Ware geluk in Jehovah se diens
“Welgeluksalig is hy wat die God van Jakob het as sy hulp, wie se hoop is op die HERE sy God.”—PSALM 146:5.
1, 2. Wat is al gesê omtrent die definisie van geluk, en wat beteken geluk vandag vir baie mense?
WAT is geluk? Leksikograwe, filosowe en teoloë probeer al eeue lank om dit te definieer. Maar hulle kon nog nie met ’n definisie vorendag kom wat almal tevrede stel nie. Die Encyclopædia Britannica gee toe: “‘Geluk’ is een van die moeilikste woorde om te omskryf.” Na gelang van hulle lewensbeskouing beteken geluk blykbaar verskillende dinge vir verskillende mense.
2 Vir baie mense hang geluk af van gesondheid, materiële besittings en aangename geselskap. Tog is daar mense wat al daardie dinge het maar wat ongelukkig is. Vir manne en vroue wat aan Jehovah God toegewy is, voorsien die Bybel ’n siening van geluk wat totaal van die algemene beskouing verskil.
’n Ander beskouing van geluk
3, 4. (a) Wie is volgens Jesus gelukkig? (b) Wat kan gesê word van die faktore vir geluk wat deur Jesus gemeld is?
3 Jesus het nie in sy Bergpredikasie gesê dat geluk afhang van dinge soos goeie gesondheid, materiële besittings en dies meer nie. Hy het wel gesê dat diegene wat “bewus is van hulle geestelike behoefte” en wat “honger en dors na geregtigheid” waarlik gelukkig is. Jesus se skynbaar teenstrydige stelling: “Gelukkig is die wat treur, want hulle sal vertroos word”, hou verband met hierdie twee dinge wat nodig is vir ware geluk (Mattheüs 5:3-6, NW). Dit spreek vanself dat Jesus nie gesê het dat mense outomaties gelukkig sal wees as hulle ’n geliefde verloor het nie. Hy het eerder gepraat van diegene wat hulle sondige toestand en die gevolge daarvan beween.
4 Die apostel Paulus het gepraat van die menslike skepping wat sug onder die sonde in die hoop dat dit “vrygemaak sal word van die slawerny van die verganklikheid” (Romeine 8:21, 22). Mense wat Jehovah se voorsiening vir die versoening van sondes deur Christus se losprys aanneem en wat God se wil doen, word waarlik vertroos en vind ware geluk (Romeine 4:6-8). In die Bergpredikasie het Jesus ook gesê dat “die sagaardiges”, “die barmhartiges” en “die vredeliewendes” gelukkig is. Hy het die versekering gegee dat sulke sagaardiges nie hulle geluk sal verloor nie al word hulle vervolg (Mattheüs 5:5-11, NW). Dit is interessant om daarop te let dat sulke verhewe faktore vir geluk die rykes en die armes op gelyke voet plaas.
Die grondslag vir ware geluk
5. Wat is die grondslag vir die geluk wat deur God se toegewyde knegte geniet word?
5 Die bron van ware geluk word nie in materiële besittings gevind nie. Die wyse koning Salomo het gesê: “Die seën van Jehovah—dit maak ryk, en hy voeg daar geen smart by nie” (Spreuke 10:22, NW). Vir skepsele wat Jehovah se universele soewereiniteit erken, hou geluk onafskeidelik verband met God se seën. Die toegewyde persoon wat Jehovah se seën op hom of haar geniet en ervaar, is waarlik gelukkig. Vanuit ’n Bybelse oogpunt beskou, behels geluk ’n gevoel van voldaanheid, tevredenheid en vervulling in Jehovah se diens.
6. Wat word van Jehovah se volk verwag indien hulle waarlik gelukkig wil wees?
6 Ware geluk hang af van ’n regte verhouding met Jehovah. Die grondslag vir ware geluk is liefde vir God en getrouheid aan hom. Jehovah se toegewyde knegte stem van ganser harte saam met die apostel Paulus se woorde: “Niemand van ons leef vir homself nie . . . Ons lewe tot eer van die Here . . . Ons behoort aan die Here” (Romeine 14:7, 8). Daarom kan ware geluk net gevind word as ’n mens gehoorsaam aan Jehovah is en jy jou met vreugde aan sy wil onderwerp. Jesus het gesê: “Salig is hulle wat die woord van God hoor en dit bewaar.”—Lukas 11:28.
