Tree in ooreenstemming met Jesus se liefdevolle gebed op
“Vader . . . verheerlik u seun, sodat u seun u kan verheerlik.”—JOH. 17:1.
1, 2. Verduidelik wat Jesus gedoen het nadat hy die Pasga in 33 HJ saam met sy apostels gevier het.
DIT is laat die aand van 14 Nisan in die jaar 33 HJ. Jesus en sy metgeselle het dit geniet om die Pasga te vier, wat hulle herinner het aan hoe God hulle voorvaders uit slawerny in Egipte verlos het. Sy getroue dissipels sal egter ’n “ewige verlossing” verkry wat van baie groter waarde is. Hulle sondelose Leier sal die volgende dag deur sy vyande doodgemaak word. Maar hierdie afskuwelike daad sal in ’n seën verander word. Jesus se vergote bloed sal die grondslag voorsien vir die mensdom se verlossing van sonde en die dood.—Heb. 9:12-14.
2 Om seker te maak dat ons nie hierdie liefdevolle voorsiening vergeet nie, het Jesus ’n nuwe jaarlikse herdenking ingestel wat die Pasga vervang het. Hy het dit gedoen deur ’n ongesuurde brood te breek en dit aan elkeen van sy 11 getroue dissipels te gee. Toe het hy gesê: “Dit beteken my liggaam, wat vir julle gegee sal word. Hou aan om dit tot my gedagtenis te doen.” Hy het dieselfde gedoen met die beker rooiwyn en vir hulle gesê: “Hierdie beker beteken die nuwe verbond kragtens my bloed, wat vir julle uitgestort sal word.”—Luk. 22:19, 20.
3. (a) Watter groot verandering het ná Jesus se dood plaasgevind? (b) Watter vrae in verband met Jesus se gebed in Johannes hoofstuk 17 moet ons ons afvra?
3 Die einde van die ou Wetsverbond tussen God en gebore Israeliete was naby. Dit sou deur ’n nuwe verbond tussen Jehovah en Jesus se gesalfde volgelinge vervang word. Jesus was baie besorg oor die welsyn van hierdie nuwe geestelike nasie. Die nasie Israel was baie verdeeld op godsdienstige en maatskaplike gebied, wat groot oneer op God se heilige naam gebring het (Joh. 7:45-49; Hand. 23:6-9). Jesus wou egter hê dat sy volgelinge volkome verenig moes bly sodat hulle harmonies kon saamwerk om God se naam te verheerlik. Wat het Jesus dus gedoen? Hy het die mooiste gebed gedoen wat enige mens ooit die voorreg sal hê om te lees. (Joh. 17:1-26; sien prent aan begin van artikel.) Terwyl ons hierdie gebed ondersoek, kan ons ons afvra: ‘Het God Jesus se gebed verhoor?’ en ‘Tree ek in ooreenstemming daarmee op?’
JESUS SE PRIORITEITE
4, 5. (a) Wat leer ons uit die manier waarop Jesus sy gebed begin? (b) Hoe het Jehovah Jesus se persoonlike versoek in verband met sy toekoms verhoor?
4 Jesus praat tot laat in die nag en dra kosbare kennis aan sy dissipels oor. Dan slaan hy sy oë na die hemel op en bid hy: “Vader, die uur het gekom; verheerlik u seun, sodat u seun u kan verheerlik, soos u hom gesag oor alle vlees gegee het, sodat hy aan almal wat u hom gegee het, die ewige lewe kan gee. . . . Ek het u op die aarde verheerlik, aangesien ek die werk volbring het wat u my gegee het om te doen. En nou, Vader, verheerlik my naas uself met die heerlikheid wat ek naas u gehad het voordat die wêreld was.”—Joh. 17:1-5.
5 Let op Jesus se prioriteite aan die begin van sy gebed. Die verheerliking van sy hemelse Vader is vir hom die belangrikste, en dit stem ooreen met die eerste versoek in Jesus se modelgebed: “Vader, laat u naam geheilig word” (Luk. 11:2). Dan is hy besorg oor die behoeftes van sy dissipels en bid hy dat hy aan hulle “die ewige lewe kan gee”. Daarna doen Jesus ’n persoonlike versoek en sê hy: “Vader, verheerlik my naas uself met die heerlikheid wat ek naas u gehad het voordat die wêreld was”. Jehovah beloon sy getroue Seun met selfs meer as waarvoor hy gevra het deur Jesus “’n naam [te gee] wat uitnemender is” as dié van al die engele.—Heb. 1:4.
