Praat die waarheid met jou naaste
“Noudat julle onwaarheid afgelê het, moet julle . . . die waarheid praat, elkeen van julle met sy naaste.”—EF. 4:25.
1, 2. Hoe beskou baie mense waarheid?
WAARHEID is al eeue lank ’n omstrede onderwerp. In die sesde eeu v.G.J. het die Griekse digter Alkaios gesê: “Daar is waarheid in wyn.” Dit het te kenne gegee dat die waarheid net uitkom wanneer iemand te veel gedrink het en miskien gretiger is om te praat. Die eerste-eeuse Romeinse goewerneur Pontius Pilatus het ook ’n verdraaide beskouing van waarheid weerspieël toe hy Jesus sinies gevra het: “Wat is waarheid?”—Joh. 18:38.
2 Daar is in ons dag ’n oorvloed teenstrydige gesindhede oor waarheid. Baie mense sê dat die woord “waarheid” verskillende betekenisse het of dat waarheid van persoon tot persoon verskil. Ander praat net die waarheid wanneer dit hulle pas. Die boek The Importance of Lying sê: “Eerlikheid is miskien ’n edele ideaal, maar dit beteken nie veel in die stryd om lewe en dood ten einde ’n bestaan te maak en sekuriteit te verkry nie. Die mens het nie eintlik ’n keuse in die saak nie—hy moet leuens vertel om te kan lewe.”
3. Waarom was Jesus ’n uitsonderlike voorbeeld van iemand wat die waarheid gepraat het?
3 Hoe anders is dit tog vir Christus se dissipels! Jesus het nie ’n filosofiese beskouing van waarheid gehad nie. Hy het altyd die waarheid gepraat. Selfs sy vyande het erken: “Leermeester, ons weet dat u waaragtig is en die weg van God in waarheid leer” (Matt. 22:16). Ware Christene volg vandag eweneens Jesus se voorbeeld. Hulle huiwer nie om die waarheid te praat nie. Hulle stem heelhartig saam met die apostel Paulus, wat medegelowiges vermaan het: “Noudat julle onwaarheid afgelê het, moet julle derhalwe die waarheid praat, elkeen van julle met sy naaste” (Ef. 4:25). Kom ons ondersoek drie aspekte van Paulus se woorde. Eerstens, wie is ons naaste? Tweedens, wat beteken dit om die waarheid te praat? En derdens, hoe kan ons dit in ons daaglikse lewe toepas?
Wie is ons naaste?
4. Hoe het Jesus, in teenstelling met eerste-eeuse Joodse leiers, Jehovah se beskouing weerspieël van wie ons naaste is?
4 In die eerste eeu G.J. het party Joodse leiers geleer dat net mede-Jode of hulle persoonlike vriende waardig was om “naaste” genoem te word. Jesus het egter sy Vader se persoonlikheid en denke volmaak weerspieël (Joh. 14:9). Dit is betekenisvol dat hy vir sy dissipels getoon het dat God nie een ras of nasionaliteit bo ’n ander begunstig nie (Joh. 4:5-26). Wat meer is, die heilige gees het aan die apostel Petrus geopenbaar dat “God nie partydig is nie, maar in elke nasie is die mens wat hom vrees en regverdigheid beoefen, vir hom aanneemlik” (Hand. 10:28, 34, 35). Ons moet dus alle mense as ons naaste beskou en liefde betoon selfs aan diegene wat soos vyande optree.—Matt. 5:43-45.
5. Wat beteken dit om die waarheid met ons naaste te praat?
5 Maar wat het Paulus bedoel toe hy gesê het dat ons die waarheid met ons naaste moet praat? Om die waarheid te praat, beteken dat inligting oorgedra word wat feitelik, vry van enige bedrog, is. Ware Christene verdraai nie die feite of stel dit verkeerd voor om ander te mislei nie. Hulle “verafsku wat goddeloos is” en “hou vas aan wat goed is” (Rom. 12:9). In navolging van “die God van waarheid” moet ons daarna streef om eerlik en openhartig in al ons handelinge te wees (Ps. 15:1, 2; 31:5). As ons ons woorde versigtig kies, kan selfs moeilike of ongemaklike situasies sonder enige bedrog taktvol opgelos word.—Lees Kolossense 3:9, 10.
