Lewensverhaal
As ons Jehovah se uitnodigings aanvaar, bring dit belonings mee
SOOS VERTEL DEUR MARIA DO CÉU ZANARDI
“Jehovah weet wat hy doen. As hy vir jou die uitnodiging gestuur het, moet jy dit nederig aanvaar.” My pa het dit ongeveer 45 jaar gelede gesê, en dit het my gehelp om die eerste uitnodiging te aanvaar wat ek van Jehovah se organisasie ontvang het, om as ’n voltydse bedienaar te dien. Ek is vandag nog dankbaar vir my pa se raad, want deur sulke uitnodigings te aanvaar, het dit vir my ryk belonings meegebring.
IN 1928 het my pa op Die Wagtoring ingeteken en belangstelling in die Bybel begin toon. Aangesien hy in die sentrale deel van Portugal gewoon het, was sy enigste kontak met God se gemeente die publikasies wat hy deur die pos ontvang het, asook ’n Bybel wat aan my grootouers behoort het. In 1949, toe ek 13 jaar oud was, het ons gesin na Brasilië, my ma se vaderland, geïmmigreer, en ons het ons in die buitewyke van Rio de Janeiro gevestig.
Ons nuwe bure het ons genooi om saam met hulle kerk toe te gaan, en ons het ’n paar keer gegaan. My pa het daarvan gehou om hulle uit te vra oor die helse vuur, die siel en die toekoms van die aarde—maar hulle het geen antwoorde gehad nie. “Ons sal maar net vir die ware Bybelstudente moet wag”, het my pa altyd gesê.
Op ’n dag het ’n blinde man by ons huis aangeklop en vir ons Die Wagtoring en Ontwaak! aangebied. My pa het hom dieselfde dinge gevra, en hy het betroubare antwoorde uit die Bybel gegee. Die volgende week het ’n ander Getuie van Jehovah ons besoek. Nadat sy verdere vrae beantwoord het, het sy gevra om verskoon te word en gesê dat sy moet voortgaan met haar predikingswerk. Toe het sy Matteus 13:38 gebruik om te toon dat dit oor die hele aarde gedoen moet word. My pa het gevra: “Kan ek dit ook doen?” “Natuurlik”, het sy geantwoord. Ons was verheug om weer Bybelwaarheid te vind! My pa is by die volgende streekbyeenkoms gedoop, en ek is kort daarna, in November 1955, gedoop.
Ek aanvaar my eerste uitnodiging
’n Jaar en ’n half later het ek van die takkantoor van Jehovah se Getuies in Rio de Janeiro ’n groot bruin koevert ontvang waarin ek uitgenooi is om die predikingswerk voltyds te doen. My ma het op daardie stadium baie met haar gesondheid gesukkel, en ek het dus my pa se raad gevra. “Jehovah weet wat hy doen”, was sy besliste antwoord. “As hy vir jou die uitnodiging gestuur het, moet jy dit nederig aanvaar.” Aangespoor deur hierdie woorde, het ek die aansoekvorm ingevul en op 1 Julie 1957 met die voltydse diens begin. My eerste toewysing was Três Rios, ’n dorpie in die staat Rio de Janeiro.
Aanvanklik was die inwoners van Três Rios teësinnig om na ons boodskap te luister omdat ons nie ’n Katolieke vertaling van die Bybel gebruik het nie. Sake het verander toe ons ’n Bybelstudie begin het met Geraldo Ramalho, ’n belydende Katoliek. Met sy hulp het ek ’n Bybel in die hande gekry met die plaaslike priester se handtekening in. Van toe af het ek, wanneer enigiemand beswaar gemaak het, vir hom die priester se handtekening gewys, en geen verdere vrae is gevra nie. Geraldo is later gedoop.
Ek was verheug toe daar in 1959 ’n kringbyeenkoms reg in die hartjie van Três Rios gehou is. Die polisiehoof, wat op daardie stadium die Bybel bestudeer het, het selfs gereël dat spandoeke opgesit word om die program oral in die dorp te adverteer. Nadat ek drie jaar lank in Três Rios gewerk het, is ek na ’n nuwe toewysing in Itu genooi, ongeveer 110 kilometer wes van Sao Paulo.
Rooi, blou en geel boeke
Nadat ons rondgesoek het, het ek en my pioniermaat gerieflike verblyf in die middel van die dorp by Maria, ’n goedhartige weduwee, gevind. Maria het ons soos haar eie dogters behandel. Nie lank daarna nie het die Rooms-Katolieke biskop van Itu haar egter besoek en vir haar gesê om ons weg te stuur, maar sy het haar man gestaan: “Toe my man dood is, het jy niks gedoen om my te troos nie. Hierdie Getuies van Jehovah het my gehelp al is ek nie in hulle kerk nie.”