‘KENNIS VAN DIE ENIGSTE WARE GOD’
6. Wat moes die apostels doen om die ewige lewe te verkry, en hoe weet ons dat hulle daarin geslaag het?
6 In sy gebed meld Jesus ook wat ons as sondaars moet doen om vir die onverdiende gawe van die ewige lewe in aanmerking te kom. (Lees Johannes 17:3.) Hy sê dat ons moet aanhou om ‘kennis in te neem’ van God en van Christus. Een manier waarop ons dit kan doen, is om ons oë en ore te gebruik om meer oor Jehovah en sy Seun te leer. Nog ’n belangrike manier waarop ons kennis van God inneem, is deur die vreugde te ondervind wat dit meebring wanneer ons toepas wat ons oor hom leer. Die apostels het hierdie lewegewende proses gevolg, soos Jesus later in sy gebed te kenne gee: “Die woorde wat u my gegee het, het ek aan hulle gegee, en hulle het dit aangeneem” (Joh. 17:8). Maar om die ewige lewe te verkry, moes hulle aanhou om oor God se woorde te peins en daardie woorde in hulle lewe toe te pas. Het die getroue apostels daarin geslaag om dit tot aan die einde van hulle aardse lewe te doen? Ja, hulle het. Ons weet dit omdat elkeen van hulle name onuitwisbaar op die 12 fondamentstene van die hemelse Nuwe Jerusalem geskryf is.—Op. 21:14.
7. Wat beteken dit om God te ‘ken’, en waarom is dit so belangrik?
7 Volgens kenners van Grieks kan die Griekse frase wat met “kennis inneem” weergegee word, ook as “aanhou ken” vertaal word. Die twee betekenisse is aanvullend, en albei is belangrik. Die voetnoot by Johannes 17:3 in die naslaanuitgawe van die Nuwe Wêreld-vertaling voorsien die alternatiewe vertaling “dat hulle u ken”. Om ‘kennis in te neem’, verwys dus na ’n volgehoue proses wat lei tot die voorreg om God te ‘ken’. Maar om die grootste Persoon in die heelal te ken, behels baie meer as om net te weet wat God se eienskappe en voorneme is. Dit behels dat ons ’n hegte band van liefde met Jehovah en ons medegelowiges moet hê. “Hy wat nie liefhet nie”, verduidelik die Bybel, “het God nie leer ken nie” (1 Joh. 4:8). Om God te ken, sluit dus in dat ons aan hom gehoorsaam moet wees. (Lees 1 Johannes 2:3-5.) Wat ’n groot voorreg is dit tog om gereken te word as iemand wat Jehovah ken! Maar soos die geval van Judas Iskariot toon, kan ons hierdie kosbare verhouding verloor. Laat ons hard werk om dit te behou. Dan sal ons uiteindelik in aanmerking kom vir die onverdiende gawe van die ewige lewe.—Matt. 24:13.
“WEENS U NAAM”
8, 9. Wat was gedurende Jesus se aardse bediening vir hom van die allergrootste belang, en watter godsdienstradisie sou hy verwerp het?
8 Jesus se innige liefde vir sy apostels wat daar teenwoordig was asook vir sy toekomstige dissipels blyk duidelik uit sy gebed wat in Johannes hoofstuk 17 opgeteken is (Joh. 17:20). Nogtans moet ons besef dat ons redding nie vir Jesus die belangrikste saak was nie. Dit was van die begin tot die einde van sy aardse bediening sy hoofdoel om sy Vader se naam te heilig en te verheerlik. Toe Jesus byvoorbeeld in die sinagoge van Nasaret verduidelik het wat sy opdrag was, het hy uit die boekrol van Jesaja gelees: “Jehovah se gees is op my, want hy het my gesalf om goeie nuus aan die armes bekend te maak.” Jesus sou God se naam ongetwyfeld duidelik uitgespreek het toe hy hierdie opdrag gelees het.—Luk. 4:16-21.
