Groter seëninge deur middel van die nuwe verbond
“Jesus . . . [is] ook die middelaar van ’n dienooreenkomstig beter verbond.”—HEBREËRS 8:6.
1. Wie was die ‘saad van die vrou’ wat in Eden belowe is, en hoe is hy ‘in die hakskeen gebyt’?
NADAT Adam en Eva gesondig het, het Jehovah oordeel uitgespreek oor Satan, die een deur wie Eva mislei is, en gesê: “Ek sal vyandskap stel tussen jou en die vrou, en tussen jou saad en haar saad. Hý sal jou die kop vermorsel, en jý sal hom in die hakskeen byt” (Genesis 3:15). Toe Jesus in 29 G.J. in die Jordaanrivier gedoop is, het die Saad wat in Eden belowe is uiteindelik verskyn. By sy dood aan ’n folterpaal in 33 G.J. is ’n deel van daardie profesie van lank gelede vervul. Satan het die Saad se ‘hakskeen gebyt’.
2. Volgens Jesus se eie woorde, hoe strek sy dood die mensdom tot voordeel?
2 Hoewel daardie wond verskriklik pynlik was, was dit gelukkig nie permanent nie. Jesus is as ’n onsterflike gees uit die dode opgewek en het na sy Vader in die hemel opgevaar, waar hy die waarde van sy vergote bloed “as ’n losprys in ruil vir baie” aangebied het. Sy eie woorde is derhalwe bewaarheid: “Die Seun van die mens [moet] opgehef word, sodat elkeen wat in hom glo die ewige lewe kan hê. Want God het die wêreld so liefgehad dat hy sy enigverwekte Seun gegee het, sodat elkeen wat geloof in hom beoefen, nie vernietig sal word nie maar die ewige lewe kan hê” (Matteus 20:28; Johannes 3:14-16; Hebreërs 9:12-14). Die nuwe verbond speel ’n sleutelrol in die vervulling van Jesus se profesie.
Die nuwe verbond
3. Wanneer is daar vir die eerste keer gesien dat die nuwe verbond in werking getree het?
3 Kort voor Jesus se dood het hy vir sy volgelinge gesê dat sy vergote bloed die “bloed van die [nuwe] verbond” is (Matteus 26:28; Lukas 22:20). Tien dae nadat hy na die hemel opgevaar het, is daar gesien dat die nuwe verbond in werking getree het toe die heilige gees op ongeveer 120 dissipels uitgestort is wat in ’n bovertrek in Jerusalem vergader het (Handelinge 1:15; 2:1-4). Die feit dat hierdie 120 dissipels in die nuwe verbond gebring is, het getoon dat die “vorige” verbond, die Wetsverbond, nou verouderd was.—Hebreërs 8:13.
4. Was die ou verbond ’n mislukking? Verduidelik.
4 Was die ou verbond ’n mislukking? Glad nie. Aangesien dit nou vervang was, was vleeslike Israel weliswaar nie meer God se spesiale volk nie (Matteus 23:38). Maar dit was weens Israel se ongehoorsaamheid en verwerping van Jehovah se Gesalfde (Exodus 19:5; Handelinge 2:22, 23). Voordat die Wet vervang is, het dit egter baie bereik. Dit het eeue lank die weg voorsien waardeur God genader kon word en het beskerming teen valse godsdiens gebied. Dit het voorafskaduwings van die nuwe verbond bevat en het, met sy herhaalde offerandes, getoon dat die mens verlossing van sonde en die dood bitter nodig het. Die Wet was in werklikheid ’n ‘tugmeester wat na Christus toe gelei’ het (Galasiërs 3:19, 24; Romeine 3:20; 4:15; 5:12; Hebreërs 10:1, 2). Maar dit was deur die nuwe verbond dat die seën wat aan Abraham belowe is ten volle verwesenlik sou word.
Nasies geseën deur middel van Abraham se saad
5, 6. Wie is die Saad van Abraham in die basiese, geestelike vervulling van die Abrahamitiese verbond, en watter nasie het eerste ’n seën deur middel van hom ontvang?
