Jongmense vra
Wat kan ek doen as ek terneergedruk voel?
“Wanneer almal wil tou opgooi, is ek daar om hulle probleme op te los en hulle beter te laat voel. Maar dan—en dít is wat min mense sien—gaan ek huis toe en huil ek in my kamer.”—Kellie.a
“Wanneer ek terneergedruk voel, sonder ek my af. As ek êrens heen genooi word, dink ek aan ’n verskoning om nie te gaan nie. Ek is goed daarmee om my negatiewe gevoelens vir die res van die gesin weg te steek. Hulle dink daar is niks fout met my nie.”—Rick.
HET jy al soos Kellie of Rick gevoel? As jy het, moet jy nie te gou dink dat daar iets met jou verkeerd is nie. Die feit is dat almal nou en dan terneergedruk raak. Selfs getroue manne en vroue in die Bybel het so gevoel.
Soms weet jy dalk waarom jy terneergedruk is, ander kere dalk nie. “Jy hoef nie in ’n aaklige situasie te wees om sleg te voel nie”, sê die 19-jarige Anna. “Dit kan enige tyd gebeur, selfs as jy nie probleme het nie. Dit maak nie sin nie, maar dit gebeur!”
Ongeag wat die oorsaak is—of selfs as daar skynbaar nie een is nie—wat kan jy doen wanneer negatiewe gevoelens jou oorweldig?
Wenk #1: Praat daaroor. Die Bybel sê: “’n Ware metgesel het te alle tye lief en is ’n broer wat gebore word vir die tyd wanneer daar benoudheid is.”—Spreuke 17:17.
Kellie: “Dit is verbasend hoe verlig ek voel nadat ek met iemand gepraat het. Uiteindelik weet iemand wat ek deurmaak. Dit is asof hy ’n tou kan laat sak en my uit die put kan optrek—uiteindelik voel ek vry!”
Wenk: Skryf hieronder die naam van ’n “ware metgesel” neer wat jy in jou vertroue kan neem wanneer jy terneergedruk voel.
․․․․․
Wenk #2: Skryf daaroor. Wanneer negatiewe gevoelens jou uitkyk op die lewe vertroebel, kan jy jou gedagtes probeer neerskryf. Dawid het in sy geïnspireerde psalms soms beskryf hoe terneergedruk hy gevoel het (Psalm 6:6). As jy sulke gevoelens neerskryf, kan dit jou help om ‘praktiese wysheid en denkvermoë te bewaar’.—Spreuke 3:21.
Heather: “As ek verward voel omdat ek terneergedruk is, skryf ek my gedagtes neer om dit uit te sorteer. Wanneer jy jou gevoelens kan uitdruk en verstaan waarom jy so voel, is dit nie meer so erg nie.”
Wenk: Party jongmense hou ’n dagboek. As jy een het, wat kan jy daarin skryf? Wel, wanneer jy terneergedruk is, kan jy beskryf hoe jy voel en wat jy dink die oorsaak daarvan is. ’n Maand later kan jy lees wat jy neergeskryf het. Voel jy anders oor die saak? Indien wel, skryf neer wat jou gehelp het.
Wenk #3: Bid daaroor. Die Bybel sê dat ‘die vrede van God wat alle denke te bowe gaan, jou hart en jou verstandelike vermoëns sal bewaak’ as jy bid oor die dinge wat jou pla.—Filippense 4:7.
Esther: “Ek het probeer uitvind waarom ek so sleg voel, maar ek kon nie. Ek het Jehovah gevra om my te help om gelukkig te wees. Ek was moeg daarvoor om sonder enige rede terneergedruk te voel. Ek het uiteindelik die kringloop verbreek. Moet nooit die krag van gebed onderskat nie!”
Wenk: Gebruik Psalm 139:23, 24 as ’n voorbeeld wanneer jy tot Jehovah bid. Stort jou hart uit en vra hom om jou te help om vas te stel waarom jy terneergedruk is.
