God se Koninkryk—Die aarde se nuwe heerskappy
‘Die koninkryk sal al daardie koninkryke verbrysel en daar ’n einde aan maak, maar self sal dit vir ewig bestaan’.—DANIËL 2:44.
1. Watter vertroue kan ons in die Bybel hê?
DIE Bybel is God se openbaring aan die mens. Die apostel Paulus het geskryf: “Toe julle God se woord ontvang het, wat julle by ons gehoor het, het julle dit nie as die woord van mense aangeneem nie maar, soos dit waarlik is, as die woord van God” (1 Tessalonisense 2:13). Die Bybel bevat inligting oor God wat ons nodig het: inligting oor sy persoonlikheid, sy voornemens en sy vereistes vir ons. Dit het die beste raad oor gesinslewe en daaglikse gedrag. Dit sit profesieë uiteen wat in die verlede vervul is, wat nou vervul word en wat in die toekoms vervul sal word. Ja, “die hele Skrif is deur God geïnspireer en is nuttig om te onderrig, om tereg te wys, om dinge reg te stel, om in regverdigheid te dissiplineer, sodat die mens van God volkome bevoeg kan wees, ten volle toegerus vir elke goeie werk”.—2 Timoteus 3:16, 17.
2. Hoe het Jesus die Bybel se tema beklemtoon?
2 Van die allergrootste belang in die Bybel is die tema daarvan: die regverdiging van God se soewereiniteit (sy reg om te regeer) deur middel van sy hemelse Koninkryk. Jesus het in sy bediening die klem daarop laat val. “Jesus [het] begin preek en sê: ‘Toon berou, want die koninkryk van die hemele het naby gekom’” (Matteus 4:17). Hy het getoon watter plek dit in ons lewe moet hê, deur ons aan te spoor: “Hou dan aan om eers die koninkryk en sy regverdigheid te soek” (Matteus 6:33). Hy het ook getoon hoe belangrik dit is deur sy volgelinge te leer om só tot God te bid: “Laat u koninkryk kom. Laat u wil geskied, soos in die hemel, so ook op die aarde.”—Matteus 6:10.
Die aarde se nuwe heerskappy
3. Waarom is God se Koninkryk nóú vir ons van belang?
3 Waarom is die Koninkryk van God vir mense van soveel belang? Omdat dit binnekort iets gaan doen wat die heerskappy van hierdie aarde vir ewig sal verander. Die profesie in Daniël 2:44 sê: “In die dae van dié konings [wat nou op die aarde regeer] sal die God van die hemel ’n koninkryk [’n regering in die hemel] verwek wat in ewigheid nie vernietig sal word nie, en die heerskappy daarvan sal aan geen ander volk oorgelaat word nie; dit sal al daardie koninkryke [aardse regerings] verbrysel en daar ’n einde aan maak, maar self sal dit vir ewig bestaan.” Wanneer God se hemelse Koninkryk volle mag aanneem, sal mense nooit weer die aarde beheer nie. Verdelende en onbevredigende menseheerskappy sal vir ewig iets van die verlede wees.
4, 5. (a) Waarom is Jesus die een wat die beste bevoeg is om die Koning van die Koninkryk te wees? (b) Watter toewysing sal Jesus in die nabye toekoms ontvang?
4 Die Vernaamste Heerser in die hemelse Koninkryk, onder Jehovah se direkte toesig, is die een wat die beste bevoeg is—Christus Jesus. Voordat hy na die aarde toe gekom het, het hy in die hemel gelewe as God se “meesterwerker”, die eerste van al God se skeppingswerke (Spreuke 8:22-31, NW). “Hy is die beeld van die onsigbare God, die eersgeborene van die hele skepping; want deur middel van hom is alle ander dinge in die hemele en op die aarde geskep” (Kolossense 1:15, 16). En toe Jesus deur God na die aarde toe gestuur is, het hy te alle tye God se wil gedoen. Hy het die moeilikste toetse verduur en getrou aan sy Vader gesterf.—Johannes 4:34; 15:10.
