Jehovah se Woord is lewend
Glanspunte uit die boek Numeri
NÁ HULLE uittog uit Egipte is die Israeliete in ’n nasie georganiseer. Kort daarna kon hulle die Beloofde Land binnegegaan het, maar hulle het nie. Hulle het eerder vier dekades lank in ’n “groot en vreesinboesemende wildernis” rondgeswerf (Deuteronomium 8:15). Waarom? Die geskiedkundige verhaal in die Bybelboek Numeri vertel ons wat gebeur het. Dit behoort ons te laat besef hoe belangrik dit is dat ons Jehovah God gehoorsaam en sy verteenwoordigers respekteer.
Die boek Numeri is deur Moses in die wildernis en op die vlaktes van Moab geskryf en dek ’n tydperk van 38 jaar en 9 maande—vanaf 1512 v.G.J. tot 1473 v.G.J. (Numeri 1:1; Deuteronomium 1:3). Die naam is afgelei van die Israeliete se twee sensusse, wat sowat 38 jaar uitmekaar gehou is (Hoofstukke 1-4, 26). Die verslag is in drie dele verdeel. Die eerste deel vertel van gebeure by die berg Sinai. Die tweede deel dek die gebeure tydens Israel se swerftog in die wildernis. En die laaste deel handel oor die gebeure op die vlaktes van Moab. Terwyl jy hierdie verslag lees, kan jy jou gerus afvra: ‘Wat leer ek uit hierdie gebeurtenisse? Is daar beginsels in hierdie boek waarby ek vandag kan baat vind?’
BY DIE BERG SINAI
Die eerste van die twee sensusse vind plaas terwyl die Israeliete nog aan die voet van die berg Sinai is. Met uitsondering van die Leviete is daar altesaam 603 550 mans van 20 jaar en ouer. Die sensus word klaarblyklik vir militêre doeleindes gehou. In die hele kamp, wat vroue, kinders en die Leviete insluit, is daar moontlik meer as driemiljoen mense.
Ná die sensus ontvang die Israeliete instruksies oor die volgorde waarin hulle moet wegtrek, besonderhede oor die pligte van die Leviete en tabernakeldiens, bevele oor kwarantyn en wette met betrekking tot gevalle van jaloesie en die geloftes wat deur Nasireërs afgelê word. Hoofstuk 7 bevat inligting oor offergawes wat deur stamowerstes gebring is met die inwyding van die altaar, en hoofstuk 9 bespreek die Pasgaviering. Die vergadering ontvang ook instruksies oor hoe hulle kamp moet opslaan en opbreek.
Skriftuurlike vrae beantwoord:
2:1, 2—Wat was “die tekens” waaromheen die driestamafdelings in die wildernis moes kamp opslaan? Die Bybel beskryf nie hierdie tekens nie. Maar dit is nie as heilige simbole beskou nie, en geen godsdienstige betekenis is daaraan geheg nie. Die tekens het ’n praktiese doel gehad—om iemand te help om sy plek in die kamp te vind.
5:27—Wat beteken dit dat ’n vrou wat skuldig was aan egbreuk, se ‘dy sou inval’? Die woord “dy” word hier gebruik om na die voortplantingsorgane te verwys (Genesis 46:26). Die feit dat die ‘dy sou inval’, dui daarop dat hierdie organe sou verswak, sodat bevrugting onmoontlik sou wees.
Lesse vir ons:
6:1-7. Nasireërs moes hulle onthou van die vrug van die wingerdstok en van enige sterk drank, wat selfverloëning vereis het. Hulle moes hulle hare lank laat groei—’n teken van onderdanigheid aan Jehovah, net soos vroue aan hulle mans of hulle vaders onderdanig moet wees. Die Nasireërs moes rein bly deur nie naby enige dooie liggaam te kom nie, selfs nie dié van ’n familielid nie. Vandag toon voltydse dienaars ’n selfopofferende gees deur hulleself te verloën en onderdanig aan Jehovah en sy reëlings te wees. Party toewysings kan behels dat hulle na ’n verafgeleë land moet gaan, wat dit moeilik of selfs onmoontlik kan maak om terug te keer huis toe vir die begrafnis van ’n familielid.
8:25, 26. Om te verseker dat die Levitiese dienste behoorlik nagekom word, en uit agting vir hulle ouderdom, is ouer Leviete beveel om uit verpligte diens te tree. Maar hulle kon aanbied om ander Leviete te help. Hoewel ons nie vandag uit ons diens as Koninkryksverkondigers uittree nie, leer die beginsel van hierdie wet ons ’n waardevolle les. As ’n Christen weens bejaardheid nie sekere verpligtinge kan nakom nie, kan hy aan aspekte van die diens deelneem wat binne sy vermoë is.
