Die voordele van ’n liefde vir God se Woord
“Kry [wysheid] lief, dan sal dit jou bewaak. . . . Dit sal jou eer as jy dit omhels.”—SPREUKE 4:6, 8.
1. Wat behels ware liefde vir God se Woord?
DIT is noodsaaklik vir ’n Christen om die Bybel te lees. Maar om dit net te lees, toon nie op sigself ’n liefde vir God se Woord nie. Sê byvoorbeeld iemand lees die Bybel maar hy doen daarna dinge wat deur die Bybel veroordeel word. Hy het beslis nie God se Woord lief soos die skrywer van Psalm 119 dit liefgehad het nie. Liefde vir God se Woord het hóm beweeg om in ooreenstemming met die vereistes daarvan te lewe.—Psalm 119:97, 101, 105.
2. Watter voordele word verkry uit wysheid wat op God se Woord gegrond is?
2 Om in ooreenstemming met God se Woord te lewe, vereis voortdurend aanpassings in ’n mens se denke en lewenswyse. Dit weerspieël goddelike wysheid, wat beteken dat jy die kennis en insig wat jy deur ’n studie van die Bybel verkry het prakties toepas. “Kry [wysheid] lief, dan sal dit jou bewaak. Hou dit hoog, dan sal dit jou verhoog; dit sal jou eer as jy dit omhels. Dit sal ’n lieflike krans gee vir jou hoof, dit sal jou ’n sierlike kroon verskaf” (Spreuke 4:6, 8, 9). Watter uitstekende aanmoediging is dit tog om ’n liefde vir God se Woord op te bou en daardeur gelei te word! Wie wil nie bewaak, oftewel beskerm, verhoog en geëer word nie?
Teen permanente skade beskerm
3. Waarom het Christene meer as ooit tevore beskerming nodig, en teen wie?
3 Hoe word ’n mens beskerm deur wysheid wat jy verkry wanneer jy God se Woord bestudeer en toepas? Om maar een ding te noem, jy word teen Satan die Duiwel beskerm. Jesus het sy volgelinge leer bid vir verlossing van die bose, Satan (Matteus 6:13). Vandag is dit uiters dringend dat ons hierdie versoek in ons gebede insluit. Satan en sy demone is ná 1914 uit die hemel gewerp, en daarom het Satan “groot toorn, omdat hy weet dat hy ’n kort tydperk het” (Openbaring 12:9, 10, 12). Op hierdie laat stadium is sy toorn ongetwyfeld groter as ooit terwyl hy sonder sukses oorlog voer teen diegene “wat die gebooie van God onderhou en die werk het om van Jesus te getuig”.—Openbaring 12:17.
4. Hoe word Christene teen sataniese druk en strikke beskerm?
4 In sy woede hou Satan aan om moeilikheid vir hierdie Christenbedienaars te veroorsaak en gewelddadige vervolging aan te stig of hulle werk op ander maniere te belemmer. Hy wil ook Koninkryksverkondigers se aandag aftrek van die Koninkrykspredikingswerk en dit toespits op dinge soos wêreldse vernaamheid, die liefde vir gemak, die verkryging van materiële besittings en die najaging van plesier. Wat beskerm God se getroue knegte sodat hulle nie voor Satan se druk sal swig of in sy strikke gevang sal word nie? Gebed, ’n intieme, persoonlike verhouding met Jehovah en geloof in die sekerheid van sy beloftes is natuurlik noodsaaklik. Maar dit alles hou verband met ’n kennis van die herinneringe in God se Woord en ’n vasbeslotenheid om daarop ag te slaan. Ons leer van hierdie herinneringe as ons die Bybel en Bybelstudiehulpe lees, Christelike vergaderinge bywoon, ag slaan op skriftuurlike raad van ’n medegelowige of eenvoudig biddend peins oor Bybelbeginsels wat God se gees ons laat herroep.—Jesaja 30:21; Johannes 14:26; 1 Johannes 2:15-17.
