Die groter heerlikheid van Jehovah se huis
“‘Ek sal hierdie huis met heerlikheid vervul’, het Jehovah van die leërs gesê.”—HAGGAI 2:7, NW.
1. Hoe hou heilige gees met geloof en werke verband?
TERWYL een van Jehovah se Getuies van huis tot huis getuig het, het sy ’n vrou van die Pinksterkerk ontmoet wat gesê het: ‘Ons het heilige gees, maar julle is die mense wat die werk doen.’ Daar is taktvol aan haar verduidelik dat iemand wat heilige gees het outomaties beweeg sal word om God se werk te doen. Jakobus 2:17 sê: “Geloof, as dit nie werke het nie, [is] op sigself dood.” Met die hulp van Jehovah se gees het sy Getuies sterk geloof opgebou, en hy het ‘sy huis met heerlikheid vervul’ deur hulle regverdige werke te laat doen—hoofsaaklik om ‘hierdie goeie nuus van die Koninkryk in die hele bewoonde aarde te verkondig tot ’n getuienis vir al die nasies’. Wanneer Jehovah tevrede is met die mate waartoe hierdie werk gedoen is, “dan sal die einde kom”.—Matteus 24:14.
2. (a) Watter seëning sal dit meebring as ons ons in Jehovah se werk verdiep? (b) Waarom behoort ons bly te wees as die einde skynbaar “vertoef”?
2 Uit hierdie woorde van Jesus lei ons af dat die verkondiging van “die heerlike goeie nuus van die gelukkige God”, wat aan ons toevertrou is, die belangrikste werk is wat ons vandag kan doen (1 Timoteus 1:11). Hoe meer ons ons vreugdevol in Jehovah se diens verdiep, hoe meer sal dit lyk of die einde vinniger kom. In Habakuk 2:2, 3 lees ons Jehovah se woorde: “Skryf die gesig op en graveer dit op tafels, sodat hulle dit in die verbygaan kan lees. Want die gesig sal nog duur tot op die vasgestelde tyd; maar dit spoed na die einde en sal nie teleurstel nie. As dit mag vertoef, wag daarop; want alte seker sal dit kom en nie versuim nie.” Ja, “die gesig” sal bewaarheid word, selfs “as dit mag vertoef”. Vandag, in die 83ste jaar van Jesus se Koninkryksheerskappy, meen party dalk dat ons nou in ’n tydperk lewe waarin die einde vertoef. Maar behoort ons nie bly te wees dat die einde nog nie gekom het nie? Gedurende hierdie dekade van die negentigerjare lyk dit of beperkings op die verkondiging van die goeie nuus in Oos-Europa, dele van Afrika en ander lande byna wonderdadig opgehef is. Die feit dat die einde skynbaar “vertoef”, laat tyd toe vir baie meer “skape” om ingesamel te word in hierdie gebiede wat onlangs oopgestel is.—Johannes 10:16.
3. Waarom moet ons nuwe begrip van “hierdie geslag” ons beweeg om dringend met God se werk besig te bly?
3 Dit “sal nie versuim nie”, sê die profeet. Jesus het gesê dat die huidige goddelose geslag nie verby sal gaan voordat “al hierdie dinge plaasgevind het nie” (Matteus 24:34). Beteken ons nuwe begrip van sy woorde dat ons predikingswerk nie so dringend is nie?a Die feite toon net mooi die teenoorgestelde! Ons eietydse geslag verval in ’n toestand van goddeloosheid en verdorwenheid wat sonder gelyke in die geskiedenis is. (Vergelyk Handelinge 2:40.) Ons moet dringend met ons werk besig bly (2 Timoteus 4:2). Al die profesieë oor die tyd van die groot verdrukking toon dat dit skielik, oombliklik, onverwags—soos ’n dief—sal kom (1 Tessalonisense 5:1-4; Openbaring 3:3; 16:15). “Om dié rede moet julle julle ook gereed betoon, want die Seun van die mens kom op ’n uur waarvan julle dit nie dink nie” (Matteus 24:44). Terwyl hierdie goddelose mensegeslag op die rand van vernietiging staan, wil ons tog sekerlik nie ons kosbare hoop op ewige lewe prysgee deur weer “in die modder” van wêreldse afleidings te rol nie!—2 Petrus 2:22; 3:10; Lukas 21:32-36.