VAN PLEK TOT PLEK IN DIE WILDERNIS
Wanneer die wolk bo die tabernakel uiteindelik lig, begin die Israeliete ’n tog wat hulle 38 jaar en ’n maand of twee later op die woestynvlaktes van Moab sal bring. Jy sal dit dalk nuttig vind om hulle roete te volg op die kaart op bladsy 9 van die brosjure “Sien die goeie land”, uitgegee deur Jehovah se Getuies.
Op pad na Kades, in die wildernis Paran, kla die volk by ten minste drie geleenthede. In die eerste geval word dit stopgesit wanneer Jehovah party onder die volk met vuur verteer. Dan wil die Israeliete vleis hê, en Jehovah voorsien kwartels. Mirjam en Aäron se klagte teen Moses lei daartoe dat Mirjam tydelik met melaatsheid getref word.
Terwyl hulle kamp by Kades is, stuur Moses 12 manne uit om die Beloofde Land te verken. Hulle keer 40 dae later terug. Omdat die volk die slegte berig van tien van die spioene glo, wil hulle Moses, Aäron en die getroue spioene Josua en Kaleb stenig. Jehovah sê dat hy die volk met die pes gaan tref, maar Moses doen voorspraak vir hulle, en God verklaar dat hulle 40 jaar lank in die wildernis sal rondswerf—totdat al die geregistreerdes gesterf het.
Jehovah gee bykomende voorskrifte. Korag en ander kom in opstand teen Moses en Aäron, maar die rebelle word óf deur vuur verteer óf deur die aarde verswelg. Die volgende dag murmureer die hele vergadering teen Moses en Aäron. Gevolglik sterf 14 700 deur ’n plaag wat Jehovah stuur. Om bekend te maak wie Hy as hoëpriester gekies het, laat God Aäron se staf bot. Jehovah gee dan verdere wette oor die Leviete se pligte en die reiniging van die volk. Die gebruik van ’n rooi koei se as wys vooruit na die reiniging deur middel van Jesus se offerande.—Hebreërs 9:13, 14.
Die kinders van Israel keer terug na Kades, waar Mirjam sterf. Die vergadering murmureer weer teen Moses en Aäron. Hulle rede? Daar is geen water nie. Omdat Moses en Aäron nie Jehovah se naam heilig wanneer die water wonderdadig voorsien word nie, verbeur hulle die voorreg om die Beloofde Land binne te gaan. Israel trek weg van Kades af, en Aäron sterf by die berg Hor. Terwyl hulle om Edom trek, word die Israeliete moeg en spreek hulle teen God en Moses. Jehovah stuur giftige slange om hulle te straf. Moses doen weer eens voorspraak vir hulle, en God beveel hom om ’n koperslang te maak en dit op ’n paal te sit sodat dié wat gebyt is, genees kan word deur daarna te kyk. Die slang is ’n voorafskaduwing van Jesus Christus wat aan ’n paal genael is tot ons ewige voordeel (Johannes 3:14, 15). Israel verslaan die Amoritiese konings Sihon en Og en neem hulle lande in besit.
Skriftuurlike vrae beantwoord:
12:1—Waarom het Mirjam en Aäron teen Moses gespreek? Die ware rede vir hulle klagte was klaarblyklik Mirjam se begeerte na groter mag. Toe Moses se vrou, Sippora, weer by hom in die wildernis aangesluit het, was Mirjam dalk bang dat sy nie meer as die belangrikste vrou in die kamp beskou sou word nie.—Eksodus 18:1-5.
12:9-11—Waarom is net Mirjam met melaatsheid getref? Heel moontlik omdat sy die aanstigter was en Aäron oorreed het om by haar aan te sluit. Aäron het die regte gesindheid gehad deur sy fout te erken.
21:14, 15—Wat was die boek wat hier genoem word? Die Skrif verwys na verskeie boeke wat die Bybelskrywers as bronnemateriaal gebruik het (Josua 10:12, 13; 1 Konings 11:41; 14:19, 29). “Die boek van die Oorloë van Jehovah” was so ’n boek. Dit het ’n geskiedkundige verslag bevat van die oorloë van Jehovah se volk.
Lesse vir ons:
11:27-29. Moses het ’n uitstekende voorbeeld gestel van hoe ons moet reageer wanneer ander voorregte in Jehovah se diens ontvang. Hy het nie op jaloerse wyse heerlikheid vir homself gesoek nie, maar Moses was eerder bly toe Eldad en Medad as profete begin optree het.
12:2, 9, 10; 16:1-3, 12-14, 31-35, 41, 46-50. Jehovah verwag dat sy aanbidders respek vir godgegewe gesag moet toon.
14:24. Om weerstand te kan bied teen die wêreld se druk om verkeerd te doen, moet ’n mens “’n ander gees”, of geestesgesindheid, ontwikkel. Dit moet een wees wat van die wêreld s’n verskil.
15:37-41. Die unieke fraiingrand aan die Israeliete se klere moes hulle daaraan herinner dat hulle ’n volk is wat afgesonder is om God te aanbid en sy gebooie te gehoorsaam. Moet ons nie ook volgens God se standaarde lewe en opvallend anders wees as die wêreld nie?
