Hoofstuk dertig
“Vertroos my volk”
1. Wat is een manier waarop Jehovah ons vertroos?
JEHOVAH is ‘die God wat vertroosting verskaf’. Een manier waarop hy ons vertroos, is deur die beloftes wat hy in sy Woord laat opteken het (Romeine 15:4, 5). Wanneer iemand vir wie jy lief is byvoorbeeld sterf, wat kan dan meer vertroostend wees as die vooruitsig dat daardie geliefde in God se nuwe wêreld opgewek sal word? (Johannes 5:28, 29). En wat van Jehovah se belofte dat hy goddeloosheid binnekort tot ’n einde sal bring en hierdie aarde in ’n paradys sal omskep? Is dit nie vertroostend om die vooruitsig te hê om tot in daardie komende Paradys te lewe en nooit te sterf nie?—Psalm 37:9-11, 29; Openbaring 21:3-5.
2. Waarom kan ons die beloftes van God vertrou?
2 Kan ons werklik die beloftes van God vertrou? Baie beslis! Die Een wat daardie beloftes gemaak het, is heeltemal betroubaar. Hy het die vermoë sowel as die begeerte om sy woord na te kom (Jesaja 55:10, 11). Dit is baie duidelik getoon in verband met Jehovah se woorde deur die profeet Jesaja dat hy ware aanbidding in Jerusalem sal herstel. Kom ons kyk na daardie profesie, soos dit in Jesaja hoofstuk 40 opgeteken staan, want dit kan ons geloof in Jehovah, die Vervuller van beloftes, versterk.
’n Vertroostende belofte
3, 4. (a) Watter vertroostende woorde wat God se volk later nodig sal hê, teken Jesaja op? (b) Waarom sal die inwoners van Juda en Jerusalem in ballingskap na Babilon geneem word, en hoe lank sal hulle slawerny duur?
3 In die agtste eeu v.G.J. het die profeet Jesaja vertroostende woorde opgeteken wat Jehovah se volk in latere tye nodig sou hê. Onmiddellik nadat hy koning Hiskia vertel het van die naderende vernietiging van Jerusalem en dat die Joodse volk in ballingskap na Babilon weggevoer sal word, vertel Jesaja hom van Jehovah se woorde wat herstelling belowe: “‘Vertroos, vertroos my volk’, sê julle God. ‘Spreek tot die hart van Jerusalem en roep hom toe dat sy krygsdiens vervul is, dat sy dwaling afbetaal is. Want uit die hand van Jehovah het hy ’n volle maat vir al sy sondes ontvang.’”—Jesaja 40:1, 2.
4 “Vertroos”, die eerste woord van Jesaja hoofstuk 40, is ’n gepaste inleiding tot die boodskap van lig en hoop wat in die res van die boek Jesaja bevat word. Die inwoners van Juda en Jerusalem sal in 607 v.G.J. in ballingskap na Babilon weggevoer word omdat hulle afvallig geword het. Maar daardie Joodse gevangenes sal die Babiloniërs nie vir ewig dien nie. Nee, hulle slawerny sal net duur totdat hulle dwaling “afbetaal” is. Hoe lank sal dit wees? Volgens die profeet Jeremia, 70 jaar (Jeremia 25:11, 12). Daarna sal Jehovah ’n berouvolle oorblyfsel uit Babilon na Jerusalem teruglei. Wat ’n vertroosting sal dit tog in die 70ste jaar van Juda se verwoesting vir die gevangenes wees wanneer hulle besef dat die tyd vir hulle beloofde verlossing op hande is!—Daniël 9:1, 2.
5, 6. (a) Waarom sal die lang reis van Babilon na Jerusalem nie die vervulling van God se belofte belemmer nie? (b) Watter uitwerking sal dit op ander nasies hê as die Jode in hulle vaderland herstel word?
5 Die reis van Babilon na Jerusalem is tussen 800 en 1 600 kilometer, afhangende van die roete wat geneem word. Sal die lang reis die vervulling van God se belofte belemmer? Beslis nie! Jesaja skryf: “Luister! Iemand roep in die wildernis uit: ‘Baan die weg van Jehovah! Maak die grootpad vir ons God deur die woestynvlakte reguit. Laat elke vallei verhoog word en elke berg en heuwel plat gemaak word. En die bulterige grond sal ’n gelykte word, en die ongelyke grond ’n valleivlakte. En die heerlikheid van Jehovah sal beslis geopenbaar word, en alle vlees sal dit saam sien, want die mond van Jehovah het dit gespreek.’”—Jesaja 40:3-5.
