Kweek redelikheid aan
“Laat julle redelikheid aan alle mense bekend word. Die Here is naby.”—FILIPPENSE 4:5, NW.
1. Waarom is dit ’n uitdaging om in vandag se wêreld redelik te wees?
“DIE redelike mens”—die Engelse joernalis sir Alan Patrick Herbert het hom ’n mitiese figuur genoem. Dit lyk soms inderdaad of daar geen redelike mense meer oor is in hierdie wêreld vol tweedrag nie. Die Bybel het voorspel dat mense in hierdie kritieke “laaste dae” “wreedaardig”, “eiesinnig” en “nie bereid tot enige ooreenkoms nie” sal wees—met ander woorde, hulle sal alles behalwe redelik wees (2 Timotheüs 3:1-5, NW). Vir ware Christene is redelikheid egter baie belangrik omdat hulle weet dat dit ’n kenmerk van Goddelike wysheid is (Jakobus 3:17, vgl. NW). Ons dink nie dat dit onmoontlik is om redelik te wees in ’n onredelike wêreld nie. Ons aanvaar eerder onvoorwaardelik die uitdaging in die apostel Paulus se geïnspireerde raad wat in Filippense 4:5 aangetref word: “Laat julle redelikheid aan alle mense bekend word.”—NW.
2. Hoe help die apostel Paulus se woorde in Filippense 4:5 ons om vas te stel of ons redelik is?
2 Let op hoe Paulus se woorde ons help om vas te stel of ons redelik is. Dit is nie soseer ’n kwessie van hoe ons onsself sien nie; dit is eerder ’n kwessie van hoe ander ons sien, hoe ander ons ken. Phillips se vertaling gee hierdie vers só weer: “Wees daarvoor bekend dat jy redelik is.” Ons elkeen kan ons gerus afvra: ‘Hoe ken mense my? Is ek daarvoor bekend dat ek redelik, toegewend en vriendelik is? Of is ek daarvoor bekend dat ek onbuigsaam, hardvogtig of eiesinnig is?’
3. (a) Wat beteken die Griekse woord wat met “redelik” vertaal word, en waarom is hierdie eienskap so bewonderenswaardig? (b) Hoe kan ’n Christen leer om redeliker te wees?
3 Ons reputasie in hierdie verband sal bloot weerspieël in watter mate ons Jesus Christus navolg (1 Korinthiërs 11:1). Toe Jesus hier op die aarde was, het hy sy Vader se onoortreflike voorbeeld van redelikheid volmaak weerspieël (Johannes 14:9). Trouens, toe Paulus oor “die sagmoedigheid en vriendelikheid van Christus” geskryf het, het hy die Griekse woord vir vriendelikheid (e·pi·ei·kiʹas) gebruik wat ook “redelikheid” of, letterlik, “toegewendheid” beteken (2 Korinthiërs 10:1). The Expositor’s Bible Commentary noem dit “een van die belangrike woorde van karakterbeskrywing in die N[uwe] T[estament]”. Dit beskryf ’n eienskap wat so bewonderenswaardig is dat een geleerde die woord as “lieflike redelikheid” weergee. Laat ons dus drie maniere bespreek waarop Jesus, soos sy Vader, Jehovah, redelikheid geopenbaar het. Ons kan so leer om self redeliker te word.—1 Petrus 2:21.
“Vergewensgesind”
4. Hoe het Jesus getoon dat hy “vergewensgesind” is?
4 Jesus het, soos sy Vader, redelikheid geopenbaar deur keer op keer “vergewensgesind” te wees (Psalm 86:5). Beskou die keer toe Petrus, ’n intieme metgesel, Jesus drie keer verloën het die nag toe Jesus gevange geneem en verhoor is. Jesus self het vroeër gesê: “Elkeen wat My verloën voor die mense, hom sal Ek ook verloën voor my Vader” (Mattheüs 10:33). Het Jesus hierdie reël streng en genadeloos op Petrus toegepas? Nee; ná Sy opstanding het Jesus aan Petrus verskyn—ongetwyfeld met die doel om hierdie berouvolle, gebroke apostel te vertroos (Lukas 24:34; 1 Korinthiërs 15:5). Kort daarna het Jesus Petrus toegelaat om groot verantwoordelikheid op hom te neem (Handelinge 2:1-41). Dit was lieflike redelikheid op sy allerbeste! Is dit nie vertroostend om te dink dat Jehovah Jesus as Regter oor die hele mensdom aangestel het nie?—Jesaja 11:1-4; Johannes 5:22.
