God beveel sy liefde by ons aan
“Onverdiende goedhartigheid [sal] as koning . . . heers deur middel van regverdigheid met die ewige lewe in die vooruitsig.”—ROM. 5:21.
1, 2. Watter twee gawes word genoem, en watter een is die grootste?
“DIE Romeine se grootste . . . nalatenskap aan dié wat ná hulle gekom het, [was] hulle wet en hulle opvatting dat daar volgens wet gelewe moet word” (Dr. David J. Williams van die Universiteit van Melbourne, Australië). Hoe waar dit ook al mag wees, daar is ’n nalatenskap of gawe wat baie waardevoller is. Hierdie gawe is ’n godgegewe middel waardeur mense ’n goedgekeurde en regverdige posisie voor God en die vooruitsig op redding en die ewige lewe kan verkry.
2 In sekere sin was daar regsaspekte verbonde aan hoe God hierdie gawe beskikbaar gestel het. In Romeine hoofstuk 5 het die apostel Paulus hierdie aspekte nie as ’n droë, wettiese verhandeling aangebied nie. Hy het eerder met hierdie opwindende versekering begin: “Laat ons . . . , [aangesien] ons regverdig verklaar is as gevolg van geloof, vrede geniet met God deur ons Here Jesus Christus.” Diegene wat God se gawe ontvang, word beweeg om sy liefde te beantwoord. Dit was die geval met Paulus. Hy het geskryf: “Die liefde van God [is] in ons harte uitgestort . . . deur middel van die heilige gees.”—Rom. 5:1, 5.
3. Watter vrae ontstaan logieserwys?
3 Maar waarom was hierdie liefdevolle gawe nodig? Hoe kon God dit op ’n regverdige, onpartydige manier aanbied? En wat moet mense doen om hiervoor te kwalifiseer? Laat ons die bevredigende antwoorde vind en sien hoe dit God se liefde benadruk.
God se liefde versus sonde
4, 5. (a) Op watter wonderlike manier het Jehovah sy liefde geopenbaar? (b) Watter agtergrondkennis stel ons in staat om Romeine 5:12 te verstaan?
4 In ’n daad van groot liefde het Jehovah sy enigverwekte Seun gestuur om die mens te help. Paulus het dit soos volg gestel: “Hierin beveel God sy eie liefde by ons aan, dat Christus vir ons gesterf het terwyl ons nog sondaars was” (Rom. 5:8). Dink aan een feit wat hier genoem word: “Terwyl ons nog sondaars was.” Almal moet weet waarom dit die geval was.
5 Paulus het die saak verduidelik deur met hierdie punt te begin: “Net soos deur een mens die sonde in die wêreld ingekom het en die dood deur die sonde en die dood só tot alle mense deurgedring het omdat hulle almal gesondig het” (Rom. 5:12). Ons kan dit verstaan omdat God ’n verslag laat opteken het van hoe menselewe begin het. Jehovah het twee mense, Adam en Eva, geskep. Die Skepper is volmaak, en hierdie eerste twee mense, ons voorouers, was ook. God het hulle net een beperkende opdrag gegee en vir hulle gesê dat ongehoorsaamheid aan hierdie wet tot ’n doodsvonnis sou lei (Gen. 2:17). Maar hulle het gekies om verderflik te handel deur in stryd met God se redelike opdrag op te tree en het hom sodoende as Wetgewer en Soewerein verwerp.—Deut. 32:4, 5.
6. (a) Waarom het Adam se nakomelinge gesterf voordat God die Mosaïese Wet gegee het sowel as daarna? (b) Wat kan deur ’n siekte soos hemofilie toegelig word?
6 Adam het eers nadat hy gesondig het, kinders verwek en het dus sonde en die gevolge daarvan aan hulle almal oorgedra. Hulle het natuurlik nie God se wet oortree soos Adam nie, en daarom is hulle nie van dieselfde sonde aangekla nie; ook was geen regskode nog gegee nie (Gen. 2:17). Adam se nakomelinge het nietemin sonde geërf. Sonde en die dood het dus geheers tot die tyd dat God vir die Israeliete ’n regskode gegee het, wat duidelik getoon het dat hulle sondaars is. (Lees Romeine 5:13, 14.) Die gevolg van oorgeërfde sonde kan toegelig word met sekere oorgeërfde siektes of gebreke, soos Middellandse See-anemie of hemofilie. Jy het dalk al gelees dat Aleksei, die seun van die Russiese tsaar Nikolaas II en Aleksandra, die bloeiersiekte hemofilie geërf het. Toegegee, selfs in sulke families ly party kinders nie aan hierdie siektes nie, maar hulle kan nog steeds draers wees. Dit is nie die geval met sonde nie. Die gebrek sonde wat van Adam afkomstig is, is onvermydelik. Almal word daardeur geraak. Dit is altyd noodlottig. En dit word aan alle kinders oorgedra. Kan hierdie netelige situasie ooit te bowe gekom word?
