Voordele daarvan om die ware God te vrees
“Ek‚ Jehovah‚ is jou God‚ die Een wat jou leer om jouself te bevoordeel‚ die Een wat jou laat tree op die weg waarop jy moet wandel.”—JESAJA 48:17, NW.
1. Watter rampe kon deur godvrugtige vrees voorkom geword het?
AS Adam godvrugtige vrees aangekweek het, kon dit hom daarvan weerhou het om die sonde te pleeg wat tot sý ewige dood en tot duisende jare van smart vir sy nakomelinge gelei het. As die eertydse nasie Israel gehoor gegee het aan Jehovah se vermaning om hom te vrees en hom lief te hê, sou daardie nasie nie as gevangenes na Babilon weggevoer gewees het nie, en hulle sou ook nie God se Seun verwerp het en hulle aan die vergieting van sy bloed skuldig gemaak het nie. As die wêreld van vandag God gevrees het, sou daar geen korrupsie in regerings of in die sakewêreld gewees het nie en ook geen misdaad, geen oorlog nie.—Spreuke 3:7.
2. Waarom moet ons die vrees van Jehovah aankweek ongeag die wêreldtoestande om ons?
2 Maar ongeag wat die wêreld om ons doen, ons as individue, as gesinne en as gemeentes van Jehovah se knegte kan daarby baat vind as ons die vrees van die ware God aankweek. Dit is in ooreenstemming met die herinnering wat Moses aan die nasie Israel gegee het: “Wat eis die HERE jou God van jou as net om die HERE jou God te vrees, in al sy weë te wandel en Hom lief te hê en die HERE jou God te dien met jou hele hart en met jou hele siel, om te hou die gebooie van die HERE . . . dat dit met jou goed kan gaan?” (Deuteronomium 10:12, 13). Wat is sommige van die voordele wat ons kan geniet as ons Jehovah, die ware God, vrees?
Wysheid—kosbaarder as goud
3. (a) Wat is die belangrikste voordeel wat ons kan verkry? (b) Wat beteken Psalm 111:10?
3 Die belangrikste voordeel is ware wysheid. Psalm 111:10 sê: “Die vrees van Jehovah is die begin van wysheid” (NW). Wat beteken dit? Wysheid is die vermoë om kennis met welslae te gebruik om probleme op te los, gevaar af te weer en sekere doelwitte te bereik. Dit verg gesonde oordeel. Die begin, die eerste deel, die grondslag vir sulke wysheid is die vrees van Jehovah. Waarom? Omdat die hele skepping die werk van sy hande is. Die skepping is van hom afhanklik. Hy het die mensdom wilsvryheid gegee, maar nie met die vermoë om sonder sy leiding hulle voetstappe met welslae te rig nie (Josua 24:15; Jeremia 10:23). Ons kan alleenlik blywende sukses geniet as ons daardie fundamentele lewensfeite erken en in ooreenstemming daarmee lewe. As ons kennis van Jehovah ons die onwrikbare oortuiging gee dat God se wil nie sal faal nie en dat sy belofte en vermoë om getrouheid te beloon onfeilbaar is, sal godvrugtige vrees ons beweeg om met wysheid op te tree.—Spreuke 3:21-26; Hebreërs 11:6.
4, 5. (a) Waarom het ’n jong man se universiteitsopleiding hom nie ware wysheid gegee nie? (b) Hoe het hierdie man en sy vrou later ware wysheid verkry, en hoe het dit hulle lewe verander?
4 Beskou ’n voorbeeld. Etlike jare gelede het ’n jong man aan die Universiteit van Saskatchewan, in Kanada, gestudeer. Biologie was ’n deel van die leerplan, en hy het van evolusie geleer. Ná sy graduering het hy in atoomfisika gespesialiseer, en hy het ’n beurs ontvang om sy studies aan die Universiteit van Toronto voort te sit. Terwyl hy met sy studies besig was, het hy wonderlike bewys van orde en ontwerp in atoomstrukture gesien. Maar geen antwoorde is op dié vrae gegee nie: Wie het al hierdie dinge ontwerp? Wanneer? En waarom? Kon hy sonder daardie antwoorde sy kennis enigsins verstandig gebruik in ’n wêreld wat toe in ’n oorlog gewikkel was? Wat sou hom lei? Nasionalisme? ’n Begeerte na materiële beloninge? Het hy werklik ware wysheid verkry?
