels se dag gekies het. Net as ons na God luister, kan ons geregtigheid met welslae najaag. Die boek Spreuke sê: “My seun, indien jy my woorde aanneem en my gebooie as ’n skat by jou weglê, . . . In daardie geval sal jy regverdigheid en reg en opregtheid begryp, die hele weg van wat goed is.”—Spreuke 2:1, 9, NW.
Die weg van geregtigheid
Van Moses tot by Jesus is geregtigheid gekoppel aan gehoorsaamheid aan God se gebooie soos dit in die Mosaïese Wet uiteengesit is. Aangesien die onvolmaakte Israeliete hierdie gebooie nie volkome kon nakom nie, moes hulle offerandes en soenoffers bring wat deur die Wet voorgeskryf is as versoening vir hulle skuld. Moses het die Israeliete meegedeel: “Dit sal geregtigheid vir ons wees as ons sorgvuldig al hierdie gebooie hou voor die aangesig van die HERE onse God soos Hy ons beveel het.”—Deuteronomium 6:25.
Baie eeue lank het niemand die Wet volmaak vervul nie. Nogtans het baie opreg probeer om geregtigheid deur middel daarvan na te jaag, en die Bybel noem party van hulle regverdig. Byvoorbeeld, die ouers van Johannes die Doper word beskryf as “regverdig voor God”, want hulle “het in al die gebooie en regte van die Here onberispelik gewandel”.—Lukas 1:6.
Jesus het egter ’n nuwe weg geopen om geregtigheid na te jaag. Hy het die Mosaïese Wet volmaak gehou—die enigste mens wat dit ooit kon doen. Jesus het aan die folterpaal gesterf, en Jehovah het die waarde van sy volmaakte lewe as ’n losprys vir die mensdom aanvaar. Sedertdien was offerandes onder die Wetsverbond nie meer nodig nie. Jesus se volmaakte offerande was ’n versoening vir die sondes van alle regskapenes.—Hebreërs 10:4, 12.
Ware Christene word regverdig verklaar
Sedert Jesus se dood en opstanding is regverdigheid dus gekoppel aan geloof in hierdie regverdige Seun van God (Johannes 3:16). Hoewel die ortodokse Jode van Paulus se dag nie geregtigheid verkry het nie omdat hulle juiste kennis van Jesus verwerp het, lees ons van getroue Christene: “Hulle word deur sy genade sonder verdienste geregverdig deur die verlossing wat in Christus Jesus is.”—Romeine 3:24.
In die konteks het hierdie woorde regstreeks betrekking op gesalfde Christene wat, vanweë hulle geloof in Jesus se offerande, regverdig verklaar word sodat hulle medeheersers saam met Christus in die hemelse Koninkryk kan wees. Soos die apostel Johannes in ’n gesig gesien het, het ’n groot menigte Christene met ’n aardse hoop egter vandag op die toneel verskyn. Hulle beoefen ook geloof in die losprys. Hulle ‘was hul klere en maak hul klere wit in die bloed van die Lam’ en word sodoende regverdig verklaar as vriende van God sodat hulle die groot verdrukking kan oorlewe.—Openbaring 7:9, 14; vergelyk Jakobus 2:21-26.
Hou aan om geregtigheid na te jaag
Let egter op dat ’n mens nie ophou om geregtigheid na te jaag wanneer jy geloof in Jesus stel nie. Timotheüs was baie jare lank al ’n toegewyde, gesalfde Christen toe Paulus die volgende woorde aan hom geskryf het: “Jaag ná die geregtigheid, godsaligheid, geloof, liefde, lydsaamheid, sagmoedigheid. Stry die goeie stryd van die geloof” (1 Timotheüs 6:11, 12; 2 Timotheüs 2:22). Waarom moes Timotheüs ‘geregtigheid najaag’ as God hom reeds regverdig verklaar het?
Omdat die woord “regverdig” ook in ’n algemener sin in die Bybel gebruik word wanneer dit praat van iemand wat ’n eerlike, sedelike lewe lei en sy bes doen om God se gebooie te gehoorsaam. Dit is in hierdie sin dat die ouers van Johannes die Doper regverdig was (Lukas 1:6). Jesus se pleegvader, Josef, en Josef van Arimathea was ook in hierdie sin regverdig (Mattheüs 1:19; Lukas 23:50). Die feit dat Christene regverdig verklaar is, onthef hulle nie van hul verantwoordelikheid om geregtigheid in hierdie sin na te jaag nie. Trouens, enige Christen wat ophou om ’n eerlike, sedelike lewe te lei of versuim om God se gebooie te gehoorsaam, sal sy regverdige posisie voor God verloor.
