Dit is ’n blyk van onverdiende goedhartigheid om aan Jehovah te behoort
“Ons behoort aan Jehovah.”—ROM. 14:8.
1, 2. (a) Watter voorreg het ons? (b) Watter vrae sal ons bespreek?
WAT ’n kosbare voorreg is tog aan die nasie Israel voorgehou toe Jehovah vir hulle gesê het: “Julle [sal] beslis my spesiale eiendom uit al die ander volke word” (Eks. 19:5). Vandag het lede van die Christengemeente ook die eer om aan Jehovah te behoort (1 Pet. 2:9; Op. 7:9, 14, 15). Dit is ’n voorreg waarby ons tot in ewigheid kan baat vind.
2 Om aan Jehovah te behoort, is nie net ’n voorreg nie, maar ook ’n verantwoordelikheid. Party wonder miskien: ‘Sal ek kan doen wat Jehovah van my verwag? Sal hy my verwerp as ek ooit in sonde verval? Sal dit my van my vryheid beroof as ek aan Jehovah behoort?’ Sulke vrae verdien ons aandag. Maar eers is daar ’n ander vraag wat sorgvuldig oorweeg moet word: Watter voordele hou dit in om aan Jehovah te behoort?
Dit lei tot geluk om aan Jehovah te behoort
3. Hoe het Ragab baat gevind by haar besluit om Jehovah te dien?
3 Vind mense wat aan Jehovah behoort enigsins daarby baat? Dink aan die geval van Ragab, ’n prostituut wat in eertydse Jerigo gewoon het. Sy is ongetwyfeld van kleins af geleer om die verdorwe aanbidding van Kanaän se gode te beoefen. Maar toe sy hoor van die oorwinnings wat Jehovah aan Israel gegee het, het sy besef dat Jehovah die ware God is. Gevolglik het sy haar lewe gewaag om God se uitverkore volk te beskerm en sodoende haar toekoms in hulle hande geplaas. Die Bybel sê: “Is Ragab, die hoer, nie ook net so deur werke regverdig verklaar nadat sy die boodskappers gasvry ontvang en hulle met ’n ander pad weggestuur het nie?” (Jak. 2:25). Stel jou voor watter voordele sy geniet het toe sy deel van God se rein volk geword het, ’n volk wat deur God se Wet opgevoed is in die weë van liefde en geregtigheid. Hoe bly moes sy tog gewees het dat sy haar vorige lewenswyse agtergelaat het! Sy het met ’n Israeliet getrou en haar seun, Boas, so grootgemaak dat hy ’n voortreflike man van God geword het.—Jos. 6:25; Rut 2:4-12; Matt. 1:5, 6.
4. Hoe het Rut baat gevind by haar besluit om Jehovah te dien?
4 Rut van Moab het ook besluit om Jehovah te dien. As ’n jong meisie het sy waarskynlik Kamos en die ander gode van Moab aanbid, maar sy het die ware God, Jehovah, leer ken, en sy het met ’n Israeliet getrou wat in haar land skuiling kom soek het. (Lees Rut 1:1-6.) Later, toe Rut en haar skoonsuster, Orpa, saam met hulle skoonmoeder, Naomi, na Betlehem vertrek het, het Naomi die twee jong vroue aangespoor om terug te keer huis toe. Dit sou nie vir hulle maklik wees om hulle in Israel te vestig nie. Orpa het wel “na haar volk en haar gode toe teruggekeer”, maar Rut het nie. Sy het in ooreenstemming met haar geloof opgetree en geweet aan wie sy wou behoort. Sy het vir Naomi gesê: “Moenie by my pleit om u te verlaat nie, om terug te draai en u nie te vergesel nie; want waar u gaan, sal ek gaan, en waar u oornag, sal ek oornag. U volk sal my volk wees, en u God my God” (Rut 1:15, 16). Weens haar keuse om Jehovah te dien, het Rut baat gevind by God se Wet, wat spesiale voorsiening gemaak het vir weduwees, die armes en dié wat geen grond besit het nie. Onder Jehovah se vleuels het sy geluk, beskerming en veiligheid gevind.
5. Wat het jy opgemerk omtrent persone wat Jehovah getrou dien?
5 Jy ken dalk persone wat Jehovah al dekades lank getrou dien sedert hulle hulle aan hom toegewy het. Vra hulle gerus hoe hulle daarby baat gevind het om hom te dien. Hoewel almal probleme ondervind, is daar oorweldigende bewyse wat die woorde van die psalmis staaf: “Gelukkig is die volk wie se God Jehovah is!”—Ps. 144:15.