5 Nie lank ná sy graduering nie het daardie jong man en sy vrou die Bybel saam met Jehovah se Getuies begin studeer. Uit God se Woord self het hulle die antwoorde begin kry wat hulle voorheen ontwyk het. Hulle het die Skepper, Jehovah God, leer ken. Toe hulle van Moses by die Rooi See, sowel as van Daniël en sy metgeselle in Babilon, geleer het, het hulle geleer hoe belangrik dit is om God, en nie mense nie, te vrees (Exodus 14:10-31; Daniël 3:8-30). Sulke godvrugtige vrees gepaard met ware liefde vir Jehovah het hulle begin motiveer. Spoedig het hulle hele lewenswandel verander. Uiteindelik het die jong man die Een geken wie se skeppingswerke hy in biologie bestudeer het. Hy het die voorneme van die Een begin verstaan wie se wysheid hy gesien het in die fisika wat hy gestudeer het. In plaas daarvan dat hy sy kennis gebruik het om instrumente te maak wat sy medemens sou vernietig, wou hy, sowel as sy vrou, ander help om God en hulle medemens lief te hê. Hulle het voltydse verkondigers van God se Koninkryk geword. Later het hulle die Wagtoring-Bybelskool Gilead bygewoon en is hulle as sendelinge uitgestuur.
6. Watter kortsigtige strewes sal ons vermy as ons die wysheid het waarvan die vrees van Jehovah die grondslag is, en wat sal ons eerder wil doen?
6 Almal kan natuurlik nie sendelinge wees nie. Maar ons kan almal die wysheid geniet waarop die vrees van Jehovah die grondslag is. As ons daardie wysheid aankweek, sal ons nie ons lewe ywerig daaraan wy om die filosofieë van mense aan te neem wat in werklikheid maar net raai wat die lewe eintlik behels nie. Ons sal ons op die studie van die Bybel toelê, wat geïnspireer is deur die Bron van die lewe, Jehovah God, die een wat ons die ewige lewe kan gee (Psalm 36:9, NW; Kolossense 2:8). Ons sal nie slawe word van ’n kommersiële stelsel wat self op die randjie van ondergang is nie, maar ons sal ag slaan op Jehovah se raad om met voedsel en klere vergenoeg te wees, terwyl ons ons verhouding met God eerste in ons lewe stel (1 Timoteus 6:8-12). Ons sal nie optree asof ons toekoms daarvan afhang om in hierdie wêreld goed daaraan toe te wees nie, maar ons sal eerder Jehovah se Woord glo wanneer dit vir ons sê dat die wêreld sowel as sy begeerte verbygaan, maar dat hy wat die wil van God doen vir ewig bly.—1 Johannes 2:17.
7. (a) Hoe help Spreuke 16:16 ons om ’n gebalanseerde waardebegrip te hê? (b) Watter beloninge hou dit in as ons God se wil die middelpunt van ons lewe maak?
7 Spreuke 16:16 spoor ons aan deur uitdruklik te sê: “Hoeveel beter is dit om wysheid [die wysheid wat met die vrees van Jehovah begin] te verkry as goud, en verkiesliker om verstand te verwerf as silwer.” Sulke wysheid en verstand gaan ons beweeg om die doen van God se wil die middelpunt van ons lewe te maak. En watter werk het God vir hierdie tydperk in die mensegeskiedenis aan sy Getuies toevertrou? Hulle moet sy Koninkryk verkondig en opregtes van hart help om ware dissipels van Jesus Christus te word (Matteus 24:14; 28:19, 20). Dit is ’n werk wat ware tevredenheid en baie geluk as beloning inhou. Die Bybel sê dus tereg: “Gelukkig die mens wat wysheid gevind het.”—Spreuke 3:13.
Beskerming teen verkeerde dade
8. (a) Noem ’n tweede voordeel wat dit inhou om God te vrees. (b) Wat is die slegte dinge waarteen ons beskerm word? (c) Hoe word godvrugtige vrees ’n kragtige motiverende krag?