6 Voor Oosterse heersers op ’n reis vertrek het, het hulle dikwels manne uitgestuur om die weg te berei deur groot klippe te verwyder en selfs brûe te bou en heuwels gelyk te maak. In die geval van die terugkerende Jode sal dit wees asof God self aan die voorpunt is en enige hindernisse uit die weg ruim. Hulle is immers Jehovah se naamvolk, en as hy sy belofte vervul om hulle in hulle vaderland te herstel, sal dit sy heerlikheid voor al die nasies openbaar. Of daardie nasies nou daarvan hou of nie, hulle sal eenvoudig moet besef dat Jehovah die Vervuller van sy beloftes is.
7, 8. (a) Hoe is die woorde van Jesaja 40:3 in die eerste eeu G.J. vervul? (b) Watter groter vervulling het Jesaja se profesie in 1919 gehad?
7 Die herstelling in die sesde eeu v.G.J. is nie die enigste vervulling van hierdie profesie nie. Daar was ook ’n vervulling in die eerste eeu G.J. Johannes die Doper was die stem van iemand wat ‘in die wildernis uitroep’ ter vervulling van Jesaja 40:3 (Lukas 3:1-6). Onder inspirasie het Johannes die woorde van Jesaja op homself toegepas (Johannes 1:19-23). Johannes het in 29 G.J. begin om die weg vir Jesus Christus te berei.a Die boodskap wat Johannes vooraf verkondig het, het mense na die beloofde Messias laat soek sodat hulle, op hulle beurt, na hom kon luister en hom kon volg (Lukas 1:13-17, 76). Deur middel van Jesus sou Jehovah berouvolle persone na die vryheid lei wat slegs God se Koninkryk kan bied—bevryding van slawerny aan sonde en die dood (Johannes 1:29; 8:32). Jesaja se woorde het ’n groter vervulling in die bevryding van die oorblyfsel van geestelike Israel uit Babilon die Grote in 1919 en in hulle herstelling tot ware aanbidding gehad.
8 Maar wat van diegene wat die vooruitsig het om deur die eerste vervulling van die belofte bevoordeel te word—die Joodse gevangenes in Babilon? Kan hulle werklik vertroue hê in Jehovah se belofte om hulle in hulle geliefde vaderland te herstel? Baie beslis! Deur betekenisvolle woorde en illustrasies wat uit die daaglikse lewe geneem is, gee Jesaja nou goeie redes waarom hulle vaste vertroue kan hê dat Jehovah sy beloftes sal nakom.
’n God wie se woord vir ewig bly staan
9, 10. Hoe stel Jesaja die verbygaande aard van die mens se lewe teenoor die bestendigheid van God se “woord”?
9 In die eerste plek sal die woord van die Een wat herstelling belowe vir ewig bly staan. Jesaja skryf: “Luister! Iemand sê: ‘Roep uit!’ En een het gesê: ‘Wat moet ek uitroep?’ ‘Alle vlees is groen gras, en al hulle liefderyke goedhartigheid is soos die bloeisel van die veld. Die groen gras het verdroog, die bloeisel het verwelk, want die gees van Jehovah het daarop geblaas. Waarlik, die volk is groen gras. Die groen gras het verdroog, die bloeisel het verwelk; maar wat die woord van ons God betref, dit sal tot onbepaalde tyd bly bestaan.’”—Jesaja 40:6-8.
10 Die Israeliete weet alte goed dat gras nie vir ewig bestaan nie. Gedurende die droë seisoen verander die son se intense hitte dit van groen na ’n verskroeide bruin. In sekere opsigte is die mens se lewe soos gras—net so kortstondig (Psalm 103:15, 16; Jakobus 1:10, 11). Jesaja stel die verbygaande aard van die mens se lewe teenoor die bestendigheid van God se “woord”, of verklaarde voorneme. Ja, “die woord van ons God” bly vir ewig. Wanneer God praat, kan niks sy woord tot niet maak of verhoed dat dit vervul word nie.—Josua 23:14.
