“Jehovah ons God is een Jehovah”
“Luister, o Israel: Jehovah ons God is een Jehovah.”—DEUTERONOMIUM 6:4.
1, 2. (a) Waarom is die woorde in Deuteronomium 6:4 so bekend? (b) Waarom het Moses hierdie woorde geuiter?
JOODSE mense gebruik al honderde jare lank die woorde in Deuteronomium 6:4 as deel van ’n spesiale gebed. Hulle noem hierdie gebed die Sjema, wat die eerste woord van hierdie vers in Hebreeus is. Baie Jode sê hierdie gebed elke dag in die oggend en in die aand op om hulle uitsluitlike toegewydheid aan God te toon.
2 Hierdie woorde is deel van Moses se laaste toespraak aan die nasie Israel. In die jaar 1473 VHJ was die nasie in die land Moab, gereed om oor die Jordaanrivier te trek en die Beloofde Land in besit te neem (Deuteronomium 6:1). Moses het die volk 40 jaar lank gelei, en hy wou hê dat hulle moedig moes wees sodat hulle die uitdagings wat voorgelê het, die hoof kon bied. Hulle moes op hulle God, Jehovah, vertrou en aan hom getrou bly. Moses se laaste woorde aan hulle het hulle aangespoor om juis dit te doen. Nadat hy verwys het na die Tien Gebooie en ander wette van Jehovah, het Moses die volk die kragtige herinnering gegee wat opgeteken is in Deuteronomium 6:4, 5. (Lees.)
3. Watter vrae sal ons in hierdie artikel bespreek?
3 Die Israeliete het geweet dat Jehovah hulle God “een Jehovah” is. Getroue Israeliete het een God, die God van hulle voorvaders, aanbid. Waarom het Moses hulle dan daaraan herinner dat Jehovah hulle God “een Jehovah” is? Wat is die verband tussen hierdie waarheid en die feit dat ons ons God met ons hele hart, hele siel en al ons krag liefhet? En hoe is die woorde in Deuteronomium 6:4, 5 vandag op ons van toepassing?
ONS GOD IS “EEN JEHOVAH”
4, 5. (a) Wat is een betekenis van die uitdrukking “een Jehovah”? (b) Hoe verskil Jehovah van die gode van die nasies?
4 Uniek. Die uitdrukking “een Jehovah” beteken dat Jehovah uniek is, dat niemand gelyk is aan hom of soos hy is nie. Moses het hierdie uitdrukking blykbaar nie gebruik om te probeer bewys dat geloof in ’n drie-enige god verkeerd was nie. Jehovah is die Skepper van die hemel en aarde en die Heerser van die heelal. Hy is die enigste ware God, en daar is geen ander god soos hy nie (2 Samuel 7:22). Moses se woorde het die Israeliete dus daaraan herinner dat hulle slegs Jehovah moes aanbid. Hulle moes nie die mense rondom hulle, wat talle valse gode en godinne aanbid het, navolg nie. Daardie mense het geglo dat hulle gode dele van die natuur kon beheer.
5 Die Egiptenaars het byvoorbeeld die songod Ra, die hemelgodin Nut, die aardgod Geb, die Nylgod Hapi sowel as baie diere aanbid. Jehovah het getoon dat hy verhewe is bo hierdie valse gode toe hy die Tien Plae oor Egipte gebring het. Die hoofgod van Kanaän was Baäl, ’n valse god wat as die vrugbaarheidsgod beskou is. Daar is ook geglo dat hy die god van die lug, reën en storms is. Op baie plekke het mense op Baäl vertrou om hulle te beskerm (Numeri 25:3). Die Israeliete moes onthou dat hulle God, “die ware God”, uniek is. Hy is “een Jehovah”.—Deuteronomium 4:35, 39.
Jehovah God is nie verdeeld of onvoorspelbaar nie. Hy is altyd getrou, konsekwent, lojaal en waaragtig
6, 7. Wat is nog ’n betekenis van die woord “een” in die uitdrukking “een Jehovah”, en hoe het Jehovah getoon dat hy “een” is?
6 Konsekwent en lojaal. Die woord “een” in die uitdrukking “een Jehovah” dui ook daarop dat hy altyd betroubaar is en sy beloftes vervul. Jehovah God is nie verdeeld of onvoorspelbaar nie. Hy is altyd getrou, konsekwent, lojaal en waaragtig. Byvoorbeeld, hy het Abraham belowe dat sy nakomelinge die Beloofde Land sou beërf. En Jehovah het talle kragtige wonderwerke verrig om hierdie belofte te hou. Vierhonderd-en-dertig jaar nadat Jehovah hierdie belofte gemaak het, het sy voorneme steeds nie verander nie.—Genesis 12:1, 2, 7; Eksodus 12:40, 41.
7 Honderde jare later het Jehovah die Israeliete sy getuies genoem en vir hulle gesê: “Ek [is] dieselfde . . . Voor my is geen God geformeer nie, en ná my was daar steeds nie een nie.” Om duidelik te toon dat sy voorneme nooit verander nie, het Jehovah ook bygevoeg: “Ek [is] altyd dieselfde” (Jesaja 43:10, 13; 44:6; 48:12). Wat ’n groot voorreg het die Israeliete tog gehad om ’n God te dien wat konsekwent en altyd lojaal is! Vandag het ons dieselfde voorreg.—Maleagi 3:6; Jakobus 1:17.