5 Jehovah het aan Abraham belowe: “Deur middel van jou saad sal al die nasies van die aarde hulleself gewis seën” (Genesis 22:18, NW). Onder die ou verbond is talle sagmoedige uitlanders geseën omdat hulle verbonde was aan Israel, die volksaad van Abraham. Maar in die basiese geestelike vervulling daarvan was die Saad van Abraham één volmaakte man. Paulus het dit verduidelik toe hy gesê het: “Die beloftes [is] aan Abraham en aan sy saad gedoen. Dit sê nie: ‘En aan sade’, soos in die geval van baie nie, maar soos in die geval van een: ‘En aan jou saad’, wat Christus is.”—Galasiërs 3:16.
6 Ja, Jesus is die Saad van Abraham, en deur middel van Hom ontvang die nasies ’n seën wat baie voortrefliker is as enigiets wat vir vleeslike Israel moontlik was. Israel was egter die eerste nasie wat hierdie seën ontvang het. Kort ná Pinkster 33 G.J. het die apostel Petrus vir ’n groep Jode gesê: “Julle is die seuns van die profete en van die verbond wat God met julle voorvaders gesluit het toe hy vir Abraham gesê het: ‘En in jou saad sal al die families van die aarde geseën word.’ God het sy Kneg, nadat hy hom verwek het, eers na julle toe uitgestuur om julle te seën deur elkeen af te keer van julle goddelose dade.”—Handelinge 3:25, 26.
7. Watter nasies is deur middel van Jesus, die Saad van Abraham, geseën?
7 Kort voor lank het ook die Samaritane hierdie seën ontvang, en toe die nie-Jode (Handelinge 8:14-17; 10:34-48). Die een of ander tyd tussen 50 en 52 G.J. het Paulus aan Christene in Galasië en Klein-Asië geskryf: “Die Skrifgedeelte, wat vooruitgesien het dat God mense van die nasies weens geloof regverdig sou verklaar, het vooraf die goeie nuus aan Abraham bekend gemaak, naamlik: ‘Deur middel van jou sal al die nasies geseën word.’ Gevolglik word dié wat aan geloof vashou saam met die getroue Abraham geseën” (Galasiërs 3:8, 9; Genesis 12:3). Hoewel baie Christene in Galasië “mense van die nasies” was, is hulle vanweë hulle geloof deur middel van Jesus geseën. Hoe?
8. Wat het dit vir Christene in Paulus se dag ingesluit om deur middel van Abraham se Saad geseën te word, en hoeveel ontvang uiteindelik so ’n seën?
8 Vir die Christene in Galasië, wat ook al hulle agtergrond was, het Paulus gesê: “As julle aan Christus behoort, is julle werklik Abraham se saad, erfgename met betrekking tot ’n belofte” (Galasiërs 3:29). Vir daardie Galasiërs het die seën deur middel van Abraham se Saad ingesluit dat hulle deelnemers aan die nuwe verbond asook mede-erfgename saam met Jesus sou wees, deelgenote met Jesus in die saad van Abraham. Ons weet nie hoe groot die bevolking van eertydse Israel was nie. Ons weet slegs dat dit geword het “soos die sand wat aan die seestrand is in menigte” (1 Konings 4:20). Maar ons weet wel wat die uiteindelike getal van Jesus se deelgenote in die geestelike saad is—144 000 (Openbaring 7:4; 14:1). Hierdie 144 000 kom uit “elke stam en taal en volk en nasie” van die mensdom en het deel daaraan om die seëninge van die Abrahamitiese verbond ten behoewe van nog ander aan te wend.—Openbaring 5:9.
’n Vervulde profesie
9. Hoe het dié in die nuwe verbond Jehovah se wet in hulle binneste?
9 Toe Jeremia die nuwe verbond voorspel het, het hy geskryf: “Dit is die verbond wat Ek ná dié dae met die huis van Israel sal sluit, spreek die HERE: Ek gee my wet in hulle binneste en skrywe dit op hulle hart” (Jeremia 31:33). Dit is ’n kenmerk van dié in die nuwe verbond dat hulle Jehovah uit liefde dien (Johannes 13:35; Hebreërs 1:9). Jehovah se wet is op hulle hart geskryf, en dit is hulle vurige begeerte om sy wil te doen. Ja, in eertydse Israel het party getroue individue intense liefde vir Jehovah se wet gehad (Psalm 119:97). Maar baie het nie. Tog het hulle deel van die nasie gebly. Niemand kan in die nuwe verbond bly as God se wet nie op sy hart geskryf is nie.