11. Waarom kan ons Jehovah vertrou om die beloftes wat in sy geskrewe Woord opgeteken staan na te kom?
11 Vandag het ons die verklaring van Jehovah se voorneme in geskrewe vorm in die Bybel. Daar was deur die eeue heen bittere teenstand teen die Bybel, en vreeslose vertalers en ander het hulle lewe gewaag om dit te bewaar. En tog is hulle pogings alleen nie die enigste rede waarom dit behoue gebly het nie. Alle eer daarvoor kom Jehovah toe, “die lewende en blywende God” en die Bewaarder van sy Woord (1 Petrus 1:23-25). Dink hieraan: Aangesien Jehovah sy geskrewe Woord bewaar het, kan ons hom dan nie vertrou om die beloftes daarin na te kom nie?
’n Sterk God wat met teerheid vir sy skape sorg
12, 13. (a) Waarom kan die belofte van herstelling vertrou word? (b) Watter goeie nuus is daar vir die Joodse ballinge, en waarom kan hulle dit vertrou?
12 Jesaja gee ’n tweede rede waarom die belofte van herstelling vertrou kan word. Die Een wat die belofte maak, is ’n sterk God wat met teerheid vir sy volk sorg. Jesaja sê verder: “Klim op ’n hoë berg, o vrou wat goeie nuus bring vir Sion. Verhef jou stem met krag, o vrou wat goeie nuus bring vir Jerusalem. Verhef dit. Moenie bang wees nie. Sê vir die stede van Juda: ‘Hier is julle God.’ Kyk! Die Soewereine Heer Jehovah sal kom as ’n sterke [“met krag”, voetnoot in naslaanuitgawe], en sy arm sal vir hom heers. Kyk! Sy beloning is by hom, en die loon wat hy betaal, is voor hom. Soos ’n herder sal hy sy kudde laat wei. Met sy arm sal hy die lammers bymekaarbring; en in sy boesem sal hy hulle dra. Dié wat soog, sal hy met sorg lei.”—Jesaja 40:9-11.
13 In Bybeltye was dit die gebruik dat vroue oorwinnings vier deur die goeie nuus van veldslae wat gewen is of verligting wat sal kom uit te roep of te besing (1 Samuel 18:6, 7; Psalm 68:11). Jesaja toon profeties dat daar goeie nuus vir die Joodse ballinge is, nuus wat sonder vrees uitgeroep kan word, selfs van die bergtoppe af—Jehovah sal sy volk na hulle geliefde Jerusalem toe teruglei! Hulle kan vertroue hê, want Jehovah sal “met krag” kom. Niks kan hom dus keer om sy belofte na te kom nie.
14. (a) Hoe lig Jesaja die tere manier toe waarop Jehovah sy volk sal lei? (b) Watter voorbeeld toon hoe herders met teerheid vir hulle skape sorg? (Sien venster op bladsy 405.)
14 Maar hierdie sterk God kan ook teerheid openbaar. Jesaja gee ’n roerende beskrywing van hoe Jehovah sy volk na hulle vaderland sal teruglei. Jehovah is soos ’n liefdevolle herder wat sy lammers bymekaarmaak en hulle in sy “boesem” dra. Die woord “boesem” verwys hier klaarblyklik na die boonste voue van die klere. Herders dra soms pasgebore lammetjies daar wat nie by die kudde kan byhou nie (2 Samuel 12:3). So ’n roerende toneel uit die landelike lewe verseker Jehovah se volk in ballingskap ongetwyfeld van sy liefdevolle besorgdheid oor hulle. So ’n sterk en tog liefdevolle God kan sekerlik vertrou word om sy beloftes aan hulle na te kom!
15. (a) Wanneer het Jehovah “met krag” gekom, en wie is die ‘arm wat vir hom heers’? (b) Watter goeie nuus moet onbevrees verkondig word?
15 Jesaja se woorde het groot profetiese betekenis vir ons dag. In 1914 het Jehovah “met krag” gekom en sy Koninkryk in die hemel opgerig. Die ‘arm wat vir hom heers’, is sy Seun, Jesus Christus, wat deur Jehovah op die hemelse troon geplaas is. In 1919 het Jehovah sy gesalfde knegte op aarde uit gevangenskap aan Babilon die Grote bevry en rein aanbidding van die lewende en ware God ten volle begin herstel. Dit is goeie nuus wat onbevrees verkondig moet word, asof dit van die bergtoppe uitgeroep word sodat die aankondiging oral gehoor kan word. Laat ons dan ons stemme verhef en met vrymoedigheid aan ander bekend maak dat Jehovah God sy rein aanbidding op hierdie aarde herstel het!