8, 9. (a) Wat vereis Jehovah van sy aanbidders? (b) Hoe het Jesus die belangrikheid van Moses se woorde beklemtoon?
8 Ja, Moses het die Israeliete daaraan herinner dat Jehovah se liefde vir hulle nooit sou verander nie en dat hy altyd vir hulle sou sorg. Jehovah het verwag dat hulle hom uitsluitlike toegewydheid moes gee en hom met hulle hele hart, hulle hele siel en al hulle krag moes liefhê. Ouers moes elke geleentheid gebruik om hulle kinders van Jehovah te leer sodat ook die jonges slegs Jehovah sou aanbid.—Deuteronomium 6:6-9.
9 Jehovah verander nooit sy voorneme nie, en daarom sal hy nooit die basiese vereistes vir sy ware aanbidders verander nie. As ons wil hê dat ons aanbidding Jehovah moet behaag, moet ons hom uitsluitlike toegewydheid gee en hom met ons hele hart, ons hele verstand en al ons krag liefhê. Jesus het gesê dat dit die belangrikste gebod is. (Lees Markus 12:28-31.) Kom ons bespreek hoe ons deur ons dade kan toon dat ons glo dat “Jehovah ons God . . . een Jehovah” is.
GEE JEHOVAH UITSLUITLIKE TOEGEWYDHEID
10, 11. (a) Hoe toon ons dat ons slegs Jehovah aanbid? (b) Hoe het jong Hebreërs in Babilon hulle uitsluitlike toegewydheid aan Jehovah getoon?
10 Jehovah is ons enigste God. Ons gee hom ons uitsluitlike toegewydheid as ons slegs hom aanbid. Ons kan geen ander god aanbid of enige valse idees of gebruike by ons aanbidding van Jehovah insluit nie. Hy is nie bloot bo ander gode verhewe of magtiger as hulle nie. Hy is die ware God. Ons moet slegs Jehovah aanbid.—Lees Openbaring 4:11.
11 In die boek Daniël lees ons van vier jong Hebreërs, naamlik Daniël, Hananja, Misael en Asarja. Hulle het hulle uitsluitlike toegewydheid aan Jehovah getoon toe hulle geweier het om voedsel te eet wat onrein was vir Jehovah se aanbidders. En Daniël se drie vriende het geweier om hulle voor ’n afgod, Nebukadnesar se goue beeld, neer te buig. Hulle het Jehovah eerste gestel. Hulle was ten volle lojaal aan hom.—Daniël 1:1–3:30.
Jehovah moet die eerste plek in ons lewe beklee
12. Waarteen moet ons waak as ons uitsluitlike toegewydheid aan Jehovah wil gee?
12 Jehovah moet die eerste plek in ons lewe beklee. As ons hom ons uitsluitlike toegewydheid wil gee, moet ons versigtig wees dat ander dinge nie sy plek inneem nie. Wat is van hierdie dinge? In die Tien Gebooie het Jehovah gesê dat sy volk nie ander gode mag aanbid nie. Hulle moes geen vorm van afgodediens beoefen nie (Deuteronomium 5:6-10). Vandag is daar baie vorme van afgodediens, en party is dalk moeilik om te identifiseer. Maar Jehovah het nie sy vereistes verander nie. Hy is nog steeds “een Jehovah”. Kom ons kyk hoe ons afgodediens vandag kan vermy.
13. Waarvoor kan ons liewer word as vir Jehovah?
13 In Kolossense 3:5 (lees) lees ons van dinge wat ons spesiale vriendskap met Jehovah kan verwoes. Ons sien dat hebsug, dit wil sê gierigheid, met afgodediens verband hou. Hoe so? As ons ’n sterk begeerte na iets het, soos na baie geld of luukshede, kan dit ons lewe beheers, soos ’n magtige god. Al die sondes wat in Kolossense 3:5 genoem word, hou verband met gierigheid, ’n vorm van afgodediens. As ons ’n sterk begeerte na hierdie dinge het, kan ons liewer daarvoor word as vir God. Dan sal Jehovah nie meer “een Jehovah” vir ons wees nie. Mag dit nooit gebeur nie!
14. Watter waarskuwing het die apostel Johannes gegee in verband met ons liefde vir God?
14 Die apostel Johannes het iets soortgelyks beklemtoon. Hy het gewaarsku dat iemand wat lief is vir die dinge in die wêreld—“die begeerte van die vlees en die begeerte van die oë en die spoggerige vertoon van ’n mens se lewensmiddele”—nie “die liefde vir die Vader” in hom het nie (1 Johannes 2:15, 16). Ons moet dus gereeld selfondersoek doen om te sien of ons die wêreld liefhet. Ons sal dalk uitvind dat die vermaak, assosiasie, klerestyle en persoonsversorging van die wêreld vir ons aanloklik begin lyk. Of ons wil miskien “groot dinge” bereik deur middel van hoër onderwys (Jeremia 45:4, 5). Die nuwe wêreld is baie naby. Ons moet dus Moses se kragtige woorde onthou! As ons besef en werklik glo dat “Jehovah ons God . . . een Jehovah” is, sal ons hom ons uitsluitlike toegewydheid gee en hom dien op die manier wat vir hom aanneemlik is.—Hebreërs 12:28, 29.