10, 11. Hoe word Jehovah ‘’n God vir’ dié in die nuwe verbond, en hoe sal hulle almal hom ken?
10 Daarbenewens het Jehovah oor dié in die nuwe verbond gesê: “Ek sal vir hulle ’n God wees, en hulle sal vir My ’n volk wees” (Jeremia 31:33). In eertydse Israel het baie die gode van die nasies aanbid, maar hulle het Israeliete gebly. Op grond van die nuwe verbond het Jehovah ’n geestelike nasie voortgebring, “die Israel van God”, om vleeslike Israel te vervang (Galasiërs 6:16; Matteus 21:43; Romeine 9:6-8). Maar niemand bly deel van die nuwe geestelike nasie as hy ophou om Jehovah uitsluitlik te aanbid nie.
11 Jehovah het ook gesê: “Hulle sal My almal ken, klein en groot onder hulle” (Jeremia 31:34). In Israel het baie Jehovah eenvoudig geïgnoreer en in werklikheid gesê: “Die HERE doen geen goed en Hy doen geen kwaad nie” (Sefanja 1:12). Niemand bly deel van die Israel van God as hy Jehovah ignoreer of rein aanbidding besoedel nie (Matteus 6:24; Kolossense 3:5). Geestelike Israel is “die volk wat hulle God ken” (Daniël 11:32). Hulle skep behae daarin om ‘kennis in te neem van die enigste ware God en van Jesus Christus’ (Johannes 17:3). Die feit dat hulle Jesus ken, verdiep hulle kennis van God, aangesien Jesus, op ’n unieke wyse, die een is wat ‘God verklaar het’.—Johannes 1:18; 14:9-11.
12, 13. (a) Op grond waarvan vergewe Jehovah die sondes van dié in die nuwe verbond? (b) Hoe is die nuwe verbond voortrefliker as die ou verbond wat die vergifnis van sondes betref?
12 Laastens het Jehovah belowe: “Ek sal hulle ongeregtigheid vergewe en aan hulle sonde nie meer dink nie” (Jeremia 31:34b). Die Wet van Moses het honderde geskrewe voorskrifte bevat wat die Israeliete moes gehoorsaam (Deuteronomium 28:1, 2, 15). Almal wat die Wet verbreek het, het offerandes gebring om hulle sondes te bedek (Levitikus 4:1-7; 16:1-31). Baie Jode het naderhand geglo dat hulle regverdig kon word deur hulle eie werke volgens die Wet. Maar Christene besef dat hulle nooit regverdigheid deur hulle eie werke kan verdien nie. Hulle kan dit nie vermy om te sondig nie (Romeine 5:12). Onder die nuwe verbond is ’n regverdige posisie voor God slegs moontlik op grond van Jesus se offerande. Maar hierdie posisie is ’n gawe, onverdiende goedhartigheid van God (Romeine 3:20, 23, 24). Jehovah vereis nog steeds gehoorsaamheid van sy knegte. Paulus sê dat dié in die nuwe verbond “onder die wet ten opsigte van Christus” is.—1 Korintiërs 9:21.
13 Gevolglik is daar ook vir Christene ’n offerande vir sonde, maar een van baie groter waarde as die offerandes onder die Wetsverbond. Paulus het geskryf: “Ook neem elke priester [onder die Wetsverbond] van dag tot dag sy plek in om openbare diens te verrig en om dieselfde offerandes dikwels te bring, aangesien dit sondes nooit heeltemal kan wegneem nie. Maar [Jesus] het vir altyd een offerande vir sondes gebring en het aan die regterhand van God gaan sit” (Hebreërs 10:11, 12). Aangesien Christene in die nuwe verbond geloof in Jesus se offerande beoefen, verklaar Jehovah hulle regverdig, sonder sonde, en derhalwe in ’n posisie om as sy geestelike seuns gesalf te word (Romeine 5:1; 8:33, 34; Hebreërs 10:14-18). Wanneer hulle wel as gevolg van menslike onvolmaaktheid sondig, kan hulle Jehovah om vergifnis smeek, en op grond van Jesus se offerande vergewe Jehovah hulle (1 Johannes 2:1, 2). Maar as hulle ’n weg van opsetlike sonde kies, verloor hulle hulle regverdige posisie en die voorreg om deelnemers aan die nuwe verbond te wees.—Hebreërs 2:2, 3; 6:4-8; 10:26-31.