16. Hoe lei Jehovah sy volk vandag, en watter voorbeeld stel dit?
16 Die woorde van Jesaja 40:10, 11 is vandag vir ons van verdere praktiese waarde. Dit is vertroostend om te let op die tere manier waarop Jehovah sy volk lei. Jehovah verstaan die beperkinge van elkeen van sy getroue knegte, net soos ’n herder die behoeftes van individuele skape verstaan—ook die lammetjies wat nie by die res kan byhou nie. Daarbenewens stel Jehovah, as ’n tere Herder, ’n voorbeeld vir Christenherders. Ouer manne moet die kudde met teerheid behandel en moet die liefdevolle besorgdheid navolg wat Jehovah self aan die dag lê. Hulle moet altyd in gedagte hou hoe Jehovah oor elke lid van die kudde voel, “wat hy met die bloed van sy eie Seun gekoop het”.—Handelinge 20:28.
Almagtig, alwys
17, 18. (a) Waarom kan die Joodse ballinge vertroue hê in die belofte van herstelling? (b) Watter ontsagwekkende vrae stel Jesaja?
17 Die Joodse ballinge kan vertroue hê in die belofte van ’n herstelling omdat God almagtig en alwys is. Jesaja sê: “Wie het die waters in die holte van sy hand gemeet, en die afmetings van die hemel met ’n span geneem, en die stof van die aarde in ’n maat ingesluit, of die berge met ’n weegtoestel en die heuwels op die weegskaal geweeg? Wie het die afmetings van die gees van Jehovah geneem, en wie kan hom as sy raadsman enigiets bekend maak? Met wie het hy beraadslaag sodat ’n mens hom sou laat verstaan, of wie leer hom die pad van geregtigheid of leer hom kennis of maak hom die weg van ware begrip bekend?”—Jesaja 40:12-14.
18 Dit is ontsagwekkende vrae waaroor die Joodse ballinge moet nadink. Kan blote mense die gety van die magtige seë teëhou? Natuurlik nie! Maar vir Jehovah is die seë wat die aarde bedek soos ’n druppel water in die palm van sy hand.b Kan nietige mense die grenslose sterrehemel meet of die berge en heuwels van die aarde weeg? Nee. En tog meet Jehovah die hemel so maklik soos ’n mens iets sal meet met ’n span—die afstand tussen die punt van die duim en die punt van die pinkie wanneer die hand uitgesprei is. God kan as ’t ware berge en heuwels op ’n skaal weeg. Kan selfs die wysste mense God vertel wat hy onder die huidige omstandighede moet doen of vir hom sê wat hy in die toekoms moet doen? Beslis nie!
19, 20. Watter treffende beeldspraak gebruik Jesaja om Jehovah se grootsheid te beklemtoon?
19 Wat van die magtige nasies van die aarde—kan hulle God teëstaan wanneer hy die woord van sy belofte wil vervul? Jesaja antwoord deur die nasies soos volg te beskryf: “Kyk! Die nasies is soos ’n druppel uit ’n emmer; en soos die stoflagie op die weegskaal is hulle gereken. Kyk! Hy lig die eilande op soos fyn stof. Selfs die Libanon is nie genoeg om ’n vuur aan die brand te hou nie, en sy wilde diere is nie genoeg vir ’n brandoffer nie. Al die nasies is voor hom soos iets wat nie bestaan nie; as niks en as ’n onwerklikheid is hulle by hom gereken.”—Jesaja 40:15-17.
20 Vir Jehovah is hele nasies soos ’n druppel water wat uit ’n emmer val. Hulle is niks meer as die fyn stof op ’n skaal wat geen verskil maak nie.c Sê nou iemand bou ’n ontsaglike altaar en gebruik al die bome wat op die berge van die Libanon groei as brandhout daarop. Gestel dan dat hy al die diere wat in daardie berge woon as offers op daardie altaar bring. Selfs so ’n offer sal Jehovah nie waardig wees nie. Asof die beeldspraak wat hy tot dusver gebruik het nog nie genoeg is nie, gaan Jesaja selfs verder—al die nasies is “minder as niks” in Jehovah se oë.—Jesaja 40:17, Nuwe Afrikaanse Vertaling.
