Vroue, waarom moet julle julle aan hoofskap onderwerp?
“Die man is die hoof van die vrou.”—1 KOR. 11:3.
1, 2. (a) Wat het die apostel Paulus oor Jehovah se reëling van hoofskap en onderdanigheid geskryf? (b) Watter vrae sal in hierdie artikel bespreek word?
JEHOVAH het die ordelike opeenvolging vasgestel waarvan die apostel Paulus gepraat het toe hy geskryf het dat “die Christus die hoof is van elke man” en “God . . . die hoof [is] van die Christus” (1 Kor. 11:3). Die vorige artikel het getoon dat Jesus dit as ’n voorreg en ’n vreugde beskou het om aan sy Hoof, Jehovah God, onderdanig te wees en dat Christenmans Christus as hulle hoof het. Christus was goedhartig, teer, medelydend en onselfsugtig in sy handelinge met mense. Mans in die gemeente moet ander, veral hulle vrou, so behandel.
2 Maar wat van vroue? Wie is hulle hoof? “Die man is die hoof van die vrou”, het Paulus geskryf. Hoe moet vroue hierdie geïnspireerde stelling beskou? Is die beginsel nog steeds van toepassing as die man ’n ongelowige is? Vereis onderdanigheid aan die man se hoofskap dat die vrou as ’t ware ’n stille vennoot in die huwelik moet wees, met geen seggenskap wanneer besluite geneem word nie? Hoe verwerf ’n vrou lof vir haarself?
“Ek gaan vir hom ’n helper maak”
3, 4. Waarom is die hoofskapreëling voordelig in die huwelik?
3 Die hoofskapreëling het sy oorsprong by God. Nadat Adam geskep is, het Jehovah God gesê: “Dit is nie goed dat die mens alleen bly nie. Ek gaan vir hom ’n helper maak, as ’n komplement van hom.” Nadat Eva geskep is, was Adam so verheug omdat hy nou ’n metgesel en helper gehad het dat hy gesê het: “Dit is eindelik been van my gebeente en vlees van my vlees” (Gen. 2:18-24). Adam en Eva het die wonderlike vooruitsig gehad om die vader en moeder van ’n volmaakte menseras te word, wat vir ewig in geluk op ’n aardwye paradys sou lewe.
4 Weens die opstand van ons eerste ouers het die volmaakte situasie in die tuin van Eden verlore gegaan. (Lees Romeine 5:12.) Maar die hoofskapreëling het van krag gebly. Wanneer dit behoorlik gevolg word, bring dit groot voordele en geluk in die huwelik. Die resultaat is dan soortgelyk aan hoe Jesus gevoel het oor onderdanigheid aan sy Hoof, Jehovah. In sy voormenslike bestaan was Jesus “die hele tyd voor [Jehovah] verheug” (Spr. 8:30). Weens onvolmaaktheid is mans nie meer in staat om volmaakte hoofde te wees nie en kan vroue ook nie meer volmaakte onderdanigheid toon nie. Maar wanneer mans en vrouens aanhou om hulle bes te doen, bring die reëling die grootste tevredenheid mee wat in hierdie tyd in die huwelik moontlik is.
5. Waarom moet huweliksmaats die raad in Romeine 12:10 ter harte neem?
5 Vir die sukses van ’n huwelik is dit onontbeerlik dat die huweliksmaats die skriftuurlike raad toepas wat vir alle Christene bedoel is: “In broederliefde moet julle tere geneentheid vir mekaar hê. Neem die leiding in eerbetoning aan mekaar” (Rom. 12:10). Die man sowel as die vrou moet hulle ook daarop toelê om ‘goedhartig teenoor mekaar te word, vol tere medelye, en mekaar vryelik te vergewe’.—Ef. 4:32.
Wanneer die huweliksmaat nie ’n gelowige is nie
6, 7. Wat kan die gevolg wees as ’n Christenvrou onderdanig is aan haar ongelowige man?
6 Sê nou jou huweliksmaat is nie ’n kneg van Jehovah nie? Dit is dikwels die man wat nie ’n gelowige is nie. Hoe moet die vrou hom dan behandel? Die Bybel antwoord: “Julle, vrouens, [moet] onderdanig wees aan julle eie mans, sodat, as sommige nie aan die woord gehoorsaam is nie, hulle sonder ’n woord deur die gedrag van hulle vrouens gewen kan word, omdat hulle ooggetuies was van julle kuis gedrag tesame met diep respek.”—1 Pet. 3:1, 2.