Ongeveer dié tyd het ’n vrou vir ons gesê dat die Katolieke priesters van Itu hulle gemeentelede verbied het om eksemplare van “die rooi boek oor die Duiwel” by ons te neem. Hulle het verwys na “Laat God waaragtig wees”, die Bybelpublikasie wat ons gedurende die week vir mense aangebied het. Aangesien die rooi boek deur die priesters “verbied” is, het ons ’n aanbieding van die blou boek (“New Heavens and a New Earth”) voorberei. Later, toe die geestelikes van hierdie verandering te hore gekom het, het ons oorgegaan na die geel boek (Wat het godsdiens vir die mensdom gedoen?), ensovoorts. Dit was ’n goeie ding dat ons ’n verskeidenheid boeke met omslae van verskillende kleure gehad het!
Ná ongeveer ’n jaar in Itu het ek ’n telegram ontvang waarin ek genooi is om tydelik by Bethel, die takkantoor van Jehovah se Getuies in Rio de Janeiro, te gaan werk om met die voorbereiding vir die nasionale byeenkoms te help. Ek het die uitnodiging met graagte aanvaar.
Verdere voorregte en uitdagings
By Bethel was daar geen tekort aan werk nie, en ek was bly om te help waar ek kon. Hoe verrykend was dit tog om elke oggend die dagteksbespreking en op Maandagaande die gesin se Wagtoring-studie by te woon! Die opregte gebede van Otto Estelmann en ander ervare lede van die Bethelgesin het my diep geraak.
Ná die nasionale byeenkoms het ek my tasse gepak om na Itu terug te keer, maar tot my verbasing het die takkneg, Grant Miller, vir my ’n brief gegee waarin ek genooi is om ’n permanente lid van die Bethelgesin te word. My kamermaat was suster Hosa Jazedjian, wat nou nog by die Brasiliaanse takkantoor dien. In daardie dae was die Bethelgesin klein—slegs 28 van ons—en ons was almal hegte vriende.
In 1964 het João Zanardi, ’n jong voltydse bedienaar, Bethel toe gekom vir opleiding. Hy is toe daar naby as ’n kringkneg, of reisende opsiener, aangestel. Ons het mekaar soms raakgeloop wanneer hy Bethel toe gekom het om sy verslae in te gee. Die takkneg het João toestemming gegee om die gesinstudie op Maandagaande by te woon, daarom kon ons meer tyd saam deurbring. Ek en João is in Augustus 1965 getroud. Ek het die uitnodiging om by my man in die kringwerk aan te sluit, met graagte aanvaar.
In daardie dae was die reisende werk in die binneland van Brasilië nogal ’n avontuur. Ek sal nooit ons besoeke aan die groep verkondigers in Aranha, in die staat Minas Gerais, vergeet nie. Ons moes met ’n trein reis en dan die res van die pad loop—terwyl ons swaar gedra het aan tasse, ’n tikmasjien, skyfieprojektor, velddienssakke en lektuur. Hoe bly was ons tog om Lourival Chantal te sien, ’n bejaarde broer wat altyd by die stasie gewag het om ons met ons tasse te help.
In Aranha is die vergaderinge in ’n gehuurde huis gehou. Ons het in ’n klein kamertjie aan die agterkant geslaap. Aan die een kant was ’n houtvuur wat ons gebruik het om te kook en water warm te maak wat die broers vir ons in emmers aangedra het. ’n Gat in die grond in die middel van ’n bamboesplantasie daar naby het as ’n toilet gedien. Snags het ons ’n gaslamp laat brand om roofwantse—insekte wat Chagassiekte kan oordra—weg te hou. In die oggend was ons neusgate altyd swart van die rook. Nogal ’n interessante ondervinding!
Terwyl ons in ’n kring in die staat Parana gedien het, het ons weer een van daardie groot bruin koeverte van die takkantoor af ontvang. Nog ’n uitnodiging van Jehovah se organisasie af—hierdie keer om in Portugal te gaan dien! Die brief het ons aangeraai om die beginsel in Lukas 14:28 te oorweeg en die koste te bereken voordat ons hierdie toewysing aanvaar, omdat ons Christelike werk daar verbied is en die Portugese regering toe reeds heelwat broers in hegtenis geneem het.
Sou ons na ’n land toe gaan waar ons sulke vervolging sou moes verduur? “As ons Portugese broers daar kan lewe en Jehovah getrou kan dien, waarom nie ons nie?” het João gesê. Ek het my pa se bemoedigende woorde onthou en saamgestem: “As Jehovah die uitnodiging aan ons gestuur het, moet ons dit aanvaar en op hom vertrou.” Kort daarna was ons by die Bethel in Sao Paulo, waar ons verdere instruksies ontvang het en ons dokumente vir die reis voorberei het.
