Lewensverhaal
’n Ryk lewe in Jehovah se diens
SOOS VERTEL DEUR RUSSELL KURZEN
Ek is op 22 September 1907 gebore, sewe jaar voor die betekenisvolle era wat met die uitbreek van die Eerste Wêreldoorlog begin het. Ons gesin was ryk in die belangrikste opsig. Ek dink jy sal saamstem nadat jy ’n paar besonderhede van ons geskiedenis gehoor het.
TOE my ouma Kurzen nog ’n dogtertjie was, was sy reeds op soek na die waarheid oor God. Voor sy haar tienerjare bereik het, het sy verskeie kerke in haar skilderagtige tuisdorp Spiez, Switserland, besoek. In 1887, ’n paar jaar nadat sy getroud is, was die Kurzen-familie onder die groot groep immigrante wat in die Verenigde State aangekom het.
Die familie het hulle in Ohio gevestig, waar my ouma, om en by die jaar 1900, die skat ontdek het waarna sy gesoek het. Sy het dit gevind in die bladsye van Charles Taze Russell se boek The Time Is at Hand in Duits. Sy het gou besef dat wat sy daarin gelees het, die lig van Bybelwaarheid bevat. Hoewel my ouma glad nie goed Engels kon lees nie, het sy ingeteken op die Wagtoring in Engels. So het sy verdere Bybelwaarhede geleer en terselfdertyd ook Engels. My oupa het nooit dieselfde belangstelling in geestelike sake getoon as sy vrou nie.
Van ouma Kurzen se 11 kinders het 2 van haar seuns, John en Adolph, die geestelike skat waardeer wat sy ontdek het. John was my pa, en hy is in 1904 gedoop by die byeenkoms van die Bybelstudente, soos Jehovah se Getuies destyds bekend gestaan het, wat in St. Louis, Missouri, gehou is. Aangesien die meeste Bybelstudente nie ryk was nie, is die byeenkoms dieselfde tyd as die wêreldtentoonstelling in St. Louis gehou sodat hulle van die spesiale treintariewe gebruik kon maak. Later, in 1907, is my oom Adolph by ’n byeenkoms in Niagara Falls, New York, gedoop. My pa en my oom het ywerig vir ander getuig van wat hulle uit die Bybel geleer het, en albei het uiteindelik voltydse bedienaars (nou bekend as pioniers) geword.
Teen die tyd dat ek in 1907 gebore is, was my familie dus reeds ryk, in geestelike sin (Spreuke 10:22). In 1908 was ek nog maar ’n baba toe my ouers, John en Ida, my na die “On to Victory”-byeenkoms in Put-in-Bay, Ohio, geneem het. Joseph F. Rutherford, wat toe ’n reisende bedienaar was, was die byeenkomsvoorsitter. Hy het ’n paar weke vroeër by ons in Dalton, Ohio, gekuier en toesprake vir die plaaslike Bybelstudente gehou.
Ek onthou natuurlik nie self daardie gebeure nie, maar ek onthou wel die byeenkoms in 1911 in Mountain Lake Park, Maryland. Daar het ek en my jonger suster, Esther, Charles Taze Russell ontmoet, wat oor die wêreldwye predikingswerk van die Bybelstudente toesig gehou het.
Op 28 Junie 1914, die dag toe die wêreld in oorlog gedompel is deur die moord in Sarajevo op aartshertog Ferdinand en sy vrou, het ek saam met ons gesin ’n vreedsame byeenkoms in Columbus, Ohio, bygewoon. Sedert daardie vroeë jare het ek die voorreg gehad om baie byeenkomste van Jehovah se volk by te woon. Party is deur net honderd of so bygewoon. Ander was groot byeenkomste in van die wêreld se grootste stadions.
Ons huis—strategies geleë
Van om en by 1908 tot 1918 is die vergaderinge van ’n klein gemeente van Bybelstudente in ons huis in Dalton—halfpad tussen Pittsburgh, Pennsilvanië, en Cleveland, Ohio—gehou. Ons huis het ’n uitspanplek vir baie reisende sprekers geword. Hulle het hulle perdekarre agter ons skuur vasgemaak en opwindende ondervindinge vertel, asook ander geestelike skatte meegedeel aan dié wat daar bymekaargekom het. Watter aanmoedigende tye was dit tog!