7 God se Woord sê vir die vrou dat sy ’n onderdanige gesindheid teenoor haar ongelowige man moet behou. Haar goeie gedrag kan hom beweeg om te probeer uitvind wat haar motiveer om so voorbeeldig op te tree. As gevolg daarvan begin die man dalk die oortuigings van sy Christenvrou ondersoek en aanvaar hy moontlik uiteindelik self die waarheid.
8, 9. Wat kan ’n Christenvrou doen as haar ongelowige man nie gunstig op haar goeie gedrag reageer nie?
8 Maar sê nou die ongelowige man reageer nie gunstig nie? Die Skrif moedig die gelowige vrou aan om te alle tye Christelike eienskappe aan die dag te lê, ongeag hoe moeilik dit mag wees. Ons lees byvoorbeeld in 1 Korintiërs 13:4: “Die liefde is lankmoedig.” Dit sal dus goed wees as die Christenvrou aanhou om “met algehele ootmoed en sagmoedigheid, met lankmoedigheid,” op te tree en die situasie in liefde te verdra (Ef. 4:2). Met die hulp van God se werkende krag—sy heilige gees—is dit selfs onder moeilike omstandighede moontlik om Christelike eienskappe te openbaar.
9 “Vir alles is ek sterk genoeg deur hom wat my krag gee”, het Paulus geskryf (Fil. 4:13). God se gees stel die Christenhuweliksmaat in staat om baie dinge te doen wat andersins onmoontlik sou gewees het. Byvoorbeeld, ongevoelige behandeling deur ’n huweliksmaat bring ’n persoon dalk in die versoeking om met gelyke munt terug te betaal. Maar die Bybel sê vir alle Christene: “Moet niemand kwaad vir kwaad vergeld nie. . . . Want daar staan geskrywe: ‘Die wraak is myne; ek sal vergeld, sê Jehovah’” (Rom. 12:17-19). Ook maan 1 Tessalonisense 5:15 ons: “Sorg dat niemand ’n ander kwaad vir kwaad vergeld nie, maar streef altyd na wat goed is teenoor mekaar en teenoor alle ander mense.” Met die steun van Jehovah se heilige gees word iets wat in ons eie krag onmoontlik is, moontlik. Hoe gepas is dit tog dat ons bid vir God se heilige gees om te voorsien wat ons ontbreek!
10. Hoe het Jesus gereageer op die onaangename woorde en dade van ander?
10 Jesus het ’n uitstekende voorbeeld gestel in die manier waarop hy mense behandel het wat onaangename dinge vir hom gesê of aan hom gedoen het. “Toe hy uitgeskel is”, sê 1 Petrus 2:23, “het hy nie terug uitgeskel nie. Toe hy gely het, het hy nie gedreig nie, maar hom bly toevertrou aan die een wat regverdig oordeel.” Ons word vermaan om sy goeie voorbeeld te volg. Moenie toelaat dat ander se slegte gedrag jou vertoorn nie. Soos alle Christene vermaan word, moet ons “tere medelye hê, nederig van verstand wees, nie kwaad met kwaad of uitskellery met uitskellery vergeld nie”.—1 Pet. 3:8, 9.
Net stille vennote?
11. Aan watter groot voorreg sal party Christenvroue ’n aandeel hê?
11 Beteken onderdanigheid aan die man se hoofskap dat vroue stille vennote in die huwelik is, met geen seggenskap oor gesins- of ander sake nie? Hoegenaamd nie. Jehovah gee baie voorregte aan vroue sowel as mans. Dink net aan die groot eer wat 144 000 individue het om konings en priesters in die hemel onder Christus te wees wanneer hy oor hierdie aarde regeer! Daardie getal sluit vroue in (Gal. 3:26-29). Dit is duidelik dat Jehovah aan vroue ’n aktiewe rol in sy reëling gegee het.
12, 13. Gee ’n voorbeeld wat toon dat vroue geprofeteer het.
12 In Bybeltye het vroue byvoorbeeld geprofeteer. Joël 2:28, 29 het voorspel: “Ek [sal] my gees op elke soort vlees uitstort, en julle seuns en julle dogters sal beslis profeteer. . . . Selfs op die diensknegte en op die diensmeisies sal ek in daardie dae my gees uitstort.”