5. Op watter maniere word ons beskerm deur wysheid wat op God se Woord gegrond is?
5 Diegene wat God se Woord liefhet, word ook op ander maniere beskerm. Hulle ondervind byvoorbeeld nie die emosionele spanning en liggaamlike siektes wat die gevolg is van dinge soos dwelmmisbruik, die gebruik van tabak en geslagsonsedelikheid nie (1 Korintiërs 5:11; 2 Korintiërs 7:1). Hulle dra nie by tot gespanne verhoudings deur skinderpraatjies of onbedagsame spraak nie (Efesiërs 4:31). Hulle swig ook nie voor twyfel deur die bedrieglike filosofieë van die wysheid van die wêreld te ondersoek nie (1 Korintiërs 3:19). Deur God se Woord lief te hê, word hulle beskerm teen dinge wat kan veroorsaak dat hulle hulle verhouding met God en die hoop op die ewige lewe verbeur. Hulle bly besig deur hulle medemens te help om geloof te stel in die Bybel se wonderlike beloftes, in die wete dat hulle sodoende ‘hulleself sal red sowel as dié wat na hulle luister’.—1 Timoteus 4:16.
6. Hoe kan wysheid wat op God se Woord gegrond is ons selfs onder moeilike omstandighede beskerm?
6 Almal—selfs diegene wat God se Woord liefhet—kan weliswaar deur “tyd en lotgeval” getref word (Prediker 9:11). Dit is onvermydelik dat party van ons natuurrampe, ernstige siektes of ongelukke sal ondervind of ontydig sal sterf. Maar ons word nog steeds beskerm. Geen rampspoed kan iemand wat God se Woord waarlik liefhet permanente skade aandoen nie. Daarom moet ons nie oorbesorg wees oor wat in die toekoms kan gebeur nie. Nadat ons alle redelike voorsorg getref het, is dit beter om sake aan Jehovah oor te laat en nie toe te laat dat die onsekerheid van vandag se lewe ons van vrede beroof nie (Matteus 6:33, 34; Filippense 4:6, 7). Hou die sekerheid van die opstandingshoop en van ’n beter lewe wanneer God ‘alles nuut gaan maak’ voor oë.—Openbaring 21:5; Johannes 11:25.
Toon dat jy “goeie grond” is
7. Watter illustrasie het Jesus vir die skares vertel wat na hom kom luister het?
7 Jesus het in een van sy gelykenisse beklemtoon hoe belangrik dit is om die regte beskouing van God se Woord te hê. Terwyl Jesus die goeie nuus dwarsdeur Palestina verkondig het, het skares versamel om na hom te luister (Lukas 8:1, 4). Maar nie almal was werklik lief vir God se Woord nie. Baie het ongetwyfeld na hom kom luister omdat hulle wonderwerke wou sien of omdat hulle van sy uitstekende onderrigmetode gehou het. Daarom het Jesus vir die skares ’n illustrasie vertel: “’n Saaier het uitgegaan om sy saad te saai. Wel, terwyl hy gesaai het, het ’n deel daarvan langs die pad geval en is dit vertrap, en die voëls van die hemel het dit opgeëet. ’n Ander deel het op die rots geval, en nadat dit uitgespruit het, het dit verdroog omdat dit nie vogtigheid gehad het nie. ’n Ander deel het tussen die dorings geval, en die dorings wat daarmee saam gegroei het, het dit verstik. ’n Ander deel het op die goeie grond geval, en nadat dit uitgespruit het, het dit honderdvoudig vrug voortgebring.”—Lukas 8:5-8.