My pa was ’n onderwyser, maar sy hart was in die allerbelangrikste onderrigtingswerk, die Christelike bediening. Hy het gesorg dat hy sy gesin van Jehovah leer, en ons het elke aand as ’n gesin saam gebid. In die lente van 1919 het my pa ons perdekar verkoop en ’n 1914-Ford vir $175 gekoop sodat hy meer mense in die predikingswerk kon bereik. In 1919 en in 1922 het ons met daardie motor die betekenisvolle byeenkomste van die Bybelstudente in Cedar Point, Ohio, bygewoon.
Ons hele gesin—ek, my ma, my pa, Esther en my jonger broer, John—het almal aan die openbare predikingswerk deelgeneem. Ek onthou nog goed die eerste keer toe ’n huisbewoner my ’n Bybelvraag gevra het. Ek was omtrent sewe jaar oud. “Boetman, wat is Armageddon?” het die man gevra. Met ’n bietjie hulp van my pa kon ek hom die Bybel se antwoord gee.
Ek word ’n voltydse bedienaar
In 1931 het ons gesin die streekbyeenkoms in Columbus, Ohio, bygewoon waar ons verheug was om die nuwe naam, Jehovah se Getuies, aan te neem. John was so opgewonde dat hy besluit het ek en hy moet pioniers word.a En ons het, asook my ma, my pa en Esther. Watter kleinood was dit tog—’n hele gesin verenig in die vreugdevolle werk om die goeie nuus van God se Koninkryk te verkondig! Ek word nooit moeg om Jehovah te dank vir hierdie seën nie. Al was ons baie gelukkig, het nog vreugdes op ons gewag.
In Februarie 1934 het ek by die wêreldhoofkwartier van Jehovah se Getuies (wat Bethel genoem word) in Brooklyn, New York, begin dien. John het ’n paar weke later daar by my aangesluit. Ons was kamermaats totdat hy in 1953 met sy liewe vrou, Jessie, getroud is.
Nadat ek en John Bethel toe is, het ons ouers pioniertoewysings in verskillende dele van die land aanvaar, en Esther en haar man, George Read, het hulle vergesel. Ons ouers het as pioniers gedien totdat hulle hulle aardse loopbaan in 1963 voltooi het. Esther en haar man het ’n oulike gesin grootgemaak, en ek is geseën met ’n hele paar niggies en neefs, vir wie ek baie lief is.
My werk en metgeselle by Bethel
John het sy tegniese vaardighede by Bethel gebruik en saam met ander Betheliete gewerk aan projekte soos om draagbare grammofone te maak. Duisende Getuies van Jehovah het dit in hulle huis-tot-huis-bediening gebruik. John het ook masjiene help ontwerp en bou wat tydskrifte kon toedraai en etikette kon opsit sodat dit na individuele intekenaars gepos kon word.
Ek het my Betheldiens in die boekbindery begin. Daar het destyds ander jong mans saam met my in die fabriek gewerk wat vandag nog getrou by Bethel dien. Onder hulle is Carey Barber en Robert Hatzfeld. Ander van wie ek ook mooi herinneringe het, maar wat sedertdien oorlede is, is Nathan Knorr, Karl Klein, Lyman Swingle, Klaus Jensen, Grant Suiter, George Gangas, Orin Hibbard, John Sioras, Robert Payne, Charles Fekel, Benno Burczyk en John Perry. Hulle het jaar na jaar getrou in hulle toewysings volhard en nooit gekla of ’n “bevordering” verwag nie. ’n Hele paar van hierdie lojale, geesgesalfde Christene het egter groter verantwoordelikhede gekry namate die organisasie gegroei het. Party het selfs op die Bestuursliggaam van Jehovah se Getuies gedien.
In die tyd wat ek saam met hierdie selfopofferende broers gewerk het, het ek ’n belangrike les geleer. In ’n sekulêre werk ontvang werknemers ’n salaris vir hulle arbeid. Dit is hulle beloning. Diens by Bethel bring ryk geestelike seëninge mee, en net geestelike mans en vroue waardeer hierdie beloning.—1 Korintiërs 2:6-16.
Nathan Knorr, wat in 1923 as ’n tienderjarige na Bethel gekom het, was in die 1930’s die fabrieksopsiener. Hy het elke dag deur die fabriek geloop en elke werker gegroet. Dié van ons wat nuut was by Bethel, het hierdie persoonlike belangstelling waardeer. In 1936 het ons ’n nuwe drukpers van Duitsland af ontvang, en party van die jonger broers het gesukkel om dit inmekaar te sit. Broer Knorr het toe ’n oorpak aangetrek en meer as ’n maand lank saam met hulle gewerk totdat hulle dit aan die gang gekry het.