5. (a) Watter reputasie moet die ouere manne onder die skape hê? (b) Watter materiaal kan ouere manne hersien voordat hulle regterlike sake hanteer, en waarom?
5 Wanneer ouere manne as regters in die gemeente optree, strewe hulle daarna om Jesus se voorbeeld van redelikheid te volg. Hulle wil nie hê dat die skape hulle as dié wat daar is om te straf, moet vrees nie. Hulle probeer eerder om Jesus na te volg sodat die skape veilig by hulle as liefdevolle herders sal voel. Tydens regterlike sake probeer hulle hard om redelik, vergewensgesind, te wees. Party ouere manne het dit nuttig gevind om voor hulle so ’n saak hanteer die Wagtoring-artikels van 1 Julie 1992 te hersien, naamlik “Jehovah, die onpartydige ‘Regter van die ganse aarde’” en “Ouere manne, oordeel in regverdigheid”. Só hou hulle die opsomming van die wyse waarop Jehovah oordeel in gedagte: “Ferm waar nodig, barmhartigheid waar moontlik.” Dit is nie verkeerd om met meer barmhartigheid te oordeel wanneer daar ’n redelike grondslag daarvoor is nie (Mattheüs 12:7). Dit is ’n ernstige sonde om hardvogtig of onbarmhartig te wees (Esegiël 34:4). Ouere manne strewe dus daarna om die liefdevolste, barmhartigste weg moontlik binne die perke van geregtigheid te volg sodat hulle nie sondig nie.—Vergelyk Mattheüs 23:23; Jakobus 2:13.
Buigsaamheid wanneer omstandighede verander
6. Hoe het Jesus redelikheid geopenbaar in sy optrede teenoor die nie-Joodse vrou wie se dogter van ’n demoon besete was?
6 Wanneer nuwe situasies ontstaan het, het Jesus, soos Jehovah, gou van optrede verander of hom daarby aangepas. By een geleentheid het ’n nie-Joodse vrou hom gesmeek om haar dogter wat erg van ’n demoon besete was gesond te maak. Jesus het aanvanklik op drie verskillende maniere getoon dat hy haar nie gaan help nie—eerstens, deur haar nie te antwoord nie; tweedens, deur reguit te sê dat hy nie na die nie-Jode nie, maar na die Jode gestuur is en derdens, deur ’n gelykenis te vertel waarin hy vriendelik dieselfde punt gestel het. Maar die vrou het deur dit alles heen volhard en só getoon dat sy buitengewone geloof het. In die lig van hierdie buitengewone situasie kon Jesus sien dat dit nie die tyd was om ’n algemene reël toe te pas nie; dit was ’n tyd om buigsaam te wees ter wille van hoër beginsels.a Jesus het toe presies gedoen wat hy drie keer aangedui het hy nie sou doen nie. Hy het die vrou se dogter gesond gemaak!—Mattheüs 15:21-28.
7. Op watter maniere kan ouers redelikheid openbaar, en waarom?
7 Is ons ook daarvoor bekend dat ons gewillig is om buigsaam te wees wanneer dit gepas is? Ouers moet dikwels sulke redelikheid openbaar. Aangesien elke kind uniek is, is die metodes wat met een kind werk dalk nie vir ’n ander gepas nie. Daarbenewens verander kinders se behoeftes namate hulle opgroei. Behoort die reël oor hoe laat kinders tuis moet wees, aangepas te word? Sal dit die gesinstudie doeltreffender maak as dit lewendiger is? Is ’n ouer gewillig om nederig te wees en sake reg te stel as hy of sy op die een of ander geringe oortreding oorgereageer het? Ouers wat in sulke dinge toegewend is, irriteer nie hulle kinders onnodig en vervreem hulle nie van Jehovah nie.—Efesiërs 6:4, NW.
8. Hoe kan ouere manne die leiding neem deur hulle by die behoeftes van die gebied aan te pas?
8 Ouere manne moet hulle ook daarby aanpas wanneer nuwe omstandighede ontstaan, maar moet nooit toelaat dat spesifieke wette van God verbreek word nie. Let jy op na veranderinge in die gebied waar jy die leiding in die predikingswerk neem? Namate mense se lewenstyl in die buurt verander, moet die aand-, straat- of telefoongetuieniswerk moontlik aangemoedig word. Sulke aanpassings help ons om ons predikingsopdrag op ’n doeltreffender wyse te vervul (Mattheüs 28:19; 1 Korinthiërs 9:26). Paulus het hom dit ook ten doel gestel om hom by alle soorte mense in sy bediening aan te pas. Doen ons dieselfde deur byvoorbeeld genoeg oor plaaslike godsdienste en kulture te wete te kom sodat ons mense kan help?—1 Korinthiërs 9:19-23.
