Word koning Salomo se rykdom oordryf?
“Die gewig van Salomo se inkomste aan goud in een jaar was seshonderd-ses-en-sestig talente goud.”—1 Konings 10:14.
VOLGENS daardie Bybelvers het koning Salomo in een jaar meer as 25 ton goud versamel! Vandag sal dit R1 044 000 000 werd wees. Dit is byna twee keer soveel goud as wat in die jaar 1800 wêreldwyd ontgin is. Is dit moontlik? Wat toon argeologiese getuienis? Dit gee te kenne dat die Bybel se verslag van Salomo se rykdom beslis geloofwaardig is. Biblical Archaeology Review sê:
◻ Koning Toetmoses III van Egipte (tweede millennium v.G.J.) het ongeveer 13,5 ton goudware aan die tempel van Amon-Ra by Karnak gegee—en dit was net ’n deel van die geskenk.
◻ Egiptiese inskripsies noem dat koning Osorkon I (vroeë eerste millennium v.G.J.) geskenke wat uit nagenoeg 383 ton goud en silwer bestaan het aan die gode geoffer het.
Daarbenewens sê die boekdeel Classical Greece van die reeks Great Ages of Man:
◻ Die myne van Pangaeum in Trasië het elke jaar meer as 37 ton goud vir koning Philippus II (359-336 v.G.J.) gelewer.
◻ Toe Philippus se seun Alexander die Grote (336-323 v.G.J.) Susa, die hoofstad van die Persiese ryk, ingeneem het, is baie meer as 1 000 ton goud se skatte gevind.—The New Encyclopædia Britannica.
Die Bybel se beskrywing van koning Salomo se rykdom is dus nie vergesog nie. Hou ook in gedagte dat Salomo destyds “groter geword [het] as al die konings van die aarde, in rykdom en wysheid”.—1 Konings 10:23.
Hoe het Salomo sy rykdom gebruik? Sy troon was oorgetrek met “suiwer goud”, sy drinkservies was “van goud”, en hy het 200 groot skilde en 300 klein skilde van “geslae goud” gehad (1 Konings 10:16-21). Salomo se goud is bowenal in Jehovah se tempel in Jerusalem gebruik. Die tempelkandelaars en heilige voorwerpe, soos vurke, rookpanne, vuurpanne en skottels is van goud en silwer gemaak. Die 4,5 meter hoë gerubs in die Allerheiligste, die rookaltaar en selfs die hele binnekant van die huis was oorgetrek met goud.—1 Konings 6:20-22; 7:48-50; 1 Kronieke 28:17.
Wat van ’n vergulde tempel? Dit is interessant dat hierdie gebruik van goud glad nie ongewoon in die antieke wêreld was nie. Biblical Archaeology Review sê dat Amenophis III van Egipte “die groot god Amon vereer het met ’n tempel in Thebe wat ‘heeltemal met goud oorgetrek was, waarvan die vloere met silwer versier is [en] al sy ingange met elektrum’”—’n allooi van goud en silwer. Daarbenewens het Esar-Haddon van Sirië (sewende eeu v.G.J.) die tempel van Assur se deure verguld en die mure met goud oorgetrek. Nabonidus van Babilon (sesde eeu v.G.J.) het aangaande die tempel van Sin in Haran geskryf: “Ek bedek die mure daarvan met goud en silwer en laat dit soos die son blink.”
Geskiedkundige verslae toon dus dat die Bybelse verslag van koning Salomo se rykdom nie oordryf is nie.