Veranderlike faktore wat tot geluk lei
7, 8. (a) Hoe kan faktore wat geluk bring, geklassifiseer word? (b) Wat kan gesê word van die huwelik en van vrugbaarheid?
7 Die voorgaande faktore vir geluk kan beskou word as “basiese” of “onveranderlike” faktore, want hulle geld te alle tye vir Jehovah se toegewyde knegte. Daarbenewens is daar faktore wat as veranderlikes beskou kan word, faktore wat op ’n bepaalde tydstip geluk kan bring, maar wat op ander tye min of geen geluk bring nie. Tydens die patriargale en voor-Christelike tydperk is die huwelik en vrugbaarheid as onontbeerlik vir geluk beskou. Dit word weerspieël in Ragel se aangrypende beroep op Jakob: “Gee vir my kinders of anders sterf ek” (Genesis 30:1). Hierdie gesindheid ten opsigte van vrugbaarheid het Jehovah se voorneme vir daardie tydperk gedien.—Genesis 13:14-16; 22:17.
8 Onder Jehovah se eertydse volk is die huwelik en vrugbaarheid as godgegewe seëninge beskou. Gedurende rampspoedige tye in hulle geskiedenis is hierdie en ander omstandighede egter met ellende geassossieer. (Vergelyk Psalms 127, 128 met Jeremia 6:12; 11:22; Klaagliedere 2:19; 4:4, 5.) Dit blyk dus duidelik dat die huwelik en vrugbaarheid nie permanente faktore vir geluk is nie.
Geluk buite die huwelik in die verlede
9. Waarom is Jefta se dogter jaarliks lof toegeswaai?
9 Talle van God se getroue knegte het ware geluk buite die huwelik gevind. Uit eerbied vir haar vader se eed het Jefta se dogter ongetroud gebly. Sy en haar vriendinne het haar maagdelikheid ’n tyd lank beween. Maar watter vreugde het sy tog nie geniet om voltyds by Jehovah se huis te dien nie, moontlik onder “die diensdoende vroue wat by die ingang van die tent van samekoms gedien het”! (Exodus 38:8). Hiervoor is sy jaarliks lof toegeswaai.—Rigters 11:37-40.
10. Wat het Jehovah van Jeremia vereis, en lyk dit asof hy as gevolg daarvan ’n ongelukkige lewe gelei het?
10 Vanweë die dramatiese tye waarin die profeet Jeremia gelewe het, het God van hom vereis om nie te trou en kinders te hê nie (Jeremia 16:1-4). Maar Jeremia het deur ondervinding geleer hoe waar die woorde van God is: “Geseënd is die man wat op die HERE vertrou, en wie se vertroue die HERE is” (Jeremia 17:7). Deur die meer as 40 jaar van sy profetiese diens heen het Jeremia God getrou in sy ongehude staat gedien. So ver ons weet, het hy nooit getrou of enige kinders gehad nie. Maar wie kan vir ’n oomblik twyfel dat Jeremia gelukkig was, net soos die getroue Joodse oorblyfsel wat ‘sal straal oor die goedheid van Jehovah’?—Jeremia 31:12, NW.
11. Noem ’n paar skriftuurlike voorbeelde van getroue knegte van Jehovah wat gelukkig was hoewel hulle nie ’n huweliksmaat gehad het nie.
11 Baie ander mense het Jehovah vreugdevol sonder ’n huweliksmaat gedien. Hulle was ongetroud, weduwees of wewenaars. Onder hulle was die profetes Anna; moontlik Dorkas, of Tabita; die apostel Paulus en die grootste voorbeeld van almal—Jesus Christus.