21, 22. (a) Hoe beklemtoon Jesaja dat Jehovah onvergelyklik is? (b) Tot watter gevolgtrekking lei Jesaja se aanskoulike beskrywings ons? (c) Watter betroubare wetenskaplike stelling teken die profeet Jesaja op? (Sien venster op bladsy 412.)
21 Om verder te beklemtoon dat Jehovah sonder gelyke is, gaan Jesaja voort deur die dwaasheid uit te wys van dié wat afgode van goud, silwer of hout maak. Hoe dwaas is dit tog om te dink dat enige afgod ’n gepaste afbeelding kan wees van die “Een wat bo die kring van die aarde woon” en wat oor die bewoners daarvan heers!—Lees Jesaja 40:18-24.
22 Al hierdie aanskoulike beskrywings lei ons tot een gevolgtrekking—niks kan keer dat die almagtige, alwyse en onvergelyklike Jehovah sy belofte vervul nie. Hoe moes Jesaja se woorde tog die Joodse ballinge in Babilon wat daarna gesmag het om na hulle vaderland terug te keer, vertroos en versterk het! Vandag kan ons ook die vertroue hê dat Jehovah se beloftes oor ons toekoms verwesenlik sal word.
“Wie het hierdie dinge geskep?”
23. Waarom kan die Joodse ballinge moed skep, en wat beklemtoon Jehovah nou oor homself?
23 Daar is nog ’n rede waarom die Joodse ballinge moed kan skep. Die Een wat belowe om hulle te red, is die Skepper van alle dinge en die Bron van alle dinamiese energie. Om sy verstommende vermoë te beklemtoon, vestig Jehovah die aandag op sy vermoëns wat ons in sy skepping kan sien: “‘Met wie kan julle my vergelyk sodat ek sy gelyke gemaak sou word?’ sê die Heilige. ‘Slaan julle oë op in die hoogte en kyk. Wie het hierdie dinge geskep? Hy wat hulle leër volgens getal uitlei, hulle almal selfs by die naam noem. Weens die oorvloed van dinamiese energie, en omdat hy sterk in krag is, ontbreek nie een van hulle nie.’”—Jesaja 40:25, 26.
24. Hoe toon Jehovah deur sy eie woorde dat hy sonder gelyke is?
24 Die Heilige van Israel praat nou self. Om te toon dat hy sonder gelyke is, vestig Jehovah die aandag op die sterre van die hemel. Soos ’n militêre bevelvoerder wat sy troepe kan aanvoer, is Jehovah in bevel van die sterre. As hy hulle bymekaar sou roep, ‘sou nie een van hulle ontbreek nie’. Hoewel daar baie sterre is, noem hy elkeen by die naam, hetsy ’n individuele naam of ’n aanwysing wat soos ’n naam is. Soos gehoorsame soldate bly hulle in hulle plek en bly hulle in behoorlike orde, want hulle Leier het ’n oorvloed van “dinamiese energie” en is “sterk in krag”. Daarom het die Joodse ballinge rede vir vertroue. Die Skepper, wat die sterre aanvoer, het die krag om sy knegte te onderskraag.
25. Hoe kan ons op God se uitnodiging reageer wat in Jesaja 40:26 opgeteken staan, en watter uitwerking behoort dit te hê?
25 Wie van ons kan die Goddelike uitnodiging ignoreer wat in Jesaja 40:26 opgeteken staan: “Slaan julle oë op in die hoogte en kyk”? Die ontdekkings van hedendaagse sterrekundiges het getoon dat die sterrehemel selfs ontsagwekkender is as wat mense in Jesaja se dag gedink het. Sterrekundiges wat met hulle kragtige teleskope in die hemel in tuur, skat dat die waarneembare heelal tot 125 miljard sterrestelsels bevat. Net een van hulle—die Melkwegstelsel—bevat volgens party skattings meer as 100 miljard sterre! Hierdie kennis behoort eerbied vir ons Skepper en volkome vertroue in die woord van sy belofte in ons hart te wek.
26, 27. Hoe word die gevoelens van die ballinge in Babilon beskryf, en wat moet hulle weet?
