My lewe as ’n melaatse—vreugdevol en geestelik geseënd
SOOS VERTEL DEUR ISAIAH ADAGBONA
Ek het in Akure, Nigerië, grootgeword. Ons gesin het broodwortels, piesangs, kassawe en kakao verbou. My pa wou nie hê dat ek skool toe gaan nie. Hy het vir my gesê: “Jy is ’n boer. Niemand sal jou ooit vra om broodwortels te lees nie.”
EK WOU nogtans leer lees. Saans het ek by die venster van ’n huis waar kinders deur ’n privaat onderwyser geleer is, gestaan en luister. Dit was in 1940 toe ek sowat 12 jaar oud was. Wanneer die vader van die kinders my gesien het, het hy geskreeu en my weggejaag. Maar ek het bly teruggaan. Soms het die onderwyser nie opgedaag nie, en dan het ek ingesluip en saam met die kinders na hulle boeke gekyk. Partykeer het hulle hulle boeke vir my geleen. Dit is hoe ek leer lees het.
Ek word ’n deel van God se volk
Mettertyd het ek ’n Bybel gekry en dit gereeld gelees voordat ek gaan slaap het. Een aand het ek Matteus hoofstuk 10 gelees, wat toon dat Jesus se dissipels deur mense gehaat en vervolg sou word.
Ek het onthou dat Jehovah se Getuies na ons huis toe gekom het en sleg behandel is. Dit het my getref dat húlle dalk die mense is van wie Jesus gepraat het. Die volgende keer toe die Getuies ons besoek het, het ek ’n tydskrif by hulle geneem. Namate ek met hulle begin assosieer het, het ek die teiken van bespotting geword. Maar hoe meer mense my probeer ontmoedig het, hoe meer oortuig en vreugdevol het ek geword dat ek die ware godsdiens gevind het.
Wat my werklik omtrent die Getuies beïndruk het, was dat hulle, in teenstelling met ander godsdiensgroepe in ons omgewing, nie hulle godsdiens met die gebruike en tradisies van die plaaslike heidense godsdiens vermeng het nie. Hoewel ons gesin byvoorbeeld na die Anglikaanse Kerk gegaan het, het my pa ’n tempeltjie vir die Joroeba-god Ogun gehad.
Nadat my pa oorlede is, was ek veronderstel om die tempeltjie te erf. Ek wou dit nie hê nie, aangesien ek geweet het dat die Bybel afgodediens veroordeel. Met Jehovah se hulp het ek geestelik gevorder, en in Desember 1954 is ek gedoop.
Ek kry melaatsheid
Vroeër daardie jaar het ek opgemerk dat my voete swel en gevoelloos begin word. As ek op warm kole getrap het, het ek geen pyn gevoel nie. Na ’n ruk het ek rooierige sere op my voorkop en lippe gekry. Nie ek of my gesinslede het geweet wat fout is nie; ons het gedink dat dit ekseem is. Ek het 12 kruiedokters besoek om ’n geneesmiddel daarvoor te probeer kry. Uiteindelik het een van hulle vir ons gesê dat dit melaatsheid is.
Wat ’n skok was dit tog nie! Ek was ontsteld en het nie goed geslaap nie. Ek het nagmerries gehad. Maar my kennis van Bybelwaarheid en vertroue op Jehovah het my gehelp om die toekoms met vertroue tegemoet te gaan.
Mense het vir my ma gesê dat ek beter sou word as ek na ’n orakel gaan om offerandes te bring. Ek het geweier om te gaan, want ek het geweet dat so ’n daad Jehovah sou mishaag. Toe my ma se vriende besef dat ek klaar oor die saak besluit het, het hulle voorgestel dat sy ’n kolaneut neem en teen my voorkop druk. Daarna kon sy die kolaneut vir die orakel neem om dit in offerandes te gebruik wat ten behoewe van my gebring word. Ek wou niks daarmee te doen hê nie en het dit vir haar gesê. Uiteindelik het sy opgehou om my in heidense godsdiens te probeer betrek.