9 Lank voordat Jesus aarde toe gekom het, het Joodse godsdiensleiers mense ontmoedig om God se naam te gebruik. Ons kan seker wees dat Jesus so ’n onskriftuurlike tradisie ferm verwerp het. Hy het vir sy teenstanders gesê: “Ek het in die naam van my Vader gekom, maar julle neem my nie aan nie; as iemand anders in sy eie naam gekom het, sou julle hom aangeneem het” (Joh. 5:43). ’n Paar dae voor sy dood het Jesus getoon wat vir hom van die allergrootste belang was toe hy gebid het: “Vader, verheerlik u naam” (Joh. 12:28). Ons moet dus nie verbaas wees dat Jesus regdeur hierdie gebed sy besorgdheid oor sy Vader se naam uitgespreek het nie.
10, 11. (a) Wat het dit behels toe Jesus sy Vader se naam bekend gemaak het? (b) Waarom moet Jesus se dissipels Jehovah se naam bekend maak?
10 “Ek het u naam openbaar gemaak aan die mense wat u my uit die wêreld gegee het”, het Jesus gebid. “Hulle het aan u behoort, en u het hulle aan my gegee, en hulle het u woord bewaar. Ook is ek nie meer in die wêreld nie, maar hulle is in die wêreld en ek kom na u toe. Heilige Vader, waak oor hulle weens u naam wat u my gegee het, sodat hulle een kan wees net soos ons.”—Joh. 17:6, 11.
11 Toe Jesus sy Vader se naam aan sy dissipels bekend gemaak het, het dit baie meer behels as om daardie naam net uit te spreek. Hy het hulle ook geleer wat God se naam verteenwoordig, naamlik God se wonderlike eienskappe en die manier waarop hy met ons handel (Eks. 34:5-7). Wat meer is, vanaf Jesus se verheerlikte posisie in die hemel hou hy aan om sy dissipels te help om Jehovah se naam dwarsoor die aarde bekend te maak. Waarom? Sodat nog dissipels ingesamel kan word voordat die einde van hierdie goddelose stelsel van dinge kom. Wat ’n glorieryke naam sal Jehovah dan vir hom maak wanneer hy optree om sy lojale getuies te verlos!—Eseg. 36:23.
“SODAT DIE WÊRELD KAN GLO”
12. Watter drie dinge is noodsaaklik as ons ons lewensreddende werk met welslae wil uitvoer?
12 Terwyl Jesus op aarde was, het hy hard gewerk om sy dissipels te help om hulle swakhede te oorkom. Dit was noodsaaklik sodat hulle die werk kon voltooi wat Jesus begin het. “Net soos u my in die wêreld uitgestuur het”, bid Jesus, “het ek hulle ook in die wêreld uitgestuur.” Jesus beklemtoon drie dinge wat noodsaaklik sou wees as hulle hierdie lewensreddende werk met welslae wou uitvoer. Eerstens bid hy dat sy dissipels geen deel van Satan se onheilige wêreld moet wees nie. Tweedens bid hy dat hulle geheilig moet word, of heilig moet bly, deur die waarheid van God se Woord op hulleself toe te pas. Derdens smeek Jesus herhaaldelik dat sy dissipels verenig moet wees in dieselfde band van liefde wat tussen hom en sy Vader bestaan. Dit verg selfondersoek. Elkeen van ons moet ons afvra: ‘Tree ek in ooreenstemming met Jesus se drie versoeke op?’ Jesus het die vertroue gehad dat ‘die wêreld sou glo dat [God] hom uitgestuur het’ as sy dissipels hierdie dinge doen.—Lees Johannes 17:15-21.
