Die Gewer van “elke goeie gawe”
“’n Predikant van die Gereformeerde Kerk het my eenkeer besoek. Hy wou weet hoe ek my kerk bestuur. Ek het vir hom gesê: . . . ‘Niemand kry ’n salaris nie; daar is niks waaroor mense kan stry nie. Ons neem ook nooit kollektes op nie.’ ‘Hoe kry julle die geld?’ het hy gevra. Ek het geantwoord: ‘Dr.——, as ek jou die reine waarheid vertel, sal jy dit skaars kan glo. Wanneer mense hierin begin belangstel, vind hulle nie dat ’n kollektebord onder hulle neus gehou word nie. Maar hulle sien dat daar wel uitgawes is. Hulle sê vir hulleself: “Hierdie saal kos iets. . . . Hoe kan ek ’n bedraggie vir hierdie saak bydra?”’ Hy het my aangekyk asof hy wou sê: ‘Dink jy ek is onder ’n kalkoen uitgebroei?’ Ek het gesê: ‘Regtig, dr.——, ek praat die reine waarheid. . . . Wanneer iemand ’n seëning ontvang en enige materiële middele het, wil hy dit vir die Here gebruik. As hy nie die middele het nie, waarom moet ons hom dwing om iets te gee?’”
—Charles T. Russell, die eerste president van die Wagtoringgenootskap, “The Watch Tower”, 15 Julie 1915.
ONS gee omdat Jehovah God eerste gegee het. Sy gawes het eeue gelede met sy skeppingswerke begin—met sy heel eerste skeppingswerk, sy “eniggebore Seun” (Johannes 3:16). Uit liefde het hy die gawe van lewe aan ander gegee.
Die Seun van God, Jesus Christus, is Jehovah se grootste gawe aan ons. Maar God se gawes hou nie by die Seun van God op nie. “Die allesoortreffende onverdiende goedhartigheid van God” is wat die apostel Paulus Jehovah se “onbeskryflike vrye gawe” noem (2 Korinthiërs 9:14, 15, NW). Hierdie gawe sluit ongetwyfeld al die goedheid en liefderyke goedhartigheid in wat God deur Jesus aan sy volk betoon. Hierdie onverdiende goedhartigheid is so wonderlik dat dit nie in menslike terme beskryf of uitgedruk kan word nie. Maar God se gawes behels nog meer.
Lank gelede het ’n koning met wysheid en in nederigheid erken dat alle goeie dinge wat hy as gawes gegee het in werklikheid aan Jehovah behoort het. Hy het gesê: “Aan U, HERE, kom toe . . . alles in hemel en op aarde; aan U, HERE, kom toe die koningskap en die selfverhoging as Hoof oor alles. . . . Want wie is ek tog, en wat is my volk, dat ons in staat sou wees om sulke vrywillige gawes te skenk? Want dit kom alles van U, en uit u hand het ons dit aan U gegee.”—1 Kronieke 29:11-14.
God se voorbeeld
Jakobus, ’n dissipel van Jesus Christus, het geweet dat Jehovah God die bron is van alle dinge wat in alle opsigte volkome goed is. Slegs volmaakte gawes kom van hom af. Jakobus het geskryf: “Elke goeie gawe en elke volmaakte geskenk kom van Bo. Dit kom van die Vader wat die hemelligte geskep het maar wat self nie soos hulle verander of verduister nie.”—Jakobus 1:17, NAV.
Selfs met betrekking tot die gee van geskenke het Jakobus gesien hoe God van mense verskil. Mense kan goeie geskenke gee, maar hulle doen dit nie altyd nie. Hierdie geskenke word dalk met ’n selfsugtige beweegrede gegee of hulle word dalk gebruik om iemand in die versoeking te bring om iets verkeerds te doen. By Jehovah is daar geen afwyking nie; hy verander nie. Daarom verander die aard van sy gawes ook nie. Hulle is altyd goed. Hulle bevorder altyd die welsyn en geluk van die mensdom. Hulle word altyd uit goedhartigheid en behulpsaamheid gegee en is nooit skadelik nie.