6, 7. (a) Beteken dit dat ons, as ons die waarheid praat, selfs persoonlike besonderhede moet onthul aan elkeen wat ons ’n vraag vra? Verduidelik. (b) Wie verdien ons vertroue sodat ons die waarheid met hulle sal praat?
6 Beteken dit dat ons, as ons die waarheid met ander praat, elke besonderheid moet onthul aan enigiemand wat ons ’n vraag vra? Nie noodwendig nie. Terwyl Jesus op die aarde was, het hy getoon dat party mense nie verdien om ’n reguit antwoord of sekere inligting te ontvang nie. Toe huigelagtige godsdiensleiers hom gevra het deur watter krag of gesag hy tekens en wonderwerke verrig, het Jesus gesê: “Ek sal julle een vraag vra. Antwoord julle my, en ek sal ook vir julle sê deur watter gesag ek hierdie dinge doen.” Toe die skrifgeleerdes en ouer manne nie wou antwoord nie, het Jesus gesê: “Dan sê ek ook nie vir julle deur watter gesag ek hierdie dinge doen nie” (Mark. 11:27-33). As gevolg van hulle verdorwe gebruike en ontroue voorbeeld het hy nie verplig gevoel om die vraag te beantwoord nie (Matt. 12:10-13; 23:27, 28). Jehovah se volk moet vandag eweneens op hulle hoede wees vir afvalliges en ander goddelose mense wat bedrieëry of listigheid vir selfsugtige doeleindes gebruik.—Matt. 10:16; Ef. 4:14.
7 Paulus het ook getoon dat party mense dalk nie daarop geregtig is om ’n volledige antwoord te ontvang nie. Hy het gesê dat “skindertonge en persone wat hulle met ander se sake bemoei . . . , oor dinge praat waaroor hulle nie behoort te praat nie” (1 Tim. 5:13). Ja, diegene wat hulle neus in ander se sake steek of op wie nie staatgemaak kan word om inligting vertroulik te hou nie, sal dalk vind dat ander teësinnig is om persoonlike inligting aan hulle mee te deel. Hoeveel beter is dit tog om op Paulus se geïnspireerde raad ag te slaan: “[Stel] julle dit ten doel . . . om rustig te lewe en om julle met julle eie sake te bemoei” (1 Tess. 4:11). Maar gemeentelike ouer manne moet soms vrae oor persoonlike sake vra om hulle toegewese pligte uit te voer. In so ’n geval word ons samewerking om die waarheid te praat, hoog op prys gestel en help dit grootliks.—1 Pet. 5:2.
Praat die waarheid in gesinsake
8. Hoe help dit gesinslede om nader aan mekaar te kom as hulle die waarheid met mekaar praat?
8 Ons het gewoonlik die hegste band met ons gesin. Om hierdie band te versterk, is dit noodsaaklik dat ons die waarheid met mekaar praat. Baie probleme en misverstande kan verminder of uitgeskakel word as ons openhartig, eerlik en liefdevol is in ons kommunikasie met mekaar. Huiwer ons byvoorbeeld wanneer ons ’n fout begaan om dit aan ons huweliksmaat, ons kinders of ander familielede te erken? As ons opreg om verskoning vra, help dit om vrede en eenheid in die gesin te bevorder.—Lees 1 Petrus 3:8-10.
9. Waarom gee dit ons nie die reg om taktloos of onbeskof te wees as ons die waarheid praat nie?
9 Om die waarheid te praat, beteken nie dat ons taktloos moet wees nie. Onbeskoftheid vergroot nie die waarde van die waarheid of die trefkrag daarvan nie. Paulus het gesê: “Laat alle kwaadwillige bitterheid en toorn en gramskap en geskreeu en smadende taal van julle af weggeneem word, saam met alle slegtheid. Maar word goedhartig teenoor mekaar, vol tere medelye, en vergewe mekaar vryelik net soos God julle ook deur Christus vryelik vergewe het” (Ef. 4:31, 32). Wanneer ons op ’n vriendelike en waardige wyse praat, verhef dit ons boodskap en betoon ons eer aan diegene met wie ons praat.—Matt. 23:12.
Praat die waarheid in gemeentelike sake
10. Wat kan Christen- ouer manne leer uit die uitstekende voorbeeld wat Jesus daarin gestel het om die waarheid te praat?