João Maria en Maria João
Ons boot, die Eugênio C, het op 6 September 1969 uit die Santos-hawe, in die staat Sao Paulo, gevaar. Ná nege dae op see het ons in Portugal aangekom. Aanvanklik het ons ’n hele paar maande saam met ervare broers gewerk in die nou straatjies van Alfama en Mouraria, in die ou deel van Lissabon. Hulle het ons opgelei om oplettend te wees sodat ons nie maklik deur die polisie gevang sou word nie.
Gemeentelike vergaderinge is in die huise van Getuies gehou. Wanneer ons gesien het dat die bure agterdogtig begin raak, is die vergaderinge vinnig na ’n ander plek verskuif sodat hulle nie ’n klopjag op die huis sou uitvoer of die broers in hegtenis sou neem nie. Pieknieks, soos ons ons byeenkomste genoem het, is in Monsanto-park gehou, aan die buitewyke van Lissabon, en by Costa da Caparica, ’n beboste gebied aan die kus. Ons het informeel aangetrek vir die geleentheid, en ’n groep waaksame broers het op strategiese punte wag gestaan. As enigiemand wat verdag gelyk het, nader gekom het, het ons tyd gehad om ’n speletjie te begin speel, vir ’n piekniek gereed te maak of ’n volksliedjie te begin sing.
Om dit vir die veiligheidspolisie moeiliker te maak om ons te identifiseer, het ons nie ons regte name gebruik nie. Die broers het ons geken as João Maria en Maria João. Ons name is nie in enige korrespondensie of verslae gebruik nie. Ons is eerder nommers gegee. Ek het doelbewus besluit om nie die adresse van die broers te memoriseer nie. Sodoende sou ek hulle nie kon verraai as ek in hegtenis geneem sou word nie.
Ondanks die beperkings was ek en João vasbeslote om van elke geleentheid gebruik te maak om ’n getuienis te gee, want ons het geweet dat ons ons vryheid enige oomblik kon verloor. Ons het geleer om op ons hemelse Vader, Jehovah, te vertrou. Hy was ons Beskutting en het sy engele op so ’n manier gebruik dat dit vir ons gevoel het asof ons “die Onsigbare sien”.—Hebreërs 11:27.
By een geleentheid, terwyl ons in Porto van huis tot huis getuig het, het ons ’n man ontmoet wat daarop aangedring het dat ons inkom. Die suster saam met wie ek gewerk het, het sonder aarseling die uitnodiging aanvaar, en ek het geen keuse gehad as om saam met haar in te gaan nie. Ek het geskrik toe ek ’n foto in die gang sien van iemand in ’n militêre uniform. Wat moes ons nou doen? Ons gasheer het ons genooi om te sit en toe vir my gevra: “Sou jy jou seun in die weermag laat dien as hy opgeroep word?” Dit was ’n netelige situasie. Ná ’n stille gebed het ek kalm geantwoord: “Ek het nie enige kinders nie, en ek is seker as ek jou so ’n hipotetiese vraag gevra het, sou jy my dieselfde antwoord gee.” Hy het stilgebly. Daarom het ek voortgegaan: “As jy my aan die anderkant sou vra hoe dit voel om jou broer of jou pa te verloor, sou ek jou kon antwoord, want my broer en my pa is dood.” My oë het vol trane geskiet terwyl ek gepraat het, en ek het opgemerk dat hy ook na aan trane was. Hy het verduidelik dat sy vrou kort tevore oorlede is. Hy het aandagtig geluister terwyl ek hom van die opstandingshoop vertel het. Toe het ons beleef totsiens gesê en veilig vertrek terwyl ons die saak in Jehovah se hande gelaat het.
Ondanks die verbod is opregte mense gehelp om tot ’n kennis van die waarheid te kom. In Porto het my man ’n studie begin met Horácio, ’n sakeman, wat vinnig vordering gemaak het. Later het sy seun Emílio, ’n uitstekende dokter, ook sy standpunt vir Jehovah ingeneem en is hy gedoop. Waarlik, niks kan Jehovah se heilige gees keer nie.
“Julle weet nooit wat Jehovah sal toelaat nie”
In 1973 is ek en João genooi om die “Goddelike Oorwinning”- internasionale byeenkoms in Brussel, België, by te woon. Duisende Spaanse en Belgiese broers was teenwoordig, asook afgevaardigdes van Mosambiek, Angola, Kaap Verde, Madeira en die Asore-eilande. Broer Knorr, van die hoofkwartier in New York, het ons in sy slotkommentaar aangespoor: “Hou aan om Jehovah getrou te dien. Julle weet nooit wat Jehovah sal toelaat nie. Wie weet, julle woon dalk julle volgende internasionale byeenkoms in Portugal by!”