Die ou en die nuwe verbond
14. Watter besnydenis was ’n vereiste onder die Wetsverbond? onder die nuwe verbond?
14 Onder die ou verbond is mans besny as ’n teken dat hulle onder die Wet was (Levitikus 12:2, 3; Galasiërs 5:3). Nadat die Christengemeente gestig is, het sommige gemeen dat ook nie-Joodse Christene besny moes word. Maar die apostels en ouer manne in Jerusalem het, onder leiding van God se Woord en die heilige gees, besef dat dit nie nodig was nie (Handelinge 15:1, 5, 28, 29). ’n Paar jaar later het Paulus gesê: “Hy is nie ’n Jood wat dit uiterlik is nie, nog is besnydenis dit wat uiterlik aan die vlees is. Maar hy is ’n Jood wat dit innerlik is, en sy besnydenis is dié van die hart deur gees, en nie deur ’n geskrewe kode nie” (Romeine 2:28, 29). Letterlike besnydenis het, selfs vir vleeslike Jode, geen verdere geestelike waarde in Jehovah se oë gehad nie. Vir dié in die nuwe verbond moet die hart besny word, nie die vlees nie. Al hulle gedagtes, begeertes en beweegredes wat Jehovah mishaag of onrein in sy oë is, moet verwyder word.a Vandag is daar baie wat lewende getuienis is van die krag van die heilige gees om denkpatrone op hierdie wyse te verander.—1 Korintiërs 6:9-11; Galasiërs 5:22-24; Efesiërs 4:22-24.
15. Hoe vergelyk die Israel van God met vleeslike Israel wat koninklike heerskappy betref?
15 In die Wetsverbondreëling was Jehovah Koning van Israel, en mettertyd het hy sy soewereiniteit deur middel van menslike konings in Jerusalem uitgeoefen (Jesaja 33:22). Jehovah is ook Koning van die Israel van God, geestelike Israel, en sedert 33 G.J. regeer hy deur middel van Jesus Christus, wat “alle gesag in die hemel en op die aarde” ontvang het (Matteus 28:18; Efesiërs 1:19-23; Kolossense 1:13, 14). Vandag erken die Israel van God Jesus as die Koning van God se hemelse Koninkryk, wat in 1914 opgerig is. Jesus is ’n baie beter Koning as wat selfs Hiskia, Josia en die ander getroue konings van eertydse Israel was.—Hebreërs 1:8, 9; Openbaring 11:15.
16. Watter soort priesterdom is die Israel van God?
16 Israel was nie net ’n koninkryk nie, maar het ook ’n gesalfde priesterdom gehad. In 33 G.J. het die Israel van God vleeslike Israel vervang en Jehovah se “kneg”, sy “getuies”, geword (Jesaja 43:10). Jehovah se woorde aan Israel wat in Jesaja 43:21 en Exodus 19:5, 6 opgeteken is, was van toe af op die geestelike Israel van God van toepassing. God se nuwe geestelike nasie was nou “’n uitverkore ras, ’n koninklike priesterdom, ’n heilige nasie, ’n volk vir spesiale besit”, met die verantwoordelikheid om Jehovah se “voortreflikhede alom bekend [te] maak” (1 Petrus 2:9). Almal in die Israel van God, mans en vroue, maak ’n gesamentlike priesterdom uit (Galasiërs 3:28, 29). As die sekondêre deel van die saad van Abraham sê hulle nou: “Jubel, o nasies, oor sy volk” (Deuteronomium 32:43). Lede van geestelike Israel wat nog op die aarde is, maak “die getroue en verstandige slaaf” uit (Matteus 24:45-47). Aanneemlike heilige diens kan slegs in samewerking met hulle aan God verrig word.
