128ste Gileadgraduering
Sendelinge word gestuur om ‘dissipels te maak’
“SOMMIGE Christene sou bereid moes wees om hulle familie en hulle tuiste agter te laat om die goeie nuus in ’n vreemde land te gaan verkondig sodat al die nasies die goeie nuus kon hoor.” Met hierdie woorde het David Splane van die Bestuursliggaam van Jehovah se Getuies ’n opwindende geestelike geleentheid ingelei.
Op 13 Maart 2010 het bykans 8 000 mense vir die graduering van die 128ste klas van die Wagtoring-Bybelskool Gilead bymekaargekom. Vriende, familielede en gaste van 27 verskillende lande het die program bygewoon.
‘Die dissipels kon nie net by die huis bly nie’
As voorsitter het broer Splane die program ingelei met ’n bespreking van Jesus se bevel: “Gaan dus en maak dissipels van mense van al die nasies” (Matteus 28:19, 20). Hy het beklemtoon dat Jesus sy dissipels na die mense gestuur het. Dit is wel so dat mense van Mesopotamië, Noord-Afrika en baie dele van die Romeinse Ryk op Pinkster 33 HJ na Jerusalem gekom het en die goeie nuus gehoor het. Maar “die dissipels kon nie net by die huis bly en wag dat mense van al die nasies na hulle toe kom nie”, het die spreker gesê. “Hulle moes na die mees afgeleë deel van die aarde gaan om die mense te vind”.—Handelinge 1:8.
“Jesus het nie net vir sy dissipels gesê wat om te doen nie”, het broer Splane gesê. “Hy het hulle geleer hoe om dit te doen. Hy het nie net vir hulle gesê om te bid nie; hy het hulle geleer hoe om te bid. Hy het nie vir hulle gesê om te gaan preek nie; hy het hulle gewys hoe om te preek. Hy het nie net vir hulle gesê om goeie onderrigters te wees nie; hy het hulle gewys hoe om goeie, doeltreffende onderrigmetodes te gebruik.”
Die voorsitter het die ouers van die graduerende studente toegespreek en Jesus se versekering aan sy dissipels aangehaal: “Kyk! ek is met julle al die dae tot aan die voleinding van die stelsel van dinge” (Matteus 28:20). Broer Splane het die gehoor verseker dat Jesus sou voortgaan om na die studente om te sien wanneer hulle in hulle buitelandse toewysings dien.
“Gaan voort! Spog gerus.”
Anthony Morris van die Bestuursliggaam het die klas aangemoedig: “Gaan voort! Spog gerus.” Hy het gesê dat daar gepaste en ongepaste dinge is om oor te spog. Om op ongepaste wyse te spog, beteken dat ons onsself verheerlik. In 1 Korintiërs 1:31 word daar beskryf hoe om op gepaste wyse te spog: “Hy wat roem, laat hom in Jehovah roem.” Broer Morris het gesê: “Dit is iets waaroor ’n mens kan spog—om insig en kennis van Jehovah God te hê. Trouens, jou grootste voorreg—en myne—is om daardie heilige naam te dra, om een van Jehovah se Getuies te wees.”—Jeremia 9:24.
Toe het die spreker die belangrikheid daarvan beklemtoon om Jehovah se naam bekend te maak deur die ondervinding van ’n sendeling in Afrika te vertel. Die sendeling, vergesel van sy vrou, was op pad om ’n Bybeltoespraak te gaan hou. By ’n kontrolepunt het ’n jong soldaat ’n vuurwapen op die broer gerig en gevra wie hy is. Sy vrou, wat haar Gileadopleiding onthou het, het oorgeleun en vir hom gefluister: “Sê vir hom jy is een van Jehovah se Getuies en jy is op pad om ’n Bybeltoespraak te gaan hou.” Hy het haar raad gevolg, en hulle is toegelaat om deur die kontrolepunt te gaan. Die volgende dag het die egpaar op die radio gehoor dat die president vir sy soldate gesê het om op die uitkyk te wees vir sluipmoordenaars wat hulle as sendelinge voordoen! Deur hulle te identifiseer as Jehovah se Getuies eerder as te sê dat hulle sendelinge is, is die egpaar groot hartseer gespaar. Broer Morris het sy toespraak afgesluit met die woorde: “Wanneer julle in julle toewysing aankom, gaan voort en spog gerus. Spog oor alles wat Jehovah gaan vermag terwyl hy julle tot sy ewige verheerliking gebruik.”
“Sal jy jou opdrag uitvoer?”