5 Jesus is beloon omdat hy selfs tot die dood lojaal teenoor God gebly het. God het hom tot lewe in die hemel opgewek en hom die reg gegee om die Koning van die hemelse Koninkryk te wees (Handelinge 2:32-36). As die Koning van die Koninkryk sal Christus Jesus die ontsagwekkende toewysing van God ontvang om tienduisende magtige geesskepsele te lei om menseheerskappy van die aarde af te verwyder en ons planeet van alle goddeloosheid te bevry (Spreuke 2:21, 22; 2 Tessalonisense 1:6-9; Openbaring 19:11-21; 20:1-3). Dan sal God se hemelse Koninkryk onder Christus die nuwe heersende mag wees, die enigste regering oor die hele aarde.—Openbaring 11:15.
6. Watter soort heerskappy kan ons van die Koning van die Koninkryk verwag?
6 God se Woord sê van die aarde se nuwe Heerser: “Aan Hom is gegee heerskappy en eer en koningskap; en al die volke en nasies en tale het Hom vereer” (Daniël 7:14). Omdat Jesus God se voorbeeld van liefde sal navolg, sal daar groot vrede en geluk onder sy heerskappy wees (Matteus 5:5; Johannes 3:16; 1 Johannes 4:7-10). “Aan die vermeerdering van sy regering en aan vrede sal daar geen einde wees nie, . . . om dit met geregtigheid en met regverdigheid in stand te hou” (Jesaja 9:7, Revised Standard Version). Wat ’n seën sal dit tog wees om ’n Heerser te hê wat met liefde, geregtigheid en regverdigheid regeer! Daarom voorspel 2 Petrus 3:13: “Daar is nuwe hemele [God se hemelse Koninkryk] en ’n nuwe aarde [’n nuwe aardse gemeenskap] wat ons volgens sy belofte verwag, en in hulle sal regverdigheid woon.”
7. Hoe word Matteus 24:14 vandag vervul?
7 God se Koninkryk is beslis die beste nuus vir almal wat lief is vir wat reg is. Dit is waarom Jesus, as ’n deel van die teken dat ons nou in “die laaste dae” van hierdie goddelose stelsel lewe, voorspel het: “Hierdie goeie nuus van die koninkryk sal in die hele bewoonde aarde verkondig word tot ’n getuienis vir al die nasies; en dan sal die einde kom” (2 Timoteus 3:1-5; Matteus 24:14). Hierdie profesie word nou vervul, want sowat sesmiljoen Getuies van Jehovah in 234 lande bestee elke jaar meer as ’n miljard uur daaraan om ander van God se Koninkryk te vertel. Elkeen van hulle plekke van aanbidding vir die ongeveer 90 000 gemeentes oor die hele wêreld word gepas ’n Koninkryksaal genoem. Daar kom mense byeen om van die inkomende nuwe regering te leer.
Medeheersers
8, 9. (a) Waarvandaan kom Christus se medeheersers? (b) Watter vertroue kan ons in die heerskappy van die Koning en sy medeheersers hê?
8 Christus Jesus sal medeheersers in God se hemelse Koninkryk hê. Openbaring 14:1-4 het voorspel dat 144 000 persone “van die aarde gekoop” sou word en tot hemelse lewe opgewek sou word. Hulle sluit mans en vroue in wat nie deur ander gedien is nie, maar wat God en hulle medemens nederig gedien het. “Hulle sal priesters van God en van die Christus wees en sal die duisend jaar lank saam met hom as konings heers” (Openbaring 20:6). Hulle getal is veel kleiner as dié van die “groot skare, wat geen mens kon tel nie, uit alle nasies en stamme en volke en tale” wat die einde van hierdie stelsel sal oorleef. Hulle verrig ook “dag en nag heilige diens” aan God, maar hulle het nie ’n hemelse roeping nie (Openbaring 7:9, 15). Hulle vorm die kern van die nuwe aarde as onderdane van God se hemelse Koninkryk.—Psalm 37:29; Johannes 10:16.