Jehovah se redelike verwagtinge
6. Waarom moet ons nie bang wees dat ons nie sal kan doen wat Jehovah van ons verwag nie?
6 Jy het moontlik al gewonder of jy sal kan doen wat Jehovah van jou verwag. Dit is maklik om oorweldig te voel deur die vooruitsig om ’n kneg van God te wees wat volgens sy wet lewe en in sy naam spreek. Moses het byvoorbeeld onbevoeg gevoel toe hy gestuur is om met die Israeliete en met die koning van Egipte te praat. Maar God was nie onredelik in wat hy van Moses verwag het nie. Jehovah het ‘hom geleer wat om te doen’. (Lees Eksodus 3:11; 4:1, 10, 13-15.) Aangesien Moses die hulp aanvaar het wat hom aangebied is, het hy die vreugde daarvan gesmaak om God se wil te volbring. Jehovah is net so redelik in wat hy van ons verwag. Hy verstaan ons onvolmaakte natuur, en hy wil ons help (Ps. 103:14). Om God as ’n volgeling van Jesus te dien, is nie oorweldigend nie, maar verkwikkend, omdat so ’n lewensweg ander tot voordeel strek en Jehovah se hart verbly. Jesus het gesê: “Kom na my toe, . . . en ek sal julle verkwik. Neem my juk op julle en leer by my, want ek is saggeaard en nederig van hart.”—Matt. 11:28, 29.
7. Waarom kan jy vol vertroue wees dat Jehovah jou sal help om te doen wat hy van jou verwag?
7 Jehovah sal altyd die aanmoediging voorsien wat ons nodig het, solank ons op hom vertrou vir krag. Byvoorbeeld, Jeremia was blykbaar nie van nature uitgesproke nie. Toe Jehovah hom as Sy profeet aangestel het, het Jeremia dus gesê: “Ag, o Soewereine Heer Jehovah! Kyk, ek weet nie hoe ek moet praat nie, want ek is nog maar net ’n seun.” Later het hy selfs gesê: “Ek sal nie meer in sy naam spreek nie” (Jer. 1:6; 20:9). Maar met Jehovah se aanmoediging was Jeremia in staat om 40 jaar lank ’n ongewilde boodskap te verkondig. Jehovah het hom herhaaldelik gerusgestel met die woorde: “Ek is met jou om jou te red en jou te verlos.”—Jer. 1:8, 19; 15:20.
8. Hoe toon ons dat ons op Jehovah vertrou?
8 Net soos Jehovah Moses en Jeremia versterk het, kan hy ons help om te doen wat hy vandag van Christene verwag. Die sleutelfaktor is om op God te vertrou. Die Bybel sê: “Vertrou op Jehovah met jou hele hart en moenie op jou eie begrip steun nie. Slaan ag op hom in al jou weë, en hy sal jou paaie reguit maak” (Spr. 3:5, 6). Ons toon dat ons op Jehovah vertrou wanneer ons gebruik maak van die hulp wat hy deur sy Woord en deur die gemeente voorsien. As ons toelaat dat Jehovah ons voetstappe rig, sal niks ons verhinder om aan hom getrou te wees nie.
Jehovah gee om vir sy volk as individue
9, 10. Watter soort beskerming word in Psalm 91 belowe?
9 Party wat dit oorweeg om hulle aan Jehovah toe te wy, is dalk bekommerd oor die gevaar dat hulle sal sondig, onwaardig sal word en deur Jehovah verwerp sal word. Gelukkig voorsien Jehovah ons van al die beskerming wat ons nodig het om ons kosbare verhouding met hom te bewaar. Kom ons kyk hoe dit in Psalm 91 uitgedruk word.
