“In gevare op see”
IN DIE donker nag nader ’n seilskip met 276 mense aan boord ’n eiland in die Middellandse See. Die bemanning en passasiers is uitgeput nadat hulle 14 dae in stormagtige water heen en weer geslinger is. Toe hulle met dagbreek ’n baai sien, probeer hulle om die vaartuig op die strand te laat loop. Maar die voorstewe steek heeltemal vas, en die golwe slaan die agterstewe uitmekaar. Almal aan boord verlaat die skip en bereik die kus van Malta deur te swem of aan planke of ander voorwerpe vas te klou. Koud en gehawend sleep hulle hulleself uit die onstuimige branders. Onder die passasiers is die Christenapostel Paulus. Hy word na Rome toe geneem om verhoor te word.—Handelinge 27:27-44.
Die skipbreuk op die eiland Malta was nie Paulus se eerste lewensgevaarlike situasie op see nie. ’n Paar jaar vantevore het hy geskryf: “Drie keer het ek skipbreuk gely, ’n nag en ’n dag het ek in die see deurgebring.” Hy het bygevoeg dat hy al “in gevare op see” was (2 Korintiërs 11:25-27). Seereise het Paulus gehelp om sy godgegewe rol as “’n apostel vir die nasies” te vervul.—Romeine 11:13.
Presies hoe algemeen was seereise in die eerste eeu? Hoe het dit gehelp om die Christelike godsdiens te versprei? Hoe veilig was dit? Watter soort vaartuie is gebruik? En waar het die passasiers geslaap?
Rome se afhanklikheid van seehandel
Die Romeine het die Middellandse See Mare Nostrum—Ons see—genoem. Beheer oor seeweë was nie net om militêre redes vir Rome noodsaaklik nie. Baie stede van die Romeinse Ryk was hawestede of is deur hawens bedien. Rome se hawe was byvoorbeeld in die nabygeleë Ostia, terwyl Korinte van Lecheum en Kenchreë gebruik gemaak het en Siriese Antiogië deur Seleukië bedien is. Goeie seeverbindings tussen hierdie hawens het vinnige kommunikasie met vername stede moontlik gemaak en doeltreffende bestuur van Romeinse provinsies vergemaklik.
Rome was ook van die skeepvaartbedryf afhanklik vir sy voedselvoorraad. Met ’n bevolking van ongeveer een miljoen het Rome ontsaglik baie graan nodig gehad—tussen 250 000 en 400 000 ton per jaar. Waar het al daardie graan vandaan gekom? Flavius Josefus haal Herodes Agrippa II aan wat glo gesê het dat Noord-Afrika Rome agt maande van die jaar gevoed het, terwyl Egipte genoeg graan gestuur het om die stad die ander vier maande te onderhou. Duisende seevaartuie het gehelp om graan aan hierdie stad te voorsien.
Die florerende seehandel het die Romeine se begeerte na luukshede bevredig deur allerhande soorte koopware te voorsien. Minerale, boustene en marmer is van Siprus, Griekeland en Egipte af verskeep, en timmerhout is van Libanon af vervoer. Wyn het van Smirna af gekom, neute van Damaskus en dadels van Palestina. Salf en rubber is in Silisië gelaai, wol in Milete en Laodisea, weefstof in Sirië en Libanon en purperweefstof in Tirus en Sidon. Kleurstof is van Tiatira af gestuur en glas van Aleksandrië en Sidon. Sy, katoen, ivoor en speserye is van China en Indië af ingevoer.
Wat kan gesê word van die skip wat met Paulus aan boord by Malta gestrand het? Dit was ’n graanskip, “’n boot uit Aleksandrië . . . wat na Italië geseil het” (Handelinge 27:6, voetnoot in naslaanuitgawe). Die graanskepe was in privaat besit van Grieke, Fenisiërs en Siriërs, wat die skepe beheer en toegerus het. Maar die skepe is deur die Staat gehuur. “Net soos die geval was met die invordering van belasting”, sê die geskiedskrywer William M. Ramsay, “het die regering dit makliker gevind om die werk uit te kontrakteer as om self die ontsaglike werkkrag en toerusting wat vir hierdie groot taak nodig was te organiseer.”
Paulus het sy reis na Rome voltooi op ’n vaartuig met die boegbeeld “Seuns van Zeus”. Dit was ook ’n skip uit Aleksandrië. Dit het vasgemeer in Puteoli in die Golf van Napels, die hawe waar die graanskepe gewoonlik aangedoen het (Handelinge 28:11-13). Van Puteoli af—hedendaagse Pozzuoli—is die vrag oor land geneem of op kleiner vaartuie noordwaarts vervoer al langs die kus en met die Tiberrivier op tot in die hart van Rome.
Passasiers op vragskepe?
Waarom het Paulus en die soldate wat hom bewaak het op ’n vragskip gereis? Om hierdie vraag te beantwoord, moet ons weet wat dit destyds beteken het om as ’n passasier op see te reis.
In die eerste eeu G.J. het daar nie so iets soos ’n passasierskip bestaan nie. Die vaartuie wat deur reisigers gebruik is, was handelskepe. En alle soorte mense—onder meer staatsamptenare, intellektuele, predikers, towenaars, kunstenaars, atlete, handelaars, toeriste en pelgrims—het moontlik daarop gevaar.
