-
Probleme wat lei tot hoopDie Wagtoring — 2011 | Mei 1
-
-
Probleme wat lei tot hoop
“In die laaste dae [sal daar] kritieke tye . . . wees wat moeilik is om deur te kom.”—2 TIMOTEUS 3:1.
HET jy al van enige van die volgende hartseer gebeure gehoor—of dit self gesien?
● ’n Dodelike siekte eis tientalle lewens.
● ’n Hongersnood stuur honderde na hulle graf.
● ’n Aardbewing knip duisende se lewens kort en laat baie ander dakloos.
Op die volgende bladsye sal jou aandag gevestig word op ’n paar feite in verband met hierdie soort gebeure wat jou diep sal laat dink. Jy sal ook sien dat die Bybel sulke toestande voorspel het vir die tydperk wat “die laaste dae” genoem word.a
Die doel van hierdie artikels is egter nie om jou te oortuig dat ons in ’n wêreld vol probleme lewe nie. Jy sien hierdie probleme heel moontlik self. Dit is eerder saamgestel om jou hoop te gee. Dit sal toon dat die vervulling van hierdie ses profesieë daarop dui dat “die laaste dae” binnekort tot ’n einde sal kom. Hierdie reeks sal ook kyk na ’n paar algemene besware teen hierdie bewyse en sal ons goeie rede gee om te glo dat iets beters op hande is.
[Voetnoot]
a Om uit te vind waarom God hierdie slegte toestande toelaat, sien die artikel “Waarom laat God boosheid en lyding toe?” op bladsye 16 en 17 van hierdie tydskrif.
-
-
Profesie 1. AardbewingsDie Wagtoring — 2011 | Mei 1
-
-
Profesie 1. Aardbewings
“Daar sal groot aardbewings wees.”—LUKAS 21:11.
● Winnie, 16 maande oud, word onder die puin in Haïti uitgehaal. ’n TV-span wat oor die ramp verslag lewer, het haar sagte gekerm gehoor. Sy oorleef die aardbewing, maar haar ouers nie.
WAT TOON DIE FEITE? Toe ’n aardbewing van 7,0 op die Richterskaal Haïti in Januarie 2010 getref het, het meer as 300-000 mense gesterf. Nog 1,3 miljoen is in ’n oomblik dakloos gelaat. Hoewel dit ’n uiterste geval is, was die aardbewing in Haïti nie ’n unieke gebeurtenis nie. Tussen April 2009 en April 2010 het daar wêreldwyd ten minste 18 groot aardbewings plaasgevind.
WAT IS ’N ALGEMENE BESWAAR? Daar is nie meer aardbewings as tevore nie; ons is weens moderne tegnologie net meer bewus daarvan as mense in die verlede.
IS DIT ’N GELDIGE BESWAAR? Dink hieraan: Die Bybel beklemtoon nie die aantal aardbewings wat gedurende die laaste dae sal plaasvind nie. Maar dit sê wel dat “groot aardbewings” “op die een plek na die ander” sal plaasvind, wat dit een van die noemenswaardige kenmerke van hierdie betekenisvolle tyd in die geskiedenis maak.—Markus 13:8; Lukas 21:11.
WAT DINK JY? Sien ons groot aardbewings, net soos die Bybel voorspel het?
Aardbewings lyk op sigself dalk nie na onbetwisbare bewys dat ons in die laaste dae lewe nie. Maar dit is net een profesie wat vervul word. Kyk na ’n tweede profesie.
[Lokteks op bladsy 4]
“Ons [geofisici] praat daarvan as groot aardbewings. Al die ander mense praat daarvan as verskriklike rampe.”—KEN HUDNUT, AMERIKAANSE DEPARTEMENT VAN GEOLOGIESE OPNAMES.
[Foto-erkenning op bladsy 4]
© William Daniels/Panos Pictures
-
-
Profesie 2. HongersnoodDie Wagtoring — 2011 | Mei 1
-
-
Profesie 2. Hongersnood
“Daar sal voedseltekorte wees.”—MARKUS 13:8.
● ’n Man soek toevlug in die dorpie, Quaratadji, Niger. Die man se neefs, niggies, broers en susters het ook van die binneland gekom in ’n poging om van die hongersnood te ontsnap. Maar die man lê alleen op ’n mat op die grond. Waarom is hy alleen? “Hy kan nie aan [sy familie] kos voorsien nie en kan hulle nie meer in die oë kyk nie”, verduidelik Sidi, die hoofman van die dorp.
WAT TOON DIE FEITE? Wêreldwyd kry byna 1 uit 7 mense elke dag nie genoeg om te eet nie. Die situasie is erger in Afrika suid van die Sahara, waar 1 uit 3 as chronies honger beskou word. Om hierdie syfer in perspektief te plaas, stel jou ’n gesin voor wat uit ’n pa, ’n ma en ’n baba bestaan. As daar net genoeg kos vir twee van hulle is, wie sal honger bly? Die pa? die ma? die baba? Dit is die keuse waarvoor sulke gesinne daagliks te staan kom.
