Hardloop die wedloop met volharding
“Laat ons . . . met volharding die wedloop hardloop wat voor ons gestel word.”—HEBREËRS 12:1, NW.
1. (a) Wat word voor ons gestel wanneer ons ons aan Jehovah God toewy? (b) Op watter soort wedloop moet ’n Christen hom voorberei?
TOE ons ons deur Jesus Christus aan Jehovah toegewy het, het God in figuurlike sin ’n wedloop voor ons gestel. Aan die einde van die wedloop sal almal wat dit met welslae voltooi ’n prys kry. Watter prys? Die ewige lewe! Om hierdie skitterende prys te wen, moet die Christenhardloper, nie net op ’n kort, vinnige naelloop nie, maar op ’n langafstandwedloop voorberei wees. Hy sal dus volharding nodig hê. Hy sal die lang inspanning van die wedloop self, asook die hindernisse wat gedurende die wedloop voorkom, moet verduur.
2, 3. (a) Wat sal ons help om die Christelike wedloop te hardloop en te voltooi? (b) Hoe het vreugde Jesus gehelp om die wedloop met volharding te hardloop?
2 Wat sal ons help om so ’n wedloop te hardloop en dit te voltooi? Wel, wat het Jesus gehelp om te volhard terwyl hy ’n mens op die aarde was? Hy het innerlike krag geput uit die eienskap vreugde. Hebreërs 12:1-3 lui: “Daarom dan, omdat ons so ’n groot wolk van getuies rondom ons het, laat ons ook elke gewig en die sonde wat ons maklik verstrik, aflê en met volharding die wedloop hardloop wat voor ons gestel word, terwyl ons oplettend die oog gerig hou op die Vernaamste Bewerker en Volmaker van ons geloof, Jesus. Weens die vreugde wat vir hom in die vooruitsig gestel is, het hy ’n martelpaal verduur, skande verag, en het hy aan die regterhand van die troon van God gaan sit. Ja, let noukeurig op die een wat so ’n teëspraak van sondaars teen hulle eie belang in verduur het, sodat julle nie moeg word en in julle siele beswyk nie.”—NW.
3 Gedurende sy hele openbare bediening kon Jesus die wedloop aanhou hardloop as gevolg van die vreugde van Jehovah. (Vergelyk Nehemia 8:11.) Sy vreugde het hom gehelp om selfs ’n skandelike dood aan die folterpaal te verduur, waarna hy die onuitspreeklike vreugde ervaar het om uit die dood op te staan en na sy Vader se regterhand op te vaar om daar toe te sien dat God se werk voltooi word. Deur sy volharding as ’n mens aan God se kant het hy vasgehou aan sy reg op die ewige lewe. Ja, soos Lukas 21:19 sê: “Deur julle volharding moet julle jul lewe in besit kry.”
4. Watter soort voorbeeld het Jesus vir sy medehardlopers gestel, en waaraan moet ons bly dink?
4 Jesus Christus het die beste voorbeeld vir sy medehardlopers gestel, en sy voorbeeld verseker ons dat ons ook wenners kan wees (1 Petrus 2:21). Wat Jesus ons vra om te doen, kan ons doen. Soos hy volhard het, kan ons ook volhard. En terwyl ons hom standvastig navolg, moet ons altyd dink aan die redes waarom ons vreugdevol kan wees (Johannes 15:11, 20, 21). Vreugde sal ons versterk om aan te hou om die wedloop in Jehovah se diens te hardloop totdat ons die heerlike prys van die ewige lewe verkry.—Kolossense 1:10, 11.