Ook vandag ongetroud maar gelukkig
12. Waarvoor het party van Jehovah se hedendaagse gelukkige, toegewyde knegte plek gemaak, en waarom?
12 Duisende toegewyde Getuies van Jehovah dien God vandag getrou sonder ’n huweliksmaat. Van hulle kon gehoor gee aan Jesus se uitnodiging: “Wie daarvoor kan plek maak [die gawe om ongetroud te bly], laat hom daarvoor plek maak.” Hulle het dit gedoen “ter wille van die koninkryk van die hemele” (Mattheüs 19:11, 12, NW). Dit wil sê, hulle het hulle godgegewe vryheid goed gebruik deur meer tyd en krag aan die diens van Koninkryksbelange te bestee. Baie van hulle dien as pioniers, as sendelinge of as lede van die Bethelgesin by die Wagtoringgenootskap se wêreldhoofkwartier of by een van sy takkantore.
13. Watter voorbeelde toon dat ’n Christen ongetroud en tog gelukkig kan wees?
13 Een dierbare bejaarde suster het haar lewensverhaal onder die veelseggende opskrif “Ongetroud en gelukkig as ’n pionier” geskryf (Die Wagtoring, 1 Mei 1985, bladsye 23-6). ’n Ander ongetroude suster wat toe al meer as 50 jaar lank in Bethel gedien het, het gesê: “Ek is ten volle tevrede met my lewe en my werk. Ek is nou besiger as ooit tevore in ’n werk wat ek innig liefhet. Ek is nie spyt daaroor nie. As ek dit weer moes doen, sou ek dieselfde besluit geneem het.”—Die Wagtoring, 1 September 1982, bladsy 16.
14, 15. (a) Wat is volgens die apostel Paulus nodig as iemand ongetroud wil bly? (b) Waarom sê Paulus dat die ongetroude persoon “beter” doen en “gelukkiger” is?
14 Let op daardie woord “besluit”. Paulus het geskryf: “Indien iemand vasstaan in sy hart, en geen noodsaak het nie, maar gesag oor sy eie wil het en hierdie besluit in sy hart geneem het, om sy eie maagdelikheid te bewaar, sal hy goed doen. Gevolglik doen die een wat sy maagdelikheid in die huwelik uitgee goed, maar die een wat dit nie in die huwelik uitgee nie, sal beter doen” (1 Korinthiërs 7:37, 38, NW). Waarom “beter”? Paulus het verduidelik: “Ek wil hê julle moet vry wees van sorge. Die ongetroude man is besorg oor die dinge van die Here, aan hoe hy die Here kan behaag. . . . Verder is die ongetroude vrou, en ook die maagd, besorg oor die dinge van die Here . . . Ek sê dit egter tot julle eie voordeel, . . . om julle te beweeg tot wat welvoeglik is en voortdurende diens aan die Here beteken, sonder om afgelei te word.”—1 Korinthiërs 7:32-35, NW.
15 Is daar ’n verband tussen geluk en “voortdurende diens aan die Here”, met die oog daarop om ‘die Here te behaag’ “sonder om afgelei te word”? Paulus het klaarblyklik so gedink. Toe hy van Christenweduwees gepraat het, het hy gesê: “Sy [is] vry om te trou met wie sy wil, maar net in die Here. Sy is egter gelukkiger as sy so bly, volgens my gevoele. En ek meen dat ek ook die Gees van God het.”—1 Korinthiërs 7:39, 40.
Voordele van die ongetroude lewe
16. Wat is sommige van die voordele wat deur ongetroude Getuies van Jehovah geniet kan word?
16 Die ongetroude lewe bring baie persoonlike voordele mee, hetsy ’n Christen uit eie keuse ongetroud is of deur omstandighede daartoe gedwonge is. Ongetroudes het gewoonlik meer tyd om God se Woord te bestudeer en daaroor te peins. As hulle hierdie situasie benut, word hulle geestelikheid verryk. Omdat hulle geen huweliksmaat het na wie toe hulle met hulle probleme kan gaan nie, leer baie om meer op Jehovah te steun en sy leiding in alles te soek (Psalm 37:5). Dit bring ’n hegter verhouding met Jehovah mee.
