Wees opbouend
1 Aangesien ons lewe in ‘kritieke tye wat moeilik is om deur te kom’, het ons almal aanmoediging nodig (2 Tim. 3:1). Paulus was selfs in sy tyd deeglik bewus van hierdie behoefte en wou graag sy assosiasie met sy broers gebruik as geleenthede vir “’n uitwisseling van aanmoediging”. Hy het sy broers aangespoor om ‘die dinge na te streef wat vir mekaar opbouend is’ (Rom. 1:11, 12; 14:19). Hierdie pogings het daarin geslaag om ‘die siele van die dissipels te versterk en hulle aan te moedig om in die geloof te bly’ (Hand. 14:22). Ons het vandag daardie soort aanmoediging baie nodig.
2 Ons kan ander opbou deur wat ons sê. Wanneer ons ons woorde reg gebruik, kan dit soos “goue appels op versierde silwerborde” wees (Spr. 25:11). As ons aan die vergaderinge deelneem, ‘moedig ons mekaar aan’ (Heb. 10:25). Ons kan ons tong op ’n positiewe manier gebruik deur ondervindinge te vertel, ander te prys of oor geestelike dinge te gesels. Hierdie heilsame gebruik van die tong ‘is goed vir opbouing en om iets gunstigs aan die hoorders mee te deel’.—Ef. 4:29.
3 Praat oor dinge wat opbouend is: In Filippense 4:8 het Paulus nuttige riglyne vir ons spraak voorsien. Hy het gesê ons moet alles bedink wat waar is, wat van ernstige belang is, wat regverdig, kuis en lieflik is, waarvan goed gepraat word, wat deugsaam en wat lofwaardig is. Ons kan altyd daarvan seker wees dat wat ons sê waar en nuttig vir ander sal wees as dit op God se Woord gegrond is (Joh. 17:17). Ons Christelike toewyding, wat ons by die gemeentelike vergaderinge leer, die manier waarop ons ons bediening ten volle uitvoer en ander soortgelyke sake is dinge van ernstige belang. Positiewe gesprekke oor die standaarde en beginsels van God se Woord sal ons beslis help om ‘wys te word tot redding’ (2 Tim. 3:15). Ons kan ons waardering uitspreek vir die kuis gedrag van diegene in Jehovah se rein organisasie. Ons kan ons broers se lieflike dade van goedhartigheid prys(Joh. 13:34, 35). Dinge waarvan daar goed gepraat word, sluit die heilsame Christelike eienskappe vangeloof, vreugde, vrede en lankmoedigheid in wat ons in ons broers sien. Gesprekke oor sulke deugsameen lofwaardige dinge is ‘goed vir die opbouing’ van ander.—Rom. 15:2.
4 Ons het elke dag met die ontmoedigende sorge van die wêreld te kampe. Hoe verkwikkend is dit tog om hierdie dinge opsy te sit en liefdevolle assosiasie met ons broers te geniet! Die kosbare tyd wat ons saam kan deurbring, is ’n skat wat ons moet waardeer. As ons altyd aanmoedigend en opbouend is, sal ander waarlik van ons sê: ‘Hulle het my gees verkwik.’—1 Kor. 16:18.