4. Watter situasie het vereis dat daar meer “voedsel op die regte tyd” voorsien word, en hoe is daar in hierdie behoefte voorsien?
4 Net soos Jesus voorspel het, was daar in 1914 “’n begin van weë van benoudheid” toe die mensdom “die voleinding van die stelsel van dinge” ingegaan het. Smarte, rampspoedige gebeure en wetteloosheid het tot vandag toe vermeerder (Matteus 24:3-8, 12). Terselfdertyd het Jehovah die gesalfde “getroue en verstandige slaaf”-klas opdrag gegee om geestelike “voedsel op die regte tyd” vir die huisgenote van hulle Heer, Christus, te voorsien (Matteus 24:45-47). Van sy troon in die hemel rig hierdie Messiaanse Koning nou ’n wonderlike geestelike voedingsprogram regoor die aarde.
’n Oorvloed ‘voedsel’
5. Watter aandag geniet die basiese ‘voedsel’-item?
5 Kyk byvoorbeeld na die voorbereiding van hulle ‘voedsel’ (Lukas 12:42). Die basiese item op die Christelike spyskaart is God se Woord, die Bybel. Om die Bybel op doeltreffende wyse aan ander te leer, is ’n maklik leesbare, juiste vertaling onontbeerlik. Oor die jare is daar progressief in hierdie behoefte voorsien, veral sedert 1950 toe die Nuwe Wêreld-vertaling van die Christelike Griekse Geskrifte in Engels vrygestel is. Teen 1961 was die Nuwe Wêreld-vertaling van die hele Bybel beskikbaar, en kort voor lank het uitgawes in ander hooftale verskyn. Die 3 bundels wat gedurende die 1996-diensjaar vrygestel is, bring die totaal op 27, waarvan 14 die volledige Bybel is. Ten einde hierdie werk aan die Bybel, sowel as Bybelhulpe, te doen, werk ongeveer 1174 toegewyde Christene nou voltyds aan vertaling in 77 lande.
6. Hoe het die Genootskap aan die aanvraag na Bybelpublikasies voldoen?
6 Ter ondersteuning van die werk wat hierdie groot groep vertalers doen, druk die Wagtoringgenootskap se 24 takke wat drukwerk doen al hoe meer publikasies. Met dié doel word daar voortdurend bykomende snelrotasieperse in groot takkantore geïnstalleer. Produksie van Die Wagtoring en Ontwaak! het maand na maand toegeneem en het ’n gesamentlike totaal van 943 892 500 eksemplare bereik, ’n vermeerdering van 13,4 persent vir die jaar. Die totale produksie van Bybels en hardebandboeke in die Verenigde State, Brasilië, Finland, Duitsland, Italië, Japan, Korea en Mexiko het met 40 persent van 1995 af toegeneem tot 76 760 098 eksemplare in 1996. Ander takkantore het ook ’n aansienlike bydrae gelewer tot die totale toename in lektuurproduksie.
7. Hoe neem Jesaja 54:2 nou groter dringendheid aan?
7 Die toename gedurende die negentigerjare is grotendeels genoodsaak deur die opheffing van beperkings op die werk van Jehovah se Getuies in Oos-Europa en Afrika. Daar is ’n groot honger na geestelike voedsel in hierdie plekke. Derhalwe gaan die oproep met al hoe groter dringendheid uit: “Maak die plek van jou tent wyd, en laat hulle die doeke van jou tentwonings oopspan. Verhinder dit nie! Maak jou lyne lank en slaan jou penne styf in.”—Jesaja 54:2.
8. Watter ruimhartige reaksie help om finansiële steun te verleen?
8 Dit was dus nodig om fasiliteite in baie van die Genootskap se 104 takkantore te vergroot. As gevolg van die benarde ekonomiese toestande in die meeste nuwe gebiede word die onkoste vir hierdie uitbreiding hoofsaaklik gedek deur bydraes wat welvarender lande tot die wêreldwye werk maak. Gelukkig reageer gemeentes en individue heelhartig, in die gees van Exodus 35:21: “Elkeen wie se hart hom opgewek en elkeen wie se gees hom aangedryf het, het gekom: hulle het die offergawe van die HERE gebring vir die werk.” Ons maak van hierdie geleentheid gebruik om almal te bedank wat ruimhartig gegee het.—2 Korintiërs 9:11.