Daar was natuurlik kleiner bote wat passasiers en vrag in kuswaters vervoer het. Paulus het moontlik van so ’n vaartuig gebruik gemaak om van Troas ‘na Masedonië oor te gaan’. Kleiner vaartuie het hom dalk by meer as een geleentheid na en van Atene geneem. Paulus het miskien ook kleiner vaartuie gebruik op sy latere reis van Troas na Patara verby die eilande naby die kus van Klein-Asië (Handelinge 16:8-11; 17:14, 15; 20:1-6, 13-15; 21:1). Dit het tyd gespaar om van hierdie klein vaartuie gebruik te maak, maar hulle kon dit nie baie ver van die land af waag nie. Die skepe wat Paulus dus na Siprus en toe na Pamfilië geneem het en dié waarmee hy van Efese na Sesarea en van Patara na Tirus gereis het, moes heelwat groter gewees het (Handelinge 13:4, 13; 18:21, 22; 21:1-3). Die vaartuig waarop Paulus was toe dit by Malta gestrand het, sou ook groot gewees het. Hoe groot was sulke skepe?
Na aanleiding van letterkundige bronne het ’n geleerde gesê: “Die kleinste [skeeps]ruimte wat mense in die ou tyd oor die algemeen doeltreffend gevind het, was ongeveer 70 tot 80 ton. ’n Baie gewilde grootte, ten minste in die Hellenistiese tyd, was 130 ton. Hoewel skepe van 250 ton gereeld gesien is, was hulle beslis groter as die gemiddelde skip. In Romeinse tye was die skepe wat in die keiserlike vervoerdiens gebruik is nog groter; die gewilde grootte was 340 ton. Die grootste skepe op see was tot 1 300 ton, miskien ’n bietjie groter.” Volgens ’n beskrywing wat in die tweede eeu G.J. opgeteken is, was die Aleksandrynse graanskip Isis meer as 55 meter lank, ongeveer 14 meter wyd, met ’n skeepsruim wat sowat 13 meter diep was en moontlik meer as duisend ton graan en miskien ’n paar honderd passasiers kon vervoer.
Hoe is daar na die reisigers op ’n graanskip omgesien? Aangesien die skepe hoofsaaklik vrag vervoer het, het passasiers die tweede plek beklee. Geen kos of dienste is aan hulle voorsien nie, maar wel water. Hulle het op die dek geslaap, moontlik onder skuilings soos tente wat in die aand opgeslaan en elke oggend afgeslaan is. Hoewel reisigers moontlik toegelaat is om in die skeepskombuis te kook, sou hulle alles moes saambring wat hulle nodig sou hê om te kook, te eet, te bad en te slaap—van potte en panne tot beddegoed.
Seereise—Hoe veilig?
Omdat hulle geen instrumente gehad het nie—selfs nie ’n kompas nie—kon seevaarders in die eerste eeu net vaar as hulle kon sien waar hulle gaan. Daarom was dit die veiligste om te reis wanneer sig die beste was—gewoonlik van laat Mei tot die middel van September. Gedurende die twee maande voor of ná daardie tyd kon handelaars ’n kans waag om te seil. Maar gedurende wintertyd het mis en wolke bakens dikwels verberg, asook die son bedags en die sterre snags. Skeepvaart is as geslote beskou (Latyn, mare clausum) van 11 November tot 10 Maart, behalwe wanneer hulle nie anders kon nie of in noodgevalle. Diegene wat laat in die seisoen gereis het, het die gevaar geloop om in ’n vreemde hawe te oorwinter.—Handelinge 27:12; 28:11.
Ten spyte van gevare en seisoensbeperkings, het dit dan enigsins voordele ingehou om op see in plaas van oor land te reis? Ja, beslis! Seereise was minder uitputtend, goedkoper en vinniger. Wanneer winde gunstig was, kon ’n skip 150 kilometer per dag aflê. Die gewone afstand op ’n lang reis te voet was 25 tot 30 kilometer per dag.
Die spoed van ’n skip het feitlik geheel en al van die wind afgehang. Die reis van Egipte na Italië was ’n voortdurende stryd teen winde van voor, selfs onder baie gunstige omstandighede. Die kortste roete was gewoonlik via Rodos of Mira of ’n ander hawe aan die kus van Lisië in Klein-Asië. Nadat die graanskip Isis by een geleentheid deur storms teëgehou is en van koers af geraak het, het hulle in Piraeus vasgemeer 70 dae nadat hulle van Aleksandrië af vertrek het. Met heersende noordwestelike winde van agter kon hulle die terugreis van Italië af moontlik in 20 tot 25 dae doen. Met die roete oor land sou dieselfde reis in albei rigtings meer as 150 dae in goeie weer geneem het.
Die goeie nuus ver oor die see geneem
Paulus was blykbaar bewus van die gevare wat buiteseisoense seevaart ingehou het. Hy het selfs voorgestel dat hulle nie laat in September of vroeg in Oktober moet vaar nie en gesê: “Manne, ek bemerk dat die vaart met skade en groot verlies gepaard sal gaan, nie net van die vrag en die boot nie, maar ook van ons siele” (Handelinge 27:9, 10). Maar die leëroffisier wat na sake moes omsien, het hierdie woorde geïgnoreer, en dit het tot die skipbreuk in Malta gelei.
Teen die einde van sy sendingloopbaan het Paulus ten minste vier keer skipbreuk gely (Handelinge 27:41-44; 2 Korintiërs 11:25). Tog het onnodige bekommernis oor sulke gebeurlikhede vroeë verkondigers van die goeie nuus nie gekeer om seereise te onderneem nie. Hulle het ten volle gebruik gemaak van alle beskikbare vervoermiddele sodat hulle die Koninkryksboodskap kon verkondig. En ooreenkomstig Jesus se bevel het hulle wyd en syd getuig (Matteus 28:19, 20; Handelinge 1:8). Danksy hulle ywer, die geloof van diegene wat hulle voorbeeld gevolg het en die leiding van Jehovah se heilige gees het die goeie nuus die uithoeke van die bewoonde aarde bereik.
[Foto-erkenning op bladsy 31]
Pictorial Archive (Near Eastern History) Est.