9 Jehovah het getroue mense wat die lewe met al sy probleme ondervind het, gekies om saam met Christus in die hemel te regeer. Daar is feitlik niks wat mense al deurgemaak het wat hierdie koning-priesters nie ook ondervind het nie. Hulle lewe op die aarde sal hulle dus beter in staat stel om oor mense te regeer. Selfs Jesus “het . . . gehoorsaamheid geleer uit die dinge wat hy gely het” (Hebreërs 5:8). Die apostel Paulus het van hom gesê: “Ons het as ’n hoëpriester nie iemand wat nie met ons swakhede kan simpatiseer nie, maar iemand wat in alle opsigte soos ons op die proef gestel is, maar sonder sonde” (Hebreërs 4:15). Hoe bemoedigend is dit tog om te weet dat liefdevolle, simpatieke konings en priesters in God se regverdige nuwe wêreld oor mense gaan regeer!
Was die Koninkryk ’n deel van God se voorneme?
10. Waarom het die Koninkryk van die hemel nie deel uitgemaak van God se oorspronklike voorneme nie?
10 Het die hemelse Koninkryk deel uitgemaak van God se oorspronklike voorneme toe hy Adam en Eva geskep het? In die skeppingsverslag in Genesis word daar geen melding gemaak van ’n Koninkryk wat oor die mensdom sou heers nie. Jehovah self was hulle Heerser, en terwyl hulle hom gehoorsaam het, was daar geen behoefte aan ’n ander heerskappy nie. Genesis hoofstuk 1 toon dat Jehovah, waarskynlik deur sy eersgebore hemelse Seun, met Adam en Eva gekommunikeer het. Die verslag gebruik uitdrukkings soos “God het vir hulle gesê” en “verder het God [vir hulle] gesê”.—Genesis 1:28, 29; Johannes 1:1.
11. Watter volmaakte begin het die mensdom gehad?
11 Die Bybel sê: “Toe sien God alles wat Hy gemaak het, en—dit was baie goed” (Genesis 1:31). Alles in die tuin van Eden was absoluut volmaak. Adam en Eva het in ’n paradys gewoon. Hulle het volmaakte verstande en volmaakte liggame gehad. Hulle kon met hulle Maker kommunikeer en hy met hulle. En deur getrou te bly, sou hulle volmaakte kinders voortbring. ’n Nuwe hemelse regering sou glad nie nodig gewees het nie.
12, 13. Waarom sou God nog steeds met die volmaakte mensdom kon kommunikeer al sou hulle vermenigvuldig het?
12 Hoe sou God met al die lede van die mensegesin kommunikeer as hulle vermenigvuldig het? Dink aan die sterre van die hemel. Hulle word in eilandheelalle gegroepeer wat sterrestelsels genoem word. Party sterrestelsels bevat ’n miljard sterre. Ander bevat ’n biljoen. En wetenskaplikes skat dat daar omtrent 100 miljard sterrestelsels in die waarneembare heelal is! En tog sê die Skepper: “Slaan julle oë op in die hoogte en kyk! Wie het hierdie dinge geskape? Hy laat hulle leërskare uittrek volgens getal, Hy roep hulle almal by die naam, vanweë die grootheid van kragte en omdat Hy sterk van vermoë is; daar word nie een gemis nie.”—Jesaja 40:26.
13 Aangesien God elkeen van hierdie hemelliggame ken, sal dit tog sekerlik geen probleem vir hom wees om ’n veel kleiner aantal mense te ken nie. Selfs nou bid miljoene van sy knegte daagliks tot hom. Hierdie gebede bereik God onmiddellik. Dit sou dus vir hom geen probleem gewees het om met alle volmaakte mense te kommunikeer nie. Hy sou nie ’n hemelse Koninkryk nodig gehad het om met hulle in aanraking te bly nie. Wat ’n wonderlike reëling—om Jehovah as Heerser te hê, om direkte kontak met hom te hê en om die vooruitsig te hê om nooit te sterf nie, om vir ewig op ’n paradysaarde te woon!