9. Hoe word Romeine 10:13, 18 vandag vervul?
9 Gedurende 1996 het die publikasies van die Wagtoringgenootskap inderdaad Jehovah se naam en voornemens tot by die uithoeke van die aarde verheerlik. Dit is net soos die apostel Paulus voorspel het. Hy het Joël se profesie en die 19de Psalm aangehaal en geskryf: “‘Elkeen wat die naam van Jehovah aanroep, sal gered word.’ Nietemin vra ek: Het hulle miskien nie gehoor nie? Kyk, in werklikheid ‘het hulle geluid oor die hele aarde uitgegaan en hulle uitinge tot aan die uiterstes van die bewoonde aarde’” (Romeine 10:13, 18). Deur op hierdie manier die kosbare naam Jehovah te verheerlik, het sy volk ’n betekenisvolle rol daarin gespeel om sy huis van aanbidding met heerlikheid te vervul. Maar hoe het hierdie verkondigingswerk spesifiek gedurende 1996 gevorder? Kyk asseblief na die tabel wat op bladsye 18 tot 21 verskyn.
’n Wêreldwye oeswerk
10. Watter uitstaande hoogtepunte sien jy in die bedrywighede van Jehovah se volk, soos dit in die tabel op bladsye 18 tot 21 opgesom word?
10 Jesus se woorde in Lukas 10:2 was nog nooit so betekenisvol nie: “Die oes is werklik groot, maar die werkers is min. Smeek dus die Heer van die oes om werkers in sy oes uit te stuur.” Gee jy gehoor aan daardie oproep? Miljoene regoor die wêreld doen dit. Dit word bevestig deur die nuwe hoogtepunt van 5413 769 Koninkryksverkondigers wat gedurende 1996 velddiens gerapporteer het. Daarbenewens is 366 579 nuwe broers en susters gedoop. Hoe kosbaar is hierdie “begeerlike dinge van al die nasies” wat nou ’n aandeel daaraan het om ‘Jehovah se huis van aanbidding met heerlikheid te vervul’ tog nie vir ons nie!—Haggai 2:7, NW.
11. Waarom het ons almal rede om ons te verheug?
11 Verslae van uitbreiding in gebiede wat onlangs oopgestel is, is absoluut fenomenaal. Is ons afgunstig op diegene wat nou sulke groei geniet? Inteendeel, ons verheug ons saam met hulle. Alle lande het ’n klein begin gehad. Die profeet Sagaria, ’n tydgenoot van Haggai, het geskryf: “Wie verag die dag van klein dinge”? (Sagaria 4:10). Ons is verheug dat daar in lande waar die getuieniswerk goed gevestig is nou miljoene Koninkryksverkondigers is, en gebiede word dikwels gedek, selfs weekliks in talle groot stede. Het ons rede om die hand te verslap terwyl Jehovah nou aan gebiede waar daar voorheen beperkings op die werk was die geleentheid vir redding bied? Nooit! “Die saailand is die wêreld”, het Jesus gesê (Matteus 13:38). Ons moet voortgaan om ’n deeglike getuienis te gee, net soos die vroeë dissipels ’n deeglike getuienis tydens die voleinding van die Joodse stelsel van dinge gegee het.—Handelinge 2:40; 10:42; 20:24; 28:23.
Gaan altyd vorentoe
12. Watter aansporing het ons om “reguit vorentoe” te gaan? (Sien ook venster “Die oes word ‘van die einde van die aarde af’ ingesamel”.)