9. Waarom moet ’n ouere man nie daarop aandring om probleme altyd te hanteer soos hy dit in die verlede gedoen het nie?
9 Namate hierdie laaste dae al hoe meer kritiek raak, moet herders hulle ook aanpas by die ontstellende ingewikkeldheid en onaangenaamheid van party van die probleme waarmee hulle kudde nou te kampe het (2 Timotheüs 3:1). Ouere manne, dit is nie nou die tyd om onbuigsaam te wees nie! ’n Ouere man moet beslis nie daarop aandring om probleme soos in die verlede te hanteer as sy metodes ondoeltreffend geword het of as “die getroue en verstandige dienskneg” dit raadsaam geag het om nuwe materiaal oor sulke onderwerpe te publiseer nie. (Mattheüs 24:45; vergelyk Prediker 7:10; 1 Korinthiërs 7:31, NW.) Een getroue ouere man het opreg probeer om ’n suster te help wat depressief was en ’n goeie luisteraar baie nodig gehad het. Maar hy het haar depressie nie baie ernstig opgeneem nie en haar ’n paar simplistiese oplossings gegee. Toe het die Wagtoringgenootskap Bybelse inligting gepubliseer wat haar spesifieke probleem bespreek het. Die ouere man het seker gemaak dat hy weer met haar praat, maar hierdie keer het hy die nuwe materiaal toegepas en empatie vir haar toestand getoon. (Vergelyk 1 Thessalonicense 5:14, 15.) Wat ’n goeie voorbeeld van redelikheid tog!
10. (a) Hoe moet ouere manne ’n toegewende gesindheid teenoor mekaar en teenoor die liggaam van ouere manne as geheel openbaar? (b) Hoe moet die liggaam van ouere manne diegene beskou wat onredelik optree?
10 Ouere manne moet ook ’n toegewende gesindheid teenoor mekaar openbaar. Wanneer die liggaam van ouere manne vergader, is dit uiters belangrik dat geen ouere man die verrigtinge oorheers nie! (Lukas 9:48). Veral die voorsitter moet in hierdie opsig selfbeheersing aan die dag lê. En wanneer een of twee ouere manne nie met die besluit van die res van die liggaam van ouere manne saamstem nie, moet hulle nie daarop aandring om hulle sin te kry nie. Solank daar geen skriftuurlike beginsel geskend word nie, sal hulle eerder toegewend wees en in gedagte hou dat ouere manne redelikheid moet openbaar (1 Timotheüs 3:2, 3). Aan die ander kant moet die liggaam van ouere manne in gedagte hou dat Paulus die Korinthiese gemeente berispe het omdat hulle ‘die onredelikes verdra het’ wat hulle as “uitnemende apostels” voorgedoen het (2 Korinthiërs 11:5, 19, 20, NW). Hulle moet dus bereid wees om ’n mede- ouere man raad te gee as hy op ’n koppige, onredelike wyse optree, maar hulle moet self sagmoedig en vriendelik wees wanneer hulle dit doen.—Galasiërs 6:1.
Redelikheid in die uitoefening van gesag
11. Watter verskil was daar tussen die manier waarop die Joodse godsdiensleiers in Jesus se dag gesag uitgeoefen het en hoe Jesus dit gedoen het?
11 Toe Jesus op die aarde was, het sy redelikheid veral geblyk uit die wyse waarop hy sy godgegewe gesag uitgeoefen het. Hoe anders was hy tog as die godsdiensleiers van sy dag! Beskou ’n voorbeeld. God se wet het vereis dat geen werk, nie eers die bymekaarmaak van hout, op die Sabbat gedoen mag word nie (Exodus 20:10; Numeri 15:32-36). Die godsdiensleiers wou beheer uitoefen oor presies hoe mense daardie wet toepas. Hulle het dit dus op hulleself geneem om te bepaal presies wat ’n mens op die Sabbat kon optel. Hulle het bepaal: niks swaarder as twee droë vye nie. Hulle het selfs ’n verbod geplaas op sandale met spykers in en gesê dat dit werk sou wees om die ekstra gewig van die spykers op te lig! Daar word gesê dat die rabbi’s altesaam 39 reëls by God se wet oor die Sabbat gevoeg het en toe eindelose toevoegings tot daardie reëls gemaak het. Jesus daarenteen het nie probeer om mense deur ’n gevoel van skaamte te beheer deur eindelose beperkende reëls neer te lê of deur onbuigsame, onbereikbare standaarde te stel nie.—Mattheüs 23:2-4; Johannes 7:47-49.