Wat God deur middel van Jesus Christus voorsien het
7, 8. Hoe het die lewensweg van twee volmaakte mense verskillende resultate gehad?
7 Jehovah het liefdevol ’n voorsiening gemaak sodat mense oorgeërfde sonde te bowe kan kom. Paulus het verduidelik dat dit moontlik gemaak is deur middel van ’n ander mens, ’n latere volmaakte mens—as ’t ware ’n tweede Adam (1 Kor. 15:45). Maar die lewensweg van hierdie twee volmaakte mense het heeltemal verskillende resultate gehad. Hoe so?—Lees Romeine 5:15, 16.
8 “Dit is met die gawe nie soos dit met die oortreding was nie”, het Paulus geskryf. Adam was skuldig aan hierdie oortreding, en hy het tereg ’n ongunstige oordeel ontvang—hy het gesterf. Maar hy was nie die enigste een wat gesterf het nie. Ons lees dat “baie deur [hierdie] een mens se oortreding gesterf het”. Die regverdige oordeel oor Adam het vereis dat al sy onvolmaakte nakomelinge, insluitende ons, ook sterf. Ons kan nietemin troos put uit die wete dat die volmaakte mens Jesus die teenoorgestelde resultaat kon meebring. Watter resultaat? Ons vind die antwoord in Paulus se vermelding van ’n “regverdigverklaring [van alle soorte mense] vir die lewe”.—Rom. 5:18.
9. Wat het God gedoen deur mense regverdig te verklaar, soos gemeld word in Romeine 5:16, 18?
9 Wat is die grondbetekenis van die Griekse woorde waaruit die term “regverdigverklaring” bestaan? ’n Bybelvertaler het die volgende oor hierdie begrip geskryf: “Dit is ’n regsmetafoor wat ’n kwasiregspunt stel. Dit verwys na ’n verandering in ’n persoon se posisie in verhouding tot God, nie na ’n innerlike verandering in die persoon nie . . . Die metafoor beeld God uit as die regter wat ’n beslissing geneem het ten gunste van die beskuldigde, wat as ’t ware voor God se hof gebring is op ’n aanklag van onregverdigheid. Maar God spreek die beskuldigde vry.”
10. Wat het Jesus gedoen wat die grondslag voorsien het sodat mense regverdig verklaar kan word?
10 Op grond waarvan kon die regverdige “Regter van die hele aarde” ’n onregverdige persoon vryspreek? (Gen. 18:25). God het die grondslag gelê deur uit liefde sy enigverwekte Seun na die aarde te stuur. Jesus het sy Vader se wil volmaak gedoen, ondanks versoekings, uitermatige bespotting en mishandeling. Hy het sy onkreukbaarheid gehandhaaf selfs al moes hy aan ’n folterpaal sterf (Heb. 2:10). Deur sy volmaakte menselewe op te offer, het Jesus ’n losprys aangebied wat Adam se nakomelinge van sonde en die dood kan bevry, of loskoop.—Matt. 20:28; Rom. 5:6-8.
11. Op watter ooreenstemming is die losprys gegrond?
11 Elders het Paulus dit “’n ooreenstemmende losprys” genoem (1 Tim. 2:6). Waarmee het dit ooreengestem? Adam het onvolmaaktheid en die dood oor sy miljarde nakomelinge gebring. Dit is waar dat Jesus, as ’n volmaakte mens, die vader van miljarde volmaakte nakomelinge kon gewees het.a Gevolglik is daar gedink dat Jesus se lewe tesame met dié van al sy potensiële volmaakte nakomelinge ’n offerande uitgemaak het wat gelyk was aan dié van Adam en sy onvolmaakte nakomelinge. Maar die Bybel sê nie dat enige potensiële nakomelinge van Jesus deel van die losprys uitgemaak het nie. Romeine 5:15-19 sê dat die dood van net “een mens” die bevryding voorsien het. Ja, Jesus se volmaakte lewe het ooreengestem met dié van Adam. Die fokus is en hoort op Jesus Christus alleen. Dit het vir alle soorte mense moontlik geword om die vrye gawe en lewe te ontvang danksy Jesus se “een daad van regverdiging”, sy weg van gehoorsaamheid en onkreukbaarheid selfs tot in die dood (2 Kor. 5:14, 15; 1 Pet. 3:18). Hoe is hierdie voorsiening moontlik gemaak?