12 Ja, ons moet tred hou en “reguit vorentoe” gaan met die hemelse strydwa van Jehovah (Esegiël 1:12). Ons hou Petrus se woorde in gedagte: “Jehovah is nie traag met betrekking tot sy belofte, soos party mense traagheid beskou nie, maar hy is geduldig met julle omdat hy nie wil hê dat enigeen vernietig moet word nie, maar wil hê dat almal tot berou moet kom” (2 Petrus 3:9). Laat die voorbeeldige ywer van ons broers in arm lande ons aanspoor. Enige skynbare vertraging van Armageddon maak die insameling van honderdduisende mense in hierdie lande sowel as in baie gebiede wat deeglik gedek word moontlik. Dit ly geen twyfel nie: “Naby is die groot dag van die HERE, naby en baie haastig” (Sefanja 1:14). Ons moet dus dringend daarmee besig wees om ’n deeglike finale getuienis te gee!
13, 14. (a) Wat kan oor die verspreiding van publikasies gedurende 1996 gesê word? (b) Watter spesiale reëlings kan gemeentes elke jaar tref, en hoe beplan jy om ’n aandeel daaraan te hê?
13 Hoewel die besonderhede nie op die dienstabel verskyn nie, was daar gedurende die afgelope jaar ’n noemenswaardige toename in die verspreiding van Bybels, boeke en tydskrifte. Die wêreldwye tydskrifverspreiding het byvoorbeeld ’n vermeerdering van 19 persent getoon; altesaam 543 667 923 eksemplare is versprei. Ons tydskrifte maak dit maklik om op verskillende plekke te getuig—op straat, in parke, by bushaltes, in sakegebiede. Verslae toon dat beroepsmense in sommige gebiede wat dikwels in die Koninkrykspredikingswerk gedek word, beïndruk is deur die gehalte van ons tydskrifte en Bybelstudies aanvaar.
14 Elke jaar gedurende April tref gemeentes gewoonlik reëlings vir spesiale tydskrifverspreiding, wat ’n daglange kampanje van huis tot huis en in openbare plekke insluit. Gaan julle gemeente gedurende April 1997 ’n aandeel hieraan hê? Uitstekende nommers van Die Wagtoring en Ontwaak! vir April is voorberei, en die feit dat dit gelyktydig oor die hele wêreld versprei sal word, sal ongetwyfeld ’n indruk maak! Op die eiland Siprus het die gemeentes, wat die woorde “bereik elkeen moontlik met die Koninkryksboodskap” as hulle slagspreuk gebruik, selfs elke maand spesiale reëlings vir tydskrifwerk getref, en gevolglik vir die jaar ’n nuwe hoogtepunt van 275 359 in tydskrifverspreiding bereik, wat ’n vermeerdering van 54 persent is.
Haggai se laaste boodskappe
15. (a) Waarom het Jehovah verdere boodskappe deur middel van Haggai gestuur? (b) Watter les behoort ons uit Haggai se derde boodskap te leer?
15 Drie-en-sestig dae nadat Haggai sy tweede boodskap gelewer het, het Jehovah hom met ’n derde boodskap gestuur wat ons vandag gerus ter harte kan neem. Haggai het gespreek asof die Jode besig was om die fondament van die tempel te lê, wat hulle eintlik 17 jaar vroeër gelê het. Jehovah het dit weer eens gepas geag om hulle te reinig. Die priesters en die volk het traag geword en was dus onrein in Jehovah se oë. Is dit moontlik dat daar vandag sommige onder Jehovah se volk is wat die hand verslap het en selfs by die wêreld se permissiewe en materialistiese weë betrokke geraak het? Dit is dringend dat ons almal “van hierdie dag af [aan, NW]” ons hart rig op die verheerliking van Jehovah se naam, met volle vertroue in sy belofte: “Van hierdie dag af sal Ek seën.”—Haggai 2:10-19; Hebreërs 6:11, 12.
16. Watter ‘geskud’ is op hande, en wat sal die gevolg wees?
16 Op daardie selfde dag het die woord van “Jehovah van die leërs” ’n vierde en laaste keer tot Haggai gekom. Hy het bekend gemaak wat dit sal behels wanneer Hy ‘die hemele en die aarde sal skud’ deur te sê: “Ek sal die koningstrone omverwerp en die mag van die heidense koninkryke verdelg; en Ek sal die strydwaens en die wat daarop ry, omverwerp, en die perde en hulle ruiters sal val, die een deur die swaard van die ander” (Haggai 2:6, 21, 22, vgl. NW). Die ‘geskud’ sal dus sy klimaks bereik wanneer Jehovah die aarde heeltemal reinig by Armageddon. Teen daardie tyd sal “die begeerlike dinge van al die nasies” al ingekom het om die kern van die mensegemeenskap vir die nuwe wêreld te vorm. Watter redes is dit tog om ons te verheug en Jehovah te loof!—Haggai 2:7, NW; Openbaring 19:6, 7; 21:1-4.
