Die “Poolse Broeders”—Waarom is hulle vervolg?
In 1638 het die Poolse parlement ’n klein godsdiensgroep wat as die Poolse Broeders bekend gestaan het ’n geweldige slag toegedien. ’n Kerk en ’n drukpers wat aan die groep behoort het, is vernietig. Die Universiteit van Rakof is gesluit, en die professors wat daar gedoseer het, is verban.
Twintig jaar later het die parlement ’n stap verder gegaan. Dit het beveel dat elke lid van die groep, wat moontlik 10 000 of meer was, die land verlaat. Hoe het die situasie so kritiek geword in ’n land wat destyds as een van die verdraagsaamste lande in die hele Europa beskou is? Wat het die Poolse Broeders gedoen om sulke harde behandeling te verdien?
DIT het alles begin toe ’n ernstige breuk in Pole se Calvinistiese Kerk ontstaan het. ’n Groot twispunt was die leerstelling van die Drie-eenheid. Leiers van ’n progressiewe beweging in die kerk het die leerstelling as onskriftuurlik verwerp. Dit het die kerkleiers kwaad gemaak en daartoe gelei dat die progressiewe beweging afgestig het.
Calviniste het die andersdenkendes Arianea genoem, maar die aanhangers van die nuwe groep het verkies om hulleself Christene of die Poolse Broeders te noem. Hulle staan ook as Sociniane bekend, na Laelius Socinus, ’n Italianer wat deur Servetus beïnvloed is en wie se broerskind Faustus Socinus na Pole gereis het en ’n vername lid van die beweging geword het.
Op daardie tydstip was ’n Poolse edelman, Jan Sienieński, op soek na wat hy “’n stil, afgesonderde plek” genoem het waarin die nuwe kerk kon groei. Sienieński het met spesiale toestemming van die koning van Pole die dorp Rakof gestig, wat later die sentrum van Socinianisme in Pole geword het. Sienieński het die burgers van Rakof ’n aantal regte gegee, insluitende die reg om ongehinderd te aanbid.
Ambagsmanne, dokters, aptekers, dorpenaars en mense van verskillende godsdienste het na hierdie nuwe dorp gekom. Daarbenewens het predikante van Pole, Litaue, Transsilvanië, Frankryk en selfs van Engeland daarheen gestroom. Maar nie al hierdie nuwe aankomelinge het dieselfde geglo as die Sociniane nie; Rakof het dus die volgende drie jaar, van 1569 tot 1572, ’n plek van eindelose teologiese besprekings geword. Met watter gevolg?
’n Huis wat verdeeld is
Die Sociniaanse beweging het self verdeeld geword, met diegene wat radikaler beskouings aangeneem het aan die een kant en diegene wat gematigder in hulle idees was aan die ander kant. Ondanks hulle verskille het die oortuigings wat hulle in gemeen gehad het hulle egter van ander groepe onderskei. Hulle het die Drie-eenheid verwerp; hulle het geweier om kinders te doop; hulle het oor die algemeen nie as soldate gedien nie en wou dikwels nie ’n openbare amp beklee nie.b Hulle het ook nie geglo dat die hel ’n plek van foltering is nie. Hulle het in die reël nie gewilde godsdienstradisies gevolg nie.
Calvinistiese sowel as Katolieke geestelikes het die groep hewig teëgestaan, maar Sociniaanse predikante het die atmosfeer van godsdiensverdraagsaamheid, wat bevorder is deur Poolse konings soos Sigismund II Augustus en Stephen Báthory, benut om hulle idees aan ander te leer.
Die epogmakende werk van Budny
’n Calvinistiese vertaling van die Bybel, wat op daardie stadium deur baie mense gebruik is, het nie in die behoeftes van baie lesers voorsien nie. Die Bybel is nie uit die oorspronklike tale vertaal nie, maar uit die Latynse Vulgaat en ’n kontemporêre Franse vertaling. “Die getrouheid en akkuraatheid van die gedagtes het verlore geraak in die strewe na pragtige styl”, sê een gesaghebbende. Baie foute is ingebring. ’n Welbekende geleerde met die naam Szymon Budny is derhalwe gevra om die vertaling reg te maak. Hy het besluit dat dit makliker sou wees om ’n heeltemal nuwe vertaling te doen as om die oue reg te maak. Budny het ongeveer 1567 aan die projek begin werk.
Terwyl Budny vertaal het, het hy elke woord en die wisselvorme daarvan deeglik ontleed op ’n manier wat niemand in Pole ooit voorheen gedoen het nie. Waar die Hebreeuse teks die vertaling daarvan moeilik gemaak het, het hy die letterlike vertaling in kantaantekeninge aangedui. Waar nodig het hy nuwe woorde uitgedink en die eenvoudige, alledaagse Pools van sy tyd probeer gebruik. Sy doel was om die leser ’n getroue en akkurate vertaling van die Bybel te gee.
Budny se vertaling van die hele Bybel is in 1572 uitgegee. Maar die uitgewers van die Bybel het sy vertaling van die Griekse Geskrifte verander. Budny is egter nie daardeur ontmoedig nie en het aan ’n hersiene uitgawe begin werk, wat twee jaar later voltooi is. Budny se briljante vertaling van die Griekse Geskrifte was baie beter as die vorige Poolse vertalings. Hy het boonop op baie plekke die Goddelike naam, Jehovah, herstel.
Gedurende die laaste deel van die 16de eeu en die eerste drie dekades van die 17de eeu het Rakof, die hoofstad van die beweging, ’n godsdienstige en intellektuele sentrum geword. Daar het die leiers en skrywers van die Poolse Broeders hulle traktate en werke uitgegee.