12. Waarom kan ons sê dat Jesus geen toegewings gemaak het wanneer dit by Jehovah se regverdige standaarde gekom het nie?
12 Moet ons dan aanvaar dat Jesus nie God se regverdige standaarde streng gehandhaaf het nie? Hy het dit beslis gedoen! Hy het verstaan dat wette die doeltreffendste is wanneer mense die beginsels agter daardie wette ter harte neem. Terwyl die Fariseërs voortdurend probeer het om mense met tallose reëls te beheer, het Jesus daarna gestrewe om harte te bereik. Hy het byvoorbeeld goed geweet dat ’n mens nie toegewend kan wees wanneer dit by Goddelike wette soos “vlug vir die hoerery” kom nie (1 Korinthiërs 6:18). Jesus het mense dus gewaarsku teen die gedagtes wat tot onsedelikheid kan lei (Mattheüs 5:28). Sulke onderrigting het baie meer wysheid en onderskeidingsvermoë geverg as om net streng, voorskriftelike reëls neer te lê.
13. (a) Waarom moet ouere manne nie onbuigsame wette en reëls neerlê nie? (b) Op watter gebiede is dit belangrik om die individu se gewete te respekteer?
13 Broers in verantwoordelike posisies stel vandag eweneens daarin belang om harte te bereik. Hulle lê dus nie arbitrêre, onbuigsame reëls neer of maak hulle persoonlike sienswyses en opinies tot wette nie. (Vergelyk Daniël 6:8-17.) Vriendelike vermanings ten opsigte van kleredrag en persoonsversorging kan van tyd tot tyd gepas en nodig wees, maar ’n ouere man kan sy reputasie as ’n redelike mens in gevaar stel as hy gedurig daarop hamer of reëls daaroor probeer neerlê wat hoofsaaklik sy persoonlike smaak weerspieël. Waarlik, almal in die gemeente moet dit vermy om ander te probeer beheer.—Vergelyk 2 Korinthiërs 1:24; Filippense 2:12.
14. Hoe het Jesus getoon dat hy redelik was in wat hy van ander verwag het?
14 Ouere manne kan ook op ’n ander gebied selfondersoek doen: ‘Is ek redelik in wat ek van ander verwag?’ Jesus was beslis redelik. Hy het deurgaans vir sy volgelinge gewys dat hy niks meer van hulle verwag het as hulle heelhartige pogings nie en dat hy dit hoog op prys gestel het. Hy het die arm weduwee geprys vir haar geldstukkies van geringe waarde (Markus 12:42, 43). Hy het sy dissipels bestraf toe hulle Maria se duur bydrae gekritiseer het en het gesê: “Laat haar staan . . . Wat sy kon, het sy gedoen” (Markus 14:6, 8). Hy was redelik selfs wanneer sy volgelinge hom in die steek gelaat het. Hoewel hy byvoorbeeld die drie apostels wat die naaste aan hom was, aangespoor het om die nag van sy gevangeneming wakker te bly en saam met hom te waak, het hulle hom in die steek gelaat deur herhaaldelik aan die slaap te raak. Tog het hy simpatiek gesê: “Die gees is wel gewillig, maar die vlees is swak.”—Markus 14:34-38.
15, 16. (a) Waarom moet ouere manne versigtig wees om nie die kudde onder druk te plaas of te ontmoedig nie? (b) Hoe het dit gekom dat een getroue suster nie meer so veeleisend was in wat sy van ander verwag het nie?
15 Jesus het weliswaar sy volgelinge aangespoor om ‘hulle kragtig in te span’ (Lukas 13:24, NW). Maar hy het hulle nooit gedwing om dit te doen nie! Hy het hulle besiel, vir hulle ’n voorbeeld gestel, die leiding geneem en daarna gestrewe om hulle harte te bereik. Hy het op die krag van Jehovah se gees staatgemaak om die res te doen. Ouere manne moet die kudde vandag eweneens aanmoedig om Jehovah heelhartig te dien, maar hulle moet hulle nie ontmoedig deur hulle skuldig of skaam te laat voel en te kenne te gee dat wat hulle tans in Jehovah se diens doen in die een of ander opsig onvoldoende of onaanvaarbaar is nie. ’n Onbuigsame benadering waar die broers gedryf word om “meer, meer, meer!” te doen, kan diegene ontmoedig wat reeds alles doen wat hulle kan. Hoe jammer sal dit tog wees as ’n ouere man die reputasie kry dat hy “moeilik is om tevrede te stel”—en alles behalwe redelik is!—1 Petrus 2:18.
