’n Wêreld sonder armoede is op hande
PRENTE van die Paradys, soos die een op die voorblad van hierdie tydskrif, vind byval by mense wat in armoede lewe. ’n Paradys was vir die eerste mensepaar, Adam en Eva, ’n werklikheid. Hulle tuiste was die tuin van Eden (Genesis 2:7-23). Hoewel daardie Paradys vir die mens verlore is, is geloof in ’n toekomstige paradys—’n nuwe wêreld sonder armoede—nie net ’n droom nie. Dit is stewig gegrond op die beloftes in die Bybel.
Dink aan die belofte wat Jesus Christus gemaak het op die laaste dag van sy lewe op aarde. Een van die kwaaddoeners wat saam met Jesus gesterf het, het geloof getoon in God se vermoë om die mensdom se probleme op te los. Hy het gesê: “Jesus, dink aan my wanneer u in u koninkryk kom.” Hierdie woorde toon dat die kwaaddoener geglo het dat Jesus as Koning sou heers en dat die dooies weer lewend gemaak sou word. Jesus het geantwoord: “Voorwaar, ek sê vir jou vandag: Jy sal saam met my in die Paradys wees.”—Lukas 23:42, 43.
Die Bybel sê aangaande diegene wat in die Paradys gaan lewe: “Hulle sal beslis huise bou en dit bewoon; en hulle sal beslis wingerde plant en die vrug daarvan eet” (Jesaja 65:21). Ja, “hulle sal elkeen onder sy wingerdstok en onder sy vyeboom sit, en daar sal niemand wees wat hulle laat bewe nie; want die mond van Jehovah van die leërs het dit gespreek”.—Miga 4:4.
Waarom laat God egter nou armoede toe? Watter hulp voorsien God aan dié wat deur armoede geteister word? Wanneer sal armoede uiteindelik tot ’n einde kom?
Waarom laat God armoede toe?
Die Paradys waarin Adam en Eva geplaas is, het verlore gegaan weens die opstand wat begin is deur ’n goddelose engel, Satan die Duiwel. Satan het ’n slang as sy mondstuk gebruik en Eva mislei om God se wet te verbreek wat hulle verbied het om die vrug van ’n sekere boom te eet. Hy het haar wysgemaak dat onafhanklikheid van God vir haar ’n beter lewe sou beteken. Toe Eva die verbode vrug vir Adam aangebied het, het hy ook daarvan geëet en sodoende sy rug op God gedraai en hom by sy vrou geskaar.—Genesis 3:1-6; 1 Timoteus 2:14.
Die opstandige egpaar is tereg uit die Paradys gesit en moes van toe af ’n stryd voer om ’n bestaan te maak. Jehovah het tot vandag toe toegelaat dat Satan oor die sondige mensdom heers, sodat die gevolge van ongehoorsaamheid aan God duidelik gesien kan word. Die mensegeskiedenis het getoon dat die mens nie ’n paradys op aarde kan bring nie (Jeremia 10:23). Onafhanklikheid van God het eerder rampspoedige probleme, onder andere armoede, tot gevolg gehad.—Prediker 8:9.
Die armes word egter nie hulpeloos gelaat in hierdie veelbewoë wêreld nie. God se geïnspireerde Woord, die Bybel, bevat betroubare leiding vir hulle.
‘Moet julle nooit kwel nie’
Toe Jesus met ’n groot gehoor gepraat het wat baie armes ingesluit het, het hy gesê: “Hou die voëls van die hemel noukeurig dop, want hulle saai nie saad nie en hulle oes nie en hulle maak nie in voorraadskure bymekaar nie; nogtans voed julle hemelse Vader hulle. Is julle nie meer werd as hulle nie? . . . Moet julle dus nooit kwel en sê: ‘Wat gaan ons eet?’ of: ‘Wat gaan ons drink?’ of: ‘Wat gaan ons aantrek?’ nie. Want al hierdie dinge jaag die nasies gretig na. Want julle hemelse Vader weet dat julle al hierdie dinge nodig het. Hou dan aan om eers die koninkryk en sy regverdigheid te soek, en al hierdie ander dinge sal vir julle bygevoeg word.”—Matteus 6:26-33.
Iemand wat arm is, hoef nie te steel nie (Spreuke 6:30, 31). Daar sal in sy behoeftes voorsien word as hy God eerste in sy lewe stel. Kyk na die geval van Tukiso, ’n man in Lesotho. In 1998 het buitelandse troepe na Lesotho gegaan om ’n opstand teen die regering te onderdruk. As gevolg van daardie oorlog is winkels geplunder, het mense hulle werk verloor en was daar ernstige voedseltekorte.