Hulle het onderrigting bevorder
Die Poolse Broeders se uitgewersbedrywighede het omstreeks 1600 momentum begin kry toe ’n drukpers in Rakof in gebruik geneem is. Die pers kon klein verhandelings sowel as groot boeke in verskeie tale druk. Rakof was weldra gelykstaande aan die beste drukkersentrums in Europa. Na mening is tot 200 publikasies gedurende die volgende 40 jaar op daardie pers gedruk. ’n Nabygeleë papiermeule, wat aan die Poolse Broeders behoort het, het papier van ’n hoë gehalte vir hierdie lektuur voorsien.
Die Poolse Broeders het weldra besef dat dit nodig was om hulle medegelowiges en ander te onderrig. Met dié doel is die Universiteit van Rakof in 1602 gestig. Seuns van die Poolse Broeders, sowel as Katolieke en Protestantse seuns, het daar klas geloop. Hoewel die universiteit ’n teologiese kweekskool was, was godsdiens nie die enigste vak wat aangebied is nie. Ander tale, etiek, ekonomie, geskiedenis, regte, logika, natuurwetenskappe, wiskunde, geneeskunde en gimnastiek was ook deel van die leerplan. Die universiteit het ’n groot biblioteek gehad, wat al hoe groter geword het danksy die plaaslike drukpers.
Namate die 17de eeu gevorder het, het dit gelyk asof die Poolse Broeders sou aanhou floreer. En tog het dit nie gebeur nie.
Die Kerk en Staat bied weerstand
Zbigniew Ogonowski van die Poolse Akademie vir die Wetenskappe verduidelik: “Aan die einde van die derde dekade van die 17de eeu het die situasie van die Ariane in Pole vinnig begin agteruitgaan.” Dit was omdat die Katolieke geestelikes al hoe aggressiewer opgetree het. Die geestelikes het elke denkbare manier, onder meer laster en skriftelike beswaddering, gebruik om die Poolse Broeders in onguns te bring. Die aanval is makliker gemaak deur ’n verandering in die politieke situasie in Pole. Die nuwe Poolse koning, Sigismund III Vasa, was ’n vyand van die Poolse Broeders. Sy opvolgers, veral Jan II Kazimierz Vasa, het ook die pogings van die Katolieke Kerk gesteun om die Poolse Broeders teë te staan.
Die saak het ’n kritieke punt bereik toe ’n kruis na bewering doelbewus ontheilig is deur ’n paar studente van Rakof. Hierdie voorval is as ’n verskoning gebruik om die hoofstad van die Poolse Broeders te vernietig. Die eienaar van Rakof is voor ’n parlementêre hof daarvan beskuldig dat hy ‘goddeloosheid bevorder’ deur die Universiteit van Rakof en sy drukpers te ondersteun. Die Poolse Broeders is van ondermynende bedrywighede beskuldig, asook dat hulle aan orgieë deelneem en ’n onsedelike lewe lei. Die parlement het besluit dat die Universiteit van Rakof gesluit moet word en dat die drukpers en die kerk wat aan die Poolse Broeders behoort, vernietig moet word. Die gelowiges is beveel om die dorp te verlaat. Die professors van die universiteit is op straf van die dood uit die land verban. Party Poolse Broeders het na veiliger plekke getrek, soos Silesië en Slowakye.
In 1658 het die parlement bepaal dat die Poolse Broeders binne drie jaar hulle eiendom moet verkoop en na die buiteland toe moet trek. Later is daardie spertyd na twee jaar verkort. Enigiemand wat daarna nog hulle oortuigings bely het, sou tereggestel word.
Sommige Sociniane het hulle in Nederland gevestig, waar hulle hulle uitgewersbedrywighede voortgesit het. In Transsilvanië het ’n gemeente tot die begin van die 18de eeu gefunksioneer. By hulle vergaderinge, wat tot drie keer per week gehou is, het hulle psalms gesing, na preke geluister en uit ’n kategismus gelees wat geskryf is om hulle leerstellings te verduidelik. Ten einde die suiwerheid van die gemeente te bewaar, is medegelowiges tereggewys, vermaan en, indien nodig, uitgesit.
Die Poolse Broeders was studente van God se Woord. Hulle het kosbare waarhede ontdek, en hulle het dit sonder aarseling aan ander meegedeel. Maar hulle is uiteindelik regoor Europa verstrooi en het dit al hoe moeiliker gevind om hulle eenheid te behou. Mettertyd het die Poolse Broeders van die toneel verdwyn.
[Voetnote]
a Arius (250-336 G.J.) was ’n priester van Aleksandrië wat ander geleer het dat Jesus ondergeskik aan die Vader is. Die Konsilie van Nicea het sy beskouing in 325 G.J. verwerp.—Sien die Ontwaak! van 22 Junie 1989, bladsy 27.
b Sien die Ontwaak! van 22 November 1988, bladsy 19, “Die Sociniane—Waarom het hulle die Drie-eenheid verwerp?”
[Prent op bladsy 23]
’n Huis wat aan ’n Sociniaanse predikant behoort het
[Prente op bladsy 23]
Bo: Rakof vandag; aan die regterkant is die klooster wat in 1650 opgerig is om enige spoor van “Arianisme” uit te wis; onder: Die Katolieke geestelikes het hier ’n kruis opgerig om konflik met die Poolse Broeders uit te lok
[Foto-erkenning op bladsy 21]
Titelkaart van Biblia nieświeska deur Szymon Budny, 1572