8 ’n Tweede voordeel daarvan om God te vrees, is dat dit ons daarteen beskerm om te doen wat verkeerd is. Diegene wat ’n diepe respek vir God het, besluit nie self wat goed en wat sleg is nie. Wanneer God sê dat iets goed is, beskou hulle dit nie as sleg nie, en hulle dink ook nie dat dinge wat God sê sleg is goed is nie (Psalm 37:1, 27; Jesaja 5:20, 21). Daarbenewens weet iemand wat deur godvrugtige vrees gemotiveer word nie net wat goed en wat sleg in Jehovah se oë is nie. So iemand het lief wat Jehovah liefhet en haat wat Jehovah haat. Gevolglik tree hy in ooreenstemming met God se standaarde op. Dit is dus soos Spreuke 16:6 sê: “Deur die vrees van [Jehovah] wyk ’n mens af van die kwaad.” Sulke godvrugtige vrees word ’n sterk motiverende krag wat ’n mens dinge laat bereik wat jy moontlik nie op jou eie sou kon regkry nie.
9. Hoe het ’n sterk begeerte om God nie te mishaag nie die besluit van ’n vrou in Mexiko beïnvloed, en wat was die resultaat?
9 Al het godvrugtige vrees nog net in ’n mens begin ontwikkel, kan dit hom versterk sodat hy nie iets doen waaroor hy dalk vir die res van sy lewe spyt sal wees nie. ’n Swanger vrou in Mexiko het een van Jehovah se Getuies byvoorbeeld oor aborsie uitgevra. Die Getuie het vir die vrou etlike tekste gelees en toe geredeneer: “Lewe is vir die Skepper baie belangrik, selfs die lewe van diegene wat nog nie eers gebore is nie” (Exodus 21:22, 23; Psalm 139:13-16). Kliniese toetse het aangedui dat haar baba dalk abnormaal sou wees. Maar nou, beweeg deur wat sy in God se Woord gesien het, het die vrou besluit om haar baba te behou. Haar dokter het geweier om haar weer te sien en haar man het gedreig om haar te verlaat, maar sy was vasbeslote. Uiteindelik het sy geboorte gegee aan ’n dogtertjie—normaal, gesond en pragtig. Uit dankbaarheid het sy die Getuies opgesoek, en hulle het God se Woord met haar begin studeer. Binne ’n jaar is sy en haar man gedoop. ’n Paar jaar later, by ’n streekbyeenkoms, was hulle verheug om die Getuie te ontmoet wat aanvanklik met haar gepraat het, en hulle het hulle pragtige vierjarige dogtertjie vir haar gewys. Behoorlike respek vir God en ’n sterk begeerte om hom nie te mishaag nie, het beslis kragtige invloede op ’n mens se lewe.
10. Van watter soort verkeerde dade kan godvrugtige vrees ons die krag gee om weg te breek?
10 Godvrugtige vrees gee ons die krag om allerhande verkeerde dade te weerstaan (2 Korintiërs 7:1). Wanneer dit behoorlik aangekweek word, kan dit ’n persoon help om ’n einde te maak aan geheime sondes waarvan net hy en Jehovah weet. Dit kan hom help om van alkohol- en dwelmmisbruik weg te breek. ’n Voormalige dwelmslaaf in Suid-Afrika het verduidelik: “Namate ek kennis van God ingeneem het, het ek ook ’n vrees ontwikkel om hom seer te maak of te mishaag. Ek het geweet hy kan my sien, en ek wou baie graag sy goedkeuring geniet. Dit het my beweeg om die dwelms wat in my besit was, te vernietig deur dit in die toilet af te spoel.” Godvrugtige vrees het nog duisende ander op soortgelyke maniere gehelp.—Spreuke 5:21; 15:3.