Vryspreking op grond van die losprys
12, 13. Waarom het dié wat regverdig verklaar word, God se barmhartigheid en liefde nodig?
12 Jehovah God het die losprysoffer aanvaar wat sy Seun gebring het (Heb. 9:24; 10:10, 12). Jesus se dissipels op aarde, insluitende sy getroue apostels, het nietemin onvolmaak gebly. Hoewel hulle daarna gestreef het om nie verkeerd te doen nie, het hulle nie altyd daarin geslaag nie. Waarom nie? Omdat hulle sonde geërf het (Rom. 7:18-20). Maar God kon en het wel iets hieromtrent gedoen. Hy het die “ooreenstemmende losprys” aanvaar en was bereid om dit ten behoewe van sy menseknegte aan te wend.
13 God was dit nie aan die apostels en ander verskuldig om die losprys aan te wend omdat hulle goeie werke verrig het nie. God het eerder die losprys ten behoewe van hulle aangewend weens sy barmhartigheid en groot liefde. Hy het gekies om die apostels en ander vry te spreek van die oordeel teen hulle en hulle sodoende te beskou as vrygespreek van oorgeërfde skuld. Paulus het dit duidelik gestel: “Deur hierdie onverdiende goedhartigheid is julle deur middel van geloof gered; en dit is nie aan julle te danke nie, dit is God se gawe.”—Ef. 2:8.
14, 15. Watter beloning is voorgehou aan dié wat deur God regverdig verklaar is, maar wat moes hulle nog steeds doen?
14 Dink net wat ’n gawe dit is dat die Almagtige die sonde wat ’n persoon geërf het sowel as die verkeerde dinge wat hy gedoen het, vergewe! Jy kan nie tel hoeveel sondes mense gepleeg het voordat hulle Christene geword het nie, maar God kan hierdie sondes op grond van die losprys vergewe. Paulus het geskryf: “Die gawe het uit baie oortredings tot ’n regverdigverklaring gelei” (Rom. 5:16). Die apostels en ander wat hierdie liefdevolle gawe (om regverdig verklaar te word) ontvang het, sou moes voortgaan om die ware God in geloof te aanbid. Met watter toekomstige beloning? “Dié wat die oorvloed van die onverdiende goedhartigheid en van die vrye gawe van regverdigheid ontvang, [sal] in die lewe as konings heers deur middel van die een persoon, Jesus Christus.” Ja, die gawe van regverdigheid het die teenoorgestelde uitwerking as Adam se oortreding. Dié gawe het lewe tot gevolg.—Rom. 5:17; lees Lukas 22:28-30.
15 Dié wat hierdie gawe om regverdig verklaar te word, ontvang, word God se geestelike seuns. As mede-erfgename met Christus het hulle die vooruitsig om as geesseuns tot hemelse lewe opgewek te word om saam met Jesus Christus “as konings [te] heers”.—Lees Romeine 8:15-17, 23.
God se liefde word aan ander geopenbaar
16. Hoe kan dié met ’n aardse hoop ’n gawe ontvang?
16 Nie almal wat geloof beoefen en God as lojale Christene dien, verwag om saam met Christus in die hemel ‘as konings te heers’ nie. Baie het ’n Bybelse hoop soortgelyk aan dié van God se voor-Christelike knegte. Hulle hoop om vir ewig op ’n paradysaarde te lewe. Kan hulle nou reeds ’n liefdevolle gawe van God ontvang en as regverdig beskou word met aardse lewe in die vooruitsig? Op grond van wat Paulus aan die Romeine geskryf het, is die gerusstellende antwoord ja!
17, 18. (a) Hoe het God Abraham op grond van sy geloof beskou? (b) Waarom kon Jehovah Abraham as regverdig beskou?
17 Paulus het ’n treffende voorbeeld bespreek, naamlik Abraham, ’n man van geloof wat gelewe het voordat Jehovah ’n regskode aan Israel gegee het en lank voordat Christus die weg gebaan het vir hemelse lewe (Heb. 10:19, 20). Ons lees: “Dit was nie deur middel van die wet dat Abraham of sy saad die belofte gehad het dat hy die erfgenaam van ’n wêreld sou wees nie, maar deur middel van die regverdigheid deur geloof” (Rom. 4:13; Jak. 2:23, 24). God het getroue Abraham dus as regverdig beskou.—Lees Romeine 4:20-22.