5. Hoe kan ons vreugdevol wees en versterk word vir die wedloop voor ons?
5 Om ons te help om in die wedloop te volhard, gee Jehovah krag bo wat normaal is. Wanneer ons vervolg word, versterk daardie krag en die wete waarom ons die voorreg het om vervolg te word ons (2 Korinthiërs 4:7-9, vgl. NW). Enigiets wat ons deurmaak om God se naam te eer en sy soewereiniteit te verdedig, is ’n rede tot vreugde wat niemand van ons kan wegneem nie (Johannes 16:22). Dit verklaar waarom die apostels, nadat hulle op bevel van die Joodse Sanhedrin geslaan is omdat hulle getuig het van die wonderlike dinge wat Jehovah God in verband met Jesus gedoen het, bly was “dat hulle waardig geag was om vir sy Naam oneer te ly” (Handelinge 5:41, 42). Hulle vreugde was nie as gevolg van die vervolging self nie, maar as gevolg van die innerlike tevredenheid om te weet dat hulle Jehovah en Jesus behaag het.
6, 7. Waarom kan die Christenhardloper juig selfs terwyl hy verdrukking ly, en waartoe lei dit uiteindelik?
6 Nog ’n krag in ons lewe wat ons ondersteun, is die hoop wat God voor ons hou. Soos Paulus dit gestel het: “Laat ons . . . vrede geniet met God deur onse Here Jesus Christus, deur bemiddeling van wie ons ook deur geloof ons toegang verkry het tot hierdie onverdiende goedhartigheid waarin ons tans staan; en laat ons juig op grond van die hoop op die heerlikheid van God. En nie dit alleen nie, maar laat ons ook juig terwyl ons in verdrukking is, omdat ons weet dat verdrukking volharding voortbring, volharding vervolgens ’n goedgekeurde toestand, die goedgekeurde toestand vervolgens hoop, en die hoop lei nie tot teleurstelling nie.”—Romeine 5:1-5, NW.
7 Verdrukking is nie op sigself vreugdevol nie, maar die vreedsame vrugte wat dit agterna lewer, is wel. Hierdie vrugte is volharding, ’n goedgekeurde toestand, hoop en die verwesenliking van daardie hoop. As ons volhard, sal dit daartoe lei dat ons God se goedkeuring wegdra. As ons God se goedkeuring het, kan ons vol vertroue hoop op die verwesenliking van die beloftes wat hy gemaak het. Hierdie hoop hou ons op die regte weg en moedig ons aan tydens verdrukking totdat die hoop verwesenlik is.—2 Korinthiërs 4:16-18.
Gelukkig is diegene wat volhard!
8. Waarom is die tydperk waarin ons wag nie vir ons ’n verspilling van tyd nie?
8 Terwyl ons wag op die goddelik vasgestelde tyd wanneer die pryse aan die hardlopers uitgedeel word, ondergaan ons veranderinge. Dit is geestelike verbeterings in ons omdat ons beproewinge met welslae die hoof bied, en ons wen God se guns hierdeur. Die geestelike verbeterings bewys wat ons is en gee ons die geleentheid om dieselfde goeie eienskappe te beoefen wat die eertydse getroues, veral ons Voorbeeld, Jesus Christus, geopenbaar het. Die dissipel Jakobus sê: “Beskou dit alles as vreugde, my broers, wanneer julle velerlei beproewinge oorkom, omdat julle weet dat hierdie beproefde eienskap van julle geloof volharding bewerk. Maar laat die volharding sy werk voltooi, sodat julle volkome en in alle opsigte ongeskonde mag wees en in niks te kort skiet nie” (Jakobus 1:2-4, NW). Ja, ons kan verwag om velerlei beproewinge te hê, maar dit sal ons help om aan te hou om die regte eienskappe aan te kweek. Ons toon so dat ons in hierdie wedloop sal bly totdat die prys gewen is, ongeag watter hindernisse ons teëkom.
9, 10. (a) Waarom is diegene wat beproewinge verduur gelukkig, en hoe moet ons beproewinge verduur? (b) Wie was die gelukkiges in die ou tyd, en hoe kan ons onder hulle ingesluit word?
9 Dit is geen wonder nie dat Jakobus gesê het: “Gelukkig is die man wat aanhou om beproewing te verduur, want nadat hy goedgekeur is, sal hy die kroon van die lewe ontvang, wat Jehovah beloof het aan diegene wat aanhou om hom lief te hê”! (Jakobus 1:12, NW). Laat ons beproewinge altyd verduur, gewapen met die godvrugtige eienskappe wat ons sal versterk om dit die hoof te bied.—2 Petrus 1:5-8, vgl. NW.
