Hulle oorvloed het ’n tekort aangevul
DIT was 49 HJ. Petrus, Jakobus en Johannes—“wat blykbaar pilare was”—het die apostel Paulus en sy medewerker Barnabas ’n opdrag gegee. Hulle moes behoeftige Christene in gedagte hou terwyl hulle vir die nasies preek (Gal. 2:9, 10). Hoe het hulle hierdie verantwoordelikheid nagekom?
Paulus se briewe toon dat hy aan hierdie saak aandag geskenk het. Byvoorbeeld, hy het aan Christene in Korinte geskryf: “Wat die insameling vir die heiliges betref, moet julle ook doen soos ek die gemeentes van Galasië beveel het. Op elke eerste dag van die week moet elkeen van julle by sy eie huis iets opsysit en opspaar na gelang van sy voorspoed, sodat insamelings nie sal plaasvind wanneer ek daar aankom nie. Maar wanneer ek daar aankom, sal ek dié manne wat julle deur briewe goedkeur, stuur om julle liefdegawe na Jerusalem te neem.”—1 Kor. 16:1-3.
In sy tweede geïnspireerde brief aan die Korintiërs het Paulus die doel van die geldinsameling herhaal. Dit was dat “julle oorvloed nou deur middel van ’n gelykmaking hulle tekort kan aanvul”.—2 Kor. 8:12-15.
Toe Paulus omstreeks 56 HJ aan die Christene in Rome geskryf het, was die geldinsameling byna voltooi. Hy het gesê: “Ek [staan] op die punt om na Jerusalem te reis om die heiliges te bedien. Want dié in Masedonië en Agaje het met graagte hulle goed gedeel deur ’n bydrae aan die armes onder die heiliges in Jerusalem te gee” (Rom. 15:25, 26). Paulus het sy opdrag kort daarna uitgevoer, want nadat hy na Jerusalem teruggekeer het en daar in hegtenis geneem is, het hy vir die Romeinse goewerneur Feliks gesê: “Ek [het] gekom om barmhartigheidsgawes vir my nasie te bring, en offers.”—Hand. 24:17.
Die gees wat deur die eerste-eeuse Christene geopenbaar is, blyk duidelik uit wat Paulus van die Masedoniërs gesê het. Hy het gesê dat hulle “met groot aandrang bly smeek het om die voorreg om goedgunstig te gee”. Die apostel het die Korintiërs aangespoor om hierdie voorbeeld te volg. Hy het gesê: “Laat elkeen doen net soos hy hom in sy hart voorgeneem het, nie teësinnig of onder dwang nie, want God het ’n blymoedige gewer lief.” Wat het die gemeentes beweeg om so vrygewig te wees? Hulle het nie net die begeerte gehad “om oorvloedig in die behoeftes van die heiliges te voorsien nie, maar ook om ryk te wees aan baie dankbetuigings aan God” (2 Kor. 8:4; 9:7, 12). Ons vrygewigheid spruit dalk voort uit soortgelyke beweegredes. Jehovah God sal beslis so ’n goeie en onselfsugtige gees seën—en sy seën is inderdaad wat ryk maak.—Spr. 10:22.
HOE PARTY BESLUIT OM VIR DIE WÊRELDWYE WERK BY TE DRA
Soos in die apostel Paulus se dag is daar vandag baie wat “iets opsysit”, of ’n bedrag begroot, en dit in die gemeente se bydraebussies gooi wat “Wêreldwye werk” gemerk is (1 Kor. 16:2). Elke maand stuur gemeentes hierdie skenkings na die takkantoor van Jehovah se Getuies wat oor hulle land toesig hou. Jy kan bydraes ook regstreeks stuur aan ’n regspersoon wat deur Jehovah se Getuies in jou land gebruik word. As jy die naam wil uitvind van die regspersoon wat deur Jehovah se Getuies in jou land gebruik word, moet jy asseblief in verbinding tree met die takkantoor wat oor jou land toesig hou. Die adres van die takkantoor kan gevind word op www.jw.org. Die soorte bydraes wat jy regstreeks kan stuur, is:
REGSTREEKSE SKENKINGS
Skenkings van kontant, juweliersware of ander waardevolle persoonlike eiendom.
Sluit ’n brief in wat sê dat die kontant of die items ’n regstreekse skenking is.
BEPLANDE SKENKINGS
Benewens geldskenkings en waardevolle persoonlike eiendom is daar ander maniere waarop ’n mens kan gee om Koninkryksdiens in alle wêrelddele te bevorder. Dit word hieronder uiteengesit. Ongeag watter metode of metodes jy wil gebruik, jy moet asseblief eers in verbinding tree met die takkantoor wat oor jou land toesig hou om uit te vind watter metodes in die land beskikbaar is. Aangesien wetlike vereistes en belastingwette verskil, is dit belangrik om gekwalifiseerde belastingkonsultante en regsadviseurs te raadpleeg voordat jy besluit wat die beste manier is om ’n skenking te maak.
Versekering: ’n Skenking kan gemaak word deur ’n regspersoon wat deur Jehovah se Getuies gebruik word, as die begunstigde van ’n lewensversekeringspolis of ’n aftreeannuïteit/pensioenskema te benoem.
Bankrekeninge: Bankrekeninge, depositosertifikate of persoonlike aftreerekeninge wat in trust gehou word, kan by afsterwe betaalbaar gemaak word aan ’n regspersoon wat deur Jehovah se Getuies gebruik word, in ooreenstemming met plaaslike bankvereistes.
Aandele en obligasies: Aandele en obligasies kan as ’n regstreekse skenking geskenk word aan ’n regspersoon wat deur Jehovah se Getuies gebruik word, of hierdie regspersoon kan as ’n begunstigde in ’n sterfte-uitkering benoem word.
Vaste eiendom: Vaste eiendom kan regstreeks geskenk word aan ’n regspersoon wat deur Jehovah se Getuies gebruik word of kan, in die geval van residensiële eiendom, geskenk word op voorwaarde dat die skenker lewensreg daarop behou en gedurende sy of haar leeftyd daar kan bly.
Testamente en trusts: Eiendom of geld kan deur middel van ’n wettige testament bemaak word aan ’n regspersoon wat deur Jehovah se Getuies gebruik word, of hierdie regspersoon kan as die begunstigde van ’n trustooreenkoms benoem word. Hierdie reëling kan sekere belastingvoordele inhou.
As jy meer inligting wil hê, kan jy skriftelik of per telefoon in verbinding tree met die Rekeningafdeling by die adres wat hier aangegee word of met die takkantoor wat oor jou land toesig hou.