Geoffrey Jackson, ’n lid van die Bestuursliggaam en ’n voormalige sendeling, het die studente gehelp om oor die vraag hierbo na te dink. Hy het gevra: “Wat bedoel ons wanneer ons sê dat iemand ’n sendeling is?” Hy het verduidelik dat die woord “sendeling” afkomstig is van ’n Latynse uitdrukking wat na ’n persoon of groep verwys wat ’n spesiale toewysing ontvang het. As Jehovah se Getuies is ons opdrag om die goeie nuus te verkondig en om ander geestelik te help. Ons doen hierdie werk in navolging van Jesus Christus, wat sy toewysing op die aarde altyd duidelik voor oë gehou het. Aan die Romeinse goewerneur Pontius Pilatus het Jesus gesê: “Hiervoor het ek in die wêreld ingekom, om van die waarheid te getuig.”—Johannes 18:37.
Die spreker het die klas gehelp om na te dink oor die Bybelverslag van die slag by Jerigo. Die Israelitiese krygsmanne het ses dae lank vroeg in die oggend opgestaan, hulle wapenrusting aangetrek, om Jerigo getrek en dan maar weer huis toe gegaan. “Uit ’n menslike oogpunt”, het die spreker gesê, “het hulle opdrag irrasioneel en vreemd gelyk.” Hy het gesê dat party soldate dalk gedink het: ‘Wat ’n vermorsing van tyd.’ Maar op die sewende dag is die Israeliete beveel om sewe keer om die stad te loop, waarna hulle ’n groot oorlogskreet moes aanhef. Die gevolg? Jerigo se mure het inmekaargestort!—Josua 6:13-15, 20.
Broer Jackson het vier lesse uit die verslag van Jerigo uitgelig. (1) Gehoorsaamheid is noodsaaklik. Ons moet dinge op Jehovah se manier doen en nie voel dat ons manier beter is nie. (2) Geloof en vertroue in Jehovah is lewensbelangrik. “Deur geloof het die mure van Jerigo geval”, nie deur die gebruik van stormramme nie (Hebreërs 11:30). (3) Ons moet geduldig wees. Ná verloop van tyd sal Jehovah se seën “jou inhaal” (Deuteronomium 28:2). (4) Moenie moed opgee nie. Moet nooit van jou opdrag vergeet nie. Broer Jackson het sy bespreking opgesom deur te sê: “As julle hierdie punte in gedagte hou, sal julle julle opdrag tot eer en verheerliking van Jehovah uitvoer.”
Ander glanspunte van die program
“Wees lief vir die Bybel en sy Outeur.” Dit was die tema wat ontwikkel is deur Maxwell Lloyd, ’n lid van die Verenigde State se Takkomitee. Hy het vir die klas gesê: “Die Bybel moet vir jou ’n lewende boek wees.” Toe het hy hulle die volgende aanmoediging gegee: Moet nooit toelaat dat jou liefde vir Jehovah God stagneer nie. Moenie net aanneem dat almal verstaan wat jy hulle leer nie. Leer om Bybelwaarhede te vereenvoudig om die materiaal in jou studente se harte in te skerp. Wees nederig. Moenie die indruk skep dat jy verhewe kennis het nie. Leer ander deur jou voorbeeld. Mag jou studente ’n diep liefde vir die Bybel in jou sien.
‘Let goed op die rawe.’ Michael Burnett, ’n klasinstrukteur en voormalige sendeling, het die toespraak met die bogenoemde titel gehou. Hy het gesê dat ons met tye angstig sal voel. Maar onthou Jesus se raad: “Let goed daarop dat die rawe nie saad saai of oes nie, . . . en tog voed God hulle” (Lukas 12:24). Volgens die Wetsverbond was rawe onrein, nie geskik om geëet te word nie. Hulle moes as ’n gruwel beskou word (Levitikus 11:13, 15). Nogtans voed God hulle. “As jy dus in die toekoms baie angstig voel”, het broer Burnett gesê, “dink aan die raaf. As God sorg vir ’n onrein, gruwelike voël, hoeveel te meer sal hy sorg vir jou wat rein is in sy oë.”
“Ek doen jou geen onreg aan nie.” Mark Noumair, nog ’n Gileadinstrukteur, het almal in die gehoor gehelp om Jesus se illustrasie oor die werkers in die wingerd te ondersoek. Party werkers het die hele dag geswoeg. Ander het net ’n uur lank gewerk. Maar hulle het almal dieselfde loon ontvang! Dié wat langer gewerk het, het begin murmureer. Aan dié wat gekla het, het die heer van die wingerd gesê: “Ek doen jou geen onreg aan nie. Jy het met my ooreengekom vir ’n denarius, nie waar nie? Neem wat joune is en gaan” (Matteus 20:13, 14). Die les? Moet jou nie met ander vergelyk nie. “Negatiewe vergelykings sal jou net van jou vreugde beroof”, het broer Noumair gesê. “Nog erger, dit kan veroorsaak dat jy jou toewysing verlaat en sodoende ’n kosbare diensvoorreg prysgee.” Die spreker het die klas daaraan herinner dat Jesus in ons dag die geestelike oes rig en dat hy met sy volgelinge kan doen wat hy wil. As Jehovah en Jesus besluit om iets ekstra vir ander te doen, doen hulle jou geen onreg aan nie. Konsentreer op wat joune is, en moet nooit toelaat dat ander se “loon” jou aflei van die werk wat Jehovah jou gegee het om te doen nie.