10 Onthou, die manier waarop God met ons handel, is nie nuut of vreemd nie. Die getroue eertydse “wolk van getuies” is dienooreenkomstig behandel omdat hulle hulle trou aan God bewys het (Hebreërs 12:1). Dit is in God se Woord opgeteken dat hulle sy goedkeuring weggedra het, en ons beskou hulle almal gelukkig omdat hulle onder beproewing volhard het. Jakobus sê: “Broers, neem as voorbeelde van die verduring van kwaad en die beoefening van geduld die profete, wat in die naam van Jehovah gespreek het. Kyk! Ons verklaar diegene wat volhard het gelukkig. Julle het gehoor van die volharding van Job en het die uitslag gesien wat Jehovah gegee het, dat Jehovah baie teer in geneentheid en barmhartig is” (Jakobus 5:10, 11, NW). Daar is voorspel dat party gedurende hierdie kritieke laaste dae op die wêreldtoneel sou verskyn wat Jehovah met onkreukbaarheid sou dien, net soos daardie profete in die ou tyd gedoen het. Is ons nie bly dat ons dit kan doen nie?—Daniël 12:3; Openbaring 7:9.
Put krag uit Jehovah se bemoedigende Woord
11. Hoe kan God se Woord ons help om te volhard, en waarom moet ons nie soos die rotsagtige plekke van Jesus se gelykenis wees nie?
11 Paulus het op nog ’n hulpmiddel gewys om te volhard toe hy gesê het dat ons “deur geduldige volharding, en deur die bemoediging wat ons uit die Skrif put, kan vashou aan ons hoop” (Romeine 15:4, The Twentieth Century New Testament). Die waarheid, God se Woord, moet diep in ons gewortel wees sodat dit te alle tye die regte reaksie by ons kan uitlok. Ons vind geensins daarby baat as ons soos daardie rotsagtige grond is wat in Jesus se gelykenis van die saaier beskryf word nie: “Hulle by wie op rotsagtige plekke gesaai word—wat, as hulle die woord hoor, dit dadelik met blydskap aanneem, maar geen wortel in hulleself het nie; hulle is net vir ’n tyd. Later as daar verdrukking of vervolging kom ter wille van die woord, struikel hulle dadelik” (Markus 4:16, 17). Die waarheid van God se Woord raak nie diepgewortel in sulke mense nie; gevolglik kan hulle nie ten tyde van vervolging krag daaruit put as die ware bron van krag en hoop nie.
12. Hoe moet ons onsself nie mislei wanneer ons die goeie nuus aanvaar nie?
12 Enigiemand wat die goeie nuus van die Koninkryk aanvaar, moet homself nie mislei oor wat daarop volg nie. Hy aanvaar ’n leefwyse wat verdrukking of vervolging oor hom sal bring (2 Timotheüs 3:12). Maar hy moet dit “louter vreugde” ag dat hy die voorreg het om velerlei beproewinge deur te maak omdat hy vashou aan God se Woord en met ander daaroor praat.—Jakobus 1:2, 3, NW.
13. Hoe en waarom het Paulus hom verheug oor die Christene in Thessalonika?
13 In die eerste eeu het teenstanders in Thessalonika ’n oproer veroorsaak as gevolg van die prediking van Paulus. Toe Paulus na Berea gegaan het, het daardie vervolgers hom daarheen gevolg om meer kwaad te stook. Die apostel het aan daardie getroues wat in Thessalonika agtergebly het, geskryf: “Ons moet God altyd oor julle dank, broeders, soos dit billik is, omdat julle geloof grootliks toeneem en die wederkerige liefde van elkeen van julle almal groter word, sodat ons self in die gemeentes van God oor julle roem vanweë jul volharding en geloof onder al julle vervolginge en die verdrukkinge wat julle verduur—’n teken van die regverdige oordeel van God, dat julle die koninkryk van God waardig geag mag word, waarvoor julle ook ly” (2 Thessalonicense 1:3-5). Ten spyte van die lyding wat vyande oor hulle gebring het, het die Christelikheid en getalle van Christene in Thessalonika toegeneem. Hoe was dit moontlik? Omdat hulle krag geput het uit Jehovah se bemoedigende Woord. Hulle het die Here se opdragte gehoorsaam en die wedloop met volharding gehardloop.—2 Thessalonicense 2:13-17.
