Tonele uit die Beloofde Land
Nuttig ’n maaltyd—Eet brood
TOE Jesus en sy dissipels by een geleentheid in ’n huis was, kon hulle weens die skare ‘nie eens ’n maaltyd nuttig nie’ (Markus 3:20, NW). Op ’n ander keer het Jesus ’n Fariseër se huis binnegegaan “om ’n maaltyd te nuttig” (Lukas 14:1, NW). Waaruit dink jy het die maaltye bestaan?
Eertydse Israeliete sou waarskynlik aan brood dink omdat die Hebreeuse en Griekse uitdrukkings vir ‘’n maaltyd nuttig’ letterlik “brood eet” beteken. Dit is verstaanbaar, want brood van koring of gars was ’n hoofbestanddeel van hulle dieet.
Baie mense dink vandag aan die Hebreeuse aartsvaders as herders en aan Jesus se dissipels as vissers. En dit was wel party se nering, maar beslis nie almal s’n nie. Koring het ’n vername rol in die lewe van baie gespeel. Dit was klaarblyklik soms die geval met Isak en Jakob, soos ons uit Genesis 26:12; 27:37 en 37:7 kan aflei. En aangesien landbou in Jesus se tyd ’n vername bedryf in Galilea was, wonder ’n mens of party wat apostels geword het nie dalk koringboere was nie.
Miskien, want die verbouing van koring was algemeen in die Beloofde Land, en die Bybel praat telkens daarvan (Deuteronomium 8:7-9; 1 Samuel 6:13). Wat het dit behels?
Nadat die vroeë reëns in Oktober en November die grond sag gemaak het, het die koringboer geploeg en dan sy saad gesaai. Die reëns wat later geval het, het sy gesaaides gehelp om te groei en dan in April en Mei, voor die somerhitte, tot ’n goudbruin ryp te word. Die koringoes was so welbekend dat dit gebruik is om die tyd van die jaar aan te dui (Genesis 30:14; Rigters 15:1). Kan jy vasstel watter tyd van die jaar die foto links geneem is?a En in watter seisoen het Jesus se dissipels koringkorrels gepluk?—Mattheüs 12:1.
Om koring te oes, het vir boere baie werk beteken. Maaiers het die halms met ’n sekel gesny en hulle in gerwe gebind, soos jy hier onder kan sien. Party halms is natuurlik oorgeslaan of het miskien op die grond geval, en daarom kon Rut genoeg are optel (Rut 2:2, 7, 23; Markus 4:28, 29). Daarna is die koringgerwe na ’n dorsvloer geneem, soos dié van Arauna. Wat het daar gebeur? Die Bybel praat van “die dorssleë en die jukke” (2 Samuel 24:18-22, NAV; 1 Kronieke 21:23, NAV). Koringgerwe is op ’n plat oppervlakte van klip of vasgestampte grond uitgesprei. ’n Bul of ’n ander dier het om en om geloop en die koring getrap. Die dier het soms ’n houtslee getrek wat gehelp het om die are te breek en die koringkorrels los te maak.—Jesaja 41:15.
Dan was dit gereed om gewan te word, en dít is gedoen deur dit met ’n skop of vurk in die lug te gooi soos hier bo gesien kan word (Mattheüs 3:12). Die boer het dalk in die aand gewan wanneer ’n windjie die kaf (die omhulsels van die korrels) sou wegwaai en die strooi eenkant toe sou dra. Sodra die graan versamel en gesif is om van klippies ontslae te raak, was dit gereed vir berging—of om daardie allerbelangrikste kos, brood, mee te bak.—Mattheüs 6:11.
As jy ’n huisvrou was met dié taak, sou jy elke dag die graan met ’n vysel en stamper tot meel maal, dalk ietwat growwe koringmeel. Of miskien sou jy “fynmeel” maal, soos dié wat Sara gebruik het om “ronde koeke” vir verstoflikte engele te bak of wat die Israeliete vir graanoffers aan Jehovah gebruik het (Genesis 18:6, NW; Exodus 29:2; Levitikus 2:1-5; Numeri 28:12). Sara het die meelblom met water gemeng en dit tot deeg geknie.
Hier onder kan jy bolle deeg en ’n plat, dun broodjie sien wat gebak moet word. Sulke groot, ronde koeke kon op klippe of ysterroosterplate gebak word, soos die vrou doen. Kan jy jou nou makliker voorstel wat Sara vervolgens vir die besoekende engele gedoen het en wat Lot se gesin later gedoen het? Ons lees: “[Die engele het] na hom uitgedraai en in sy huis gekom . . . En hy het vir hulle ’n maaltyd berei en ongesuurde koeke gebak, en hulle het geëet.”—Genesis 19:3.
[Voetnoot]
a Vergelyk Jehovah se Getuies se kalender vir 1992.
[Foto-erkenning op bladsy 24]
Pictorial Archive (Near Eastern History) Est.
[Foto-erkenning op bladsy 24]
Pictorial Archive (Near Eastern History) Est.
[Foto-erkenning op bladsy 25]
Pictorial Archive (Near Eastern History) Est.
[Foto-erkenning op bladsy 25]
Garo Nalbandian