8. Wat is die saad in Jesus se illustrasie?
8 Jesus se gelykenis het getoon dat daar verskillende reaksies op die verkondiging van die goeie nuus sou wees, na gelang van die hoorder se hartstoestand. Die saad wat gesaai word, is “die woord van God” (Lukas 8:11). Of soos ’n ander verslag van die gelykenis sê, die saad is “die woord van die koninkryk” (Matteus 13:19). Jesus kon albei uitdrukkings gebruik, aangesien die tema van God se Woord die hemelse Koninkryk is onder Jesus Christus as Koning waardeur Jehovah sy soewereiniteit sal regverdig en sy naam sal heilig (Matteus 6:9, 10). Die saad is dus in werklikheid die boodskap van die goeie nuus in God se Woord, die Bybel. Jehovah se Getuies vestig mense se aandag op hierdie Koninkryksboodskap terwyl hulle die saad saai in navolging van die oorspronklike Saaier, Jesus Christus. Hoe reageer mense?
9. Wat stel die saad voor wat (a) langs die pad val? (b) op die rots val? (c) tussen die dorings val?
9 Jesus het gesê dat van die saad langs die pad val en vertrap word. Dit verwys na mense wat te besig is om toe te laat dat die Koninkryksaad in hulle hart wortelskiet. Voordat hulle ’n liefde vir God se Woord kan aankweek, “kom die Duiwel en neem die woord uit hulle hart weg sodat hulle nie sal glo en gered word nie” (Lukas 8:12). Van die saad val op ’n rots. Dit verwys na mense wat van die Bybel se boodskap hou, maar nie toelaat dat dit hulle hart raak nie. Wanneer teenstand kom of wanneer hulle dit moeilik vind om Bybelraad toe te pas, “val hulle weg” omdat hulle geen wortel het nie (Lukas 8:13). Dan is daar diegene wat die woord hoor, maar oorweldig word deur die “sorge en rykdom en genietinge van hierdie lewe”. Uiteindelik “word hulle heeltemal verstik”, soos plante wat deur dorings verstik word.—Lukas 8:14.
10, 11. (a) Wie word deur die goeie grond voorgestel? (b) Wat moet ons doen om God se Woord in ons hart ‘vas te hou’?
10 Laastens is daar die saad wat op die goeie grond val. Dit verwys na mense wat die boodskap met “’n edel en goeie hart” ontvang. Ons almal sal natuurlik graag wil glo dat ons in hierdie kategorie val. Maar dit is per slot van rekening God se beskouing wat tel (Spreuke 17:3; 1 Korintiërs 4:4, 5). Volgens sy Woord bewys ons dat ons “’n edel en goeie hart” het deur wat ons van nou af tot ons dood doen, of totdat God ’n einde maak aan hierdie goddelose stelsel van dinge. As ons aanvanklik gunstig op die Koninkryksboodskap reageer, is dit goed. Maar mense met ’n edel en goeie hart aanvaar God se Woord en ‘hou dit vas en dra vrug met volharding’.—Lukas 8:15.
11 Die enigste betroubare manier waarop ons God se Woord in ons hart kan vashou, is deur dit privaat en saam met medegelowiges te lees en te bestudeer. Dit sluit in dat ons ten volle gebruik maak van die geestelike voedsel wat voorsien word deur die kanaal wat aangestel is om na die geestelike belange van Jesus se ware volgelinge om te sien (Matteus 24:45-47). Deur middel hiervan word mense wat God se Woord in hulle hart vashou deur liefde beweeg om “met volharding vrug [te] dra”.
12. Wat is die vrugte wat ons met volharding moet dra?
12 Watter vrugte dra die goeie grond? In die natuur ontkiem saadjies en word hulle plante wat vrug dra en dieselfde soort saad bevat, wat dan uitgestrooi kan word om nog vrugte voort te bring. Net so ook groei die saad van die woord in mense met ’n edel en goeie hart en laat hulle geestelik vorder totdat hulle, op hulle beurt, die saad in die harte van ander kan saai (Matteus 28:19, 20). En hulle saaiwerk word deur volharding gekenmerk. Jesus het getoon hoe belangrik volharding in die saaiwerk is toe hy gesê het: “Wie tot die einde toe volhard het, hy sal gered word. En hierdie goeie nuus van die koninkryk sal in die hele bewoonde aarde verkondig word tot ’n getuienis vir al die nasies; en dan sal die einde kom.”—Matteus 24:13, 14.