Vir die redding van ander
14. (a) Om watter redes bly ons vreugdevol in die bediening ondanks beproewinge? (b) Waarvoor bid ons, en waarom?
14 Ons verduur beproewinge en vervolging getrou en sonder om te kla hoofsaaklik ter wille van God se regverdiging. Maar daar is ’n ander onselfsugtige rede waarom ons ons aan sulke dinge onderwerp: om die Koninkryksnuus aan ander oor te dra, sodat meer verkondigers vir God se Koninkryk verwek kan word om “openbare bekendmaking tot redding” te doen (Romeine 10:10, NW). Diegene wat in God se diens werk, moet bid dat die Here van die oes hulle werk seën deur meer verkondigers van die Koninkryk te voorsien (Mattheüs 9:38). Paulus het aan Timotheüs geskryf: “Wat jy van my gehoor het onder baie getuies, vertrou dit toe aan getroue manne wat bekwaam sal wees om ook ander te leer. Ly dan verdrukking soos ’n goeie krygsman van Jesus Christus.”—2 Timotheüs 2:2, 3.
15. Waarom moet ons ons soos soldate en deelnemers “aan ’n wedstryd” gedra?
15 ’n Soldaat sonder hom af van die minder beperkte lewe van die niemilitêre burgerlike. Ons moet ons eweneens nie bemoei met die aangeleenthede van diegene wat nie in die Here se leër is nie, maar wat eintlik aan die vyand se kant is. Paulus het derhalwe verder aan Timotheüs geskryf: “Niemand wat ’n krygsman is, wikkel hom in die werksaamhede van die lewensonderhoud nie, sodat hy die een kan behaag wat hom vir die diens gewerf het. En verder, as iemand aan ’n wedstryd deelneem, word hy nie bekroon as hy nie volgens die reëls gewedywer het nie” (2 Timotheüs 2:4, 5). In hulle strewe na oorwinning in die wedloop om “die kroon van die lewe” moet hardlopers selfbeheersing beoefen en nuttelose gewigte en strikke vermy. Sodoende kan hulle hul daarop toelê om die goeie nuus van redding aan ander te bring.—Jakobus 1:12; vergelyk 1 Korinthiërs 9:24, 25.
16. Wat kan nie geboei word nie, en om wie se onthalwe volhard ons?
16 Omdat ons God en die skaapgeaarde mense wat hom soek, liefhet, verdra ons met vreugde baie sodat ons ander met die goeie nuus van redding kan bereik. Vyande boei ons dalk omdat ons God se Woord preek. Maar God se Woord kan nie geboei word nie, en daar is geen boeie wat ons kan verhinder om daaroor te praat tot redding van ander nie. Paulus het aan Timotheüs verduidelik waarom hy so gewillig was om beproewing deur te maak: “Onthou dat Jesus Christus, uit die geslag van Dawid, uit die dode opgewek is volgens my evangelie, waarin ek verdrukking ly tot die boeie toe soos ’n kwaaddoener; maar die woord van God is nie gebonde nie. Daarom verdra ek alles ter wille van die uitverkorenes, sodat hulle ook die verlossing wat in Christus Jesus is, kan verkry met die ewige heerlikheid” (2 Timotheüs 2:8-10). Vandag dink ons nie net aan die klein oorblyfsel van diegene wat in aanmerking kom vir die hemelse Koninkryk nie, maar ook aan die groot menigte ander skape van die Goeie Herder, Jesus Christus, die groot menigte wat die aardse Paradys onder Christus se Koninkryk beërwe.—Openbaring 7:9-17.
