Help onbedrywige persone
1 Een van Jesus se gelykenisse handel oor ’n herder wat 99 skape laat staan om een wat verdwaal is te gaan soek. Onthou jy wat hy gesê het sou gebeur as die een wat verdwaal is, gevind word? “En as [die herder] hom kry, voorwaar Ek sê vir julle dat hy blyer is oor hom as oor die negen-en-negentig wat nie verdwaal het nie” (Matt. 18:13). Talle gemeentes het sulke blydskap ervaar toe onbedrywige persone na die kudde van God teruggekeer het.
2 Gedurende die afgelope paar jaar is ekstra pogings aangewend om diegene wat onbedrywig geword het te help. Opsieners het die verantwoordelikheid om op die hele kudde ag te gee (Hand. 20:28). Daarom het hulle die inisiatief geneem om onbedrywige persone te besoek. Baie het gevolglik op hierdie liefdevolle pogings gereageer en het weer bedrywige Koninkryksverkondigers geword. Is daar nog party in julle gemeente wat in die laaste jare onbedrywig geword het? Wat kan gedoen word om hulle te help?
WAT GEDOEN KAN WORD
3 Die diensopsiener en die sekretaris gee die leiding in die koördinering van pogings om na onbedrywige persone om te sien. Die ouere manne moet hulle sake so reël dat hulle die eerste besoek kan doen. In sommige gevalle sal die onbedrywige persoon dit moontlik waardeer dat iemand ’n Bybelstudie met hom hou. Dan kan die diensopsiener besluit wie aangewys moet word om die studie te hou. Miskien sal die een wat oorspronklik met die persoon gestudeer het of iemand wat hy geken en gerespekteer het in ’n goeie posisie wees om te help. As dit ’n hele gesin is, kan ’n ouereman of ’n bekwame bedieningskneg gevra word om met hulle te studeer. ’n Onbedrywige suster kan deur ’n ervare suster gehelp word. ’n Jong persoon reageer moontlik op die hulp van ’n jong bedieningskneg of ’n bekwame pionier. Die diensopsiener kan aanraai dat sekere onderwerpe of ’n hele publikasie bestudeer word. Die oogmerk is om die nodige hulp te verleen. Die diensopsiener kan enigiemand gebruik wat in die beste posisie is om die hulp te verleen.
4 Party ouere manne het dit nuttig gevind om tydens die eerste besoek die artikel “‘Keer terug na die Herder van julle siele’” in Die Wagtoring van 15 Julie 1982 te hersien. Jehovah se genade kan beklemtoon word, en bemoedigende ondervindinge oor diegene wat na Jehovah teruggekeer het, kan bespreek word. In die geval van ’n jeugdige wat onbedrywig geword het, kan die artikel “Laat jou hart terugkeer tot Jehovah”, wat in Die Wagtoring van 15 Desember 1982 verskyn het, nuttig wees. Daarna kan ’n gereelde Bybelstudie gereël word.
5 Verkondigers wat die verantwoordelikheid en voorreg gegee is om sulke studies te hou, moet persoonlike belangstelling in hierdie individue toon. Sluit ’n vriendskap met hulle. Beklemtoon hoe belangrik dit is dat hulle hul geestelike krag herwin. Help hulle om te waardeer dat Jehovah hierdie persoonlike hulp deur sy organisasie gereël het omdat hy hulle liefhet en oor hulle besorg is.
6 Hoewel sekere verkondigers gevra sal word om onbedrywige persone te help, beteken dit nie dat ander nie ook kan help nie. Almal kan die inisiatief neem om hierdie persone te groet wanneer hulle na die Koninkryksaal kom en bemoedigende gesprekke met hulle voer. Wys dat ons bly is om hulle by ons te hê en hoop dat hulle sal voortgaan om vordering te maak. Hierdie liefdevolle belangstelling moet steeds getoon word namate hulle geestelike vooruitgang maak. Positiewe resultate is deur sulke verenigde pogings verkry.—Ef. 4:16.
7 Ja, ons is waarlik verheug om te sien dat persone wat voorheen onbedrywig was weer met ons omgaan. Dit geld veral vir diegene wat persoonlike hulp kon verleen. Dit is ons bede dat Jehovah se ryke seën sal rus op ons pogings om aan daardie onbedrywige persone wat “huisgenote van die geloof” is ‘goed te doen’.—Gal. 6:10.