‘Dit behoort nie aan die mens nie’
14. Waarom sal mense vir ewig Jehovah se heerskappy nodig hê?
14 Maar mense—selfs volmaakte mense—sal vir ewig Jehovah se heerskappy nodig hê. Waarom? Omdat Jehovah hulle nie met die vermoë geskep het om met welslae onafhanklik van sy heerskappy te lewe nie. Dit is ’n wet van die mensdom, soos die profeet Jeremia erken het: “Ek weet goed, o Jehovah, dat aan die mens sy weg nie behoort nie. Dit behoort nie aan die mens wat loop om sy voetstappe te rig nie. Wys my tereg, o Jehovah” (Jeremia 10:23, 24, NW). Dit sou dwaas van mense wees om te dink dat hulle die samelewing met sukses kan beheer sonder dat Jehovah oor hulle regeer. Dit sou in stryd wees met die manier waarop hulle gemaak is. Onafhanklikheid van Jehovah se heerskappy sou sonder twyfel lei tot selfsug, haat, wreedheid, geweld, oorloë en die dood. ‘Die een mens sou oor die ander heers tot sy ongeluk.’—Prediker 8:9.
15. Wat was die gevolge van die slegte keuse wat ons eerste ouers gemaak het?
15 Ongelukkig het ons eerste ouers besluit dat hulle nie God as hulle Heerser nodig het nie, en hulle het gekies om onafhanklik van hom te lewe. Gevolglik het God nie meer hulle volmaakte lewe onderhou nie. Hulle was nou soos ’n elektriese apparaat wat afgesny is van sy kragbron. Hulle sou dus mettertyd stadiger beweeg en tot stilstand kom—in die dood. Hulle het soos ’n defekte model geword, en daardie toestand was al wat hulle aan hulle nakomelinge kon oordra (Romeine 5:12). “Die Rots [Jehovah], volmaak is sy werk, want al sy weë is geregtigheid. . . . Hulle het self verderflik gehandel; hulle is nie sy kinders nie, die gebrek lê by hulle” (Deuteronomium 32:4, 5, NW). Adam en Eva is weliswaar deur die opstandige geesskepsel beïnvloed wat Satan geword het, maar hulle het volmaakte verstande gehad en kon sy verkeerde voorstelle verwerp het.—Genesis 3:1-19; Jakobus 4:7.
16. Hoe getuig die geskiedenis van die gevolge wat onafhanklikheid van God het?
16 Die geskiedenis bevat oorvloedige getuienis van die gevolge wat onafhanklikheid van God het. Mense probeer al duisende jare lank elke vorm van menseregering, elke ekonomiese en maatskaplike stelsel. En tog gaan goddeloosheid steeds ‘voort van kwaad tot erger’ (2 Timoteus 3:13). Die 20ste eeu het dit bewys. Dit was gevul met verskriklike vyandskappe en die meeste geweld, oorloë, honger, armoede en lyding in vergelyking met enige ander tyd in die geskiedenis. En ongeag watter mediese vooruitgang al gemaak is, almal sterf vroeër of later (Prediker 9:5, 10). Omdat mense hulle eie voetstappe probeer rig het, het hulle hulleself die prooi van Satan en sy demone gemaak, in so ’n mate dat die Bybel Satan “die god van hierdie stelsel van dinge” noem.—2 Korintiërs 4:4.