‘Dra vrug in elke goeie werk’
13. Wat het Paulus in gebed gesê wat vrugte met kennis van God se Woord verbind het?
13 Die apostel Paulus het ook gepraat van die belangrikheid om vrug te dra, en hy het dit met God se Woord verbind. Hy het gebid dat sy medegelowiges “in alle wysheid en geestelike insig vervul mag word met die juiste kennis van [God se] wil, sodat [hulle] kan wandel op ’n wyse wat Jehovah waardig is om hom ten volle te behaag terwyl [hulle] voortgaan om vrug te dra in elke goeie werk”.—Kolossense 1:9, 10; Filippense 1:9-11.
14-16. Watter vrugte dra diegene wat God se Woord liefhet, in ooreenstemming met Paulus se gebed?
14 Paulus toon dus dat die verkryging van Bybelkennis nie op sigself ’n einddoel is nie. Dit is eerder liefde vir God se Woord wat ons motiveer om ‘op ’n wyse te wandel wat Jehovah waardig is’ deur voort te gaan “om vrug te dra in elke goeie werk”. Watter goeie werk? Die verkondiging van die goeie nuus van die Koninkryk is die belangrikste toewysing vir Christene in hierdie laaste dae (Markus 13:10). Daarbenewens doen diegene wat God se Woord liefhet hulle bes om hierdie werk gereeld geldelik te ondersteun. Hulle is bly oor hierdie voorreg, want hulle weet dat ‘God ’n blymoedige gewer liefhet’ (2 Korintiërs 9:7). Hulle bydraes word gebruik om die bedryfskoste te dek van die meer as eenhonderd Bethelgeboue waar die Koninkrykspredikingswerk georganiseer word en party waar Bybels en Bybellektuur geproduseer word. Hulle bydraes help ook om die koste van groot Christelike byeenkomste te dek en reisende opsieners, sendelinge en ander voltydse evangeliedienaars uit te stuur.
15 Ander goeie werke sluit die bou en instandhouding van sentrums vir ware aanbidding in. Liefde vir God se Woord beweeg sy aanbidders om te verseker dat Byeenkomssale en Koninkryksale nie verwaarloos raak nie. (Vergelyk Nehemia 10:39.) Aangesien God se naam op hierdie geboue verskyn, is dit noodsaaklik dat dit binne en buite skoon en mooi gehou moet word en dat die gedrag van diegene wat God in hierdie sale aanbid onberispelik moet wees (2 Korintiërs 6:3). Party Christene is in staat om meer te doen. Liefde vir God se Woord beweeg hulle om oor lang afstande te reis om nuwe plekke van aanbidding te bou in dele van die wêreld waar daar ’n behoefte is weens armoede of ’n gebrek aan vaardighede.—2 Korintiërs 8:14.
16 “Om vrug te dra in elke goeie werk”, sluit ook in dat ons ons gesinsverpligtinge nakom en besorgdheid teenoor mede-Christene betoon. Liefde vir God se Woord beweeg ons om bewus te wees van die behoeftes van dié “wat in die geloof aan ons verwant is” en “om godvrugtige toegewydheid in [ons] eie huisgesin te beoefen” (Galasiërs 6:10; 1 Timoteus 5:4, 8). In hierdie verband is dit ’n goeie werk om die siekes te besoek en die treurendes te vertroos. En watter goeie werk verrig gemeentelike ouer manne en die Hospitaalskakelkomitees tog deur individue by te staan wat voor moeilike mediese situasies te staan kom! (Handelinge 15:29). Dan is daar die toenemende aantal rampe—waarvan party natuurrampe is en ander wat deur die mens se onverstandige optrede veroorsaak word. Met behulp van God se gees het Jehovah se Getuies in baie dele van die aarde ’n goeie naam opgebou omdat hulle vinnig optree om noodleniging te verskaf aan medegelowiges en ander slagoffers van rampe en ongelukke. Dit alles is goeie vrugte wat voortgebring word deur diegene wat God se Woord liefhet.