Tukiso het in die armoedigste deel van die hoofstad gewoon. Baie van sy bure het winkels geplunder om aan die lewe te bly. Toe Tukiso by sy eenvertrekwoning terugkom, het hy gesien dat Maseiso, die vrou met wie hy saamgelewe het, ’n klomp kruideniersware gehad het wat sy gesteel het. “Neem hierdie goed uit”, het Tukiso gesê en verduidelik dat dit teen God se wet is om te steel. Maseiso het dit gedoen. Die bure het hulle gespot en die gesteelde kos geneem.
Tukiso het hierdie standpunt ingeneem weens die dinge wat hy in sy studie van die Bybel met Jehovah se Getuies geleer het. Het sy gehoorsaamheid aan God se wet veroorsaak dat hy honger gely het? Nee. ’n Rukkie later het die ouer manne van die gemeente van Jehovah se Getuies waar Tukiso vergaderinge bygewoon het, met hom in aanraking gekom en vir hom kos gebring. Trouens, Jehovah se Getuies in Suid-Afrika het meer as twee ton noodlenigingsvoorraad vir hulle Christenbroers en -susters in Lesotho gestuur. Maseiso is diep geraak deur Tukiso se gehoorsaamheid aan God en deur die liefdevolle hulp van die gemeente. Sy het ook die Bybel begin studeer. Uiteindelik is dié twee wettig getroud en het hulle sodoende gekwalifiseer om as Jehovah se Getuies gedoop te word. Hulle dien God nog steeds getrou.
Jehovah God gee om vir die armes. (Sien die venster met die opskrif: “Hoe beskou God die armes?”) Hy het liefdevol voorsiening gemaak om mense soos Tukiso en Maseiso te help om meer omtrent hom te leer. En in sy Woord het hy praktiese raad voorsien vir die daaglikse lewe.
’n Wonderlike voorsiening
Jehovah se Getuies het nog altyd God se besorgdheid oor die armes probeer weerspieël (Galasiërs 2:10). Dikwels wanneer rampspoed ’n land tref en ware Christene geraak word, word reëlings getref om die nodige hulp te verleen. Nog belangriker, die Getuies toon besorgdheid oor die geestelike behoeftes van almal, insluitende die armes (Matteus 9:36-38). Gedurende die afgelope 60 jaar het duisende opgeleide bedienaars aangebied om in ander lande as sendelinge te gaan dien. ’n Voorbeeld hiervan is ’n sendelingegpaar van Finland wat Suid-Sotho geleer het en sodoende vir Tukiso en Maseiso kon leer om dissipels van Jesus te word (Matteus 28:19, 20). Hierdie sendingwerk behels dikwels dat iemand ’n gerieflike lewe in ’n welvarende land opoffer en na ’n arm land trek.
Ware Christene steel nie om aan die lewe te bly nie. Hulle stel eerder geloof in Jehovah God se vermoë om in hulle behoeftes te voorsien (Hebreërs 13:5, 6). Een manier waarop Jehovah vir sy volk sorg, is deur middel van die wêreldwye organisasie van sy aanbidders, wat na mekaar omsien.
Nog ’n manier waarop Jehovah die armes help, is deur hulle praktiese raad vir die daaglikse lewe te gee. Die Bybel beveel byvoorbeeld: “Laat die steler nie meer steel nie, maar laat hom liewer hard werk deur met sy hande goeie werk te doen, sodat hy iets kan hê om uit te deel aan iemand wat gebrek het” (Efesiërs 4:28). Baie werklose mense het al vir hulleself werk geskep, soos om groente te kweek, al is dit harde werk. Die Bybel help armes ook om geld te spaar deur hulle te leer om slegte gewoontes, soos alkoholmisbruik, te vermy.—Efesiërs 5:18.
’n Wêreld sonder armoede—Wanneer?
Die Bybel toon dat ons in “die laaste dae” van Satan se heerskappy lewe (2 Timoteus 3:1). Jehovah God sal Jesus Christus binnekort stuur om die mensdom te oordeel. Wat sal dan gebeur? Jesus het die antwoord in een van sy illustrasies gegee. Hy het gesê: “Wanneer die Seun van die mens in sy heerlikheid kom, en al die engele saam met hom, dan sal hy op sy glorieryke troon gaan sit. En al die nasies sal voor hom versamel word, en hy sal die mense van mekaar afskei, net soos ’n herder die skape van die bokke afskei.”—Matteus 25:31-33.