Die gawe van wilsvryheid
17. Hoe moes God se gawe van wilsvryheid gebruik word?
17 Waarom sou Jehovah mense toelaat om hulle eie weg te volg? Omdat hy hulle geskep het met die wonderlike gawe van wilsvryheid, die vermoë om hulle eie keuses te maak. “Waar die gees van Jehovah is, daar is vryheid”, het die apostel Paulus gesê (2 Korintiërs 3:17). Niemand wil ’n robot wees wat altyd iemand anders het om elke sekonde van die dag te besluit wat hy sal sê en doen nie. Maar Jehovah het van die mens verwag om hierdie gawe van wilsvryheid op verantwoordelike wyse te gebruik, om te besef dat dit verstandig is om sy wil te doen en onderworpe aan hom te bly (Galasiërs 5:13). Vryheid sou dus nie absoluut wees nie, aangesien dit tot anargie sou lei. Dit moes binne die perke van God se liefdevolle wette gebruik word.
18. Wat het God bewys deur toe te laat dat die mens sy keusevryheid gebruik?
18 Deur die mensdom toe te laat om hulle eie weg te volg, het God, eens en vir altyd, bewys dat ons sy heerskappy nodig het. Sy manier van regeer, sy soewereiniteit, is die enigste regte manier. Dit bring die grootste geluk, bevrediging en voorspoed mee. Dit is omdat ons verstande en liggame deur Jehovah ontwerp is om op hulle beste te werk wanneer ons hulle in ooreenstemming met sy wette gebruik. “Ek is die HERE jou God, wat jou leer wat heilsaam is, wat jou lei op die weg wat jy moet gaan” (Jesaja 48:17). Keusevryheid binne die perke van God se wette sou nie ’n las wees nie, maar sou tot ’n aangename verskeidenheid kossoorte, huise, kuns en musiek lei. Wilsvryheid wat reg uitgeoefen is, sou ’n wonderlike, altyd fassinerende lewe op ’n paradysaarde tot gevolg gehad het.
19. Watter middel gebruik God om mense met homself te versoen?
19 Maar weens hulle slegte keuse het mense hulle van Jehovah vervreem—hulle het onvolmaak geword, agteruitgegaan en gesterf. Hulle moes dus uit daardie betreurenswaardige toestand verlos word en weer in ’n behoorlike verhouding met God as sy seuns en dogters gebring word. Die middel wat God gekies het om dit te bewerkstellig, is die Koninkryk, en die Verlosser is Jesus Christus (Johannes 3:16). Deur middel van hierdie reëling sal diegene wat waarlik berouvol is—soos die verlore seun in Jesus se illustrasie—met God versoen word en weer deur hom aanvaar word as sy kinders.—Lukas 15:11-24; Romeine 8:21; 2 Korintiërs 6:18.
20. Hoe sal God se voorneme deur middel van die Koninkryk vervul word?
20 Jehovah se wil gaan beslis op die aarde volbring word (Jesaja 14:24, 27; 55:11). Deur middel van sy Koninkryk onder Christus sal God sy reg om ons Soewerein te wees ten volle regverdig (verdedig of bewys). Die Koninkryk sal ’n einde maak aan mense- en demoonheerskappy oor hierdie aarde, en dit alleen sal vanuit die hemel duisend jaar lank regeer (Romeine 16:20; Openbaring 20:1-6). Maar hoe sal daar gedurende daardie tyd bewys word dat Jehovah se manier van regeer die beste is? En watter rol sal die Koninkryk ná die duisend jaar speel? Die volgende artikel sal hierdie vrae bespreek.
Punte ter hersiening
• Wat is die tema van die Bybel?
• Wie vorm die aarde se nuwe heerskappy?
• Waarom kan menseheerskappy wat onafhanklik van God is nooit suksesvol wees nie?
• Hoe moet wilsvryheid uitgeoefen word?
[Prent op bladsy 10]
Jesus se onderrigting het die klem gelê op God se heerskappy deur middel van die Koninkryk
[Prente op bladsy 12]
In elke land maak Jehovah se Getuies die Koninkryk die vernaamste tema van hulle onderrigting
[Prente op bladsy 14]
Die geskiedenis getuig van die slegte gevolge wat onafhanklikheid van God het
[Erkennings]
WWI-soldate: U.S. National Archives photo; konsentrasiekamp: Oświęcim Museum; kind: UN PHOTO 186156/J. Isaac