‘Vermaan op grond van liefde’
IN ONGEVEER 60-61 G.J. het ’n wegloperslaaf Rome verlaat en ’n reis van 1 400 kilometer na sy tuiste in Kolosse begin, ’n stad in die suidwestelike deel van Klein-Asië. Hy het ’n handgeskrewe boodskap vir sy eienaar by hom gehad wat deur niemand anders nie as die apostel Paulus geskryf is. Vandag is daardie brief ’n deel van die Bybel, en dit is vernoem na die ontvanger daarvan, Filemon.
Die brief aan Filemon is ’n meesterstuk van taktvolle, oortuigende redenering. Maar nog belangriker, dit bevat ’n aantal praktiese lesse vir hedendaagse Christene, onder andere die waarde daarvan om mekaar op grond van Christelike liefde te vermaan. Kom ons ondersoek hierdie kort maar kragtige brief.
’n Wegloper keer terug
Filemon was ’n Christen, ’n geliefde lid van die gemeente in Kolosse (Filemon 4, 5). Die gemeente daar het selfs sy huis as ’n vergaderplek gebruik! (Vers 2). Daarbenewens het Filemon die apostel Paulus persoonlik geken; die moontlikheid bestaan dat die apostel hom gehelp het om ’n Christen te word. Paulus sê weliswaar dat hy nie persoonlik in Kolosse gepreek het nie (Kolossense 2:1). Maar hy het wel twee jaar in Efese deurgebring en sy prediking was so uitgebreid dat “al die inwoners van Asië [wat Kolosse ingesluit het] die woord van die Here Jesus gehoor het” (Handelinge 19:10). Filemon was waarskynlik onder diegene wat aan sy boodskap gehoor gegee het.
In elk geval, soos baie welgestelde mans van daardie tydperk was Filemon ’n slawe-eienaar. In die ou tyd was slawerny nie altyd iets vernederends nie. Dit was aanvaarbaar onder die Jode dat mense hulleself of hulle gesinslede as slawe verkoop het om skuld af te betaal (Levitikus 25:39, 40). The International Standard Bible Encyclopedia lewer kommentaar oor die Romeinse tydperk: “Groot getalle mense het hulleself om verskeie redes as slawe verkoop, veral om ’n makliker en veiliger lewe te kan lei as dié van ’n arm, vrygebore mens, asook om spesiale werk te kry en om in hoër sosiale kringe te kan beweeg. . . . Baie nie-Romeine het hulleself aan Romeinse burgers verkoop met die grondige verwagting, iets wat sorgvuldig deur die Romeinse wet bepaal is, dat hulle Romeinse burgers sou word wanneer hulle vrygestel word.”
Daar het egter ’n probleem ontstaan toe een van Filemon se slawe, ’n man genaamd Onesimus, weggeloop en na Rome toe gevlug het en moontlik selfs geld by Filemon gesteel het sodat hy kon vlug (Vers 18). In Rome het Onesimus met Paulus, wat ’n gevangene daar was, in aanraking gekom.
Die slaaf wat ‘vroeër nutteloos was’ en wat uit slawerny gevlug het, het nou ’n Christen geword. Hy het hom tot Paulus se beskikking gestel en nuttige dienste gelewer aan die apostel wat in die gevangenis was. Dit is geen wonder dat Onesimus ’n plek in Paulus se “eie hart” gevind en “’n geliefde broeder” vir Paulus geword het nie!—Verse 11, 12, 16.
Die apostel Paulus sou graag wou hê dat Onesimus by hom moes bly, maar Filemon het wetlike regte as Onesimus se eienaar gehad. Onesimus was dus verplig om na die diens van sy wettige eienaar terug te keer. Maar hoe sou Filemon hom ontvang? Sou hy kwaad aandring op sy reg om hom swaar te straf? Sou hy die opregtheid betwis van Onesimus se bewering dat hy ’n mede-Christen is?
Los probleme in liefde op
Paulus is beweeg om aan Filemon oor Onesimus te skryf. Hy het die brief self geskryf en het nie soos gewoonlik ’n sekretaris gebruik nie (Vers 19). Neem ’n paar minute om die hele brief aan Filemon te lees. Jy sal opmerk dat Paulus, nadat hy homself voorgestel en Filemon en sy huis ‘genade en vrede’ toegewens het, Filemon vir ‘sy liefde en geloof met betrekking tot die Here Jesus en al die heiliges’ geprys het.—Verse 1-7.
Paulus kon maklik sy gesag as apostel gebruik het en ‘Filemon beveel het om te doen wat reg is’, maar pleks daarvan het Paulus ‘op grond van liefde vermaan’ (NW). Hy het die feit bevestig dat Onesimus wel ’n Christenbroer geword het, een wat bewys het dat hy nuttig vir Paulus is. Die apostel het erken: “Ek wou hom [Onesimus] by my hou, sodat hy my in die boeie van die evangelie in jou plek kan dien. Maar”, sê Paulus voorts, “sonder jou goedkeuring wou ek niks doen nie, sodat jou goedheid nie uit dwang sou wees nie, maar uit vrye keuse.”—Verse 8-14.