Die volgende jaar het die predikingswerk wetlike erkenning in Portugal gekry. En net soos broer Knorr gesê het, het ons in 1978 ons eerste internasionale byeenkoms in Lissabon gehou. Wat ’n voorreg was dit tog om deur die strate van Lissabon te loop en ’n getuienis te gee deur middel van plakkate, tydskrifte en uitnodigings na die openbare toespraak! Dit was ’n droom wat bewaarheid is.
Ons het baie lief geword vir ons Portugese broers, van wie baie opgesluit en geslaan is omdat hulle hulle Christelike neutraliteit gehandhaaf het. Dit was ons begeerte om in Portugal te bly dien. Maar dit was nie moontlik nie. In 1982 het João ’n ernstige hartprobleem ontwikkel, en die takkantoor het voorgestel dat ons na Brasilië terugkeer.
’n Moeilike tyd
Die broers by die Brasiliaanse takkantoor was baie ondersteunend en het ons gevra om in die Quiririm-gemeente in Taubaté, in die staat Sao Paulo, te gaan dien. João se gesondheid het vinnig agteruitgegaan, en kort voor lank kon hy nie meer die huis verlaat nie. Belangstellendes het na ons huis toe gekom om die Bybel te bestudeer, en daar is elke dag velddiensvergaderinge gehou, asook die weeklikse groepstudie. Hierdie voorsienings het ons gehelp om ons geestelikheid te handhaaf.
João het tot en met sy dood op 1 Oktober 1985 gedoen wat hy kon in Jehovah se diens. Ek was hartseer en ietwat depressief, maar ek was vasbeslote om met my toewysing voort te gaan. In April 1986 het ek nog ’n terugslag gehad toe diewe in my huis ingebreek en so te sê alles gesteel het. Vir die eerste keer in my lewe het ek eensaam en bang gevoel. ’n Paartjie het my liefdevol genooi om ’n rukkie by hulle te kom bly, waarvoor ek baie dankbaar was.
João se dood en die inbraak het ook my diens aan Jehovah geraak. Ek het nie meer selfvertroue in die bediening gehad nie. Nadat ek na die takkantoor geskryf het oor my probleem, is ek genooi om ’n rukkie by Bethel deur te bring om my te help om my emosionele ewewig te herwin. Hoe het daardie tyd my tog versterk!
Toe ek ’n bietjie beter begin voel het, het ek ’n toewysing aanvaar om in Ipuã, ’n dorp in die staat Sao Paulo, te gaan dien. Die predikingswerk het my besig gehou, maar daar was tye wanneer ek ontmoedig gevoel het. In sulke tye het ek die broers in Quiririm geskakel, en ’n gesin het ’n paar dae by my kom kuier. Daardie besoeke was waarlik bemoedigend! Gedurende my eerste jaar in Ipuã het 38 verskillende broers en susters die lang reis aangepak om my te kom besoek.
In 1992, ses jaar ná João se dood, het ek nog ’n uitnodiging van Jehovah se organisasie ontvang, hierdie keer om na Franca, in die staat Sao Paulo, te gaan waar ek nog steeds as ’n voltydse bedienaar dien. Die gebied hier is baie produktief. In 1994 het ek ’n Bybelstudie met die burgemeester begin. Op daardie stadium was hy besig met ’n veldtog gevoer om ’n setel in die Brasiliaanse kongres te probeer kry, maar ondanks sy besige rooster het ons elke Maandagmiddag gestudeer. Hy het sy telefoon afgeskakel sodat hy nie onderbreek sou word nie. Hoe gelukkig het dit my tog gemaak om te sien hoe hy hom geleidelik aan die politiek onttrek en, met behulp van die waarheid, sy huweliksband weer versterk het! Hy en sy vrou is in 1998 gedoop.
As ek terugkyk, kan ek sê dat daar in my lewe as ’n voltydse bedienaar groot seëninge en voorregte was. Omdat ek die uitnodigings aanvaar het wat Jehovah deur sy organisasie aan my gerig het, het dit vir my ryk belonings meegebring. En watter uitnodigings daar ook al in die toekoms mag kom, ek is nog net so gewillig om hulle te aanvaar.
[Prente op bladsy 25]
In 1957, toe ek met die voltydse diens begin het, en vandag
[Prent op bladsy 26]
Saam met die Bethelgesin in Brasilië in 1963
[Prent op bladsy 27]
Ons troue in Augustus 1965
[Prent op bladsy 27]
’n Byeenkoms in Portugal toe die werk nog verbied was
[Prent op bladsy 28]
Straatgetuieniswerk in Lissabon gedurende die “Goddelike Oorwinning”- internasionale byeenkoms in 1978