Teen die tyd dat ek hospitaal toe gegaan het, was die melaatsheid reeds ver gevorderd. My hele lyf was vol sere. By die hospitaal het hulle vir my geneesmiddels gegee, en my vel het gaandeweg weer normaal geword.
Hulle het gedink ek is dood
My probleme was egter nog lank nie verby nie. My regtervoet het erg besmet geraak, en in 1962 moes dit afgesit word. Ná die operasie was daar mediese komplikasies. Die dokters het nie gedink dat ek sou lewe nie. ’n Wit sendeling-priester het gekom om die laaste sakramente te bedien. Ek was te swak om te praat, maar ’n verpleegster het vir hom gesê dat ek een van Jehovah se Getuies is.
Die priester het vir my gesê: “Wil jy verander en ’n Katoliek word sodat jy hemel toe kan gaan?” Dit het my innerlik laat lag. Ek het tot Jehovah gebid vir die krag om te antwoord. Met groot inspanning kon ek sê: “Nee!” Die priester het omgedraai en weggestap.
My toestand het versleg sodat die hospitaalpersoneel gedink het dat ek dood is. Hulle het my gesig met ’n laken toegemaak. Hulle het my egter nie na die lykshuis geneem nie, aangesien ’n dokter of ’n verpleegster my eers as dood moes sertifiseer. Daar was geen dokter aan diens nie, en die verpleegsters het almal na ’n partytjie gegaan. Hulle het my dus oornag in die siekesaal gelos. Toe die dokter die volgende oggend sy rondtes doen, het niemand na my bed toe gekom nie omdat ek steeds toegemaak was en as dood beskou is. Uiteindelik het iemand opgemerk dat die “lyk” onder die laken beweeg!
Wel, ek het herstel, en in Desember 1963 het hulle my oorgeplaas na die Melaatsekolonie van die Abeokuta-hospitaal in die suidweste van Nigerië. Sedertdien woon ek hier.
My predikingswerk word teëgestaan
Daar was ongeveer 400 melaatses in die kolonie toe ek hier gekom het, en ek was die enigste Getuie. Ek het aan die Genootskap geskryf, en hulle het dadelik gereageer deur die Akomoje-gemeente te vra om met my in aanraking te kom. Ek het dus nooit kontak met die broers verloor nie.
Ek het dadelik begin preek toe ek by die kolonie aangekom het. Die plaaslike pastoor het nie daarvan gehou nie, en hy het my gaan verkla by die welsynsbeampte wat in beheer van die kamp was. Die welsynsbeampte was ’n bejaarde man van Duitsland af. Hy het vir my gesê dat ek geen reg het om ander die Bybel te leer nie omdat ek geen opleiding of sertifikaat het om dit te doen nie; aangesien ek ongekwalifiseerd is, sou ek mense verkeerd leer. As ek sou voortgaan, kon ek uit die kolonie gesit word en mediese behandeling geweier word. Hy het my nie toegelaat om enigiets terug te antwoord nie.
Daarna het hy opdrag gegee dat niemand vir ’n Bybelstudie na my toe moet kom nie. Gevolglik het dié wat belangstelling getoon het, opgehou om na my toe te kom.
Ek het Jehovah in gebed genader oor die saak en om wysheid en leiding gevra. Die volgende Sondag het ek na die Baptistekerk by die kolonie gegaan, hoewel ek nie aan die kerkdiens deelgeneem het nie. Daar was ’n periode gedurende die diens waarin die aanwesiges vrae kon vra. Ek het my hand opgesteek en gevra: “As alle goeie mense hemel toe gaan en alle slegte mense êrens anders gaan, waarom sê Jesaja 45:18 dan dat God die aarde gemaak het om bewoon te word?”
