‘Die dooies sal opgewek word’
“Want die trompet sal klink, en die dooies sal onverderflik opgewek word, en ons sal verander word.”—1 KORINTIËRS 15:52.
1, 2. (a) Watter vertroostende belofte is deur middel van die profeet Hosea gemaak? (b) Hoe weet ons dat God die dooies wil opwek?
HET jy al ooit ’n geliefde aan die dood afgestaan? Dan ken jy die pyn wat die dood kan veroorsaak. Christene put nietemin vertroosting uit die belofte wat God deur middel van die profeet Hosea gemaak het: “Uit die hand van Sjeool sal ek hulle loskoop; uit die dood sal ek hulle terugwin. Waar is jou angels, o Dood? Waar is jou vernietigende krag, o Sjeool?”—Hosea 13:14, NW.
2 Vir skeptici klink die gedagte dat die dooies weer sal lewe belaglik. Maar die almagtige God het beslis die krag om so ’n wonderwerk te doen! Die eintlike vraag is of Jehovah die dooies wil opwek. Die regverdige man Job het gevra: “As ’n mens sterwe, sal hy weer lewe?” Toe het hy hierdie gerusstellende antwoord gegee: “U sou roep, en ek sou U antwoord, na die maaksel van u hande sou U verlang” (Job 14:14, 15). Die woord “verlang” dui op ’n vurige hunkering of begeerte. (Vergelyk Psalm 84:3.) Ja, Jehovah sien gretig uit na die opstanding—hy verlang om weer die afgestorwe getroues, wat lewend in sy geheue is, te sien.—Matteus 22:31, 32.
Jesus werp lig op die opstanding
3, 4. (a) Watter lig het Jesus op die opstandingshoop gewerp? (b) Waarom is Jesus as ’n gees opgewek, en nie in die vlees nie?
3 Eertydse manne van geloof soos Job het slegs ’n gedeeltelike begrip van die opstanding gehad. Dit is Jesus Christus wat die volle lig op hierdie wonderlike hoop gewerp het. Hy het getoon watter sleutelrol hy self speel toe hy gesê het: “Hy wat geloof in die Seun beoefen, het die ewige lewe” (Johannes 3:36). Waar sal daardie lewe geniet word? Vir die oorgrote meerderheid van diegene wat geloof beoefen, sal dit op die aarde wees (Psalm 37:11). Jesus het egter vir sy dissipels gesê: “Moenie vrees nie, klein kuddetjie, want julle Vader het dit goedgevind om aan julle die koninkryk te gee” (Lukas 12:32). God het ’n hemelse Koninkryk. Hierdie belofte beteken derhalwe dat ’n “klein kuddetjie” saam met Jesus as geesskepsele in die hemel moet wees (Johannes 14:2, 3; 1 Petrus 1:3, 4). Wat ’n wonderlike vooruitsig! Jesus het verder aan die apostel Johannes geopenbaar dat hierdie “klein kuddetjie” uit slegs 144 000 lede sal bestaan.—Openbaring 14:1.
4 Maar hoe sal die 144 000 in hemelse heerlikheid ingaan? Jesus het “lig op lewe en onverderflikheid gewerp . . . deur die goeie nuus”. Hy het deur middel van sy bloed “’n nuwe en lewende weg” tot die hemel ingewy (2 Timoteus 1:10; Hebreërs 10:19, 20). Hy het eers gesterf, soos die Bybel voorspel het sou gebeur (Jesaja 53:12). Soos die apostel Petrus later verklaar het, is ‘hierdie Jesus toe deur God opgewek’ (Handelinge 2:32). Maar Jesus is nie as ’n mens opgewek nie. Hy het gesê: “Die brood wat ek sal gee, [is] my vlees ten behoewe van die lewe van die wêreld” (Johannes 6:51). As hy sy vlees teruggeneem het, sou dit daardie offerande ongeldig gemaak het. Jesus is dus ‘doodgemaak in die vlees, maar lewend gemaak in die gees’ (1 Petrus 3:18). Jesus het sodoende “’n ewige verlossing vir ons”, dit wil sê vir die “klein kuddetjie”, verkry (Hebreërs 9:12). Hy het die waarde van sy volmaakte menselewe vir God aangebied as ’n losprys vir die sondige mensdom, en die 144 000 was die eerstes wat daarby baat gevind het.