13 Ongeveer 120 van Jesus se dissipels, vroue sowel as mans, was op Pinksterdag 33 HJ byeen in ’n bovertrek in Jerusalem. God se gees is op hierdie hele groep uitgestort. Petrus kon dus aanhaal wat die profeet Joël voorspel het en dit op mans sowel as vroue toepas. Petrus het gesê: “Dít is wat deur middel van die profeet Joël gesê is: ‘En in die laaste dae’, sê God, ‘sal ek van my gees op elke soort vlees uitstort, en julle seuns en julle dogters sal profeteer . . . ; en selfs op my slawe en op my slavinne sal ek in daardie dae van my gees uitstort, en hulle sal profeteer.’”—Hand. 2:16-18.
14. Watter rol het vroue in die verspreiding van die vroeë Christelike godsdiens gespeel?
14 In die eerste eeu het vroue ’n belangrike rol in die verspreiding van die Christelike godsdiens gespeel. Hulle het vir ander gepreek oor God se Koninkryk en het dinge gedoen wat met daardie predikingswerk verband gehou het (Luk. 8:1-3). Byvoorbeeld, die apostel Paulus het Febe “’n dienares van die gemeente in Kenchreë” genoem. En toe Paulus groete aan medewerkers gestuur het, het hy na ’n aantal getroue vroue verwys, onder andere “Trifena en Trifosa, vroue wat hard werk in die Here”. Hy het ook gepraat van “Persis, ons geliefde, want sy het baie in die Here gearbei”.—Rom. 16:1, 12.
15. Watter rol speel vroue in die verspreiding van die Christelike godsdiens in ons tyd?
15 In ons tyd is ’n groot deel van die meer as sewemiljoen mense wat die goeie nuus van God se Koninkryk regoor die wêreld verkondig, vroue van alle ouderdomme (Matt. 24:14). Baie van hulle is voltydse bedienaars, sendelinge en lede van Bethelgesinne. Die psalmis Dawid het gesing: “Jehovah laat die woord hoor; die vroue wat die goeie nuus verkondig, is ’n groot leër” (Ps. 68:11). Hoe waar is hierdie woorde tog! Jehovah waardeer die rol wat vroue speel in die verkondiging van die goeie nuus en die uitvoering van sy voornemens. Sy vereiste dat Christenvroue onderdanig moet wees, beteken beslis nie stille onderworpenheid nie.
Twee vroue wat hulle mening gelug het
16, 17. Hoe toon Sara se voorbeeld dat vroue nie stille vennote in die huwelik moet wees nie?
16 Aangesien Jehovah baie voorregte aan vroue gee, behoort mans dan nie hulle vrou te raadpleeg voordat hulle ernstige besluite neem nie? Dit sou verstandig wees as hulle dit doen. Die Skrif noem verskeie gevalle waar vrouens hulle mening gelug of opgetree het selfs sonder dat hulle mans hulle daarvoor gevra het. Kom ons kyk na twee gevalle.
17 Sara, die vrou van die aartsvader Abraham, het vir hom bly sê dat hy sy byvrou en haar seun moes wegstuur weens hulle gebrek aan respek. “Die saak . . . het Abraham baie mishaag”—maar nie vir God nie. Jehovah het vir Abraham gesê: “Moenie dat enigiets wat Sara vir jou oor die seun en oor jou slavin bly sê, jou mishaag nie. Luister na haar stem” (Gen. 21:8-12). Abraham het Jehovah gehoorsaam, na Sara geluister en gedoen wat sy gevra het.
18. Hoe het Abigail die inisiatief geneem?
18 Dink ook aan Abigail, die vrou van Nabal. Toe Dawid van die jaloerse koning Saul af weggevlug het, het hy ’n tyd lank naby Nabal se kuddes gebly. Dawid en sy manskappe het niks geneem wat aan hierdie ryk man behoort het nie, maar het sy eiendom eerder beskerm. Maar Nabal “was hardvogtig en sleg in sy handelinge”, en hy het “teen [Dawid se manskappe] uitgevaar”. Hy was ’n “deugniet” en ‘verstandeloosheid was by hom’. Toe Dawid se manskappe respekvol vir kos gevra het, het Nabal geweier. Hoe het Abigail gereageer toe sy hoor wat gebeur het? Sonder om vir Nabal te sê, het sy “haar gehaas en tweehonderd brode en twee groot kruike wyn en vyf bereide skape en vyf sea geroosterde graan en honderd rosynekoeke en tweehonderd koeke van saamgeperste vye geneem” en dit vir Dawid en sy manskappe gegee. Het Abigail gedoen wat reg was? “Jehovah [het] Nabal getref, sodat hy gesterf het”, sê die Bybel. Dawid het later met Abigail getrou.—1 Sam. 25:3, 14-19, 23-25, 38-42.