Die skape in hierdie illustrasie is diegene wat hulle aan Jesus se koningskap onderwerp. Jesus het hulle met skape vergelyk omdat hulle hom as hulle Herder volg (Johannes 10:16). Hierdie skaapgeaarde mense sal lewe verkry onder Jesus se volmaakte heerskappy. Dit sal ’n gelukkige lewe wees in ’n nuwe wêreld vry van armoede. Bokagtige mense, wat Jesus se heerskappy verwerp, sal vir ewig vernietig word.—Matteus 25:46.
God se Koninkryk sal ’n einde maak aan goddeloosheid. Dan sal armoede iets van die verlede wees. Die aarde sal bewoon word deur mense wat mekaar liefhet en na mekaar omsien. Dat so ’n nuwe wêreld moontlik is, kan gesien word in die liefdevolle internasionale broederskap van Jehovah se Getuies, want Jesus het gesê: “Hieraan sal almal weet dat julle my dissipels is, as julle liefde onder mekaar het.”—Johannes 13:35.
[Venster/Prente op bladsy 6, 7]
HOE BESKOU GOD DIE ARMES?
Die Bybel beskryf die Skepper van die mensdom as “die Een wat brood gee aan dié wat honger is” (Psalm 146:7). Dit bevat meer as honderd verse wat God se besorgdheid oor die armes beklemtoon.
Toe Jehovah byvoorbeeld sy Wet aan die eertydse nasie Israel gegee het, het hy Israelitiese boere beveel om nie die rand van hulle lande heeltemal af te oes nie. Hulle moes ’n olyfboom of wingerd nie ’n tweede keer oes om die oorblywende vrugte in te samel nie. Hierdie wette was ’n liefdevolle voorsiening vir inwonende vreemdelinge, wese, weduwees en ander geteisterdes.—Levitikus 19:9, 10; Deuteronomium 24:19-21.
Wat meer is, God het die Israeliete beveel: “Julle mag geen weduwee of vaderlose seun verdruk nie. As jy hom hoegenaamd verdruk, dan sal ek, as hy enigsins tot my roep, sy geroep sekerlik hoor; en my toorn sal inderdaad ontvlam, en ek sal julle beslis met die swaard dood, en julle vrouens sal weduwees word en julle seuns vaderlose seuns” (Eksodus 22:22-24). Ongelukkig het talle ryk Israeliete daardie woorde geïgnoreer. Om hierdie rede en ook weens ander oortredings het Jehovah God die Israeliete verskeie waarskuwings deur middel van sy profete gegee (Jesaja 10:1, 2; Jeremia 5:28; Amos 4:1-3). Uiteindelik het God toegelaat dat die Assiriërs en later die Babiloniërs Israel se gebied verower. Baie Israeliete is doodgemaak, en die oorlewendes is as gevangenes na vreemde lande weggevoer.
God se geliefde Seun, Jesus Christus, het sy Vader se liefdevolle besorgdheid oor die armes weerspieël. Jesus het die doel van sy bediening verduidelik en gesê: “Jehovah se gees is op my, want hy het my gesalf om goeie nuus aan die armes bekend te maak” (Lukas 4:18). Dit beteken nie dat Jesus sy bediening tot die armes beperk het nie. Hy het ryk mense ook liefdevol gehelp. Maar wanneer hy dit gedoen het, het Jesus dikwels sy besorgdheid oor die armes uitgespreek. Hy het byvoorbeeld die volgende raad aan ’n ryk heerser gegee: “Verkoop alles wat jy het en deel dit aan die armes uit, en jy sal ’n skat in die hemele hê; en kom word my volgeling.”—Lukas 14:1, 12-14; 18:18, 22; 19:1-10.
Jehovah God en sy Seun is diep besorg oor die armes (Markus 12:41-44; Jakobus 2:1-6). Die feit dat miljoene armes wat al gesterf het, in Jehovah se geheue is, is ’n bewys van sy besorgdheid oor hulle. Al hierdie mense sal opgewek word in ’n nuwe wêreld vry van armoede.—Handelinge 24:15.
[Prente]
Die internasionale broederskap van Jehovah se Getuies toon dat die nuwe wêreld moontlik is
[Prent op bladsy 5]
Tukiso en Maseiso saam met die sendeling wat die Bybel met Tukiso gestudeer het
[Prent op bladsy 5]
Maseiso by die deur van haar huis saam met die sendeling wat die Bybel met haar gestudeer het