Leer uit ‘die raamwerk van die waarheid’
“[Julle het] die raamwerk van die kennis en van die waarheid in die Wet.”—ROM. 2:20.
1. Waarom moet ons daarin belangstel om die betekenis van die Mosaïese Wet te verstaan?
AS ONS nie die geïnspireerde geskrifte van die apostel Paulus gehad het nie, sou dit vir ons moeilik gewees het om die betekenis van baie aspekte van die Mosaïese Wet te verstaan. In sy brief aan die Hebreërs verduidelik hy byvoorbeeld hoe Jesus as ’n “getroue hoëpriester” eens en vir altyd ’n “soenoffer” kon bring, wat dit vir diegene wat geloof daarin beoefen, moontlik maak om “’n ewige verlossing” te verkry (Heb. 2:17; 9:11, 12). Paulus het verduidelik dat die tabernakel net “’n skaduwee van die hemelse dinge” was en dat Jesus die Middelaar geword het van “’n beter verbond” as die een waarvan Moses die middelaar was (Heb. 7:22; 8:1-5). In Paulus se dag was hierdie verduidelikings van die Wet vir Christene van onskatbare waarde, en dit is nog steeds die geval. Dit help ons om ’n beter begrip te verkry van hoe waardevol die voorsienings is wat God vir ons gemaak het.
2. Watter voordeel het Joodse Christene bo nie-Jode gehad?
2 Toe Paulus aan Christene in Rome geskryf het, het hy party van sy opmerkings aan gemeentelede gerig wat van Joodse afkoms was en wat in die Mosaïese Wet onderrig is. Hy het erken dat hulle, weens hulle vertroudheid met hierdie goddelike Wet, die voordeel gehad het om ’n “raamwerk van die kennis en van die waarheid” aangaande Jehovah en sy regverdige beginsels te hê. ’n Begrip van hierdie ‘raamwerk van die waarheid’ en ’n hartgrondige respek daarvoor het Joodse Christene, soos getroue Jode voor hulle, in staat gestel om diegene wat onkundig was omtrent die Wet wat Jehovah aan sy volk gegee het, te rig, te leer en te verlig.—Lees Romeine 2:17-20.
’N SKADUWEE VAN JESUS SE OFFERANDE
3. Hoe vind ons baat by ’n studie van Joodse offerandes in die ou tyd?
3 Die raamwerk van die waarheid waarna Paulus verwys het, is nog steeds belangrik as ons Jehovah se voornemens wil verstaan. Die beginsels agter die Mosaïese Wet is geensins minder betekenisvol of waardevol nie. Met dit in gedagte gaan ons net een aspek van hierdie Wet bespreek—hoe verskillende offerandes en offergawes nederige Jode na Christus gelei het en hulle gehelp het om te verstaan wat God van hulle vereis. En aangesien Jehovah se basiese vereistes vir sy knegte nooit verander nie, sal ons ook sien dat God se wette aan die Israeliete aangaande offerandes en offergawes ons kan help om die gehalte van ons heilige diens te ontleed.—Mal. 3:6.
4, 5. (a) Waaraan het die Mosaïese Wet God se volk herinner? (b) Waarna het God se wet aangaande offerandes vooruitgewys?
4 Dit moes ongetwyfeld vir die eertydse Jode voor die hand liggend gewees het dat baie aspekte van die Mosaïese Wet hulle sondigheid beklemtoon het. Byvoorbeeld, enigiemand wat aan die lyk van ’n mens geraak het, moes reiniging ondergaan. Met dié doel moes ’n rooi koei sonder gebrek geslag en verbrand word. Die as daarvan is bewaar om “reinigingswater” te maak, wat op die derde en die sewende dag ná die besmetting gesprinkel is op die persoon wat gereinig word (Num. 19:1-13). En as ’n herinnering dat menslike voortplanting onvolmaaktheid en sonde oordra, moes ’n vrou wat geboorte gegee het, ’n tydperk van onreinheid onderhou, waarna sy versoening moes doen deur middel van ’n offerande.—Lev. 12:1-8.