Wonderlike toekomstige seëninge
17, 18. (a) Wat word bereik deur die Koninkryksaad wat gesaai word? (b) Watter wêreldskokkende gebeure sal liefhebbers van God se Woord binnekort sien plaasvind?
17 Die Koninkryksaad wat gesaai word, bring steeds groot voordele mee vir die mensdom. In onlangse jare was daar jaarliks meer as 300 000 mense wat toegelaat het dat die Bybel se boodskap in hulle hart wortelskiet en hulle beweeg om hulle lewe aan Jehovah toe te wy en dit deur waterdoop te simboliseer. Wat ’n glorieryke toekoms wag op hulle!
18 Liefhebbers van God se Woord weet dat Jehovah God binnekort sal optree om sy naam te verheerlik. “Babilon die Grote”, die wêreldryk van valse godsdiens, sal vernietig word (Openbaring 18:2, 8). Dan sal diegene wat weier om in ooreenstemming met God se Woord te lewe deur die Koning, Jesus Christus, doodgemaak word (Psalm 2:9-11; Daniël 2:44). Daarna sal God se Koninkryk blywende verligting van misdaad, oorlog en ander rampe teweegbring. Ons sal mense nie meer hoef te vertroos nie, want daar sal nie pyn, siekte en die dood wees nie.—Openbaring 21:3, 4.
19, 20. Watter wonderlike toekoms wag op diegene wat God se Woord waarlik liefhet?
19 Watter wonderlike goeie werke sal tog verrig word deur diegene wat God se Woord liefhet! Armageddon-oorlewendes sal begin met die vreugdevolle taak om hierdie aarde in ’n paradys te omskep. Hulle sal die wonderlike voorreg hê om in die behoeftes te voorsien van die dooies wat nou in die graf slaap, maar in God se geheue is en die vooruitsig het om uit die dood opgewek te word (Johannes 5:28, 29). Gedurende daardie tyd sal die Soewereine Heer, Jehovah, deur middel van sy verheerlikte Seun, Jesus Christus, volmaakte leiding aan die aarde se bewoners gee. ‘Boekrolle sal oopgemaak word’ wat Jehovah se instruksies vir lewe in die nuwe wêreld bekend sal maak.—Openbaring 20:12.
20 Op Jehovah se bestemde tyd sal die hele liggaam van getroue gesalfde Christene opgewek wees om hulle hemelse beloning as “mede-erfgename met Christus” te ontvang (Romeine 8:17). Gedurende die Duisendjarige Heerskappy van Christus sal alle mense op aarde wat God se Woord liefhet tot verstandelike en liggaamlike volmaaktheid verhef word. Nadat hulle tydens ’n finale toets getrou gebly het, sal hulle beloon word met die ewige lewe en sal hulle dan “die glorieryke vryheid van die kinders van God” geniet (Romeine 8:21; Openbaring 20:1-3, 7-10). Wat ’n wonderlike tyd sal dit tog wees! Hetsy Jehovah ons ’n hemelse of ’n aardse hoop gegee het, innige liefde vir sy Woord en ’n vasbeslotenheid om in ooreenstemming met Goddelike wysheid te lewe, sal ons beskerm. En in die toekoms sal dit ons ‘eer as ons dit omhels’.—Spreuke 4:6, 8.
Kan jy verduidelik?
◻ Hoe sal liefde vir God se Woord ons beskerm?
◻ Wat is die saad van Jesus se illustrasie, en hoe word dit gesaai?
◻ Hoe kan ons toon dat ons “goeie grond” is?
◻ Na watter voordele kan liefhebbers van God se Woord uitsien?
[Prent op bladsy 16]
beeld die boodskap van die goeie nuus af wat in God se Woord gevind word
[Erkenning]
Garo Nalbandian
[Prent op bladsy 17]
Jehovah se Getuies volg die Groot Saaier na
[Prente op bladsy 18]
Armageddon-oorlewendes sal die opbrengs van die aarde geniet