Broer Knorr was so ’n harde werker dat die meeste van ons nie by hom kon byhou nie. Maar hy het ook geweet hoe om te ontspan. Selfs nadat hy in Januarie 1942 toesig oor die wêreldwye predikingswerk van Jehovah se Getuies gegee is, het hy soms bofbal saam met lede van die Bethelgesin en studente van die Gileadsendingskool by die kampus naby South Lansing, New York, gespeel.
In April 1950 het die Bethelgesin na ons nuwe tienverdiepingwoongebou by Columbia Heights 124, Brooklyn, New York, getrek. Die nuwe eetsaal was groot genoeg sodat ons almal saam kon eet. Gedurende die ongeveer drie jaar dat die woongebou opgerig is, kon ons nie ons program vir oggendaanbidding hê nie. Wat ’n blye tyd was dit tog toe daardie program hervat kon word! Broer Knorr het my gevra om langs hom by die voorsitterstafel te sit sodat ek hom kon help om die name van nuwe lede van ons gesin te onthou. Ek het 50 jaar lank op dieselfde sitplek gesit vir oggendaanbidding en ontbyt. Toe, op 4 Augustus 2000, is daardie eetsaal gesluit, en ek is na een van die gerestoureerde eetsale in die eertydse Towers-hotel aangewys.
Gedurende die 1950’s het ek ’n tyd lank in die fabriek op ’n Linotype-masjien gewerk en setreëls voorberei wat tot bladsye versamel is as deel van die proses om plate vir die drukpers te maak. Dit was nie een van my gunstelingtoewysings nie, maar William Peterson wat die opsiener oor die masjiene was, was so gaaf teenoor my dat ek nietemin my tyd daar geniet het. Toe, in 1960, was vrywilligers nodig om die pasopgerigte woongebou by Columbia Heights 107 te verf. Ek was verheug om my dienste aan te bied om hierdie nuwe fasiliteite vir ons groeiende Bethelgesin gereed te kry.
Nie lank nadat die gebou by Columbia Heights 107 geverf is nie, was ek aangenaam verras toe ek die toewysing ontvang het om besoekers aan Bethel te verwelkom. Die laaste 40 jaar dat ek as ontvangsklerk gedien het, was net so wonderlik soos al my ander jare in Bethel. Hetsy dit besoekers of nuwe lede van die Bethelgesin was wat by die deur ingekom het, dit was wonderlik om na te dink oor die resultate van ons gesamentlike pogings ten behoewe van Koninkryksvermeerdering.
Ywerige studente van die Bybel
Ons Bethelgesin is geestelik voorspoedig omdat die lede daarvan lief is vir die Bybel. Toe ek Bethel toe gekom het, het ek Emma Hamilton, wat as ’n proefleser gewerk het, gevra hoeveel keer sy al die Bybel deurgelees het. “Vyf-en-dertig keer”, het sy geantwoord, “en daarna het ek opgehou tel.” Anton Koerber, ’n ander getroue Christen wat omtrent dieselfde tyd by Bethel gewerk het, het altyd gesê: “’n Bybel moet nooit meer as ’n armlengte van jou af wees nie.”
Ná broer Russell se dood in 1916 het Joseph F. Rutherford die organisatoriese verantwoordelikhede oorgeneem wat broer Russell behartig het. Broer Rutherford was ’n kragtige, begaafde openbare spreker, wat as ’n regsgeleerde verskeie kere namens Jehovah se Getuies in die Hooggeregshof van die Verenigde State opgetree het. Nadat broer Rutherford in 1942 oorlede is, het broer Knorr sy plek ingeneem en baie hard gewerk om sy vermoë as openbare spreker te ontwikkel. Aangesien my kamer naby syne was, het ek dikwels gehoor hoe hy sy toesprake oor en oor oefen. Danksy hierdie ywerige pogings het hy mettertyd ’n goeie openbare spreker geword.
In Februarie 1942 het broer Knorr gehelp om ’n program in te stel wat al ons broers by Bethel gehelp het om ons onderrig- en spreekvermoëns te verbeter. Die skool het die aandag gevestig op Bybelnavorsing en die spreekkuns. Aan die begin moes ons elkeen ’n kort toespraak oor Bybelkarakters hou. My eerste toespraak was oor die man Moses. In 1943 is ’n soortgelyke skool in die gemeentes van Jehovah se Getuies begin, en dit is tot vandag toe nog in werking. By Bethel word die klem nog steeds daarop geplaas om Bybelkennis in te neem en doeltreffende onderrigmetodes te ontwikkel.