WAT IS ’N ALGEMENE BESWAAR? Die aarde produseer meer as genoeg kos vir almal. Die aarde se hulpbronne moet net beter bestuur word.
IS DIT ’N GELDIGE BESWAAR? Boere kan weliswaar meer kos as ooit tevore produseer en vervoer. Ideaal gesien behoort menseregerings die aarde se voedselvoorraad so te kan bestuur dat die probleem van hongersnood opgelos word. Maar selfs nadat hulle dekades lank probeer het, kon hulle dit nog nie regkry nie.
WAT DINK JY? Word Markus 13:8 vervul? Word die mensdom, ondanks vooruitgang in die tegnologie, op ’n wêreldskaal deur voedseltekorte geteister?
Aardbewings en hongersnood is dikwels voorlopers van probleme wat ontstaan uit ’n ander aspek van die teken van die laaste dae.
[Lokteks op bladsy 5]
“Meer as ’n derde van kinders wat aan longontsteking, diarree en ander siektes sterf, kon oorleef het as hulle nie ondervoed was nie.”—ANN M. VENEMAN, VOORMALIGE UITVOERENDE DIREKTEUR VAN DIE VN SE KINDERFONDS.
[Foto-erkenning op bladsy 5]
© Paul Lowe/Panos Pictures
-
-
Profesie 3. SiekteDie Wagtoring — 2011 | Mei 1
-
-
Profesie 3. Siekte
“Mense sal . . . aan verskriklike siektes ly.”—LUKAS 21:11, Contemporary English Version.
● Bonzali, ’n gesondheidsbeampte in ’n Afrikaland wat deur burgeroorlog geteister word, doen wat hy kan om mynwerkers in sy dorp wat aan die Marburgvirus sterf, te behandel.a Sy versoeke om hulp aan beamptes in ’n groter stad het op dowe ore geval. Vier maande later daag hulp uiteindelik op, maar Bonzali is dood. Hy het Marburgsiekte gekry by die mynwerkers wat hy probeer red het.
WAT TOON DIE FEITE? Infeksies van die onderste lugweë (soos longontsteking), diarreale siektes, MIV/vigs, tering en malaria is onder die dodelikste siektes wat die mensdom teister. In ’n onlangse jaar het nagenoeg 10,7 miljoen mense aan hierdie vyf soorte siektes gesterf. Anders gestel, ongeveer een persoon het elke drie sekondes van daardie jaar aan een van dié siektes gesterf.
WAT IS ’N ALGEMENE BESWAAR? Die wêreldbevolking neem voortdurend toe en daarom is daar natuurlik meer gevalle van siekte. Daar is meer mense wat kan siek word.
IS DIT ’N GELDIGE BESWAAR? Die wêreldbevolking het drasties toegeneem. Maar so ook die mens se vermoë om siektes te diagnoseer, te beheer en te behandel. Moet siekte dan nie logieserwys sy houvas op die mensdom verloor nie? En tog gebeur net die teenoorgestelde.
WAT DINK JY? Ly mense aan verskriklike siektes, soos die Bybel voorspel het?
Aardbewings, hongersnood en siekte is onpersoonlike kragte wat verwoesting aanrig onder miljoene mense. Miljoene ander ly deur die toedoen van hulle medemens—baie is slagoffers van diegene wat veronderstel is om hulle te beskerm. Kyk wat volgens Bybelprofesie sou gebeur.
[Voetnoot]
a Marburg- hemorragiese koors word veroorsaak deur ’n virus wat verwant is aan Ebola.
[Lokteks op bladsy 6]
“Dit is iets verskrikliks om deur ’n leeu of iets anders opgevreet te word, maar dit is net so erg om van binne deur die een of ander vreeslike kiem opgevreet te word en om te sien dat dit oral om jou gebeur.”—EPIDEMIOLOOG MICHAEL OSTERHOLM.
[Foto-erkenning op bladsy 6]
© William Daniels/Panos Pictures
-
-
Profesie 4. Gebrek aan natuurlike liefdeDie Wagtoring — 2011 | Mei 1
-
-
Profesie 4. Gebrek aan natuurlike liefde
“Mense sal . . . ’n gebrek aan natuurlike liefde vir hulle gesin hê.”—2 TIMOTEUS 3:1-3, God’s Word Bible.
● Chris werk vir ’n groep in Noord-Wallis wat hulp verleen aan slagoffers van gesinsgeweld. “Ek onthou een vrou wat ingekom het en so erg geslaan is dat ek haar nie eers kon herken nie”, sê Chris. “Ander vroue is emosioneel so afgetakel dat hulle nie eers kan opkyk nie.”