Die apostel het Filemon dus aangespoor om sy vroeëre slaaf as ’n broer terug te aanvaar. “Neem hom aan net soos vir my”, het Paulus geskryf. Dit het nie beteken dat Onesimus noodwendig vrygestel sou word van sy diens nie. Paulus het nie probeer om die destydse samelewing te verander nie. (Vergelyk Efesiërs 6:9; Kolossense 4:1; 1 Timotheüs 6:2.) Nietemin, die verhouding tussen slaaf en meester sou ongetwyfeld getemper word deur die Christenband wat nou tussen Onesimus en Filemon bestaan het. Filemon sou Onesimus as “méér as ’n slaaf, as ’n geliefde broeder”, beskou.—Verse 15-17.
Maar wat van die skulde wat Onesimus moontlik aangegaan het, miskien as gevolg van diefstal? Paulus het weer op grond van sy vriendskap met Filemon gevra: “As hy jou benadeel het of iets skuld, sit dit op my rekening.” Paulus het die vertroue uitgespreek dat Filemon vergewensgesind sou wees en meer sou doen as dit wat Paulus gevra het. Aangesien Paulus gehoop het dat hy spoedig vrygelaat sou word, het hy selfs gereël om in die nabye toekoms van Filemon se gasvryheid gebruik te maak. Nadat Paulus nog groete oorgedra het en Filemon “die genade van onse Here Jesus Christus” toegewens het, het hy sy brief afgesluit.—Verse 18-25.
Lesse vir hedendaagse Christene
Die boek Filemon is ryk aan praktiese lesse vir hedendaagse Christene. Vir eers herinner dit ons daaraan hoe belangrik dit is om vergewensgesind te wees, selfs wanneer ’n medegelowige ons ernstig veronreg het. “As julle die mense hulle oortredinge vergewe”, het Jesus Christus gesê, “sal julle hemelse Vader julle ook vergewe.”—Mattheüs 6:14.
Diegene wat vandag gesagsposisies in die Christengemeente beklee, kan veral baat vind by die boek Filemon. Dit is opmerklik dat Paulus nie sy gesag as apostel gebruik het om Filemon te beveel om te doen wat reg is nie. Paulus het boonop ook nie geëis dat Onesimus toegelaat moes word om in Rome in Paulus se diens te bly nie. Paulus het die eiendomsreg van ander gerespekteer. Hy het ook besef dat ’n outoritêre benadering moontlik tot gehoorgewing sou lei, maar dit sou beter wees as Filemon se hart hom daartoe sou beweeg. Ten einde ’n hartgrondige reaksie te ontlok het hy ’n beroep op grond van liefde gedoen.
Hedendaagse Christen- ouere manne moet dus nooit “heersers oor die erfdeel” wees deur hulle mag te misbruik of deur op ’n ongevoelige, outoritêre wyse teenoor die kudde op te tree nie (1 Petrus 5:1-3). Jesus het gesê: “Julle weet dat die owerstes van die nasies oor hulle heers en die groot manne oor hulle gesag uitoefen; maar só moet dit onder julle nie wees nie” (Mattheüs 20:25, 26). Opsieners vind oor die algemeen dat lede van die kudde baie beter reageer op liefdevolle versoeke as op bevele. Diegene wat aan depressie ly, waardeer opsieners wat vriendelik tyd opsy sal sit om na hulle probleme te luister en hulle verstandige raad te gee.
Paulus se brief herinner ouere manne verder daaraan hoe waardevol lof en takt is. Hy begin deur Filemon te prys omdat hy “die harte van die heiliges verkwik” het (Vers 7). Hierdie opregte lof het Filemon ongetwyfeld meer ontvanklik gemaak. Vandag kan raad dikwels ook versag word met opregte, hartlike lof. En sulke raad moenie kortaf of taktloos gegee word nie, maar moet ruimhartig “met sout besprinkel” wees sodat dit aangenamer is vir die luisteraar.—Kolossense 4:6.
Die apostel Paulus het voorts die vertroue uitgespreek dat Filemon die regte ding sou doen deur te sê: “In vertroue op jou gehoorsaamheid het ek aan jou geskrywe, omdat ek weet dat jy nog meer sal doen as wat ek sê” (Vers 21). Ouere manne, spreek julle dieselfde vertroue in julle mede-Christene uit? Help dit hulle nie om te doen wat reg is nie?
Ouers vind interessant genoeg dikwels dat dit ’n goeie uitwerking het as hulle vertroue in hulle kinders uitspreek. As ouers die waarde van gewillige gehoorsaamheid besef—’n begeerte om meer te doen as om net aan vereistes te voldoen—kan hulle hulle kinders meer waardig laat voel. Ouers se opdragte of versoeke moet, wanneer moontlik, met ’n vriendelike, liefdevolle stemtoon gedoen word. Toon empatie en verskaf redes. Ouers moet hulle kinders opreg prys wanneer hulle dit verdien en moet dit vermy om te krities teenoor hulle te wees, veral in die openbaar.
Daarbenewens kan mans die eienskappe van redelikheid en vriendelikheid aan die dag lê en gou wees om hulle vrouens te prys. Dit maak dit vir die vrou ’n plesier en ’n bron van verfrissing en vreugde om onderdanig te wees!—Spreuke 31:28; Efesiërs 5:28.
Daar word nie gesê presies hoe Filemon op Paulus se brief gereageer het nie. Maar ons kan nie dink dat Paulus se vertroue in hom misplaas was nie. Mag Christen- ouere manne, ouers en mans vandag eweneens suksesvol wees in hulle optrede teenoor ander, nie deur dwang of bevele nie, maar deur te ‘vermaan op grond van liefde’.
[Prente op bladsy 23]
Pleks van sy gesag as apostel te gebruik, het Paulus Filemon op grond van Christelike liefde vermaan