18 Dit kan nie beteken dat Abraham sondeloos was terwyl hy Jehovah dekades lank gedien het nie. Nee, hy was nie regverdig in hierdie sin nie (Rom. 3:10, 23). Maar in sy oneindige wysheid het Jehovah Abraham se uitsonderlike geloof en sy werke as gevolg daarvan in ag geneem. Abraham het in die besonder geloof beoefen in die beloofde “saad” wat in sy geslagslyn sou kom. Hierdie Saad was die Messias, of Christus (Gen. 15:6; 22:15-18). Gevolglik kan die goddelike Regter sondes wat in die verlede gepleeg is, vergewe op grond van “die losprys wat deur Christus Jesus betaal is”. Abraham en ander manne van geloof in voor-Christelike tye het dus die hoop op ’n opstanding.—Lees Romeine 3:24, 25; Ps. 32:1, 2.
Geniet nou ’n regverdige posisie
19. Waarom moet God se beskouing van Abraham vandag vir baie bemoedigend wees?
19 Die feit dat die God van liefde Abraham as regverdig beskou het, moet vir ware Christene van vandag bemoedigend wees. Jehovah het hom nie regverdig verklaar in dieselfde sin as dié wat hy met gees salf om “mede-erfgename met Christus” te wees nie. Die beperkte aantal lede van hierdie groep word “geroep om heiliges te wees” en word as “God se kinders” aanvaar (Rom. 1:7; 8:14, 17, 33). Abraham daarenteen het “Jehovah se vriend” geword—en dit was voordat die losprysoffer gebring is (Jak. 2:23; Jes. 41:8). Wat dan van ware Christene wat hoop om in die herstelde aardse Paradys te lewe?
20. Wat verwag God van dié wat hy vandag as regverdig beskou, soos met Abraham die geval was?
20 Hulle het nie “die vrye gawe van regverdigheid” ontvang met hemelse lewe in die vooruitsig “op grond van die bevryding deur die losprys wat deur Christus Jesus betaal is” nie (Rom. 3:24; 5:15, 17). Hulle beoefen nietemin diep geloof in God en sy voorsienings, en hulle openbaar hulle geloof deur goeie werke. Een van hierdie werke is om ‘die koninkryk van God te verkondig en die dinge aangaande die Here Jesus Christus aan ander te leer’ (Hand. 28:31). Jehovah kan hulle dus as regverdig beskou in dieselfde sin as Abraham. Die gawe wat hulle ontvang—vriendskap met God—verskil van “die vrye gawe” wat die gesalfdes ontvang. Maar dit is beslis ’n gawe wat hulle met innige dankbaarheid aanvaar.
21. Watter voordele is beskikbaar danksy Jehovah se liefde en geregtigheid?
21 As jy hoop om ewige lewe op die aarde te geniet, moet jy besef dat hierdie vooruitsig nie berus op ’n menseheerser se willekeurige handeling nie. Dit is eerder gegrond op die wyse voorneme van die Universele Soewerein. Jehovah het progressiewe stappe gedoen om sy voorneme te verwesenlik. Hierdie stappe was in ooreenstemming met ware geregtigheid. Wat meer is, dit het God se groot liefde weerspieël. Paulus kon tereg sê: “Hierin beveel God sy eie liefde by ons aan, dat Christus vir ons gesterf het terwyl ons nog sondaars was.”—Rom. 5:8.
[Voetnoot]
a Hierdie beskouing met betrekking tot nakomelinge is byvoorbeeld ingesluit in Insight on the Scriptures, Deel 2, bladsy 736, paragrawe 4 en 5.
Onthou jy?
• Wat het Adam se nakomelinge geërf, en met watter gevolg?
• Hoe is ’n ooreenstemmende losprys voorsien, en in watter sin was daar ’n ooreenstemming?
• Watter vooruitsig bied die gawe van regverdigverklaring jou?
[Prent op bladsy 13]
Die volmaakte mens Adam het gesondig. Die volmaakte mens Jesus het “’n ooreenstemmende losprys” aangebied
[Prent op bladsy 15]
Watter goeie nuus tog—deur Jesus kan ons regverdig verklaar word!