5. Watter hoop is aan Jesus se eerste-eeuse volgelinge gebied?
5 Jesus was nie die enigste een wat tot hemelse lewe opgewek sou word nie. Paulus het vir mede-Christene in Rome gesê dat hulle met heilige gees gesalf is om seuns van God en mede-erfgename met Christus te wees as hulle hulle salwing bevestig het deur tot die einde toe te volhard (Romeine 8:16, 17). Paulus het ook verduidelik: “As ons een met hom geword het in die gelykheid van sy dood, sal ons beslis ook een met hom wees in die gelykheid van sy opstanding.”—Romeine 6:5.
Ter verdediging van die opstandingshoop
6. Waarom is geloof in die opstanding in Korinte betwis, en hoe het die apostel Paulus daarop gereageer?
6 Die opstanding is deel van die “grondleer” van die Christelike geloof (Hebreërs 6:1, 2). Die leer is nogtans in Korinte betwis. Sommige in die gemeente, wat blykbaar deur Griekse filosofie beïnvloed is, het gesê: ‘Daar is geen opstanding van die dooies nie’ (1 Korintiërs 15:12). Toe die apostel Paulus hiervan te hore kom, het hy die opstandingshoop verdedig, veral die hoop van gesalfde Christene. Kom ons ondersoek Paulus se woorde soos dit in 1 Korintiërs hoofstuk 15 opgeteken is. Jy sal dit nuttig vind as jy die hele hoofstuk gelees het, soos daar in die vorige artikel voorgestel is.
7. (a) Aan watter belangrike kwessie het Paulus aandag geskenk? (b) Wie het die verrese Jesus gesien?
7 In die eerste twee verse van 1 Korintiërs hoofstuk 15 sit Paulus die tema van sy bespreking uiteen: “Broers, ek maak julle dan nou die goeie nuus bekend wat ek aan julle verkondig het, wat julle ook ontvang het, waarin julle ook staan, waardeur julle ook gered word, . . . tensy julle natuurlik verniet gelowiges geword het.” As die Korintiërs versuim het om in die goeie nuus vas te staan, het hulle die waarheid tevergeefs aangeneem. Paulus sê voorts: “Ek het, as een van die eerste dinge, aan julle oorgedra wat ek ook ontvang het, dat Christus vir ons sondes gesterf het, volgens die Skrif; en dat hy begrawe is, ja, dat hy op die derde dag opgewek is, volgens die Skrif; en dat hy aan Sefas verskyn het, toe aan die twaalf. Daarna het hy aan meer as vyfhonderd broers tegelyk verskyn, waarvan die meeste nou nog lewe, maar party ontslaap het. Daarna het hy aan Jakobus verskyn, toe aan al die apostels; maar laaste van almal het hy ook aan my verskyn asof aan een wat te vroeg gebore is.”—1 Korintiërs 15:3-8.
8, 9. (a) Hoe belangrik is geloof in die opstanding? (b) By watter geleentheid het Jesus waarskynlik aan “meer as vyfhonderd broers” verskyn?
8 Vir diegene wat die goeie nuus aangeneem het, was geloof in die opstanding van Jesus nie opsioneel nie. Daar was baie ooggetuies wat kon bevestig dat “Christus vir ons sondes gesterf het” en dat hy opgewek is. Een van hulle was Sefas, of Petrus, soos hy beter bekend staan. Nadat Petrus Jesus verloën het op die aand wat Jesus verraai en in hegtenis geneem is, moes dit hom ongetwyfeld baie vertroos het toe Jesus aan hom verskyn het. “Die twaalf”, die apostels as ’n groep, is ook deur die verrese Jesus besoek—’n ondervinding wat hulle beslis gehelp het om hulle vrees te oorkom en moedige getuies van Jesus se opstanding te word.—Johannes 20:19-23; Handelinge 2:32.