’n Groot geruis het deur die gemeente gegaan. Uiteindelik het die sendeling-pastoor gesê dat ons nie die weë van God kan verstaan nie. Daarop het ek my eie vraag beantwoord deur tekste te lees wat toon dat 144 000 hemel toe sal gaan, dat die goddeloses sal vergaan en dat regverdige mense vir ewig op die aarde sal lewe.—Psalm 37:10, 11; Openbaring 14:1, 4.
Almal het hande geklap uit waardering vir die antwoord. Die pastoor het toe gesê: “Klap weer hande, want hierdie man ken werklik die Bybel.” Ná die diens het party mense na my toe gekom en gesê: “Jy weet meer as die pastoor!”
Voortgesette druk om my uit te sit
Dít het die vervolging grotendeels laat ophou, en mense het weer na my toe gekom om die Bybel te studeer. Maar daar was nog steeds teenstanders wat druk op die welsynsbeampte uitgeoefen het om van my ontslae te raak. Sowat ’n maand ná die kerkdiens het hy my geroep en gesê: “Waarom hou jy aan preek? In my land hou die mense nie van Jehovah se Getuies nie, en dieselfde geld hier. Waarom maak jy dit vir my moeilik? Weet jy nie dat ek jou kan uitsit nie?”
Ek het gesê: “Papa, ek respekteer u om drie redes. Eerstens omdat u ouer as ek is, en die Bybel sê dat ons grys hare moet respekteer. Die tweede rede waarom ek u respekteer, is omdat u u land verlaat het om ons hier te kom help. Die derde rede is dat u goedhartig en vrygewig is en dié help wat in nood verkeer. Maar dink u dat u die reg het om my uit te sit? Die president van die land sit Jehovah se Getuies nie uit nie. Die tradisionele leier van hierdie streek sit ons nie uit nie. Selfs as u my wel van hierdie kamp af wegjaag, sal Jehovah nog steeds vir my sorg.”
Ek het nooit vantevore so reguit met hom gepraat nie, en ek kon sien dat dit ’n indruk gelaat het. Hy het weggestap sonder om ’n woord te sê. Later, toe iemand oor my gekla het, het hy gefrustreerd geantwoord: “Ek wil niks meer met hierdie saak te doen hê nie. As sy predikingswerk jou pla, gaan bespreek dit dan met hom!”
Die lees-en-skryf-klas
Diegene wat na die Baptistekerk in die kamp gegaan het, het my predikingswerk bly teëstaan. Toe het ek ’n idee gekry. Ek het na die welsynsbeampte gegaan en gevra of ek ’n lees-en-skryf-klas kan begin. Toe hy my vra hoeveel betaling ek wou hê, het ek gesê dat ek mense gratis sou leer.
Hulle het ’n klaskamer, skoolbord en kryt voorsien, en ek het dus party van die inwoners begin leer om te lees. Ons het elke dag klasse gehad. Die eerste 30 minute het ek ’n leesles gegee, dan het ek ’n verhaal uit die Bybel vertel en verduidelik. Agterna het ons die verslag in die Bybel gelees.
Een van die studente was ’n vrou met die naam Nimota. Sy het ’n diepe belangstelling in geestelike dinge gehad en het by die kerk sowel as die moskee baie vrae oor godsdiens gevra. Haar vrae is nie daar beantwoord nie, en daarom het sy my kom vra. Sy het uiteindelik haar lewe aan Jehovah toegewy en is gedoop. In 1966 is ons getroud.
Die meerderheid in ons gemeente vandag het in daardie klas leer lees en skryf. Dit is nie as gevolg van mý wysheid dat daardie klas ontstaan het nie. Jehovah se seën was beslis duidelik. Niemand het my predikingswerk daarna probeer stopsit nie.
’n Koninkryksaal in die kamp
Teen die tyd dat ek en Nimota getrou het, was daar vier van ons wat gereeld bymekaargekom het om Die Wagtoring saam te studeer. Ons het ongeveer ’n jaar lank in die vertrek vergader waar die wonde van melaatses gewas is. Toe het die welsynsbeampte, wat teen dié tyd met my bevriend was, vir my gesê: “Dit is nie reg dat julle julle God in ’n behandelingskamer aanbid nie.”