17. Hoe is Jesus tot ’n “seëlring” gemaak?
17 Ter afsluiting van sy profesie skryf Haggai: “In dié dag, spreek die HERE van die leërskare, sal Ek jou neem, Serubbabel, . . . en jou maak tot ’n seëlring, want jou het Ek verkies, spreek die HERE van die leërskare” (Haggai 2:23). Christus Jesus is nou Jehovah se antitipiese Messiaanse Koning en Hoëpriester, dit wil sê, hy beklee in die hemel die ampte wat goewerneur Serubbabel en die hoëpriester Josua afsonderlik in die aardse Jerusalem vervul het. Soos ’n amptelike seëlring aan Jehovah se regterhand, is Jesus die een wat “Ja” geword het as Jehovah se instrument om die talle “beloftes van God” te verwesenlik (2 Korintiërs 1:20; Efesiërs 3:10, 11; Openbaring 19:10). Die hele profetiese boodskap van die Bybel vestig die aandag op Jehovah se voorsiening van Christus as Koning en priesterlike Verlosser.—Johannes 18:37; 1 Petrus 1:18, 19.
18. Hoe sal die slotwoorde van “die HERE van die leërskare” ’n vreugdevolle vervulling hê?
18 Waarlik, in ons dag word die grootste heerlikheid in Jehovah se luisterryke geestelike tempel gevind! En binnekort, nadat Jehovah Satan se stelsel geheel en al vernietig het, sal Haggai 2:9 ’n verdere vreugdevolle vervulling hê: “Op hierdie plek sal Ek vrede gee, spreek die HERE van die leërskare.” Uiteindelik vrede!—’n blywende, universele vrede wat gewaarborg word deur Jehovah se “seëlring”, Christus Jesus, die “Vredevors”, van wie daar geskryf is: “Tot vermeerdering van die heerskappy en tot vrede sonder einde . . . Die ywer van die HERE van die leërskare sal dit doen” (Jesaja 9:5, 6). Die heerlikheid van Jehovah se huis van aanbidding sal tot in ewigheid regdeur die vreedsame ryk van sy universele soewereiniteit weerspieël word. Mag ons altyd in daardie huis bly!—Psalm 27:4; 65:5; 84:11.
[Voetnoot]
a Sien “Gered uit ’n ‘goddelose geslag’” en “’n Tyd om wakker te bly” in Die Wagtoring van 1 November 1995.
Kan jy verduidelik?
◻ Hoe word Jehovah se huis vandag “met heerlikheid vervul”?
◻ Waarom was dit nog nooit so dringend om die goeie nuus te verkondig nie?
◻ Watter aansporing om dringend te getuig, gee die rapport vir die 1996-diensjaar?
◻ Hoe dien Christus as Jehovah se “seëlring”?
[Venster op bladsy 15]
Die Oes Word “Van Die Einde Van Die Aarde Af” Ingesamel
IN Jesaja 43:6 lees ons Jehovah se opdrag: “Hou nie terug nie! Bring my seuns van ver, en my dogters van die einde van die aarde af.” Hierdie teks word vandag op ’n uitsonderlike wyse in Oos-Europa vervul. Kyk byvoorbeeld na Moldowa wat voorheen ’n Kommunistiese land was. Daar is dorpe waar tot die helfte van die inwoners nou Getuies is. Hulle moet ver reis om gebied te vind waarin hulle kan getuig, maar hulle doen daardie moeite! Baie verkondigers in hierdie gemeentes is die kinders van ouers wat in die vroeë vyftigerjare na Siberië verban is. Nou neem hulle gesinne die voortou met die oeswerk. Van die 12 565 verkondigers is 1917 hierdie afgelope jaar gedoop. Drie-en-veertig van die gemeentes het ongeveer 150 verkondigers elk, en die kringe het in die nuwe diensjaar van vier tot agt vermeerder.