26 Jehovah weet dat die jare in ballingskap die gees van die Joodse ballinge sal demp en inspireer Jesaja om hierdie gerusstellende woorde vooraf op te teken: “Waarom sê jy, o Jakob, en spreek jy, o Israel: ‘My weg is vir Jehovah verborge, en geregtigheid teenoor my gaan by my God verby’? Het jy dit nie te wete gekom of het jy dit nie gehoor nie? Jehovah, die Skepper van die eindes van die aarde, is ’n God tot onbepaalde tyd. Hy raak nie moeg of afgemat nie. Daar is geen deurgronding van sy verstand nie.”—Jesaja 40:27, 28.d
27 Jesaja teken Jehovah se woorde op wat die gevoelens beskryf van die ballinge in Babilon, honderde kilometers van hulle vaderland af. Party dink dat hulle God nie hulle “weg”—hulle moeilike lewe—sien of daarvan weet nie. Hulle dink dat Jehovah onverskillig staan teenoor die onregte wat hulle ly. Hulle word herinner aan dinge wat hulle behoort te weet, as dit nie uit persoonlike ondervinding is nie, dan ten minste weens inligting wat aan hulle oorgedra is. Jehovah is in staat en bereid om sy volk te red. Hy is die ewige God en die Skepper van die hele aarde. Gevolglik besit hy nog steeds die mag wat hy gedurende die skepping geopenbaar het, en nie eers die magtige Babilon is buite sy bereik nie. So ’n God kan nie moeg word en sy volk in die steek laat nie. Hulle moet nie verwag dat hulle Jehovah se werke ten volle sal kan verstaan nie, want sy verstand—of insig, onderskeidingsvermoë en waarnemingsvermoë—is bo hulle begrip.
28, 29. (a) Hoe herinner Jehovah sy volk dat hy dié wat afgemat is te hulp sal kom? (b) Watter illustrasie word gebruik om te toon hoe Jehovah sy knegte krag gee?
28 Deur middel van Jesaja gaan Jehovah voort om die neerslagtige ballinge aan te moedig: “Hy gee die vermoeide krag; en aan die een sonder dinamiese energie skenk hy volle sterkte in oorvloed. Seuns sal moeg sowel as afgemat raak, en jong manne sal vir seker struikel, maar dié wat op Jehovah hoop, sal nuwe krag kry. Hulle sal opvaar met vlerke soos arende. Hulle sal hardloop en nie afgemat raak nie; hulle sal loop en nie moeg raak nie.”—Jesaja 40:29-31.
29 Wanneer Jehovah sê dat dit nodig is om vir die vermoeide krag te gee, dink hy dalk aan die veeleisende reis wat die ballinge na hulle vaderland sal moet onderneem. Jehovah herinner sy volk dat hy altyd diegene sal help wat afgemat is en op hom staatmaak vir ondersteuning. Selfs die sterkste mense—“seuns” en “jong manne”—sal afgemat raak en struikel van uitputting. En tog belowe Jehovah om aan dié wat op hom vertrou krag te gee—nuwe krag om te hardloop en te loop. Die skynbaar moeitelose vlug van die arend, ’n kragtige voël wat ure aaneen kan sweef, word gebruik om toe te lig hoe Jehovah sy knegte krag gee.e Met die vooruitsig van hierdie Goddelike ondersteuning het die Joodse ballinge geen rede om moed op te gee nie.
30. Hoe kan ware Christene vandag vertroos word deur die laaste verse van Jesaja hoofstuk 40?
30 Hierdie laaste verse van Jesaja hoofstuk 40 bevat woorde van vertroosting vir ware Christene wat in die laaste dae van hierdie goddelose stelsel lewe. Aangesien daar soveel druk en probleme is wat ’n mens mismoedig kan maak, is dit gerusstellend om te weet dat die probleme wat ons het en die onregte wat ons moet deurmaak nie ons God se aandag ontgaan nie. Ons kan seker wees dat die Skepper van alle dinge, die Een wie se ‘verstand onbeskryflik is’ alle onregte op sy tyd en manier sal regstel (Psalm 147:5, 6). Intussen hoef ons nie in ons eie krag te volhard nie. Jehovah, wie se krag onuitputlik is, kan in tye van beproewing vir sy knegte krag gee—selfs “krag wat bo die normale is”.—2 Korintiërs 4:7.
31. Watter belofte van lig het Jesaja se profesie vir die Joodse gevangenes in Babilon bevat, en waarin kan ons absolute vertroue hê?