Hy het gesê dat ons in ’n leë houtwerkskuur kon vergader. Daardie skuur is mettertyd in ’n Koninkryksaal omskep. Ons het dit in 1992 met die hulp van die broers op die dorp voltooi. Soos julle op die foto op bladsy 24 kan sien, is ons saal ’n netjiese gebou—gepleister en geverf, met ’n betonvloer en ’n goeie dak.
Predikingswerk onder melaatses
Die melaatsekolonie is al 33 jaar lank my gebied. Hoe vind ons dit om vir melaatses te getuig? Hier in Afrika glo die meeste mense dat alle dinge van God af kom. Wanneer hulle dus deur melaatsheid geteister word, glo hulle dat God op die een of ander manier daarvoor verantwoordelik is. Sommige is baie neerslagtig oor hulle toestand. Ander is kwaad en sê: “Moenie met ons praat oor ’n God wat liefdevol en barmhartig is nie. As dit waar was, sou hierdie siekte weggegaan het!” Dan lees en redeneer ons oor Jakobus 1:13, wat sê: ‘Met bose dinge beproef God niemand nie.’ Daarna verduidelik ons waarom Jehovah toelaat dat siekte mense teister, en ons vestig die aandag op sy belofte van ’n paradysaarde waar niemand siek sal wees nie.—Jesaja 33:24.
Talle het gunstig op die goeie nuus gereageer. Sedert ek na hierdie kamp gekom het, het Jehovah my gebruik om meer as 30 mense te help om tot toewyding en doop te vorder, almal melaatses. Baie het na hulle huise teruggekeer nadat hulle genees is, en ’n paar het gesterf. Nou het ons 18 Koninkryksverkondigers, en ongeveer 25 mense woon vergaderinge gereeld by. Twee van ons dien as ouer manne, en ons het een bedieningskneg en een gewone pionier. Hoe gelukkig maak dit my tog om te sien dat so baie in hierdie kamp Jehovah nou getrou dien! Toe ek hierheen gekom het, was ek bang dat ek alleen sou wees, maar Jehovah het my op ’n wonderlike wyse geseën.
Die vreugde daarvan om my broers te dien
Ek het van 1960 af tot ongeveer vyf jaar gelede geneesmiddels vir melaatsheid gebruik. Nou is ek heeltemal genees, en so ook die ander in die gemeente. Die melaatsheid het sy letsels gelaat—ek het my onderbeen verloor, en ek kan nie my hande reguit maak nie—maar die siekte is weg.
Aangesien ek genees is, het sommige gevra waarom ek nie die kamp verlaat en teruggaan huis toe nie. Daar is verskeie redes waarom ek bly, maar die hoofrede is dat ek wil voortgaan om my broers hier te help. Die vreugde om na Jehovah se skape om te sien, oortref enigiets wat my familie my kan bied as ek na hulle sou terugkeer.
Ek is so dankbaar dat ek Jehovah geken het voordat ek gehoor het dat ek melaatsheid het. Anders sou ek dalk selfmoord gepleeg het. Met die jare was daar baie moeilikhede en probleme, maar dit was nie die medisyne wat my onderskraag het nie—dit was Jehovah. Wanneer ek aan die verlede terugdink, is ek vreugdevol; en wanneer ek aan die toekoms onder God se Koninkryk dink, is ek nog vreugdevoller.
[Venster op bladsy 25]
Feiteblad oor melaatsheid
Wat is dit?
Hedendaagse melaatsheid is ’n siekte wat veroorsaak word deur ’n basil wat in 1873 deur Armauer Hansen geïdentifiseer is. Ter erkenning van sy werk, verwys dokters ook na melaatsheid as Hansen-siekte.
Die basil beskadig senuwees, bene, oë en sekere organe. Tasgevoeligheid gaan verlore, dikwels in die hande en voete. As die siekte nie behandel word nie, kan dit die gesig en die uiterste ledemate erg vermink laat raak. Dit lei selde tot die dood.