17. Waarom moet ons nie in die wedloop uitsak nie, en wat is die resultate as ons tot die einde toe met die wedloop volhou?
17 As ons tou-opgooiers was, sou ons nie onsself of enigiemand anders help om redding te verkry nie. Deur in die Christelike wedloop te volhard, ongeag die hindernisse wat ons teëkom, sorg ons dat ons voortdurend in aanmerking kom vir die prys en kan ons ander regstreeks help om redding te verkry, terwyl ons ’n goeie voorbeeld van krag vir ander is. Wat ons hoop ook al is, hemels of aards, Paulus se gesindheid om ‘die doel na te jaag om die prys te verkry’, is ’n goeie gesindheid wat ons kan navolg.—Filippense 3:14, 15.
Bly standvastig in die wedloop
18. Wat bepaal of ons die prys wen, maar wat moet ons vermy as ons tot die einde toe wil volhard?
18 As ons ons Christelike wedloop seëvierend tot regverdiging van Jehovah wil voltooi en die prys wil wen wat hy vir ons bewaar, moet ons die hele afstand van die wedloop standvastig aflê. Ons kan nie tot die einde toe volhard as ons ons belas met dinge wat nie geregtigheid bevorder nie. Selfs sonder sulke dinge is die vereistes steeds so veeleisend dat ons al die sielskrag wat ons bymekaar kan skraap, nodig het. Daarom vermaan Paulus ons: “Laat ons ook elke gewig en die sonde wat ons maklik verstrik, aflê en met volharding die wedloop hardloop wat voor ons gestel word” (Hebreërs 12:1, NW). Soos Jesus moet ons nie te veel klem lê op die lyding wat ons moet verduur nie, maar ons moet dit beskou as ’n geringe prys om te betaal vir die vreugdevolle beloning.—Vergelyk Romeine 8:18.
19. (a) Watter vertroue het Paulus naby die einde van sy lewe uitgespreek? (b) Watter vertroue moet ons in die beloofde beloning hê terwyl ons die wenpaal van die wedloop van volharding nader?
19 Paulus kon naby die einde van sy lewe sê: “Ek het die goeie stryd gestry; ek het die wedloop voleindig; ek het die geloof behou. Verder is vir my weggelê die kroon van die geregtigheid” (2 Timotheüs 4:7, 8). Ons is in hierdie wedloop van volharding om die prys van die ewige lewe te verkry. As ons ophou om te volhard net omdat die wedloop ietwat langer is as wat ons verwag het toe ons daarmee begin het, sal ons uitsak wanneer ons na aan die beloofde beloning is. Dit ly geen twyfel nie, die beloning is beslis daar.
20. Wat moet ons vaste voorneme wees totdat ons die wenpaal bereik het?
20 Mag ons oë dus nie moeg word om te waak sodat ons kan sien wanneer die groot verdrukking begin nie, eerstens deur die vernietiging van Babilon die Grote en dan die res van die Duiwel se organisasie (2 Petrus 3:11, 12). Mag ons, met die oog op al die duidelike tekens rondom ons, in geloof vorentoe kyk. Mag ons die lendene van ons volhardingskrag omgord, en mag ons ywerig voorthardloop in die wedloop wat Jehovah God voor ons gestel het, totdat ons die wenpaal bereik en die vreugdevolle prys verkry het, tot die regverdiging van Jehovah deur Jesus Christus.
Wat is jou antwoord?
◻ Op watter soort wedloop moet ’n Christen hom voorberei?
◻ Waarom is vreugde so belangrik om die wedloop te hardloop?
◻ Wat is die vernaamste redes waarom ons in die bediening bly ondanks beproewinge?
◻ Waarom moet ons nie uitsak in die wedloop wat God voor ons gestel het nie?
[Prent op bladsy 15]
Christene moet volhard asof hulle aan ’n langafstandwedloop deelneem
[Prent op bladsy 17]
Wanneer hulle “die kroon van die lewe” najaag, moet hardlopers selfbeheersing beoefen