God se Koninkryk —die finale vervulling
17. Watter geboorte ondergaan dié in die nuwe verbond?
17 Israeliete wat ná 1513 v.G.J. gebore is, het by geboorte in die Wetsverbond gekom. Diegene wat deur Jehovah in die nuwe verbond ingesluit word, ondergaan ook ’n geboorte—in hulle geval ’n geestelike geboorte. Jesus het dit aan die Fariseër Nikodemus gemeld toe hy gesê het: “Voorwaar, voorwaar, ek sê vir jou: Tensy iemand weer gebore word, kan hy die koninkryk van God nie sien nie” (Johannes 3:3). Die 120 dissipels op Pinkster 33 G.J. was die eerste onvolmaakte mense wat hierdie nuwe geboorte ondergaan het. Hulle is onder die nuwe verbond regverdig verklaar en het heilige gees as “’n vooruitgegewe onderpand” van hulle koninklike erfenis ontvang (Efesiërs 1:14). Hulle is “uit die gees gebore” om aangenome seuns van God te word, wat hulle dan Jesus se broers en gevolglik “mede-erfgename met Christus” gemaak het (Johannes 3:6; Romeine 8:16, 17). Die feit dat hulle “weer gebore” is, het die weg gebaan vir wonderlike vooruitsigte.
18. Die feit dat dié in die nuwe verbond weer gebore word, baan die weg tot watter wonderlike vooruitsigte vir hulle?
18 By die instelling van die nuwe verbond het Jesus, die middelaar, ’n bykomende verbond met sy volgelinge gesluit: “Ek sluit ’n verbond met julle, net soos my Vader ’n verbond met my gesluit het, vir ’n koninkryk” (Lukas 22:29). Hierdie Koninkryksverbond het die weg gebaan vir die vervulling van ’n merkwaardige visioen, wat in Daniël 7:13, 14, 22, 27 opgeteken is. Daniël het gesien hoe “Een . . . soos die Seun van ’n mens” koninklike gesag ontvang van “die Oue van dae”, Jehovah God. Toe het Daniël gesien dat “die heiliges die koninkryk in besit geneem het”. Jesus is die een “soos die Seun van ’n mens” wat, in 1914, die hemelse Koninkryk van Jehovah God af ontvang het. Sy geesgesalfde dissipels is “die heiliges” wat saam met hom ’n deel het aan daardie Koninkryk (1 Tessalonisense 2:12). Hoe?
19, 20. (a) Watter finale, glorieryke vervulling sal Jehovah se belofte aan Abraham vir dié in die nuwe verbond hê? (b) Watter ander vraag moet ondersoek word?
19 Ná hulle dood word hierdie gesalfdes soos Jesus as onsterflike geesskepsele uit die dode uit opgewek om saam met hom as konings en priesters in die hemel te dien (1 Korintiërs 15:50-53; Openbaring 20:4, 6). Wat ’n wonderlike hoop! “Hulle gaan as konings oor die aarde heers”, nie net oor die land Kanaän nie (Openbaring 5:10). Sal hulle ‘die poorte van hulle vyande in besit neem’? (Genesis 22:17). Ja, en op ’n beslissende wyse, wanneer hulle die vernietiging van die vyandige godsdienshoer, Babilon die Grote, aanskou, en wanneer hierdie verrese gesalfdes saam met Jesus “met ’n ysterstaf” as herders teenoor die nasies optree en Satan se kop verbrysel. Hulle sal sodoende ’n aandeel hê aan die vervulling van die finale besonderheid van die profesie in Genesis 3:15.—Openbaring 2:26, 27; 17:14; 18:20, 21; Romeine 16:20.
20 Maar dalk vra ons: Raak die Abrahamitiese verbond en die nuwe verbond slegs hierdie 144 000 getroue siele? Nee, ander wat nie regstreeks in hierdie verbonde is nie, sal deur middel daarvan geseën word, soos ons in die volgende artikel sal sien.
[Voetnoot]
a Sien Insight on the Scriptures, Deel 1, bladsy 470, uitgegee deur die Watchtower Bible and Tract Society of New York, Inc.
Onthou jy?
◻ Wanneer is daar vir die eerste keer gesien dat die nuwe verbond in werking getree het?
◻ Wat is deur die ou verbond bereik?
◻ Wie is hoofsaaklik Abraham se Saad, en in watter volgorde is nasies deur middel van daardie Saad geseën?
◻ Wat is die finale vervulling van die Abrahamitiese verbond en die nuwe verbond vir die 144 000?
[Prent op bladsy 15]
Vergifnis van sondes het ’n dieper betekenis vir dié onder die nuwe verbond as vir dié onder die ou verbond