Kan dit genees word?
Mense met ligter vorme van melaatsheid kan sonder enige behandeling gesond word. Ernstiger gevalle kan met geneesmiddels genees word.
Die eerste middel teen melaatsheid, wat in die vyftigerjare bekend gestel is, het ’n stadige uitwerking gehad en het al hoe ondoeltreffender geword omdat die melaatsheidsbasil weerstand daarteen opgebou het. Nuwe geneesmiddels is ontwikkel, en sedert die vroeë tagtigerjare is multigeneesmiddelterapie (MGT) die standaardbehandeling wat regoor die wêreld gebruik word. Hierdie behandeling kombineer die gebruik van drie geneesmiddels—Dapsoon, Rifampisien en Klofasimien. Hoewel MGT die basil doodmaak, maak dit nie die skade wat reeds aangerig is ongedaan nie.
MGT is uiters doeltreffend om die siekte te genees. Gevolglik was daar ’n skerp daling in die getal mense met melaatsheid, van 12 miljoen in 1985 tot sowat 1,3 miljoen teen die middel van 1996.
Hoe aansteeklik is dit?
Melaatsheid is nie hoogs aansteeklik nie; die meeste mense se immuunstelsel is sterk genoeg om daarteen weerstand te bied. Wanneer dit wel voorkom, is dit gewoonlik by mense wat oor ’n lang tydperk noue omgang met besmette persone gehad het.
Dokters weet nie presies hoe die basil die menseliggaam binnekom nie, maar hulle vermoed dat dit deur die vel of die neus is.
Vooruitsig vir die toekoms
Daar word beoog om melaatsheid teen die jaar 2000 “uit te skakel as ’n openbare gesondheidsprobleem”. Dit beteken dat nie meer as 1 uit 10000 mense in enige gemeenskap melaatsheid sal hê nie. Onder God se Koninkryk sal dit heeltemal uit die weg geruim word.—Jesaja 33:24.
Bronne: Wêreldgesondheidsorganisasie; Internasionale Federasie van Antileproseverenigings en die 1996 uitgawe van Manson’s Tropical Diseases.
[Venster op bladsy 27]
Is melaatsheid vandag dieselfde as in Bybeltye?
Vandag definieer mediese handboeke melaatsheid in presiese terme; die wetenskaplike naam vir die betrokke mikrobe is Mycobacterium leprae. Die Bybel is natuurlik nie ’n mediese handboek nie. Die Hebreeuse en Griekse woord wat in baie Bybelvertalings as “melaatsheid” vertaal word, het ’n baie wyer betekenis. Die melaatsheid in die Bybel het byvoorbeeld nie net merkbare simptome in mense voortgebring nie, maar ook in klere en huise, iets wat ’n basil nie doen nie.—Levitikus 13:2, 47; 14:34.
Daarbenewens is die hedendaagse simptome van melaatsheid by mense nie presies dieselfde as die beskrywing van melaatsheid in Bybeltye nie. Die feit dat die aard van siektes met verloop van tyd verander, is volgens party ’n moontlike verduideliking. Ander meen dat die melaatsheid waarna die Bybel verwys ’n verskeidenheid siektes beskryf, wat miskien die siekte insluit wat deur M. leprae veroorsaak word.
Die Theological Dictionary of the New Testament sê dat die Griekse sowel as die Hebreeuse woord wat gewoonlik as melaatsheid vertaal word “na dieselfde siekte, of groep siektes, verwys . . . Of hierdie siekte dieselfde is as wat ons nou melaatsheid noem, is nie seker nie. Maar die presiese mediese beskrywing van die siekte beïnvloed nie ons beskouing van die verslae van [die] genesing [van melaatses deur Jesus en sy dissipels] nie.”
[Prent op bladsy 24]
Die gemeente buite die Koninkryksaal in die kamp vir melaatses
[Prent op bladsy 26]
Isaiah Adagbona en sy vrou Nimota