10 Dié psalm begin so: “Elkeen wat in die skuilplek van die Allerhoogste woon, sal vir hom verblyf kry in die skaduwee van die Almagtige. Ek sal vir Jehovah sê: ‘U is my toevlug en my vesting, my God, op wie ek sal vertrou.’ Want hy sal jou uit die valstrik van die voëlvanger bevry” (Ps. 91:1-3). Let op dat God belowe om diegene te beskerm wat hom liefhet en op hom vertrou. (Lees Psalm 91:9, 14.) Van watter soort beskerming praat hy? Wel, Jehovah het party van sy eertydse knegte fisies beskerm—in party gevalle om die geslagslyn te bewaar wat tot die beloofde Messias sou lei. Maar baie ander getroue manne is in die tronk gegooi, gemartel en doodgemaak in sataniese pogings om hulle te verhinder om getrou aan God te bly (Heb. 11:34-39). Hulle het die nodige moed bymekaargeskraap om dit te verduur omdat Jehovah hulle geestelik beskerm het teen die gevaar om hulle onkreukbaarheid prys te gee. Psalm 91 kan dus as ’n belofte van geestelike beskerming beskou word.
11. Wat is “die skuilplek van die Allerhoogste”, en wie word deur God daarin beskerm?
11 “Die skuilplek van die Allerhoogste”, waarvan die psalmis praat, is dus ’n figuurlike plek van geestelike beskerming. Dié wat saam met God as sy gaste daarin woon, is veilig teen enigiets en enigiemand wat hulle geloof en hulle liefde vir God bedreig (Ps. 15:1, 2; 121:5). Hierdie skuilplek is verborge omdat ongelowiges dit nie kan onderskei nie. Hier beskerm Jehovah mense wat as ’t ware sê: ‘U is my God op wie ek sal vertrou.’ As ons in hierdie skuilplek bly, hoef ons nie oormatig bekommerd te wees dat ons God se guns sal verloor deur in ’n valstrik van Satan, “die voëlvanger”, te trap nie.
12. Watter gevare bedreig ons verhouding met God?
12 Watter gevare bedreig ons kosbare verhouding met God? Die psalmis noem etlike gevare, waaronder “die pes wat in die donker wandel . . . [en] die vernietiging wat op die middaguur plunder” (Ps. 91:5, 6). “Die voëlvanger” het al baie mense deur ’n selfsugtige begeerte na onafhanklikheid verstrik (2 Kor. 11:3). Hy vang ander deur gierigheid, trots en materialisme te bevorder. Nog ander mislei hy deur filosofieë soos patriotisme, evolusie en valse godsdiens (Kol. 2:8). En baie is al deur die strik van ongeoorloofde seks verlok. Sulke geestelik skadelike plae het al veroorsaak dat miljoene hulle liefde vir God verloor het.—Lees Psalm 91:7-10; Matt. 24:12.
Beskerm jou liefde vir God
13. Hoe beskerm Jehovah ons teen gevare wat ons geestelike welsyn bedreig?
13 Hoe beskerm Jehovah sy volk teen hierdie geestelike gevare? Die psalm sê: “Hy sal sy engele aangaande jou bevel gee om jou op al jou weë te bewaar” (Ps. 91:11). Hemelse engele lei en beskerm ons sodat ons die goeie nuus kan verkondig (Op. 14:6). Benewens die engele is daar Christen- ouer manne, wat in hulle onderrigting stewig vashou aan die Skrif en ons sodoende teen misleiding deur valse redenasies beskerm. Hulle kan persoonlike hulp verleen aan enigiemand wat sukkel om wêreldse gesindhede te bowe te kom (Tit. 1:9; 1 Pet. 5:2). Bowendien voorsien “die getroue en verstandige slaaf” geestelike voedsel om ons te beskerm teen die evolusieleer, die verlokking van onsedelike begeertes, die najaging van rykdom en vernaamheid asook baie ander skadelike begeertes en invloede (Matt. 24:45). Wat het jou gehelp om party van hierdie gevare te weerstaan?
14. Hoe kan ons gebruik maak van die beskerming wat God voorsien?
14 Wat moet ons doen om in God se beskermende “skuilplek” te bly? Net soos ons ons voortdurend moet beskerm teen fisiese gevare, soos ongelukke, misdadigers of infeksies, moet ons ons gedurigdeur beskerm teen geestelike gevare. Daarom moet ons gereeld gebruik maak van die leiding wat Jehovah deur middel van ons publikasies en gemeentelike vergaderinge en byeenkomste aan ons voorsien. Ons vra die ouer manne vir raad. En vind ons nie baat by die verskeidenheid eienskappe wat ons Christenbroers en -susters openbaar nie? Ja, ons assosiasie met die gemeente help ons inderdaad om wys te word.—Spr. 13:20; lees 1 Petrus 4:10.