13. Hoe is Jesus se gebed in die eerste eeu HJ verhoor?
13 ’n Studie van die Bybelboek wat volg op die vier Evangelies, Handelinge van die Apostels, bevestig dat Jesus se gebed verhoor is. Dink aan die verdeeldheid wat daar kon gewees het onder die vroeë Christene, wat bestaan het uit Jode en nie-Jode, rykes en armes, slawe en slawe-eienaars. Maar hulle was so verenig dat hulle vergelyk kon word met verskillende dele van ’n menseliggaam, met Jesus as hulle hoof (Ef. 4:15, 16). Dit is beslis ’n wonderwerk in Satan se verdeelde wêreld! Jehovah moet al die eer hiervoor ontvang omdat hy dit deur middel van die werking van sy kragtige heilige gees moontlik gemaak het.—1 Kor. 3:5-7.
14. Hoe is Jesus se gebed in hedendaagse tye verhoor?
14 Ongelukkig het hierdie wonderlike eenheid nie ná die dood van die apostels voortgeduur nie. Soos voorspel is, het ’n groot afvalligheid ontstaan, wat die Christendom se verdeelde sektes tot gevolg gehad het (Hand. 20:29, 30). Maar in die jaar 1919 het Jesus sy gesalfde volgelinge uit gevangenskap aan valse godsdiens bevry en hulle in “’n volmaakte band van eenheid” verenig (Kol. 3:14). Watter uitwerking het hulle predikingswerk op die res van die wêreld gehad? Meer as sewemiljoen van hulle metgeselle, die “ander skape” uit “alle nasies en stamme en volke en tale”, is ingesamel en saam met God se gesalfdes in een kudde verenig (Joh. 10:16; Op. 7:9). Op wat ’n wonderlike wyse is Jesus se gebed tog verhoor toe hy gebid het: “Sodat die wêreld kan weet dat u [Jehovah] my uitgestuur het en dat u hulle liefgehad het net soos u my liefgehad het”!—Joh. 17:23.
JESUS SLUIT MET INNEMENDE WOORDE AF
15. Watter spesiale versoek het Jesus ten behoewe van sy gesalfde volgelinge gedoen?
15 Vroeër die aand van 14 Nisan het Jesus heerlikheid, of eer, aan sy apostels gegee deur ’n verbond met hulle te sluit om saam met hom in sy Koninkryk te regeer (Luk. 22:28-30; Joh. 17:22). Aangaande almal wat sy gesalfde volgelinge sou word, bid Jesus dus nou: “Vader, met betrekking tot wat u my gegee het, wens ek dat waar ek is, hulle ook by my kan wees, sodat hulle my heerlikheid kan aanskou wat u my gegee het, omdat u my voor die grondlegging van die wêreld liefgehad het” (Joh. 17:24). Jesus se ander skape is vreugdevol hieroor, nie afgunstig nie, en dit is verdere bewys van die eenheid wat vandag wêreldwyd onder alle ware Christene heers.
16, 17. (a) Wat was Jesus vasbeslote om te doen, soos blyk uit die slot van sy gebed? (b) Wat moet ons vasbeslote wees om te doen?
16 Weens die invloed van hulle godsdiensleiers kies die meeste mense in die wêreld om die duidelike bewyse te ignoreer dat Jehovah ’n verenigde volk het wat hom werklik ken. Dit was ook in Jesus se dag die geval. Hy sluit dus af met hierdie innemende woorde: “Regverdige Vader, die wêreld het u inderdaad nie leer ken nie; maar ek het u leer ken, en hierdie mense het te wete gekom dat u my uitgestuur het. En ek het u naam aan hulle bekend gemaak en sal dit bekend maak, sodat die liefde waarmee u my liefgehad het, in hulle kan wees en ek in eenheid met hulle.”—Joh. 17:25, 26.
17 Wie kan ontken dat Jesus in ooreenstemming met sy gebed opgetree het? As Hoof van die gemeente help hy ons steeds om sy Vader se naam en voorneme bekend te maak. Mag ons aanhou om ons aan sy hoofskap te onderwerp deur sy opdrag om te preek en dissipels te maak, ywerig te gehoorsaam (Matt. 28:19, 20; Hand. 10:42). Mag ons ook hard werk om ons kosbare eenheid te bewaar. As ons hierdie dinge doen, sal ons in ooreenstemming met Jesus se gebed optree, tot heerlikheid van Jehovah se naam en tot ons ewige geluk.