9 Christus het ook aan ’n groter groep, “meer as vyfhonderd broers”, verskyn. Aangesien dit slegs in Galilea was waar hy so baie volgelinge gehad het, was dit dalk by die geleentheid wat in Matteus 28:16-20 beskryf word, toe Jesus die bevel gegee het om dissipels te maak. Wat ’n kragtige getuienis kon hierdie persone tog gee! Sommige van hulle het nog in 55 G.J. gelewe toe Paulus hierdie eerste brief aan die Korintiërs geskryf het. Let egter op dat daar gesê is dat diegene wat gesterf het, “ontslaap” het, met ander woorde in die dood geslaap het. Hulle was nog nie opgewek om hulle hemelse beloning te ontvang nie.
10. (a) Wat was die gevolg van Jesus se laaste ontmoeting met sy dissipels? (b) Hoe het Jesus aan Paulus verskyn “asof aan een wat te vroeg gebore is”?
10 Nog ’n belangrike getuie van Jesus se opstanding was Jakobus, die seun van Josef en Jesus se moeder, Maria. Voor die opstanding was Jakobus blykbaar nie ’n gelowige nie (Johannes 7:5). Maar nadat Jesus aan hom verskyn het, het Jakobus ’n gelowige geword en moontlik ’n rol gespeel in die bekering van sy ander broers (Handelinge 1:13, 14). Tydens Jesus se laaste ontmoeting met sy dissipels, toe hy in die hemel opgevaar het, het hy hulle beveel om “getuies . . . tot in die mees afgeleë deel van die aarde” te wees (Handelinge 1:6-11). Later het hy aan Saulus van Tarsus, ’n vervolger van die Christene, verskyn (Handelinge 22:6-8). Jesus het aan Saulus verskyn “asof aan een wat te vroeg gebore is”. Dit was asof Saulus reeds tot geeslewe opgewek is en die verheerlikte Here kon sien eeue voordat daardie opstanding sou plaasvind. Hierdie ondervinding het Saulus onmiddellik in sy weg van moorddadige teenstand teen die Christengemeente gestuit en ’n merkwaardige verandering meegebring (Handelinge 9:3-9, 17-19). Saulus het die apostel Paulus geword, een van die vernaamste voorstanders van die Christelike geloof.—1 Korintiërs 15:9, 10.
Geloof in die opstanding noodsaaklik
11. Hoe het Paulus die valsheid aan die kaak gestel van diegene wat sê “dat daar geen opstanding” is nie?
11 Die opstanding van Jesus was dus ’n behoorlik gestaafde feit. “As daar dan nou van Christus verkondig word dat hy uit die dode opgewek is”, redeneer Paulus, “hoe is dit dat party onder julle sê dat daar geen opstanding van die dooies is nie?” (1 Korintiërs 15:12). Hierdie persone het nie net persoonlike twyfelgedagtes of vrae oor die opstanding gehad nie, maar hulle het hulle twyfel openlik uitgespreek. Paulus stel dus die valsheid van hulle redenasie aan die kaak. As Christus nie opgewek is nie, sê hy, is die Christelike leer ’n leuen, en diegene wat getuig van Christus se opstanding “valse getuies aangaande God”. As Christus nie opgewek is nie, is geen losprys aan God betaal nie; Christene was ‘nog in hulle sondes’ (1 Korintiërs 15:13-19; Romeine 3:23, 24; Hebreërs 9:11-14). En Christene wat “ontslaap” het, in sommige gevalle as martelaars, het sonder ’n ware hoop gesterf. Hoe bejammerenswaardig sou Christene tog wees as hierdie lewe al was wat hulle kon verwag! Die lyding wat hulle moes verduur, sou alles tevergeefs gewees het.
12. (a) Wat word daardeur geïmpliseer om Christus “die eersteling van dié wat ontslaap het” te noem? (b) Hoe het Christus die opstanding moontlik gemaak?