5 Diereoffers moes in baie ander situasies in die daaglikse lewe gebring word om vir sondes versoening te doen. Of die aanbidder dit besef het of nie, hierdie offerandes—en dié wat later by Jehovah se tempel gebring is—was “’n skaduwee” van Jesus se volmaakte offerande.—Heb. 10:1-10.
DIE GESINDHEID AGTER DIE OFFERANDE
6, 7. (a) Watter oorwegings het die Israeliete gerig in hulle keuse van offerandes, en wat het dit voorafgeskadu? (b) Watter vrae kan ons ons afvra?
6 ’n Basiese vereiste in verband met enige dier wat aan Jehovah geoffer sou word, was dat dit in alle opsigte “sonder gebrek” moes wees—nie blind, beseer, gebreklik of siek nie (Lev. 22:20-22). Wanneer die Israeliete vrugte of graan aan Jehovah geoffer het, moes dit die “eerstelinge”, “die allerbeste” van hulle oes wees (Num. 18:12, 29). ’n Minderwaardige offer was nie vir Jehovah aanneemlik nie. Dié belangrike vereiste aangaande diereoffers het afgebeeld dat Jesus se offerande vlekkeloos en smetloos sou wees en dat Jehovah sou opoffer wat die beste en kosbaarste vir hom is, om die mensdom los te koop.—1 Pet. 1:18, 19.
7 As die persoon wat ’n offerande bring, werklik dankbaar was teenoor Jehovah vir al Sy goedheid, sou hy dan nie met graagte die allerbeste wat hy besit het, gekies het nie? Die gehalte van die offer is aan die persoon oorgelaat. Maar hy het geweet dat ’n offer wat gebrekkig is, God nie sou behaag nie omdat dit sou aandui dat die man die offerande as ’n blote formaliteit, selfs as ’n las, beskou. (Lees Maleagi 1:6-8, 13.) Dit moet ons laat nadink oor ons diens aan God: ‘Met watter gesindheid dien ek Jehovah? Is dit dalk vir my gepas om weer te kyk na die gehalte van my diens en die beweegredes vir my diens aan hom?’
8, 9. Waarom moet ons let op die gesindheid waarmee die Israeliete hulle offerandes gebring het?
8 As ’n Israeliet se offerande ’n vrywillige blyk van opregte dankbaarheid teenoor Jehovah was of, soos in die geval van ’n brandoffer, ’n versoek om sy goedkeuring was, sou die gepaste keuse van ’n dier waarskynlik nie moeilik gewees het nie. Die aanbidder sou met graagte sy allerbeste aan Jehovah gegee het. Hedendaagse Christene bring nie die letterlike offerandes wat deur die Mosaïese Wet voorgeskryf is nie, maar hulle bring wel offerandes, in die sin dat hulle hulle tyd, energie en middele gebruik om Jehovah te dien. Om die Christelike hoop “in die openbaar bekend [te] maak” en “om goed te doen en mededeelsaam te wees”, is volgens die apostel Paulus offerandes wat God behaag (Heb. 13:15, 16). Die gesindheid waarmee Jehovah se volk hierdie dinge doen, openbaar hoe dankbaar hulle is vir alles wat God aan hulle gegee het en in watter mate hulle dit waardeer. Daar is dus ’n parallel tussen die gesindhede en beweegredes van dié wat vandag Christelike diens verrig en dié wat in die ou tyd vrywillige offerandes gebring het.
9 Maar wat kan gesê word oor ’n situasie waarin die Mosaïese Wet ’n sondoffer of ’n skuldoffer van ’n persoon vereis het weens die een of ander tekortkoming aan sy kant? Dink jy dat die verpligte aard van die offerande ’n verskil sou gemaak het aan ’n persoon se bereidwilligheid om dit te offer en aan die gesindheid waarmee hy dit geoffer het? Is hierdie offerandes dalk teësinnig gebring? (Lev. 4:27, 28). Nie as die betrokke persoon opreg ’n goeie verhouding met Jehovah wou behou nie.