Ondervindinge en onderhoude
Wanneer die Gileadstudente nie in die klas is of huiswerk doen nie, neem hulle saam met die plaaslike gemeentes van Jehovah se Getuies aan die openbare predikingswerk deel. Sam Roberson, een van die Gileadinstrukteurs, het met ’n aantal studente onderhoude gevoer oor hulle ondervindinge. Suster Alessandra Kirchler het byvoorbeeld ’n vrou ontmoet wat baie bekommerd was oor haar seun se rookgewoonte. Alessandra het later teruggegaan met ’n Ontwaak!-artikel oor die onderwerp. Niemand was tuis nie, maar sy het die artikel in elk geval daar gelaat. Alessandra het die vrou uiteindelik tuis gevind en is ingenooi. Die vrou het die artikel waardeer en het gesê: “Ek het al dikwels gewonder wat God my probeer leer deur al die beproewinge wat hy oor my bring.” Alessandra het haar uit die Bybel gewys dat God nie die oorsaak is van die slegte dinge wat met ons gebeur nie (Jakobus 1:13). Nou geniet die vrou sowel as haar seun ’n Bybelstudie.
Melvin Jones van die Diensafdeling het onderhoude gevoer met drie voormalige Gileadgegradueerdes: Jon Sommerud, wat in Albanië dien; Mark Anderson, wat in Kenia dien; en James Hinderer, wat in die Teokratiese Skole-afdeling dien. Al drie het saamgestem dat Gilead die studente nie net basiese Bybelwaarhede leer nie, maar hulle ook leer hoe om daardie waarhede toe te pas, ongeag wie die studente is of waar hulle dien.
Toe het een van die studente ’n hartroerende brief gelees waarin die klas hulle waardering uitgespreek het. John Barr, 96, die oudste lid van die Bestuursliggaam, het die program met ’n gebed afgesluit en Jehovah gevra om die werk van die 128ste klas van Gilead te seën.
[Tabel/Kaart op bladsy 31]
KLASSTATISTIEK
8 lande verteenwoordig
54 studente
27 egpare
35,2 gemiddelde ouderdom
19,1 gemiddelde jare gedoop
13,8 gemiddelde jare in die voltydse bediening
[Kaart]
(Sien publikasie vir oorspronklike teksuitleg)
Die klas is na die 25 lande hieronder gestuur:
SENDINGTOEWYSINGS
HONDURAS
GUATEMALA
NICARAGUA
DOMINIKAANSE REPUBLIEK
ARUBA
GUYANA
ECUADOR
BOLIVIA
PARAGUAY
LETLAND
ROEMENIË
KOSOVO
SERWIË
ALBANIË
GUINEE
LIBERIË
IVOORKUS
GHANA
NAMIBIË
RWANDA
MADAGASKAR
MONGOLIË
TAIWAN
KAMBODJA
INDONESIË
(TOEWYSING ONDER DIE AUSTRALIESE TAKKANTOOR)
[Prent op bladsy 30]
Gileadstudente demonstreer een van hulle velddiensondervindinge
[Prent op bladsy 31]
128ste Gradueringsklas van die Wagtoring-Bybelskool Gilead
In die lys hieronder word die rye van voor na agter genommer en word die name van links na regs in elke ry aangegee.
(1) Keller, E.; Ostopowich, I.; Jacobsen, S.; Arias, M.; Dieckmann, Y.; Tanaka, J.; Harada, K.
(2) Camacho, L.; Kirchler, A.; Rodríguez, S.; Ward, B.; Trenalone, K.; Victoria, V.; Oxley, F.; Ngoejen, K.
(3) Oxley, O.; De Dios, A.; Lindström, C.; Allen, J.; Meads, T.; Waddington, J.; Victoria, E.
(4) Harada, H.; Lindström, A.; Orsini, E.; Logue, D.; Missud, T.; Bergeron, S.; Camacho, G.; Ward, T.
(5) Kirchler, W.; Ngoejen, H.; Kremer, E.; Burgaud, C.; Titmas, N.; De Dios, C.; Rodríguez, A.; Waddington, M.
(6) Dieckmann, J.; Allen, C.; Titmas, R.; Arias, J.; Bergeron, E.; Keller, J.; Ostopowich, F.; Burgaud, F.
(7) Tanaka, K.; Kremer, J.; Jacobsen, R.; Trenalone, J.; Logue, J.; Meads, D.; Missud, D.; Orsini, A.