Beweegredes vir die gee van geskenke
In die dae van Jakobus het die godsdiensleiers van die volk geskenke gegee net om deur mense gesien te word. Hulle het met ’n slegte beweegrede gegee. Omdat hulle graag deur mense geprys wou word, het hulle hulle regverdige beginsels prysgegee. Maar Christene moes anders wees. Jesus het hulle vermaan: “Wanneer jy dan liefdadigheid bewys [“barmhartigheidsgawes gee”, NW], moenie ’n trompet voor jou blaas soos die geveinsdes in die sinagoges en op die strate doen, dat hulle deur die mense geëer kan word nie. Voorwaar Ek sê vir julle, hulle het hul loon weg. Maar jy, as jy liefdadigheid bewys [“barmhartigheidsgawes gee”, NW], laat jou linkerhand nie weet wat jou regterhand doen nie, sodat jou liefdadigheid [“barmhartigheidsgawes”, NW] in die verborgene kan wees; en jou Vader wat in die verborgene sien, Hy sal jou in die openbaar vergelde.”—Mattheüs 6:2-4.
Wanneer Christene geskenke gee, doen hulle dit om in ander se behoeftes te help voorsien of om hulle gelukkig te maak of om ware aanbidding te bevorder. Dit is nie ter wille van selfverheerliking nie. Jehovah se oë kan buitendien tot in die dieptes van ons hart sien. Hy kan die ware beweegrede vir ons barmhartigheidsgawes sien.
Jehovah se Getuies probeer die voorbeeld volg wat Jehovah en sy Seun ten opsigte van die gee van geskenke stel. Hulle gee uit wat hulle het. Hulle het die goeie nuus van die Koninkryk, en hulle gee dit tot die seën van ander. Hulle weet dat Spreuke 3:9 sê: “Vereer die HERE uit jou goed en uit die eerstelinge van al jou inkomste.” Omdat elke takkantoor, gemeente en individu hulle daarop toelê om tot die welsyn van almal by te dra, maak dit die hele broederskap geestelik sterk en voorspoedig. Materiële welvaart lei nie tot geestelike welvaart nie, maar geestelike welvaart bring materiële welvaart mee wat voldoende is om Jehovah se werk te kan doen.
Maniere om te gee
Daar is baie maniere waarop elkeen persoonlik kan bydra om die goeie nuus te ondersteun. Een manier hou verband met Koninkryksale. Elke lid van die gemeente gebruik die Koninkryksaal. Iemand het geld vir die bouwerk of huur, beligting, lugversorging en instandhouding van die saal voorsien. Aangesien dit nodig is dat almal in die gemeente hulle ondersteuning gee, word bydraebussies in die Koninkryksaal aangebring, en die vrywillige bydraes wat ontvang word, word gebruik om die onkoste van die gemeente te dek. Uit die oorblywende fondse kan bydraes, na gelang van die gemeente se besluit, aan die plaaslike Wagtoringtakkantoor gestuur word.
Bydraes kan regstreeks aan die Genootskap se takkantoor gestuur word vir die opleiding en onderhoud van sendelinge en spesiale pioniers in dele van die wêreld waar die goeie nuus nog nie die hele bevolking bereik het nie. Ander onkoste ten opsigte van die verkondiging van die goeie nuus hou verband met die werk van reisende opsieners. Die apostel Paulus, wat in die eerste eeu die voorbeeld ten opsigte van die reisende werk gestel het, het die gemeente in Filippi soos volg geprys: “Julle [het] vir my behoefte meer as een maal iets gestuur” (Filippense 4:14-16). Buiten die onkoste wat aan hierdie aspekte van die voltydse diens verbonde is, onkoste wat alle takke het, is daar die instandhouding van elke Bethelhuis sowel as die onderhoud van dié wat daar woon en werk. Dit is inderdaad ’n godgegewe voorreg om lektuur te kan skryf en druk wat die pragtige boodskap van die goeie nuus bevat, maar die lektuur moet ook versprei word, en dít kos geld. Dan is daar die onkoste ten opsigte van byeenkomste, om nie eens te praat van sake wat voor die hof gebring word om “die goeie nuus te verdedig en wetlik te bevestig” nie.—Filippense 1:7, NW.
Die tyd wat elke kneg van Jehovah aan die verkondiging van die goeie nuus bestee, word vrywillig deur hulle bestee, en dit is ook die geval met die geld wat hulle gee. Ons word deur die apostel Paulus aangemoedig om gereeld geld opsy te sit wat gebruik kan word om die uitbreiding van ware aanbidding te ondersteun: “Wat die insameling vir die heiliges betref . . . op elke eerste dag van die week moet elkeen van julle self opsy sit en opspaar namate sy voorspoed is.”—1 Korinthiërs 16:1, 2.