Die uitbreiding in Albanië is ook merkwaardig. Daar het ’n handjievol lojale Getuies die wreedste diktatorskappe ongeveer 50 jaar lank verduur. Sommige van hulle is doodgemaak. Dit laat ons aan Jesus se belofte dink: “Moenie bang wees vir die dinge wat jy weldra gaan ly nie. Kyk! Die Duiwel sal aanhou om party van julle in die gevangenis te gooi sodat julle ten volle op die proef gestel kan word . . . Betoon jou selfs tot in die dood getrou, en ek sal jou die kroon van die lewe gee.” (Openbaring 2:10; sien ook Johannes 5:28, 29; 11:24, 25.) Wat sien ons nou in Albanië? ’n Waarlik treffende vervulling van Jehovah se belofte in Jesaja 60:22 (NW): “Die kleine self sal duisend word”! In 1990 het slegs een verkondiger velddiens in Albanië gerapporteer. Maar meer “werkers” van Italië en ander lande het gehoor gegee aan Jesus se oproep: “Gaan dus en maak dissipels van mense . . . , en doop hulle” (Matteus 28:19; Lukas 10:2). Teen die tyd van die herdenking van Jesus se dood in 1996 was 773 verkondigers bedrywig in die veld, en hulle het 6523 mense by hulle Gedenkmaal byeengebring, meer as agt keer die getal verkondigers! Afgesonderde gebiede het verstommende bywoningsyfers gerapporteer. Alhoewel daar geen plaaslike verkondigers was nie, het die stede Kukës en Divjakë bywoningsyfers van onderskeidelik 192 en 230 gehad. In Krujë, waar daar slegs een verkondiger is, was 212 teenwoordig. Die 30 verkondigers in Korçë het fasiliteite vir meer as 300 gehuur. Nadat daardie getal mense die saal gevul het, moes nog 200 weggewys word, aangesien daar nie meer plek was nie. Waarlik ’n veld wat ryp is om geoes te word!
Van Roemenië kom hierdie verslag: “Terwyl ons huis-tot-huis-werk gedoen het, het ons iemand ontmoet wat gesê het dat hy een van Jehovah se Getuies is en in ’n klein dorpie woon waarin daar, so ver ons geweet het, geen Getuies was nie. Hy het vir ons gesê dat daar nog 15 mense is wat al jare lank vergaderinge op Donderdae en Sondae hou en dat hulle van huis tot huis begin getuig het. Die volgende dag het ons na daardie dorpie toe gegaan. Vyftien mans, vrouens en kinders het in twee vertrekke vir ons gewag, en hulle het 20 boeke en 20 van ons jongste tydskrifte geneem. Ons het vir hulle gewys hoe om Bybelstudies te hou. Ons het saam gesing en hulle dringendste vrae beantwoord. Die een wat die leiding in die groep geneem het, het erken: ‘’n Paar dae gelede het ek in trane tot Jehovah gebid om ons ’n herder te stuur, en my gebed is verhoor.’ Ons was baie bly, en by ons vertrek het hy, soos ’n weeskind wat uiteindelik ’n vader gevind het, gesê: ‘Moet asseblief nie van ons vergeet nie. Kom besoek ons weer!’ Ons het dit gedoen, en nou word sewe Bybelstudies in daardie dorpie gehou. Dit is wonderlik hoe die werk in talle nuwe gebiede begin word met behulp van Bybellektuur, wat hoog op prys gestel word, en dit toon dat die werk ’n Goddelike oorsprong het.”
[Tabel op bladsy 18-21]
WÊRELDRAPPORT VAN JEHOVAH SE GETUIES VIR DIE 1996-DIENSJAAR
(See bound volume)
[Prente op bladsy 16, 17]
“Die begeerlike dinge van al die nasies” word ingesamel op die eilande van die see (1), in Suid-Amerika (2), Afrika (3), Asië (4), Noord-Amerika (5) en Europa (6)