31 Dink aan daardie Joodse gevangenes in Babilon in die sesde eeu v.G.J. Honderde kilometers daarvandaan het hulle geliefde Jerusalem woes gelê, met die tempel in puin. Jesaja se profesie het vir hulle ’n vertroostende belofte van lig en hoop bevat—Jehovah sou hulle in hulle vaderland herstel! In 537 v.G.J. het Jehovah sy volk na hulle tuiste toe teruggelei, en sodoende bewys dat hy die Vervuller van beloftes is. Ons kan ook absolute vertroue in Jehovah hê. Sy Koninkryksbeloftes, wat so pragtig in Jesaja se profesie uiteengesit word, sal ’n werklikheid word. Dit is beslis goeie nuus—’n boodskap van lig vir die hele mensdom!
[Voetnote]
a Jesaja voorspel dat die weg voor Jehovah berei sal word (Jesaja 40:3). Maar die Evangelies pas daardie profesie toe op wat Johannes die Doper gedoen het om die weg vir Jesus Christus te berei. Die geïnspireerde skrywers van die Christelike Griekse Geskrifte het hierdie toepassing gemaak omdat Jesus sy Vader verteenwoordig het en in sy Vader se naam gekom het.—Johannes 5:43; 8:29.
b Daar is bereken dat “die massa van die oseane ongeveer 1,35 triljoen (1,35 x 1018) metrieke ton, of omtrent 1/4400 van die totale massa van die aarde, is”.—Encarta 97 Encyclopedia.
c The Expositor’s Bible Commentary sê: “In die handelsbedrywighede in Nabye-Oosterse markte is die ou klein waterdruppeltjie in die maatemmer of die stoffie op die skaal glad nie in ag geneem wanneer vleis of vrugte geweeg is nie.”
d Die uitdrukking “onbepaalde tyd” beteken in Jesaja 40:28 “vir ewig”, want Jehovah is “die Koning van die ewigheid”.—1 Timoteus 1:17.
e Die arend gebruik min energie om in die lug te bly. Hy doen dit deur die stygende warm lugstrome te benut.
[Venster/Prent op bladsy 404, 405]
Jehovah, ’n liefdevolle herder
Jesaja vergelyk Jehovah met ’n liefdevolle herder wat sy lammetjies in sy boesem dra (Jesaja 40:10, 11). Jesaja baseer hierdie hartlike illustrasie klaarblyklik op iets wat herders werklik doen. ’n Hedendaagse waarnemer wat herders op die hange van die berg Hermon in die Midde-Ooste dopgehou het, sê: “Elke herder het sy kudde fyn dopgehou om te sien hoe hulle vaar. Wanneer hy ’n pasgebore lammetjie gevind het, het hy hom in die voue van sy . . . groot mantel gesit, want hy sou nie sterk genoeg wees om sy ma te volg nie. Wanneer sy boesem vol was, het hy lammers oor sy skouers gedra en hulle aan hulle pote vasgehou, of in ’n sak of mandjie oor die rug van ’n donkie, tot die kleintjies hulle moeders kon volg.” Is dit nie vertroostend om te weet dat ons ’n God dien wat sulke tere besorgdheid vir sy volk het nie?
[Venster/Prent op bladsy 412]
Wat is die vorm van die aarde?
In antieke tye het mense oor die algemeen geglo dat die aarde plat is. Die Griekse filosoof Pitagoras het egter reeds in die sesde eeu v.G.J. ’n teorie gehad dat die aarde ’n sfeer moet wees. Maar twee eeue voor Pitagoras sy teorie geformuleer het, het die profeet Jesaja met buitengewone duidelikheid en sekerheid gesê: “Daar is Een wat bo die kring van die aarde woon” (Jesaja 40:22). Die Hebreeuse woord choegh, wat hier as “kring” vertaal word, kan as “bol” weergegee word. Dit is interessant dat net ’n bolvormige voorwerp uit elke hoek gesien soos ’n sirkel lyk.f Die profeet Jesaja was dus sy tyd ver vooruit toe hy hierdie verklaring opgeteken het wat wetenskaplik betroubaar en vry van antieke mites is.
[Voetnoot]
f Tegnies gesproke is die aarde ’n afgeplatte bol. Dit is effens afgeplat by die pole.
[Prent op bladsy 403]
Johannes die Doper was ’n stem ‘wat in die wildernis uitroep’