10. Watter “offerandes” moet Christene dalk bring om beskadigde verhoudings te herstel?
10 Net so besef jy dalk vandag dat jy ’n broer onnadenkend, onbewustelik of weens onbedagsaamheid aanstoot gegee het. Jou gewete sê moontlik vir jou dat jy te kort geskiet het in jou gedrag. Enigiemand wat sy diens aan Jehovah ernstig opneem, sal alles in sy vermoë doen om die tekortkoming reg te stel, nie waar nie? Dit kan beteken dat hy die persoon wat hy aanstoot gegee het, opreg om verskoning vra of dat hy, in die geval van ’n ernstige oortreding, liefdevolle Christenopsieners om geestelike hulp vra (Matt. 5:23, 24; Jak. 5:14, 15). Dit kos ons dus iets om ’n sonde wat teen ’n ander persoon of teen God self begaan is, reg te stel. Maar wanneer ons sulke “offerandes” bring, herstel ons ons verhouding met Jehovah en met ons broer en verkry ons ’n rein gewete. En dít verseker ons dat Jehovah se manier die beste manier is.
11, 12. (a) Watter voorsiening was kenmerkend van gemeenskapsoffers? (b) Watter verband is daar tussen gemeenskapsoffers en hedendaagse rein aanbidding?
11 Sekere offerandes wat deur die Mosaïese Wet voorgeskryf is, is as gemeenskapsoffers beskou. Hierdie offerandes het gedui op vrede met Jehovah. Die persoon wat die offerande gebring het, sowel as sy gesin, het die vleis van die geofferde dier geëet, miskien in een van die tempel se eetkamers. Die diensdoende priester het ’n deel van die vleis ontvang, asook die ander priesters wat in die tempel gedien het (Lev. 3:1, vtn. in NW; 7:31-33). Die aanbidder het sy offerande gebring bloot omdat hy ’n goeie verhouding met God wou geniet. Dit was asof die aanbidder, sy gesin, die priesters en Jehovah ’n ete vreugdevol saam geniet het, in vrede.
12 Watter groter voorreg kan daar wees as om Jehovah, in ’n simboliese sin, na so ’n ete te nooi en dat hy die uitnodiging aanvaar? Die gasheer sal natuurlik sy allerbeste vir so ’n geëerde gas wil voorsit. Die voorsiening van gemeenskapsoffers, wat deel was van die Wet se raamwerk van die waarheid, het vooruitgewys op die feit dat alle mense wat begeer om ’n intieme, vreedsame verhouding met hulle Skepper te verkry, dit deur middel van Jesus se groter offerande kan doen. Vandag kan ons Jehovah se vriendskap en assosiasie geniet wanneer ons ons middele en energie vrywillig in sy diens opoffer.
WAARSKUWINGS IN VERBAND MET OFFERANDES
13, 14. Waarom was koning Saul se voorgenome offerande nie vir Jehovah aanneemlik nie?
13 Om vir Jehovah aanneemlik te wees, moes die offerandes wat deur die Mosaïese Wet voorgeskryf is, natuurlik met die regte gesindheid en hartstoestand gebring word. Die Bybel bevat egter waarskuwende voorbeelde van offerandes wat nie vir God aanneemlik was nie. Waarom het hy dit verwerp? Kom ons kyk na twee situasies.
14 Die profeet Samuel het vir koning Saul gesê dat die tyd aangebreek het vir Jehovah om oordeel aan die Amalekiete te voltrek. Saul moes dus hierdie vyandelike nasie tesame met hulle vee uitroei. Maar ná sy oorwinning het Saul sy soldate toegelaat om die lewe te spaar van Agag, die koning van die Amalekiete. Saul het ook die beste van hulle vee gespaar as iets wat aan Jehovah geoffer kon word (1 Sam. 15:2, 3, 21). Wat was Jehovah se reaksie? Hy het Saul verwerp weens sy ongehoorsaamheid. (Lees 1 Samuel 15:22, 23.) Wat leer ons hieruit? Dat ’n offerande met gehoorsaamheid aan God se gebooie moet gepaardgaan as ons wil hê dat dit vir hom aanneemlik moet wees.