BEWAAR CHRISTELIKE EENHEID
15. Waarom het Paulus Christene daaraan herinner dat God “een Jehovah” is?
15 Die uitdrukking “een Jehovah” help ons om te verstaan dat Jehovah wil hê dat sy knegte verenig moet wees en dieselfde doel in die lewe moet hê. In die vroeë Christengemeente was daar Jode, Grieke en Romeine asook mense van ander nasies. Hulle het verskillende agtergronde, gebruike en voorkeure gehad. Daarom was dit vir party van hulle moeilik om ’n nuwe manier van aanbidding te aanvaar of om hulle vorige gebruike te laat staan. Paulus moes hulle dus daaraan herinner dat Christene een God, Jehovah, het.—Lees 1 Korintiërs 8:5, 6.
Jehovah wil hê dat sy knegte verenig moet wees en dieselfde doel in die lewe moet hê
16, 17. (a) Watter profesie word in ons dag vervul, en met watter resultaat? (b) Wat kan ons eenheid ondermyn?
16 Wat van die Christengemeente in ons dag? Die profeet Jesaja het gesê dat mense van alle nasies “aan die einde van die dae” sou saamkom om Jehovah te aanbid. Hulle sou sê: “Hy sal ons omtrent sy weë onderrig, en ons sal in sy paaie wandel” (Jesaja 2:2, 3). Hoe bly is ons tog dat hierdie profesie vandag vervul word! Ons broers en susters kom van verskillende plekke, praat verskillende tale en het verskillende kulture. Ons is egter verenig in ons aanbidding van Jehovah. Maar omdat ons so verskillend is, sal ons soms voor uitdagings te staan kom.
17 Hoe voel jy byvoorbeeld oor broers en susters van ’n ander kultuur? Hulle taal, klere, maniere en kos verskil dalk baie van joune. Vermy jy hulle en spandeer jy eerder tyd saam met diegene wat ’n soortgelyke agtergrond as jy het? Hoe voel jy oor die broers wat die leiding neem in jou gemeente—of in jou kring of takkantoor—wat jonger as jy is of wat van ’n ander ras of kultuur is? As ons nie versigtig is nie, kan ons toelaat dat hierdie verskille ’n negatiewe uitwerking op ons het en ons eenheid ondermyn.
18, 19. (a) Watter raad vind ons in Efesiërs 4:1-3? (b) Wat kan ons doen om die gemeente te help om verenig te bly?
18 Wat kan ons help om nie in hierdie strik te trap nie? Paulus het praktiese raad gegee aan die Christene in Efese, ’n ryk stad met mense uit talle verskillende agtergronde. (Lees Efesiërs 4:1-3.) Paulus het eienskappe genoem soos ootmoed, oftewel nederigheid, asook sagmoedigheid, lankmoedigheid en liefde. Hierdie eienskappe is soos sterk pilare wat ’n huis staande laat bly. Maar om ’n huis in ’n goeie toestand te hou, verg ook harde werk. Paulus wou hê dat die Christene in Efese hard moes werk om “die eenheid van die gees . . . te bewaar”.
19 Ons almal moet ons bes doen om die eenheid van die gemeente te bewaar. Hoe kan ons dit doen? Eerstens moet ons die eienskappe wat Paulus genoem het, aankweek en openbaar, naamlik nederigheid, sagmoedigheid, lankmoedigheid en liefde. Tweedens moet ons hard werk om “die verenigende band van vrede te bewaar”. Misverstande is soos klein krakies in ons eenheid; ons moet dus hard werk om misverstande op te los sodat ons die vrede en eenheid onder ons kan bewaar.
20. Hoe kan ons toon dat ons verstaan dat ‘Jehovah ons God een Jehovah is’?
20 “Jehovah ons God is een Jehovah.” Dit is ’n kragtige stelling! Hierdie herinnering het die Israeliete versterk om uitdagings die hoof te bied toe hulle die Beloofde Land binnegegaan en in besit geneem het. Hierdie woorde kan ons ook versterk om tydens die groot verdrukking te volhard en om by te dra tot die vrede en eenheid in die komende Paradys. Laat ons voortgaan om Jehovah ons uitsluitlike toegewydheid te gee. Ons moet hom met ons hele hart, ons hele verstand en al ons krag liefhê en dien, en ons moet hard werk om ons vrede en eenheid te bewaar. As ons aanhou om hierdie dinge te doen, sal Jesus ons as skape oordeel, en ons sal sien hoe sy woorde bewaarheid word: “Kom, julle wat deur my Vader geseën is, beërf die koninkryk wat van die grondlegging van die wêreld af vir julle berei is.”—Matteus 25:34.