10 Jesus het op ’n eenvoudige, openhartige manier met sy dissipels gepraat. Sy raad was altyd liefdevol, maar hy het nie die waarheid afgewater om sy toehoorders te paai nie (Joh. 15:9-12). Toe sy apostels byvoorbeeld herhaaldelik onder mekaar geargumenteer het oor wie die grootste is, het Jesus hulle ferm dog geduldig gehelp om te verstaan dat nederigheid nodig is (Mark. 9:33-37; Luk. 9:46-48; 22:24-27; Joh. 13:14). Net so moet hedendaagse Christen- ouer manne, hoewel hulle vasstaan vir regverdigheid, nie oor God se kudde baasspeel nie (Mark. 10:42-44). Hulle volg Christus na deur “goedhartig teenoor mekaar” en “vol tere medelye” te wees in hulle handelinge met ander.
11. Hoe moet liefde vir ons broers ons beweeg om ons tong te gebruik?
11 Deur eerlik met ons broers te wees, maar nie te reguit nie, kan ons sê wat ons op die hart het sonder om aanstoot te gee. Ja, ons wil nooit hê dat ons tong “geslyp soos ’n skeermes” moet wees en wil dit nie gebruik om pynlike wonde deur beledigende of vernederende woorde toe te dien nie (Ps. 52:2; Spr. 12:18). Liefde vir ons broers sal ons beweeg om ‘ons tong te bewaar van wat sleg is, en ons lippe daarvan om bedrog te spreek’ (Ps. 34:13). Sodoende eer ons God en bevorder ons eenheid in die gemeente.
12. Wanneer regverdig leuens regterlike optrede? Verduidelik.
12 Ouer manne werk hard om die gemeente te beskerm teen diegene wat kwaadwillige leuens vertel. (Lees Jakobus 3:14-16.) ’n Kwaadwillige leuen word vertel met die oogmerk om iemand leed aan te doen; die doel daarvan is om die persoon op die een of ander manier te laat ly of hom te ontstel. Dit behels meer as om kleinlike, misleidende stellings te maak of om die feite te oordryf. Alle leuens is natuurlik verkeerd, maar nie elke onwaarheid vereis regterlike optrede nie. Ouer manne moet derhalwe balans, redelikheid en goeie oordeel aan die dag lê om vas te stel of ’n persoon wat valse stellings gemaak het, ’n patroon van opsetlike, kwaadwillige leuens ontwikkel het wat regterlike optrede sal vereis. Of sal ferm, liefdevolle vermaning uit die Skrif voldoende wees?
Praat die waarheid in sakeaangeleenthede
13, 14. (a) Hoe versuim party mense om eerlik te wees met hulle werkgewer? (b) Watter goeie resultaat kan dit hê as ’n mens eerlik is by die werk?
13 Omdat ons in ’n tyd lewe waarin oneerlikheid aan die orde van die dag is, kan dit moeilik wees om die versoeking te weerstaan om nie heeltemal eerlik met ’n werkgewer te wees nie. Baie mense wat aansoek doen vir ’n werk, vertel blatante leuens. Byvoorbeeld, hulle oordryf dalk hulle ondervinding of kwalifikasies op ’n CV sodat hulle ’n beter werk of groter salaris kan kry. Daarenteen gee baie werknemers voor dat hulle werk, terwyl hulle eintlik na persoonlike sake omsien, al is dit teen die maatskappy se reëls. Hulle lees moontlik materiaal wat niks met hulle werk te doen het nie, maak persoonlike telefoonoproepe, stuur persoonlike elektroniese boodskappe of snuffel op die Internet rond.
14 Ware Christene beskou eerlikheid in woord en daad nie as iets opsioneels nie. (Lees Spreuke 6:16-19.) Paulus het gesê dat “ons ons in alles eerlik wil gedra” (Heb. 13:18). Christene gee dus hulle werkgewer ’n volle dag se werk vir ’n volle dag se betaling (Ef. 6:5-8). Om ’n pligsgetroue werker te wees, kan ook lof aan ons hemelse Vader bring (1 Pet. 2:12). Byvoorbeeld, Roberto se werkgewer in Spanje het hom geprys omdat hy ’n eerlike en verantwoordelike werker is. As gevolg van Roberto se goeie gedrag het die maatskappy nog Getuies in diens geneem. Hulle was ook uitstekende werkers. Deur die jare heen het Roberto werk vir 23 gedoopte broers en 8 Bybelstudente gevind!