OP DIE VLAKTES VAN MOAB
Wanneer die kinders van Israel op die woestynvlaktes van Moab kamp opslaan, voel die Moabiete ’n ontsettende vrees vir hulle. Daarom huur die Moabitiese koning Balak vir Bileam om die Israeliete te vervloek. Maar Jehovah dwing Bileam om hulle te seën. Dan word Moabitiese en Midianitiese vroue gebruik om die Israelitiese mans te verlok tot onsedelikheid en afgodediens. Gevolglik delg Jehovah 24 000 oortreders uit. Die plaag kom uiteindelik tot ’n einde wanneer Pinehas toon dat hy geen mededinging teen Jehovah duld nie.
Die tweede sensus toon dat nie een van die manne wat in die eerste sensus getel is, nog lewe nie, behalwe Josua en Kaleb. Josua word as Moses se opvolger aangestel. Die Israeliete kry instruksies oor die prosedures vir verskillende offers en voorskrifte oor geloftes. Die nasie Israel neem ook wraak op die Midianiete. Ruben, Gad en die halwe stam van Manasse vestig hulle oos van die Jordaanrivier. Israel ontvang opdragte oor hoe om die Jordaan oor te steek en die land in besit te neem. Die land se grense word noukeurig uiteengesit. Erfdele moet deur die lot beslis word. Daar word 48 stede aan die Leviete toegewys, en 6 hiervan moet as vrystede dien.
Skriftuurlike vrae beantwoord:
22:20-22—Waarom het Jehovah se toorn teen Bileam ontvlam? Jehovah het vir die profeet Bileam gesê dat hy nie die Israeliete moet vervloek nie (Numeri 22:12). Maar die profeet het saam met Balak se manne gegaan met die doel om Israel te vervloek. Bileam wou die Moabitiese koning behaag en ’n beloning van hom ontvang (2 Petrus 2:15, 16; Judas 11). Selfs toe Bileam gedwing is om Israel eerder te seën as te vervloek, het hy die koning se guns gesoek deur voor te stel dat vroue wat Baäl aanbid, gebruik moet word om die Israelitiese mans te verlei (Numeri 31:15, 16). Die rede waarom God se toorn teen Bileam ontvlam het, was dus weens die profeet se gewetenlose gierigheid.
30:6-8—Kan ’n Christenman sy vrou se geloftes nietig verklaar? Wat geloftes betref, handel Jehovah vandag met sy aanbidders as individue. Byvoorbeeld, toewyding aan Jehovah is ’n persoonlike gelofte (Galasiërs 6:5). ’n Man het nie die gesag om so ’n gelofte nietig te verklaar of te herroep nie. ’n Vrou moet dit egter vermy om ’n gelofte te maak wat met God se Woord of haar pligte teenoor haar man bots.
Lesse vir ons:
25:11. Watter voorbeeld van ywer vir Jehovah se aanbidding het Pinehas tog vir ons gestel! Behoort die begeerte om die gemeente rein te hou, ons nie te beweeg om vir die Christen- ouer manne te vertel as ons weet dat growwe onsedelikheid gepleeg is nie?
35:9-29. Die feit dat die een wat iemand onopsetlik doodgemaak het, sy huis moes verlaat en na ’n vrystad moes vlug en ’n tyd lank daar moes bly, leer ons dat lewe heilig is en dat ons dit moet respekteer.
35:33. As die aarde besoedel is deurdat die bloed van onskuldiges daarop vergiet is, kan versoening daarvoor slegs bewerkstellig word deur die bloed van dié wat dit vergiet het. Hoe gepas is dit tog dat Jehovah die goddeloses sal vernietig voordat die aarde in ’n paradys omskep word!—Spreuke 2:21, 22; Daniël 2:44.
God se Woord oefen krag uit
Ons moet respek toon vir Jehovah en vir diegene wat in verantwoordelike posisies onder sy volk aangestel is. Die boek Numeri bring hierdie feit duidelik na vore. Watter belangrike les is dit tog om vandag vrede en eenheid in die gemeente te handhaaf!
Die gebeure wat in Numeri beskryf word, toon hoe maklik diegene wat hulle geestelikheid verwaarloos, in sonde kan verval, soos om te murmureer, onsedelik te wees en afgodediens te beoefen. Van die voorbeelde en lesse uit hierdie Bybelboek kan gebruik word wanneer plaaslike behoeftes tydens die Diensvergadering in gemeentes van Jehovah se Getuies bespreek word. Ja, “die woord van God is lewend en oefen krag uit” op ons lewe.—Hebreërs 4:12.
[Prent op bladsy 25]
Jehovah het deur middel van ’n wonderdadige wolk oor die tabernakel aangedui wanneer die Israeliete moes kamp opslaan of opbreek
[Prente op bladsy 26]
Jehovah verdien ons gehoorsaamheid en verwag dat ons sy verteenwoordigers respekteer