17, 18. (a) Watter geleenthede vir ’n groter bedieningsveld kan ongetroude knegte van Jehovah geniet? (b) Hoe het party ongetroude knegte van Jehovah hulle geluk beskryf?
17 Ongetroude Christene het ook geleenthede om ’n groter bedieningsveld tot Jehovah se lof te betree. Die spesiale opleiding wat nou by die Bedieningsopleidingskool voorsien word, is beperk tot ongetroude broers of wewenaars. Ongetroude susters is ook vryer om voorregte in God se diens na te streef. Die bejaarde suster na wie daar vroeër verwys is, het aangebied om in ’n Afrikaland te gaan dien op ’n tydstip toe sy, om haar eie woorde aan te haal, “’n tingerige vrou van oor die 50” was. En sy het daar aangebly, selfs gedurende die verbod op die werk toe al die sendelinge uit die land gesit is. Sy dien nog steeds daar as ’n pionier, hoewel sy nou oor die 80 is. Is sy gelukkig? In haar lewensverhaal het sy geskryf: “Ek het eerder die ekstra vryheid en beweeglikheid van die ongetroude lewe gebruik om besig te bly in die bediening, en dit verskaf my groot geluk. . . . My verhouding met Jehovah het oor die jare heen verdiep. As ’n ongetroude vrou in ’n Afrikaland het ek hom as ’n Beskermer leer ken.”
18 Die woorde van ’n broer wat dekades lank by die hoofkwartier van die Wagtoringgenootskap gewerk het, is ook noemenswaardig. Hy was gelukkig al is hy nooit getroud nie en al het hy ’n hemelse hoop gehad met geen vooruitsig om te trou nie. Op die ouderdom van 79 het hy geskryf: “Ek vra ons dierbare hemelse Vader elke dag in gebed om hulp en wysheid sodat ek myself geestelik sowel as liggaamlik gesond en sterk kan hou sodat ek kan aanhou om sy heilige wil te doen. Ek het waarlik gedurende hierdie afgelope nege-en-veertig jaar in Jehovah se diens ’n gelukkige, lonende en geseënde lewe geniet. En met Jehovah se onverdiende goedheid sien ek uit daarna om my diens tot sy eer en heerlikheid en tot die seën van sy volk voort te sit. . . . [Die] vreugde van Jehovah help my om aan te hou om die goeie stryd van die geloof te stry, terwyl ek uitsien na die dag wanneer Jehovah se vyande nie meer sal bestaan nie en wanneer die hele aarde gevul sal wees met sy heerlikheid.”—Numeri 14:21; Nehemia 8:10; The Watchtower, 15 November 1968, bladsye 699-702.
Waarop berus ware geluk?
19. Waarvan sal ons geluk altyd afhang?
19 Ons kosbare verhouding met Jehovah, sy goedkeuring en sy seën—hierdie is die faktore wat ons tot in alle ewigheid gelukkig sal maak. Met hierdie gepaste beskouing oor wat ware geluk bring, besef selfs getroude knegte van Jehovah dat hulle huwelik nie die belangrikste ding in hulle lewe is nie. Hulle slaan ag op die apostel Paulus se raad: “Maar dit sê ek, broeders, die tyd is kort; van nou af moet ook die wat vroue het, wees asof hulle nie het nie” (1 Korinthiërs 7:29). Dit beteken nie dat hulle hulle vrouens verwaarloos nie. Ryp Christenmans, asook hulle godvrugtige, liefdevolle en ondersteunende vrouens, stel Jehovah se diens eerste, terwyl party selfs voltyds as metgeselle van hulle mans dien.—Spreuke 31:10-12, 28; Mattheüs 6:33.
20. Watter gepaste gesindheid het baie getroude Christene ten opsigte van hulle huweliksvoorregte?
20 Getroude broers wat as reisende opsieners dien, Bethelvrywilligers, gemeentelike ouere manne—trouens, alle getroude Christene wat Koninkryksbelange eerste stel—gebruik nie ‘hierdie wêreld ten volle’ nie; hulle streef daarna om hulle huweliksvoorregte by hulle toegewyde lewe van diens aan Jehovah in te skakel (1 Korinthiërs 7:31). Hulle is nogtans gelukkig. Waarom? Omdat die oorheersende rede vir hulle geluk nie hulle huwelik is nie, maar hulle diens aan Jehovah. En baie getroue mans en vrouens—ja, en hulle kinders ook—verkies dit so.