12 Dit was egter nie waar nie. Paulus sê voorts: ‘Christus is uit die dode opgewek.’ Daarbenewens is hy “die eersteling van dié wat ontslaap het” (1 Korintiërs 15:20). Wanneer die Israeliete gehoorsaam was en die eerstelinge van hulle opbrengs aan Jehovah gegee het, het Jehovah hulle met ’n groot oes geseën (Exodus 22:29, 30; 23:19; Spreuke 3:9, 10). Deur Christus “die eersteling” te noem, impliseer Paulus dat ’n verdere oes van mense uit die dode tot hemelse lewe opgewek sou word. “Aangesien die dood deur ’n mens is”, sê Paulus, “is die opstanding van die dooies ook deur ’n mens. Want net soos almal in Adam sterf, só sal almal ook in die Christus lewend gemaak word” (1 Korintiërs 15:21, 22). Jesus het die opstanding moontlik gemaak deur sy volmaakte menselewe as ’n losprys te gee en het die weg vir die mensdom gebaan om van slawerny aan sonde en die dood bevry te word.—Galasiërs 1:4; 1 Petrus 1:18, 19.a
13. (a) Wanneer vind die hemelse opstanding plaas? (b) Hoe is dit dat party gesalfdes nie in die graf slaap nie?
13 Paulus sê verder: “Maar elkeen in sy eie rangorde: Christus, die eersteling, daarna dié wat aan die Christus behoort gedurende sy teenwoordigheid” (1 Korintiërs 15:23). Christus is in 33 G.J. opgewek. Maar sy gesalfde volgelinge—“dié wat aan die Christus behoort”—sou moes wag tot kort nadat Jesus sy koninklike teenwoordigheid begin het, wat volgens Bybelprofesieë in 1914 plaasgevind het (1 Tessalonisense 4:14-16; Openbaring 11:18). Wat van diegene wat gedurende daardie teenwoordigheid nog sou lewe? Paulus sê: “Kyk! Ek vertel julle ’n heilige geheim: Ons sal nie almal ontslaap nie, maar ons sal almal verander word, in ’n oomblik, in ’n oogwink, gedurende die laaste trompet. Want die trompet sal klink, en die dooies sal onverderflik opgewek word, en ons sal verander word” (1 Korintiërs 15:51, 52). Dit is duidelik dat nie alle gesalfdes in die graf sou slaap en vir ’n opstanding sou moes wag nie. Diegene wat tydens Christus se teenwoordigheid sterf, word oombliklik verander.—Openbaring 14:13.
14. Hoe word gesalfdes “gedoop . . . met die doel om dooies te word”?
14 “Anders”, vra Paulus, “wat sal dié doen wat gedoop word met die doel om dooies te word? As die dooies glad nie opgewek gaan word nie, waarom word hulle ook gedoop met die doel om sodaniges te word? Waarom is ons ook elke uur in gevaar?” (1 Korintiërs 15:29, 30). Paulus het nie bedoel dat die lewendes ten behoewe van dooies gedoop word, soos party Bybelvertalings dit laat klink nie. Doop hou per slot van rekening verband met Christendissipelskap, en dooie siele kan nie dissipels wees nie (Johannes 4:1). Paulus het eerder lewende Christene bespreek, waarvan baie, soos Paulus self, “elke uur in gevaar” was. Gesalfde Christene is ‘in Christus se dood in gedoop’ (Romeine 6:3). Sedert hulle salwing is hulle as ’t ware in ’n weg in “gedoop” wat tot ’n dood soos dié van Christus sou lei (Markus 10:35-40). Hulle sou met die hoop van ’n glorieryke hemelse opstanding sterf.—1 Korintiërs 6:14; Filippense 3:10, 11.
15. Voor watter gevare het Paulus moontlik te staan gekom, en hoe het geloof in die opstanding hom gehelp om dit te verduur?