15. Hoe moet ’n Christen wat ’n sakeman is, toon dat hy die waarheid praat?
15 Is ons, as ons vir onsself werk, eerlik in al ons sakeaangeleenthede, of versuim ons soms om die waarheid met ons naaste te praat? ’n Christen wat ’n sakeman is, moenie ’n produk of diens verkeerd voorstel sodat hy ’n transaksie vinnig kan beklink nie; hy moet ook nie omkoopgeskenke aanbied of aanvaar nie. Ons wil ander behandel soos ons behandel wil word.—Spr. 11:1; Luk. 6:31.
Praat die waarheid met die regeringsowerheid
16. Wat gee Christene aan (a) die regeringsowerheid? (b) Jehovah?
16 Jesus het gesê: “Betaal dan aan die keiser terug wat aan die keiser behoort, maar aan God wat aan God behoort” (Matt. 22:21). Watter dinge is ons verskuldig aan die keiser, dit wil sê die regeringsowerheid? Toe Jesus hierdie woorde geuiter het, het die bespreking oor belasting gehandel. Om dus ’n skoon gewete voor God en mense te behou, moet Christene die landswette gehoorsaam, met inbegrip van dié oor die betaling van belasting (Rom. 13:5, 6). Maar ons erken dat Jehovah die Allerhoogste Soewerein is, die enigste ware God, wat ons met ons hele hart, siel, verstand en al ons krag liefhet (Mark. 12:30; Op. 4:11). Ons onderwerp ons derhalwe onvoorwaardelik aan Jehovah God.—Lees Psalm 86:11, 12.
17. Hoe beskou Jehovah se volk die verkryging van maatskaplike hulp?
17 Baie lande het maatskaplike programme of dienste om diegene te help wat materiële ondersteuning nodig het. Daar is niks mee verkeerd as ’n Christen sulke hulp ontvang nie—mits hy daarvoor kwalifiseer. Om die waarheid met ons naaste te praat, beteken dat ons nie valse of misleidende inligting aan die regeringsowerheid sal verstrek sodat ons maatskaplike hulp kan ontvang nie.
Seëninge wanneer ’n mens die waarheid praat
18-20. Watter seëninge bring dit mee as ons die waarheid met ons naaste praat?
18 As ons die waarheid praat, bring dit baie seëninge mee. Ons behou ’n skoon gewete, wat ons gemoedsrus en ’n kalm hart gee (Spr. 14:30; Fil. 4:6, 7). ’n Skoon gewete het groot waarde in God se oë. As ons in alles die waarheid praat, hoef ons ook nie bekommerd te wees dat ander ons sal betrap nie.—1 Tim. 5:24.
19 Beskou nog ’n seën. Paulus het gesê: “In elke opsig beveel ons ons as God se bedienaars aan . . . deur waaragtige woorde” (2 Kor. 6:4, 7). Dit was gewis die geval met ’n Getuie wat in Brittanje woon. Toe hy sy motor wou verkoop, het hy al die goeie dinge sowel as die foute daarvan aan ’n voornemende koper beskryf, insluitende dié wat nie gesien kon word nie. Nadat die koper die motor vir ’n toetsrit geneem het, het hy vir die broer gevra of hy een van Jehovah se Getuies is. Waarom het hy tot dié slotsom gekom? Die man het die broer se eerlikheid asook sy netjiese voorkoms opgemerk. Die daaropvolgende gesprek het tot ’n goeie getuienis gelei.
20 Bring ons ook lof aan ons Skepper deur ons hoë waardes? Paulus het gesê: “Ons het afstand gedoen van die agterbakse dinge waaroor ’n mens jou moet skaam en wandel nie met listigheid nie” (2 Kor. 4:2). Laat ons derhalwe ons uiterste bes doen om die waarheid met ons naaste te praat. As ons dit doen, sal dit ons hemelse Vader en sy volk tot eer strek.
Hoe sal jy antwoord?
• Wie is ons naaste?
• Wat beteken dit om die waarheid met ons naaste te praat?
• Hoe kan dit God tot eer strek as ons eerlik is?
• Watter seëninge bring dit mee as ons die waarheid praat?
[Prent op bladsy 17]
Erken jy geringe foute geredelik?
[Prent op bladsy 18]
Praat jy die waarheid wanneer jy aansoek doen vir ’n werk?