15. Waarom kan jy vol vertroue wees dat Jehovah jou kan beskerm teen enigiets wat kan maak dat jy sy goedkeuring verloor?
15 Ons het geen rede om te twyfel dat Jehovah ons kan beskerm teen enigiets wat kan maak dat ons sy goedkeuring verloor nie (Rom. 8:38, 39). Hy het die gemeente beskerm teen magtige godsdiens- en politieke vyande wie se oogmerk gewoonlik was, nie om ons dood te maak nie, maar om ons van ons heilige God te skei. Jehovah se belofte is waar bewys: “Geen wapen wat teen jou gesmee sal word, sal enige sukses hê nie.”—Jes. 54:17.
Wie gee ons vryheid?
16. Waarom kan die wêreld ons nie vryheid bied nie?
16 Sal dit ons van ons vryheid beroof as ons aan Jehovah behoort? Nee, maar dit sal ons van ons vryheid beroof as ons aan die wêreld behoort. Die wêreld is vervreemd van Jehovah en word regeer deur ’n wrede god wat van mense slawe maak (Joh. 14:30). Satan se stelsel van dinge gebruik byvoorbeeld ekonomiese druk om mense van hulle vryheid te beroof. (Vergelyk Openbaring 13:16, 17.) Ook sonde het ’n bedrieglike krag wat van mense slawe maak (Joh. 8:34; Heb. 3:13). Al belowe ongelowiges dalk vryheid wanneer hulle ’n lewenswyse voorstaan wat in stryd met Jehovah se leringe is, sal enigiemand wat na hulle luister, spoedig uitvind dat hulle slawe geword het van ’n sondige, verderflike lewenstyl.—Rom. 1:24-32.
17. Watter vryheid bied Jehovah ons?
17 Daarenteen sal Jehovah ons vrymaak van alles wat ons leed kan aandoen, mits ons ons op hom verlaat. In party opsigte is ons situasie soos dié van iemand wat sy lewe toevertrou aan ’n bekwame chirurg wat hom van ’n lewensgevaarlike kwaal kan bevry. Ons het almal ’n lewensgevaarlike kwaal—oorgeërfde sonde. Slegs as ons ons op grond van Christus se offerande aan Jehovah toevertrou, kan ons hoop om van die gevolge van sonde bevry te word en vir ewig te lewe (Joh. 3:36). Net soos ons vertroue in ’n chirurg kan toeneem namate ons meer omtrent sy goeie reputasie uitvind, sal ons vertroue in Jehovah toeneem namate ons meer van hom te wete kom. Gevolglik hou ons aan om God se Woord sorgvuldig te bestudeer omdat dit ons sal help om hom só lief te hê dat dit enige vrees om aan hom te behoort, uit die weg sal ruim.—1 Joh. 4:18.
18. Wat sal die gevolg wees vir dié wat aan Jehovah behoort?
18 Jehovah gee aan alle mense keusevryheid. Sy Woord sê: “Jy moet die lewe kies sodat jy kan bly lewe, jy en jou nageslag, deur Jehovah jou God lief te hê” (Deut. 30:19, 20). Hy wil hê dat ons ons liefde vir hom moet openbaar deur uit vrye wil te kies om hom te dien. As ons behoort aan die God vir wie ons lief is, sal dit ons nie van ons vryheid beroof nie, maar sal dit ons beslis nou en in die toekoms gelukkig maak.
19. Waarom is dit ’n blyk van onverdiende goedhartigheid om aan Jehovah te behoort?
19 As sondaars verdien ons nie om aan ’n volmaakte God te behoort nie. Slegs God se onverdiende goedhartigheid maak dit moontlik (2 Tim. 1:9). Daarom het Paulus geskryf: “As ons lewe, lewe ons vir Jehovah, en ook as ons sterf, sterf ons vir Jehovah. Of ons dan lewe en of ons sterf, ons behoort aan Jehovah” (Rom. 14:8). Ons sal beslis nooit spyt wees dat ons gekies het om aan Jehovah te behoort nie.
Hoe sal jy antwoord?
• Watter voordele hou dit in om aan Jehovah te behoort?
• Waarom is ons in staat om te doen wat God van ons verwag?
• Hoe voorsien Jehovah beskerming vir sy knegte?
[Prente op bladsy 8]
Vra ander hoe hulle daarby baat gevind het om aan Jehovah te behoort
[Prent op bladsy 10]
Wat is van die maniere waarop Jehovah beskerming voorsien?