God se Woord kan jou ook baie help (Psalm 119:105). As jy jou verstand vul met opbouende gedagtes wat in Bybelverslae gevind kan word, kan dit ’n positiewe uitwerking op jou denke, gevoelens en dade hê (Psalm 1:1-3). Die Bybelboek Handelinge bevat aanmoedigende, opwindende verslae. Verdere wenke om Bybellees opbouend te maak, kan gevind word op die nege bladsye met die titel “Rolmodel” in Vrae wat jongmense vra—Antwoorde wat werk, Deel 2, uitgegee deur Jehovah se Getuies. Van die Bybelverslae wat op hierdie bladsye bespreek word, is dié van Josef, Hiskia, Lidia en Dawid. Op bladsy 227 sal jy selfs sien wat die apostel Paulus gehelp het om negatiewe gevoelens te oorkom wat hy soms weens sy onvolmaakthede gehad het.
Maar sê nou jy bly terneergedruk, ongeag wat jy doen?
Wanneer jy terneergedruk bly
“Party oggende”, sê Ryan, “voel ek dat dit makliker sal wees om maar net in die bed te bly as om op te staan en nog ’n doellose dag in die oë te staar.” Ryan ly aan kliniese depressie, en hy is nie die enigste een nie. Volgens studies ly omtrent 1 uit 4 jongmense aan een of ander vorm van depressie voordat hulle volwassenheid bereik.
Hoe kan jy uitvind of jy aan depressie ly? Party simptome is ’n drastiese verandering in gemoedstemming en gedrag, sosiale afsondering, verminderde belangstelling in byna alle bedrywighede, ’n merkbare verandering in eetgewoontes en slaappatrone asook intense gevoelens van nutteloosheid of ongegronde skuldgevoelens.
Byna almal ondervind natuurlik die een of ander tyd een of meer van hierdie simptome. Maar as die simptome langer as ’n paar weke voortduur, kan jy jou ouers vra of jy dalk ’n afspraak by die dokter moet maak. ’n Dokter sal dalk kan help om vas te stel of daar ’n mediese rede vir jou terneergedruktheid is.b
As jy wel aan kliniese depressie ly, hoef jy nie daaroor skaam te voel nie. Baie mense wat daaraan ly, het beter begin voel nadat hulle behandeling ontvang het—dalk beter as wat hulle in ’n lang tyd gevoel het! Of jy nou terneergedruk voel weens depressie of nie, dink aan die vertroostende woorde van Psalm 34:18: “Jehovah is naby die gebrokenes van hart; en die verbryseldes van gees red hy.”
Nog artikels uit die reeks “Jongmense vra” kan gevind word op die webwerf www.watchtower.org/ype
[Voetnote]
a Van die name in hierdie artikel is verander.
b Party jongmense oorweeg dit om selfmoord te pleeg wanneer hulle vir ’n lang tyd terneergedruk voel. As jy dit al oorweeg het, moet jy so gou as moontlik met ’n volwassene praat wat jy kan vertrou.—Sien die Ontwaak! van Mei 2008, bladsye 26-28.
IETS OM OOR TE DINK
● Help dit om te huil?
“Ek was nog nooit iemand wat maklik huil nie, maar as ek terneergedruk voel, is dit wel nodig. As ’n mens goed huil, is dit asof jy ’n reset-knoppie druk. Ek begin logies dink, en ek kan die toekoms in ’n positiewe lig sien.”—Leanne.
● Hoe kan ander jou help om terneergedruktheid die hoof te bied?
“Wanneer ek terneergedruk is, moet ek my nie afsonder nie. Soms moet ek egter alleen wees om my gedagtes uit te sorteer en dalk goed te huil. Maar daarna weet ek dat ek saam met ander moet wees sodat ek nie heeltyd dink aan wat my terneergedruk gemaak het nie.”—Christine.
[Venster/Prente op bladsy 21]
WAT JOU PORTUURS SÊ
“Ek begin gewoonlik terneergedruk voel wanneer ek te veel op myself konsentreer. Maar wanneer ek ander kan help, dink ek nie meer net aan myself nie, en dan voel ek gelukkiger.”
“Wanneer ek ’n goeie oefenprogram volg, voel ek oor die algemeen beter omdat ek positief oor myself begin dink. En as ek oefen, gebruik ek al my energie sodat ek agterna te moeg is om sleg te voel!”
[Prente]
Drenelle
Rebekah
[Prent op bladsy 22]
Met hulp en inspanning kan jy uit die diep put van terneergedruktheid kom