Wanneer iemand ’n bydrae gee, weet hy nie altyd presies hoe dit gebruik gaan word nie, maar hy sien die resultate in die uitbreiding van die Koninkrykspredikingswerk. Verslae in die 1993 Yearbook of Jehovah’s Witnesses toon dat die goeie nuus van die Koninkryk deur meer as 4 500 000 Christenbedienaars in meer as 200 lande en eilande van die see verkondig word. Hierdie verslae is hartverblydend. Enige gawe, ongeag hoe groot of hoe klein, dra dus by tot die wêreldwye verkondiging van die goeie nuus.
Hierdie werk word deur die gesamentlike bydraes van almal gefinansier. Party kan meer gee, wat die predikingswerk in ’n groter mate bevorder. Ander gee minder. Maar dié wat kleiner bydraes gee, hoef nie verleë te voel of te dink dat hulle bydrae te onbeduidend is nie. Jehovah dink beslis nie so nie. Jesus het dit baie duidelik gestel toe hy getoon het hoeveel Jehovah die weduwee se klein bydrae waardeer het. “En Hy het ook ’n arm weduwee daar twee geldstukkies sien ingooi. En Hy sê: Waarlik, Ek sê vir julle dat hierdie arm weduwee meer as almal ingegooi het. Want hulle almal het uit hul oorvloed by die gawes van God ingegooi, maar sy het uit haar gebrek ingegooi alles wat sy gehad het om van te lewe.”—Lukas 21:2-4.
Ongeag wat ons finansiële situasie is, ons kán op maniere gee wat Jehovah behaag. Die psalmis toon baie duidelik hoe ons ons Koning en Regter kan verheerlik. Hy sê: “Skryf aan Jehovah die heerlikheid toe wat sy naam toekom; bring ’n gawe en kom in sy voorhowe in” (Psalm 96:8, NW). Laat ons dus die liefdevolle voorbeeld van ons hemelse Vader navolg deur blymoedige gewers te wees, aangesien hy eerste aan ons gegee het.
[Venster op bladsy 30]
HOE PARTY TOT DIE KONINKRYKSPREDIKINGSWERK BYDRA
◻ SKENKINGS: Vrywillige geldelike bydraes kan regstreeks aan die Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania, 25 Columbia Heights, Brooklyn, New York 11201 of aan die Genootskap se plaaslike takkantoor gestuur word. Juwele of ander kosbare artikels kan ook geskenk word. ’n Kort briefie wat meld dat dit ’n onvoorwaardelike skenking is, moet hierdie bydraes vergesel.
◻ REËLINGS VIR VOORWAARDELIKE SKENKINGS: Geld kan aan die Wagtoringgenootskap gegee word om in trust beheer te word tot die skenker te sterwe kom, op voorwaarde dat dit aan die skenker terugbetaal sal word indien hy dit self nodig sou kry.
◻ VERSEKERING: Die Wagtoringgenootskap kan as die begunstigde van ’n lewensversekeringspolis of in ’n aftree-/pensioenskema benoem word. Die Genootskap moet van sulke reëlings in kennis gestel word.
◻ AANDELE EN OBLIGASIES: Aandele en obligasies kan aan die Wagtoringgenootskap geskenk word deur óf ’n onvoorwaardelike skenking te maak óf deur ’n reëling waarby die inkomste steeds aan die skenker betaal word.
◻ VASTE EIENDOM: Verkoopbare vaste eiendom kan onvoorwaardelik aan die Wagtoringgenootskap geskenk word, of dit kan geskenk word terwyl die skenker lewensreg daarop behou, wat beteken dat die skenker gedurende sy leeftyd daar mag bly woon. Voordat enige vaste eiendom aan die Genootskap oorgedra word, moet die Genootskap eers daarvan in kennis gestel word.
◻ TESTAMENTE: Eiendom of geld kan deur ’n wettige testament aan die Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania bemaak word. ’n Kopie van die testament moet aan die Genootskap gestuur word.
Skryf aan die Tesourierskantoor, Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania, Privaatsak X2067, Krugersdorp, 1740 of aan die Genootskap se naaste takkantoor vir verdere inligting oor sulke aangeleenthede.
[Prente op bladsy 31]
Hoe jou bydraes aangewend word:
1. Vrywillige werkers by Bethel
2. Takkantoorbouwerk
3. Noodleniging
4. Koninkryksale
5. Sendelinge