15. Wat het die slegte gedrag van sekere Israeliete wat in Jesaja se dag offerandes gebring het, getoon?
15 ’n Soortgelyke voorbeeld word in die boek Jesaja gevind. In Jesaja se dag het die Israeliete offerandes werktuiglik aan Jehovah gebring. Hulle slegte gedrag het egter hulle offerandes waardeloos gemaak. “Van watter nut is die menigte van julle offerandes vir my?” het Jehovah gevra. “Ek het genoeg gehad van heelbrandoffers van ramme en die vet van vetgevoerde diere; en in die bloed van jong bulle en ramlammers en bokramme het ek geen behae geskep nie. . . . Hou op om nog waardelose graanoffers te bring. Reukwerk—dit is vir my iets verfoeiliks.” Wat was die probleem? God het vir hulle gesê: “Selfs al doen julle baie gebede, luister ek nie; julle hande is vol bloedvergieting. Was julle; reinig julle; neem die slegtheid van julle handelinge voor my oë weg; hou op om kwaad te doen.”—Jes. 1:11-16.
16. Wat bepaal of ’n offerande vir God aanneemlik is of nie?
16 Jehovah het geen behae geskep in offerandes wat deur onberouvolle sondaars gebring is nie. Maar die gebede en offers van diegene wat opreg in ooreenstemming met God se gebooie probeer lewe het, was vir hom aanneemlik. Die raamwerk van die Wet het hierdie mense geleer dat hulle sondig is en vergifnis nodig het (Gal. 3:19). Hierdie besef het gepas ’n berouvolle hart voortgebring. Ons moet vandag eweneens erken dat ons Christus se offerande, wat waarlik versoening vir sondes kan doen, nodig het. As ons dit verstaan en waardeer, sal Jehovah “behae skep” in alles wat ons vir hom aanbied in ons toegewyde diens.—Lees Psalm 51:17, 19.
BEOEFEN GELOOF IN JESUS SE OFFERANDE!
17-19. (a) Hoe kan ons gepas ons dankbaarheid vir Jesus se losprysoffer teenoor Jehovah betoon? (b) Wat sal in die volgende artikel bespreek word?
17 Die voordeel wat ons het bo diegene wat in voor-Christelike tye gelewe het, is dat ons nie meer tevrede hoef te wees om net “’n skaduwee” van God se voornemens te sien nie (Heb. 10:1). Die wette aangaande offerandes het die Jode aangespoor om gesindhede aan te kweek wat hulle sou help om ’n goeie verhouding met God te verkry—opregte dankbaarheid teenoor hom, die begeerte om hom die beste te gee en erkenning van die feit dat verlossing nodig is. Danksy die verduidelikings in die Christelike Griekse Geskrifte kan ons verstaan dat Jehovah, deur middel van die losprys, die uitwerking van sonde blywend sal verwyder en dat hy ons nou reeds toelaat om ’n goeie gewete voor hom te hê. Jesus se losprysoffer is ’n wonderlike voorsiening!—Gal. 3:13; Heb. 9:9, 14.
18 Meer as net ’n basiese begrip van die losprys is natuurlik nodig as ons daarby wil baat vind. “Die Wet [het] ons tugmeester geword wat na Christus gelei het, sodat ons weens geloof regverdig verklaar kon word”, het die apostel Paulus geskryf (Gal. 3:24). En hierdie geloof kan nie sonder werke wees nie (Jak. 2:26). Paulus het dus eerste-eeuse Christene, wat die raamwerk van die kennis besit het wat deur die Mosaïese Wet oorgedra is, aangespoor om hierdie kennis toe te pas. Sodoende sou hulle gedrag ooreenstem met die goddelike beginsels wat hulle ander geleer het.—Lees Romeine 2:21-23.
19 Hoewel daar nie van hedendaagse Christene vereis word om die Mosaïese Wet te onderhou nie, moet hulle nog steeds offerandes aanbied wat vir Jehovah aanneemlik is. Hoe ons dit kan doen, sal in die volgende artikel bespreek word.
[Lokteks op bladsy 17]
Jehovah se basiese vereistes vir sy knegte verander nooit
[Prent op bladsy 18]
Watter een van hierdie diere sou jy aan Jehovah geoffer het?
[Prent op bladsy 19]
Dié wat aanneemlike offerandes aan Jehovah bring, geniet sy goedkeuring