Die najaging van geregtigheid—’n uitdaging
Dit is ’n uitdaging om geregtigheid na te jaag. Waarom? Omdat ons almal onvolmaak is en ’n sterk neiging het om onregverdig te wees (Genesis 8:21; Romeine 7:21-23). Daarbenewens lewe ons in ’n wêreld wat onregverdige gedagtes en dade aanmoedig en onder die beheer van Satan die Duiwel, “die Bose”, is (1 Johannes 5:19; 2 Korinthiërs 4:4). Dit is geen wonder nie dat toe Paulus aan Timotheüs geskryf het hy die najaging van geregtigheid gekoppel het aan “die goeie stryd van die geloof”!—1 Timotheüs 6:11, 12.
Kan ons in hierdie “goeie stryd” sukses behaal? Ja, maar net as ons ’n hartgrondige liefde vir Jehovah se standaarde aankweek en die kwaad haat. Die Bybel sê van Jesus: “U het geregtigheid liefgehad en ongeregtigheid gehaat” (Hebreërs 1:9). Ons moet dieselfde gesindheid hê: ’n diep begeerte om ’n liefde vir die dinge wat God behaag en ’n afkeer van enigiets wat hom mishaag aan te kweek.
Terselfdertyd moet ons onthou dat die najaging van geregtigheid nie ’n kompetisie is nie. As ons dink dat ons beter as ander is, of as ons trots is op ons eie geregtigheid, dan is ons soos die Joodse Fariseërs (Mattheüs 6:1-4). Diegene wat geregtigheid met welslae najaag, het ’n opreg nederige beskouing van hulleself en ‘ag ander hoër as hulleself’.—Filippense 2:3.
Paulus het beklemtoon hoe belangrik Bybelstudie is om geregtigheid na te jaag toe hy geskryf het: “Die hele Skrif is deur God geïnspireer en is nuttig om te onderrig, tereg te wys, dinge reg te stel, te dissiplineer in regverdigheid” (2 Timotheüs 3:16, NW). As ons die Bybel bestudeer en Christenvergaderinge bywoon waar die Bybel bespreek word, sal ons in regverdigheid opgelei word. Die Bybel kan ons verander sodat ons ‘ons met die nuwe persoonlikheid beklee, wat in ware regverdigheid en lojaliteit geskep word’.—Efesiërs 4:24, NW.
Wanneer regverdigheid ’n integrerende deel van ons word, sal ons ongeregtigheid beslis haat. Ons sal nie in die versoeking kom om die slegte omgang van hierdie wêreld te soek nie (1 Korinthiërs 15:33). Ons sal nie beïnvloed word om die dinge van hierdie wêreld lief te hê of om ons na hierdie wêreld se materialistiese waardes te skik nie (Spreuke 16:8; 1 Timotheüs 6:9, 10; 1 Johannes 2:15-17). Ons sal beslis nie aangetrokke voel tot die onsedelike en gewelddadige vermaak wat vandag so algemeen beskikbaar is nie.—Efesiërs 5:3, 4.
Die seëninge van geregtigheid
Ja, dit is ’n uitdaging om Jehovah se regverdige weë na te jaag, maar die stryd is die moeite werd. Waarom? Omdat dit daartoe lei dat ons ’n persoonlike verhouding met Jehovah self geniet. Wat ’n wonderlike voorreg! Die Bybel deel ons mee: “[Jehovah] seën die woning van die regverdiges.” “Die HERE is ver van die goddelose, maar die gebed van die regverdiges hoor Hy” (Spreuke 3:33; 15:29). Daarbenewens kry ons ’n diep begrip van Jehovah se voornemens. “Die pad van die regverdiges is soos die lig van die môreglans, wat al helderder word tot die volle dag toe.”—Spreuke 4:18.
Die Bybel belowe beskerming vir soekers van geregtigheid wanneer hierdie onregverdige stelsel van dinge tot sy einde kom. “Soek die HERE, o alle ootmoediges van die land, wat sy ordening onderhou; soek geregtigheid, soek ootmoedigheid—miskien sal julle verborge bly op die dag van die toorn van die HERE” (Sefanja 2:3). Daarna belowe die Bybel vir diegene met ’n aardse hoop ’n waarlik wonderlike verwagting: “Die regverdiges sal die aarde besit en vir ewig daarop woon.”—Psalm 37:29.
Watter wonderlike redes om geregtigheid na te jaag! Soos God self sê: “Wie geregtigheid en weldadigheid najaag, sal die lewe, geregtigheid en eer vind.”—Spreuke 21:21.