16 Ons almal moet redelik wees in wat ons van ander verwag! Nadat een suster en haar man die sendingdiens verlaat het om vir haar siek moeder te sorg, het sy geskryf: “Hierdie tye is vir ons as verkondigers hier in die gemeentes werklik moeilik. Omdat ons in die kring- en streekwerk was en teen soveel van hierdie druk beskerm was, is ons skielik en pynlik hiervan bewus gemaak. Ek het byvoorbeeld altyd vir myself gesê: ‘Waarom bied daardie suster nie die regte lektuur hierdie maand aan nie? Lees sy dan nie die Koninkryksbediening nie?’ Nou weet ek waarom. Sommige het nouliks ’n geleentheid om [in die velddiens] uit te gaan.” Hoeveel beter is dit tog om ons broers te prys vir wat hulle doen as om hulle te veroordeel vir wat hulle nie doen nie!
17. Hoe het Jesus vir ons ’n voorbeeld ten opsigte van redelikheid gestel?
17 Beskou ’n laaste voorbeeld van hoe Jesus sy gesag op ’n redelike wyse uitoefen. Soos sy Vader, bewaak Jesus nie jaloers sy gesag nie. Hy is ook ’n meester op die gebied om gesag oor te dra, en hy het sy getroue diensknegklas aangestel om na “al sy besittings” hier op die aarde om te sien (Mattheüs 24:45-47). En hy is ook nie bang om na ander se idees te luister nie. Hy het dikwels vir sy luisteraars gevra: “Wat dink julle?” (Mattheüs 17:25; 18:12; 21:28; 22:42). Dit is hoe dit onder al Christus se hedendaagse volgelinge moet wees. Geen mate van gesag moet maak dat hulle nie gewillig is om te luister nie. Ouers, julle moet luister! Mans, julle moet luister! Ouere manne, julle moet luister!
18. (a) Hoe kan ons uitvind of ons daarvoor bekend is dat ons redelik is? (b) Wat moet ons almal se voorneme wees?
18 Elkeen van ons moet beslis ‘daarvoor bekend wees dat ons redelik is’ (Filippense 4:5, Phillips). Maar hoe weet ons of ons so ’n reputasie het? Wel, toe Jesus wou weet wat die mense oor hom sê, het hy sy vertroude metgeselle gevra (Mattheüs 16:13). Volg gerus sy voorbeeld. Jy kan iemand wat jy weet met jou eerlik sal wees, vra om jou te sê of jy as ’n redelike, toegewende mens bekend is. Daar is beslis baie wat ons almal kan doen om Jesus se volmaakte voorbeeld van redelikheid noukeuriger te volg! Laat ons, veral wanneer ons ’n mate van gesag oor ander uitoefen, Jehovah en Jesus se voorbeeld volg en dit altyd op ’n redelike manier uitoefen en altyd gewillig wees om te vergewe en buigsaam of toegewend te wees wanneer dit gepas is. Laat ons almal inderdaad daarna strewe om “redelik te wees”!—Titus 3:2.
[Voetnoot]
a Die boek New Testament Words sê die volgende: “Die mens wat epieikēs [redelik] is, weet dat daar tye is wanneer iets volgens die wet dalk heeltemal geregverdig is, maar moreel heeltemal verkeerd is. Die mens wat epieikēs is, weet wanneer om die wet onder dwang van ’n mag wat hoër en groter as die wet is te versag.”
Hoe sal jy antwoord?
◻ Waarom moet Christene redelik wil wees?
◻ Hoe kan ouere manne Jesus navolg wat vergewensgesindheid betref?
◻ Waarom moet ons daarna strewe om buigsaam te wees soos Jesus was?
◻ Hoe kan ons redelikheid openbaar in die wyse waarop ons gesag uitoefen?
◻ Hoe kan ons selfondersoek doen om te sien of ons werklik redelik is?
[Prent op bladsy 15]
Jesus het die berouvolle Petrus geredelik vergewe
[Prent op bladsy 16]
Toe ’n vrou buitengewone geloof geopenbaar het, het Jesus besef dat dit nie die tyd was om ’n algemene reël toe te pas nie
[Prent op bladsy 18]
Ouers, julle moet luister!
[Prent op bladsy 18]
Mans, julle moet luister!
[Prent op bladsy 18]
Ouere manne, julle moet luister!