‘Die vrou wat lof verwerf’
19, 20. Wat maak ’n vrou werklik lofwaardig?
19 Die Skrif prys die vrou wat dinge op Jehovah se manier doen. Die Bybelboek Spreuke praat met lof van “’n bekwame vrou” en sê: “Haar waarde is baie meer as dié van korale. In haar het die hart van haar eienaar vertroue gestel, en aan wins ontbreek dit nie. Sy het hom met die goeie beloon, en nie met kwaad nie, al die dae van haar lewe.” Ook “haar mond het sy in wysheid oopgemaak, en die wet van liefderyke goedhartigheid is op haar tong. Sy waak oor die werksaamhede van haar huisgesin, en die brood van luiheid eet sy nie. Haar seuns het opgestaan en haar gelukkig genoem; haar eienaar staan op, en hy prys haar.”—Spr. 31:10-12, 26-28.
20 Wat maak ’n vrou werklik lofwaardig? “Bekoorlikheid kan vals wees, en skoonheid kan nietig wees”, sê Spreuke 31:30, “maar die vrou wat Jehovah vrees, sy verwerf lof vir haarself.” Vrees vir Jehovah sluit bereidwillige onderdanigheid aan die goddelike hoofskapreëling in. “Die man is die hoof van die vrou”, net soos “die Christus die hoof . . . van elke man” en “God . . . die hoof van die Christus” is.—1 Kor. 11:3.
Wees dankbaar vir God se gawe
21, 22. (a) Watter redes het getroude Christene om dankbaar te wees vir God se gawe van die huwelik? (b) Waarom moet ons respek toon vir Jehovah se reëlings in verband met gesag en hoofskap? (Sien venster op bladsy 17.)
21 Getroude Christene het soveel redes om hulle dank teenoor God uit te spreek! Hulle kan as ’n gelukkige egpaar hand aan hand wandel. Hulle kan veral vir God se geseënde gawe van die huwelik dankbaar wees omdat dit hulle die geleentheid gee om hulle lewe saam te snoer en met Jehovah te wandel (Rut 1:9; Miga 6:8). Hy—die Insteller van die huwelik—weet presies wat nodig is vir huweliksgeluk. Doen altyd dinge op sy manier, en ‘die vreugde van Jehovah sal julle vesting wees’, selfs in vandag se wêreld vol probleme.—Neh. 8:10.
22 ’n Christenman wat sy vrou liefhet soos homself, sal sy hoofskap op ’n tere, bedagsame manier uitoefen. Hy sal sy godvresende vrou waarlik liefhê, want sy sal hom ondersteun en diep respek vir hom hê. Die heel belangrikste is dat hulle voorbeeldige huwelik ons lofwaardige God, Jehovah, tot eer sal strek.
Onthou jy?
• Wat is Jehovah se reëling in verband met hoofskap en onderdanigheid?
• Waarom moet huweliksmaats mekaar eer?
• Hoe moet ’n gelowige vrou haar ongelowige huweliksmaat behandel?
• Waarom moet mans hulle vrou raadpleeg voordat hulle ernstige besluite neem?
[Venster op bladsy 17]
Waarom moet ons respek toon vir gesag?
Jehovah het onder intelligente skepsele reëlings in verband met gesag en hoofskap ingestel. Dit is in belang van geesskepsele sowel as mense gedoen. Dit gee hulle geleenthede om hulle wilsvryheid te gebruik en God te eer deur hom op ’n verenigde, eensgesinde manier te dien.—Ps. 133:1.
Die gemeente van gesalfde Christene erken die gesag en hoofskap van Jesus Christus (Ef. 1:22, 23). Ter erkenning van Jehovah se gesag sal “die Seun self hom ook [uiteindelik] onderwerp aan die Een wat alles aan hom onderwerp het, sodat God alles vir elkeen kan wees” (1 Kor. 15:27, 28). Hoe gepas is dit dan tog dat mense wat aan God toegewy is, met die hoofskapreëling in die gemeente en in die gesin saamwerk! (1 Kor. 11:3; Heb. 13:17). Deur dit te doen, bevoordeel ons onsself omdat ons Jehovah se goedkeuring en seën ontvang.—Jes. 48:17.
[Prent op bladsy 13]
Gebed kan ’n Christenvrou help om godvrugtige eienskappe aan die dag te lê
[Prente op bladsy 15]
Jehovah waardeer die rol wat vroue daarin speel om Koninkryksbelange te bevorder