In Februarie 1943 het die eerste klas van die Gileadsendingskool begin. En nou onlangs het die 111de klas gegradueer! In die meer as 58 jaar dat die skool in werking is, het dit meer as 7 000 persone opgelei om as sendelinge oor die hele wêreld te dien. Wat opmerkenswaardig is, is dat daar in 1943, toe die skool begin is, net oor die 100 000 Getuies van Jehovah wêreldwyd was. Nou is daar meer as 6 000 000 wat aan die verkondiging van die goeie nuus van God se Koninkryk deelneem!
Ek waardeer my geestelike erfenis
Net voordat die Gileadskool ingestel is, is drie van ons van Bethel af gestuur om gemeentes in die hele Verenigde State te besoek. Ons het ’n dag, ’n paar dae of selfs ’n week lank gebly om hierdie gemeentes geestelik te versterk. Ons is knegte vir die broers genoem, ’n naam wat later na kringkneg, of kringopsiener, verander is. Maar kort nadat die Gileadskool geopen is, is ek gevra om terug te kom om van die lesse waar te neem. Ek was een van die amptelike instrukteurs van die tweede tot die vyfde klas en is ook later as ’n plaasvervanger vir een van die amptelike instrukteurs van die 14de klas gebruik. Die feit dat ek met die studente die merkwaardige vroeë gebeure in die hedendaagse geskiedenis van Jehovah se organisasie kon hersien—baie waarvan ek eerstehandse kennis gehad het—het my waardering vir my ryk geestelike erfenis laat verdiep.
Nog ’n voorreg wat ek deur die jare heen geniet het, was om internasionale byeenkomste van Jehovah se volk by te woon. In 1963 het ek saam met meer as 500 ander afgevaardigdes om die wêreld gereis na die “Ewige Goeie Nuus”-byeenkomste. Ander geskiedkundige byeenkomste wat ek bygewoon het, was dié in Warskou, Pole, in 1989; Berlyn, Duitsland, in 1990, en Moskou, Rusland, in 1993. By elke byeenkoms het ek die geleentheid gehad om van ons dierbare broers en susters te ontmoet wat dekades lank vervolging onder die Nazi-bewind, die Kommunistiese bewind of albei verduur het. Watter geloofversterkende ondervindinge tog!
My lewe in Jehovah se diens was inderdaad ryk! Die geestelike seëninge hou net nooit op nie. En, in teenstelling met materiële rykdom, hoe meer ons hierdie kosbare dinge met ander deel, hoe groter word ons rykdom. Ek hoor soms hoe party sê dat hulle wens hulle is nie as Getuies van Jehovah grootgemaak nie. Hulle sê hulle dink dat hulle Bybelwaarhede meer sou waardeer het as hulle eers ’n lewe buite God se organisasie gehad het.
Dit ontstel my altyd wanneer ek jongmense sulke dinge hoor sê omdat hulle in werklikheid sê dat dit beter is om nie met ’n kennis van Jehovah se weë grootgemaak te word nie. Maar dink aan al die slegte gewoontes en verdorwe denke wat mense moet afleer wanneer hulle Bybelwaarheid later in hulle lewe leer. Ek was nog altyd baie dankbaar dat my ouers hulle drie kinders in die weg van regverdigheid opgevoed het. John het ’n getroue kneg van Jehovah gebly tot sy dood in Julie 1980, en Esther is tot vandag toe nog ’n getroue Getuie.
Ek dink met aangename herinneringe terug aan die talle goeie vriendskappe wat ek met getroue Christenbroers en -susters geniet het. Ek het nou al meer as 67 wonderlike jare by Bethel deurgebring. Hoewel ek nooit getrou het nie, het ek ’n klomp geestelike seuns en dogters, sowel as geestelike kleinkinders. En dit maak my hart bly om te dink aan al die dierbare nuwe lede van ons wêreldwye geestelike gesin wat ek nog moet ontmoet, elkeen van hulle kosbaar. Hoe waar is die woorde tog: ‘Die seën van Jehovah—dit maak ryk’!—Spreuke 10:22.
[Voetnoot]
a Ek is op 8 Maart 1932 gedoop. Ek is dus in werklikheid gedoop nadat daar besluit is dat ek ’n pionier moet word.
[Prent op bladsy 23]
Bo regs: Gileadskoolinstrukteurs Eduardo Keller, Fred Franz, ek en Albert Schroeder
[Prente op bladsy 23]
Ek onderrig ’n Gileadklas in 1945
Van links na regs: my pa met my broer, John, op sy skoot, Esther, ek en my ma
[Prent op bladsy 24]
’n Terugblik op my ryk lewe in Jehovah se diens