Jou gewete ’n las of ’n aanwins?
‘MY GEWETE kwel my!’ Van tyd tot tyd ondervind feitlik almal van ons gewetenswroeging. Sulke gevoelens kan wissel van blote ongerustheid tot kwellende pyn. ’n Geteisterde gewete kan selfs aanleiding gee tot depressie of ’n diepe gevoel van mislukking.
In hierdie perspektief gesien, is die gewete dan nie ’n las nie? Party voel dalk so. Deur die geslagte heen, het denkers die gewete dikwels as ’n aangebore, inherente vermoë beskou. Baie het gemeen dat dit ’n sedelike rigsnoer is wat regstreeks deur God self gegee is. Die gewete is derhalwe al “God se teenwoordigheid in die mens”, “ons oorspronklike natuur” en selfs “die stem van God” genoem.
Maar in onlangse jare het dit die algemene siening geword dat die gewete hoofsaaklik ’n aangeleerde vermoë is—’n gevolg van ouerlike en maatskaplike kondisionering. Party sielkundiges voer byvoorbeeld aan dat ’n kind vernaamlik uit vrees vir straf leer om hom van ongewenste gedrag te weerhou, omdat hulle glo dat dit wat ons die gewete noem bloot die resultaat is van ons ouers se persoonlike waardes en opvattings. Ander vestig die aandag op die rol wat die samelewing as geheel in die oordrag van waardes en standaarde speel. Party meen gewetenswroeging is niks anders nie as ’n stryd tussen wat ons graag wil doen en wat ’n onderdrukkende samelewing ons voorskryf om te doen!
Ondanks hierdie teorieë het mense al keer op keer standpunt ingeneem teen hulle ouers, hulle familie en die hele samelewing omdat hulle gewete vir hulle so gesê het. Party was selfs bereid om hulle lewe op te offer ter wille van hulle gewete! En ten spyte van die diepgaande verskille tussen die wêreld se kultuurgroepe word dade soos moord, diefstal, egbreuk, leuens en bloedskande byna oral en altyd as verkeerd beskou. Is dit nie bewys van die feit dat die gewete ’n aangebore, inherente deel van ons is nie?
Jou gewete—die Bybel se beskouing
Die ware gesag op hierdie gebied is Jehovah God. Dit is per slot van rekening ‘God wat ons gemaak het, en nie ons self nie’ (Psalm 100:3, NW). Hy het ’n grondige kennis van ons samestelling. God se Woord, die Bybel, verduidelik dat die mens na God se “beeld” gemaak is (Genesis 1:26). Die mens is geskep met ’n sin vir wat reg en verkeerd is; van die begin af was die gewete ’n inherente deel van die mens se natuur.—Vergelyk Genesis 2:16, 17.
Die apostel Paulus het dit in sy brief aan die Romeine bevestig en geskryf: “Telkens as mense van die nasies wat geen wet [van God] het nie van nature die dinge van die wet doen, is hierdie mense, al het hulle geen wet nie, ’n wet vir hulleself. Dit is húlle wat toon dat die wese van die wet in hulle harte geskrywe staan, terwyl hulle gewete saam met hulle getuig en hulle, tussen hulle eie gedagtes, beskuldig of selfs verontskuldig word” (Romeine 2:14, 15). Let daarop dat baie mense wat nie grootgeword het onder die Goddelike Wet wat aan die Jode gegee is nie nog steeds party van die beginsels van God se wet gevolg het, nie weens druk van die samelewing nie, maar “van nature”!
Die gewete is dus nie ’n las nie; inteendeel, dit is ’n gawe van God, ’n aanwins. Dit kan ons weliswaar pynig. Maar wanneer ons behoorlik daarop ag slaan, kan dit ons ook beloon met gevoelens van diepe tevredenheid en gemoedsrus. Dit kan ons rig, beskerm en motiveer. The Interpreter’s Bible sê: “Geestes- en emosionele gesondheid kan slegs behou word indien die individu die kloof tussen wat hy doen en wat hy voel hy behoort te doen, probeer oorbrug.” Hoe kan ’n mens daardie kloof oorbrug? Is dit moontlik om ons gewete te vorm en op te lei? Hierdie vrae sal in die volgende artikel bespreek word.