15 Paulus verduidelik nou dat hy self voor sulke ernstige gevaar te staan gekom het dat hy kon sê: “Ek kom daagliks voor die dood te staan.” Sodat sommige hom nie van oordrywing kan beskuldig nie, voeg Paulus by: “Dit bevestig ek deur die verblyding oor julle, broers, wat ek in Christus Jesus, ons Here, het.” In die Nuwe Afrikaanse Vertaling lui hierdie vers: “Elke dag word ek deur die dood bedreig. Ja, broers, dit is waar, net so waar as wat julle my trots is in Christus Jesus, ons Here.” As ’n voorbeeld van die gevare waarvoor hy te staan gekom het, noem Paulus in vers 32 dat hy “in Efese met wilde diere geveg het”. Die Romeine het misdadigers dikwels tereggestel deur hulle vir wilde diere in die arenas te gooi. As Paulus met letterlike wilde diere geveg het, kon hy dit slegs met Jehovah se hulp oorleef het. Sonder die opstandingshoop sou dit beslis roekeloos gewees het om ’n lewensweg te kies wat hom aan sulke gevare blootgestel het. Sonder die hoop op ’n toekomstige lewe sou die ontberinge en opofferinge wat met diens aan God gepaardgegaan het min waarde hê. “As die dooies nie opgewek gaan word nie”, sê Paulus, “laat ons eet en drink, want môre gaan ons sterf.”—1 Korintiërs 15:31, 32; sien 2 Korintiërs 1:8, 9; 11:23-27.
16. (a) Waar het die uitdrukking “laat ons eet en drink, want môre gaan ons sterf” moontlik sy oorsprong gehad? (b) Watter gevare het dit ingehou om hierdie sienswyse aan te neem?
16 Paulus het dalk Jesaja 22:13 aangehaal, wat die fatalistiese gesindheid van die ongehoorsame inwoners van Jerusalem beskryf. Of miskien het hy die opvattings van die Epikureërs in gedagte gehad wat enige hoop van ’n lewe ná die dood verwerp het en geglo het dat singenot die vernaamste deug in die lewe is. Hoe dit ook al sy, die “eet en drink”-filosofie was goddeloos. Gevolglik waarsku Paulus: “Moenie mislei word nie. Slegte omgang bederf nuttige gewoontes” (1 Korintiërs 15:33). Dit kon dodelik wees om met diegene te meng wat die opstanding verwerp het. Sulke omgang het moontlik ’n rol gespeel in die probleme wat Paulus in die Korintiese gemeente moes hanteer, soos geslagsonsedelikheid, onenighede, hofsake en minagting vir die Here se Aandmaal.—1 Korintiërs 1:11; 5:1; 6:1; 11:20-22.
17. (a) Watter vermaning het Paulus die Korintiërs gegee? (b) Watter vrae moet nog beantwoord word?
17 Paulus gee die Korintiërs dus hierdie positiewe vermaning: “Ontwaak tot nugterheid op ’n regverdige wyse en moenie sonde beoefen nie, want party is sonder kennis van God. Ek spreek om julle tot skaamte te beweeg” (1 Korintiërs 15:34). ’n Negatiewe beskouing van die opstanding het gemaak dat party geestelik lomerig geword het, asof hulle dronk was. Hulle moes wakker word en nugter bly. Vandag moet gesalfde Christene eweneens geestelik wakker wees en nie deur die wêreld se skeptiese beskouings beïnvloed word nie. Hulle moet stewig vashou aan hulle hoop van ’n hemelse opstanding. Maar daar was nog vrae—vir die destydse Korintiërs en vir ons vandag. In watter vorm word die 144 000 byvoorbeeld in die hemel opgewek? En wat van die miljoene ander wat nog in die graf is en nie ’n hemelse hoop het nie? Wat sal die opstanding vir hulle beteken? Ons sal die res van Paulus se bespreking oor die opstanding in ons volgende artikel ondersoek.
[Voetnoot]
a Sien Die Wagtoring van 15 Februarie 1991 vir ’n bespreking van die losprys.
Onthou jy?
◻ Watter lig het Jesus op die opstanding gewerp?
◻ Wie was onder die getuies van Christus se opstanding?
◻ Waarom is die opstandingsleer betwis, en wat was Paulus se reaksie hierop?
◻ Waarom was geloof in die opstanding noodsaaklik vir gesalfde Christene?
[Prent op bladsy 15]
Jaïrus se dogter het ’n bewys geword van die feit dat die opstanding wel moontlik is
[Prent op bladsy 16, 17]
Sonder die opstandingshoop sou die marteldood van getroue Christene sinloos wees