Vrae van lesers
Het die apostel Paulus nie sy Christelike geloof verloën toe hy voor die Sanhedrin gesê het: “Ek is ’n Fariseër” nie?
Om Paulus se stelling in Handelinge 23:6 te verstaan, moet ons na die konteks kyk.
Nadat Paulus in Jerusalem deur oproerige Jode aangerand is, het hy die skare toegespreek. Hy het gesê: “Ek is . . . opgevoed in [Jerusalem] aan die voete van Gamaliël, onderrig volgens die strengheid van die voorvaderlike Wet.” Hoewel die skare ’n ruk lank na sy verdediging geluister het, het hulle uiteindelik woedend geraak, waarop die militêre bevelvoerder wat Paulus begelei het, hom na die soldate se kwartiere geneem het. Toe hulle op die punt gestaan het om hom te gesel, het Paulus gesê: “Is dit julle geoorloof om ’n man te gesel wat ’n Romein en onveroordeeld is?”—Handelinge 21:27–22:29.
Die volgende dag het die bevelvoerder Paulus voor die Joodse Hoë Raad, die Sanhedrin, gebring. Paulus het hulle stip aangekyk en gesien dat die Sanhedrin uit Sadduseërs en Fariseërs bestaan. Toe het hy gesê: “Manne, broers, ek is ’n Fariseër, ’n seun van Fariseërs. Oor die hoop op die opstanding van die dooies word ek geoordeel.” Gevolglik het daar onenigheid tussen die Fariseërs en Sadduseërs ontstaan, “want die Sadduseërs sê dat daar geen opstanding of engel of gees is nie, maar die Fariseërs verkondig dit alles in die openbaar”. Sommige lede van die party van die Fariseërs het opgestaan en heftig getwis en gesê: “Ons vind niks verkeerds in hierdie man nie.”—Handelinge 23:6-10.
Aangesien Paulus as ’n baie ywerige Christen bekend gestaan het, sou hy nie die Sanhedrin kon oortuig het dat hy ’n aktiewe Fariseër is nie. Die Fariseërs wat daar teenwoordig was, sou geen kompromis of wanvoorstelling aanvaar het nie. Paulus se stelling dat hy ’n Fariseër is, het dus ongetwyfeld ’n beperkte betekenis gehad, en die Fariseërs daar het Paulus se woorde in hierdie konteks verstaan.
Toe Paulus gesê het dat hy oor die hoop op die opstanding van die dooies geoordeel word, het hy ongetwyfeld bedoel dat hy in hierdie opsig soos die Fariseërs is. In enige geskil oor hierdie onderwerp moes Paulus eerder met die Fariseërs vereenselwig word as met die Sadduseërs, wat nie in die opstanding geglo het nie.
Wat Paulus as ’n Christen geglo het, was nie teenstrydig met die opvattings van die Fariseërs wanneer dit gekom het by sake soos die opstanding, engele en sommige aspekte van die Wet nie (Filippense 3:5). Paulus kon hom dus binne hierdie perke met die Fariseërs vereenselwig, en dit was ooreenkomstig hierdie beperkte betekenis dat die lede van die Sanhedrin wat daar teenwoordig was, sy woorde verstaan het. Hy het dus van sy agtergrond gebruik gemaak toe hy voor die bevooroordeelde Joodse Hoë Raad verskyn het.
Maar die grootste bewys dat Paulus nie sy geloof verloën het nie, is die feit dat hy nog steeds Jehovah se goedkeuring gehad het. Die nag nadat Paulus die stelling onder bespreking gemaak het, het Jesus gesê: “Hou goeie moed! Want soos jy in Jerusalem ’n deeglike getuienis oor die dinge aangaande my gegee het, so moet jy ook in Rome getuig.” Aangesien Paulus God se goedkeuring gehad het, moet ons tot die slotsom kom dat Paulus nie sy Christelike geloof verloën het nie.—Handelinge 23:11.