Vrae van lesers
Wat is die “rus” waarna daar in Hebreërs 4:9-11 verwys word, en hoe ‘gaan ’n mens in daardie rus in’?
Die apostel Paulus het aan die eerste-eeuse Hebreeuse Christene geskryf: “Daar bly . . . ’n sabbatsrus oor vir die volk van God. Want die mens wat in God se rus ingegaan het, het ook self van sy eie werke gerus, net soos God van syne. Laat ons dus ons uiterste bes doen om in daardie rus in te gaan.”—Hebreërs 4:9-11.
Toe Paulus gesê het dat God van Sy werk rus, het hy waarskynlik na die woorde in Genesis 2:2 verwys, waar ons lees: “God het op die sewende dag sy werk voltooi wat Hy gemaak het, en op die sewende dag gerus van al sy werk wat Hy gemaak het.” Waarom het Jehovah “op die sewende dag gerus”? Dit was sekerlik nie omdat hy sy kragte moes herwin ná “al sy werk wat Hy gemaak het” nie. Die volgende vers voorsien ’n leidraad: “God het die sewende dag geseën en dit geheilig, omdat Hy daarop gerus het van al sy werk wat God geskape het deur dit te maak.”—Genesis 2:3; Jesaja 40:26, 28.
Die “sewende dag” was anders as enige van die vorige ses dae, aangesien dit ’n dag was wat God geseën en geheilig het, dit wil sê ’n dag wat opsy gesit is, of gewy is, vir ’n spesiale doel. Wat was daardie doel? God het vroeër sy voorneme met die mensdom en die aarde geopenbaar. Vir die eerste man en sy vrou het God gesê: “Wees vrugbaar en vermeerder en vul die aarde, onderwerp dit en heers oor die visse van die see en die voëls van die hemel en oor al die diere wat op die aarde kruip” (Genesis 1:28). Al het God die mensdom en die aarde ’n volmaakte begin gegee, sou dit tyd neem om die hele aarde te onderwerp, in ’n paradys te omskep en met ’n volmaakte mensegesin te bevolk, soos dit God se voorneme was. Op “die sewende dag” het God dus gerus van verdere aardse skeppingswerke, of daarmee opgehou, sodat die dinge wat hy reeds geskep het in ooreenstemming met sy wil kon ontwikkel. Teen die einde van daardie “dag” sou alles wat God hom voorgeneem het, ’n werklikheid wees. Hoe lank sou daardie rus duur?
As ons weer na Paulus se woorde in Hebreërs kyk, sien ons dat hy getoon het dat ‘daar ’n sabbatsrus vir die volk van God oorbly’, en hy het sy mede-Christene aangespoor om hulle uiterste bes te doen om “in daardie rus in te gaan”. Dit toon dat “die sewende dag” van God se rus, wat sowat 4 000 jaar vroeër begin het, nog steeds aan die gang was toe Paulus hierdie woorde geskryf het. Dit sal nie eindig nie voordat God se voorneme met die mensdom en die aarde geheel en al verwesenlik is aan die einde van die Duisendjarige Heerskappy van Jesus Christus, wat die “Here van die sabbat” is.—Matteus 12:8; Openbaring 20:1-6; 21:1-4.
Met hierdie wonderlike vooruitsig in gedagte het Paulus verduidelik hoe ’n mens in God se rus kan ingaan. Hy het geskryf: “Die mens wat in God se rus ingegaan het, het ook self van sy eie werke gerus.” Dit beteken dat die mensdom as ’n geheel nie in God se rus ingegaan het nie, al het hulle ’n volmaakte begin gehad. Dit was omdat Adam en Eva nie vir lank God se rus op “die sewende dag” onderhou het deur gehoorsaam aan sy reëling vir hulle te wees nie. Hulle het eerder in opstand gekom en wou onafhanklik van God word. Trouens, hulle het met Satan se planne ingeval en hulle nie aan God se liefdevolle leiding onderwerp nie (Genesis 2:15-17). Gevolglik het hulle die vooruitsig verloor om vir ewig op ’n paradysaarde te lewe. Van toe af het die hele mensdom slawe van sonde en die dood geword.—Romeine 5:12, 14.
Die mensdom se opstand het nie God se voorneme gedwarsboom nie. Sy rusdag duur voort. Maar Jehovah het deur middel van sy Seun, Jesus Christus, ’n liefdevolle voorsiening gemaak—die losprys—sodat almal wat dit op grond van geloof aanneem, na verlossing kan uitsien en kan rus van die las van sonde en die dood (Romeine 6:23). Daarom het Paulus sy mede-Christene aangespoor om ‘van hulle eie werke te rus’. Hulle moes God se voorsiening vir redding aanneem en nie hulle eie toekoms op hulle eie manier probeer uitwerk soos Adam en Eva gedoen het nie. Hulle moes ook nie hulle eie werke van selfregverdiging najaag nie.
Dit is werklik verkwikkend as ’n mens jou selfsugtige of wêreldse strewes opsy sit om God se wil te doen. Jesus het hierdie uitnodiging gerig: “Kom na my toe, almal wat swoeg en swaar belaai is, en ek sal julle verkwik. Neem my juk op julle en leer by my, want ek is saggeaard en nederig van hart, en julle sal verkwikking vir julle siele vind. Want my juk is sag en my vrag is lig.”—Matteus 11:28-30.
Paulus se bespreking van God se rus en hoe ’n mens daarin kan ingaan, was beslis ’n bron van aanmoediging vir die Hebreeuse Christene in Jerusalem, wat weens hulle geloof baie vervolging en spot moes verduur (Handelinge 8:1; 12:1-5). Paulus se woorde kan ook vir hedendaagse Christene ’n bron van aanmoediging wees. As ons besef dat die verwesenliking van God se belofte op hande is om ’n paradysaarde onder sy regverdige Koninkryk tot stand te bring, moet ons ook van ons eie werke rus en ons uiterste bes doen om in daardie rus in te gaan.—Matteus 6:10, 33; 2 Petrus 3:13.
[Prente op bladsy 31]
God se belofte van ’n aardse paradys sal aan die einde van sy rusdag verwesenlik word