21, 22. (a) Wat behoort ons op grond van Jeremia 9:23, 24 gelukkig te maak? (b) Watter faktore vir geluk word in Spreuke 3:13-18 gemeld?
21 Die profeet Jeremia het geskryf: “So sê die HERE: Laat die wyse hom nie beroem op sy wysheid nie, en laat die sterke hom nie beroem op sy sterkte nie, laat die ryke hom nie beroem op sy rykdom nie; maar laat hy wat wil roem, hom hierop beroem dat hy verstaan en My ken, dat Ek die HERE is wat goedertierenheid, reg en geregtigheid op die aarde doen; want in dié dinge het Ek ’n behae, spreek die HERE.”—Jeremia 9:23, 24.
22 Hetsy ons getroud of ongetroud is, ons grootste bron van geluk behoort ons kennis te wees van Jehovah en die oortuiging dat ons sy seën geniet omdat ons sy wil doen. Ons is ook gelukkig omdat ons verstaan wat waarlik van belang is, ja, die dinge waarin Jehovah behae skep. Koning Salomo, wat talle kere getrou het, het nie die huwelik as die enigste sleutel tot geluk beskou nie. Hy het gesê: “Gelukkig die mens wat wysheid gevind het, en die mens wat verstand verkry; want die verkryging daarvan is beter as die van silwer, en die verwerwing daarvan beter as van goud; dit is kosteliker as korale, en al jou kleinode kan daar nie mee vergelyk word nie. In sy regterhand is lengte van dae, in sy linkerhand rykdom en eer; sy weë is lieflike weë, en al sy paaie is vrede. Dit is ’n lewensboom vir die wat dit aangryp, en elkeen wat dit vashou, is gelukkig.”—Spreuke 3:13-18.
23, 24. Waarom kan ons seker wees dat al Jehovah se getroue knegte altyd gelukkig sal wees in die nuwe stelsel van dinge?
23 Mag dié van ons wat getroud is ewige vreugde smaak in die uitvoering van God se wil. En mag ons dierbare broers en susters wat uit eie keuse ongetroud is of deur omstandighede daartoe gedwonge is, volhard in al hulle beproewinge en geluk en tevredenheid in Jehovah se diens vind, sowel nou as tot in ewigheid (Lukas 18:29, 30; 2 Petrus 3:11-13). In God se komende stelsel van dinge sal “boekrolle” geopen word (Openbaring 20:12, NW). Hulle sal opwindende nuwe gebooie en voorskrifte bevat wat tot die geluk van die gehoorsame mensdom sal bydra.
24 Ons kan beslis vol vertroue wees dat ons “gelukkige God” wonderlike goeie dinge vir ons in die vooruitsig stel, dinge wat volmaakte geluk vir ons sal inhou (1 Timotheüs 1:11). God sal aanhou om ‘sy hand oop te maak en alles wat lewe met welbehae te versadig’ (Psalm 145:16). Geen wonder dat daar altyd ware geluk in Jehovah se diens is en sal wees nie.
Hoe sal jy antwoord?
◻ Wat is die grondslag vir die geluk wat Jehovah se toegewyde knegte geniet?
◻ Wie was party van Jehovah se gelukkige, ongetroude knegte in Bybelse tye?
◻ Waarom het Paulus die ongetroude lewe aanbeveel, en hoe het party Christene gevind dat dit ’n gelukkige lewe is?
◻ Waarvan sal ons geluk altyd afhang?
◻ Waarom kan ons vol vertroue wees dat alle getroue persone gelukkig sal wees in die nuwe stelsel van dinge?
[Prent op bladsy 16]
Baie ongetroude susters is gelukkig omdat hulle Jehovah as voltydse knegte kan dien
[Prent op bladsy 18]
Die vernaamste bron van geluk is om Jehovah se belange te dien