Beskerming teen mensevrees
11. Teen watter algemene strik kan die vrees van Jehovah ons beskerm?
11 Heilsame vrees van God beskerm ons ook teen mensevrees. Die meeste mense ly in ’n mindere of meerdere mate aan mensevrees. Selfs Jesus Christus se apostels het hom verlaat en gevlug toe soldate in die tuin van Getsemane hom gevange geneem het. Later, in die voorhof van die hoëpriester, het Petrus, omdat hy van stryk gebring is en vreesbevange was, ontken dat hy een van Jesus se dissipels is en dat hy hom selfs ken (Markus 14:48-50, 66-72; Johannes 18:15-27). Maar die apostels is gehelp om hulle geestelike balans te herwin. Daarenteen was Uria, die seun van Semaja, so vreesbevange in die dae van koning Jojakim dat hy sy diens as ’n profeet van Jehovah verlaat het en uit die land gevlug het, maar toe in elk geval gevange geneem en doodgemaak is.—Jeremia 26:20-23.
12. (a) Op watter beskerming teen mensevrees wys Spreuke 29:25? (b) Hoe word vertroue in God ontwikkel?
12 Wat kan ’n persoon help om mensevrees te oorkom? Nadat Spreuke 29:25 waarsku dat ‘die vrees vir die mens ’n strik span’, voeg dit by: “Hy wat op [Jehovah] vertrou, sal beskut word.” Vertroue in Jehovah is die sleutel. Sulke vertroue is op kennis en ondervinding gegrond. Deur Jehovah se Woord te bestudeer, sien ons bewys van die regverdigheid van sy weë. Ons raak vertroud met gebeurtenisse wat ’n bewys is van sy betroubaarheid, die sekerheid van sy beloftes (onder andere die belofte van die opstanding), sy liefde en sy almag. Wanneer ons dan daardie kennis toepas deur te doen wat Jehovah van ons verwag en vasbeslote die dinge te verwerp waarteen hy ons waarsku, begin ons sy liefdevolle sorg en sy betroubaarheid eerstehands ondervind. Ons sien persoonlik die bewys dat hy sy mag laat geld om sy wil tot stand te bring. Ons vertroue in hom neem toe en, daarmee saam, ons liefde vir hom en ons opregte begeerte om niks te doen wat hom mishaag nie. Sulke vertroue is deeglik gegrond. Dit dien as ’n beskerming teen mensevrees.
13. Hoe kan godvrugtige vrees ons by ons sekulêre werk, by die huis en op skool help?
13 Ons vertroue in Jehovah, tesame met godvrugtige vrees, sal ons ferm standpunt laat inneem vir wat reg is as ’n werkgewer dreig om ons af te dank omdat ons weier om aan oneerlike sakegebruike deel te neem. (Vergelyk Miga 6:11, 12.) Sulke godvrugtige vrees stel derduisende Christene in staat om in ware aanbidding te volhard ten spyte van teenstand van ongelowige familielede. Dit gee skoolgaande jongmense ook die moed om hulleself as Jehovah se Getuies te identifiseer, en dit versterk hulle sodat hulle die bespotting kan hanteer van klasmaats wat Bybelstandaarde lig opneem. ’n Tienderjarige Getuie het derhalwe gesê: “Wat hulle dink, maak werklik nie saak nie. Wat Jehovah dink, is wat tel.”
14. Hoe kan Jehovah se knegte as oorwinnaars uit die stryd tree selfs wanneer hulle lewe bedreig word?
14 Daardie selfde oortuiging versterk ware Christene om stewig vas te hou aan Jehovah se weë selfs wanneer hulle lewe bedreig word. Hulle weet dat hulle vervolging van die wêreld moet verwag. Hulle besef dat die apostels geslaan is en dat Jesus Christus self deur goddelose manne geslaan en doodgemaak is. (Markus 14:65; 15:15-39; Handelinge 5:40; vergelyk Daniël 3:16-18.) Maar Jehovah se knegte het die volle vertroue dat hy hulle kan versterk om te volhard; dat hulle met God se hulp as oorwinnaars uit die stryd kan tree; dat Jehovah die getroues ongetwyfeld sal beloon—indien nodig selfs deur ’n opstanding tot die lewe in sy nuwe wêreld. Hulle liefde vir God tesame met godvrugtige vrees dien vir hulle as kragtige motivering om niks te doen wat hom sal mishaag nie.
15. Wat het Jehovah se Getuies in staat gestel om hulle onkreukbaarheid in die Nazi-konsentrasiekampe te handhaaf?
15 Hierdie motivering het Jehovah se Getuies in staat gestel om die gruwels van die Nazi-konsentrasiekampe gedurende die dertiger- en veertigerjare te verduur. Hulle het Jesus se raad in Lukas 12:4, 5 ter harte geneem: “Ek [sê] vir julle, my vriende: Moenie dié vrees wat die liggaam doodmaak en daarna niks meer kan doen nie. Maar ek sal vir julle aandui wie julle moet vrees: Vrees hom wat, nadat hy doodgemaak het, die gesag het om in Gehenna te werp. Ja, ek sê vir julle, vrees Hom.” Daarom het Gustav Auschner, ’n Getuie wat in die Sachsenhausen-konsentrasiekamp was, later geskryf: ‘Die SS het August Dickmann geskiet en gedreig om die res van ons te skiet as ons nie ’n vorm teken waarop ons van ons geloof afsien nie. Nie een van ons het geteken nie. Ons vrees om Jehovah te mishaag, was groter as ons vrees vir hulle koeëls.’ Mensevrees maak ’n mens ontrou, maar die vrees van God laat ’n mens ferm standpunt inneem vir wat reg is.
Die behoud van lewe
16. Wat het Noag in staat gestel om dekade ná dekade, tot die Vloed toe, die regte weg te bewandel, en wat was die uiteinde vir hom en sy gesin?
16 Noag het deur die laaste dae van die antediluviaanse wêreld gelewe. Jehovah het hom voorgeneem om die goddelose wêreld van daardie tyd weens die mens se verdorwenheid te vernietig. Intussen was Noag egter in daardie wêreld wat vol geweld, growwe onsedelikheid en onverskilligheid teenoor die Goddelike wil was. Ondanks Noag se prediking van regverdigheid “het [hulle] geen ag daarop geslaan totdat die vloed gekom en hulle almal weggesleur het nie” (Matteus 24:39). Tog het dit Noag nie daarvan afgeskrik om die werk te doen wat God hom gegee het nie. Hy het “alles gedoen wat God hom beveel het. Hy het net so gedoen” (Genesis 6:22, NW). Wat het Noag gehelp om jaar ná jaar, tot die Vloed toe, die regte weg te bewandel? Hebreërs 11:7 antwoord: “Deur geloof het Noag, nadat hy ’n goddelike waarskuwing gegee is oor dinge wat nog nie gesien is nie, godvrugtige vrees aan die dag gelê.” Gevolglik het hy en sy vrou en sy seuns en hulle vrouens deur die Vloed heen behoue gebly.
17. (a) Wat moet ons doen, ongeag wat ander mense doen? (b) Waarom is diegene wat Jehovah vrees waarlik gelukkig?
17 Ons lewe in ’n tydperk wat in baie opsigte soortgelyk is aan Noag se dag (Lukas 17:26, 27). Daar word weer ’n waarskuwing gegee. Openbaring 14:6, 7 praat van ’n engel wat in die middel van die hemel vlieg en mense uit elke nasie, stam en taal aanspoor: “Vrees God en gee hom heerlikheid.” Jy moet, ongeag wat die wêreld om jou doen, op daardie woorde ag slaan en dan die uitnodiging aan ander rig. Soos Noag moet jy in geloof optree en godvrugtige vrees aan die dag lê. As jy dit doen, kan dit daartoe lei dat jou lewe en die lewe van talle ander behoue sal bly. Terwyl ons oor die voordele nadink wat diegene geniet wat die ware God vrees, kan ons net saamstem met die geïnspireerde psalmis wat gesing het: “Welgeluksalig is die man wat [Jehovah] vrees, wat ’n groot welbehae in sy gebooie het.”—Psalm 112:1.
Hoe sal jy antwoord?
◻ Wat is sommige uitstaande voordele daarvan om die ware God te vrees?
◻ Hoe kan wysheid waarvan godvrugtige vrees die grondslag is ons beskerm?
◻ Waarom laat godvrugtige vrees ons afwyk van wat verkeerd is?
◻ Hoe beskerm godvrugtige vrees ons teen mensevrees?
◻ Hoe hou godvrugtige vrees verband met ons vooruitsig op ’n toekomstige lewe?
[Prente op bladsy 16, 17]
“Welgeluksalig is die man wat [Jehovah] vrees, wat ’n groot welbehae in sy gebooie het.”—Psalm 112:1