WAT TOON DIE FEITE? In ’n Afrikaland is ongeveer 1 uit elke 3 vroue as kind seksueel misbruik. ’n Opname wat in daardie land gedoen is, het getoon dat meer as een derde van mans dink dat dit aanvaarbaar is om hulle vrou te slaan. Maar vroue is nie die enigste slagoffers van gesinsgeweld nie. Byvoorbeeld, in Kanada is byna 3 uit 10 mans deur hulle maat geslaan of andersins misbruik.
WAT IS ’N ALGEMENE BESWAAR? Daar was nog altyd gesinsgeweld. Vandag kry dit net meer aandag as in die verlede.
IS DIT ’N GELDIGE BESWAAR? Bewustheid van gesinsgeweld het in onlangse dekades toegeneem. Maar het groter bewustheid van die probleem die aantal gevalle van gesinsgeweld laat afneem? Nee, dit is nie die geval nie. ’n Gebrek aan natuurlike liefde word al hoe algemener.
WAT DINK JY? Word 2 Timoteus 3:1-3 vervul? Het baie ’n gebrek aan die liefde vir hulle gesin wat hulle van nature behoort te voel?
Die vyfde profesie waarvan jy die vervulling sien, hou verband met ons tuiste, die aarde. Kyk wat die Bybel oor hierdie onderwerp sê.
[Lokteks op bladsy 7]
“Daar word erken dat gesinsgeweld een van die mees ondergerapporteerde misdade in die samelewing is. ’n Vrou sal gemiddeld 35 keer deur haar maat aangerand word voordat sy dit by die polisie aanmeld.”—’N WOORDVOERDER VIR WALLIS SE GESINSGEWELDHULPLYN.
-
-
Profesie 5. Verderwing van die aardeDie Wagtoring — 2011 | Mei 1
-
-
Profesie 5. Verderwing van die aarde
‘God sal die verderwers van die aarde verderf.’—OPENBARING 11:18.
● Mnr. Pirri werk as ’n palmwyntapper in Kpor, Nigerië. ’n Ontsaglike oliestorting in die Nigerdelta het ’n verwoestende uitwerking op sy werk gehad. “Dit maak ons visse dood, beskadig ons vel, besoedel ons riviere”, sê hy. “Ek kan nie meer ’n bestaan maak nie.”
WAT TOON DIE FEITE? Volgens party deskundiges beland daar elke jaar 6,5 miljoen ton rommel in die wêreld se oseane. Nagenoeg 50 persent van daardie rommel is plastiek, wat honderde jare lank sal ronddryf voordat dit afbreek. Buiten dat mense die aarde besoedel, put hulle ook sy natuurlike hulpbronne teen ’n kommerwekkende tempo uit. Studies toon dat dit die aarde een jaar en vyf maande neem om te vervang wat mense in ’n jaar verbruik. “As bevolkings- en verbruikstendense so voortgaan, sal ons teen 2035 die ekwivalent van twee Aardes nodig hê”, berig die Australiese koerant Sydney Morning Herald.
WAT IS ’N ALGEMENE BESWAAR? Mense is vindingryk. Ons kan die gevolge van hierdie probleme ongedaan maak en die aarde red.
IS DIT ’N GELDIGE BESWAAR? Talle hardwerkende individue en groepe het bewustheid van omgewingskwessies vergroot. Maar die aarde word nog steeds op groot skaal besoedel.
WAT DINK JY? Moet God tussenbeide tree en ons planeet van verderf red—net soos hy belowe het?
Buiten die vyf profesieë wat ons so pas bespreek het, voorspel die Bybel ook positiewe verwikkelinge vir die laaste dae. Kyk na een voorbeeld in die sesde profesie.
[Lokteks op bladsy 8]
“Dit voel vir my of ek nie meer ’n stukkie paradys besit nie, maar eerder ’n stortingsterrein vir toksiese afval.”—ERIN TAMBER, ’N INWONER VAN DIE GOLFKUS, VERENIGDE STATE, IN VERBAND MET DIE GEVOLGE VAN DIE OLIESTORTING IN 2010 IN DIE GOLF VAN MEXIKO.
[Venster op bladsy 8]
Is God verantwoordelik?
Beteken die feit dat die Bybel die slegte toestande van vandag voorspel het dat God daarvoor verantwoordelik is? Veroorsaak hy ons lyding? Jy kan bevredigende antwoorde op hierdie vrae vind in hoofstuk 11 van die boek Wat leer die Bybel werklik?, uitgegee deur Jehovah se Getuies.
[Foto-erkenning op bladsy 8]
U.S. Coast Guard photo
-
-
Profesie 6. ’n Wêreldwye predikingswerkDie Wagtoring — 2011 | Mei 1
-
-
Profesie 6. ’n Wêreldwye predikingswerk
“Hierdie goeie nuus van die koninkryk sal in die hele bewoonde aarde verkondig word.”—MATTEUS 24:14.
● Vaiatea woon op ’n afgeleë Pasifiese eiland in die Tuamotu-eilandgroep. Hoewel Tuamotu uit byna 80 ringeilande bestaan wat oor ’n gebied van meer as 802 900 vierkante kilometer versprei is, het dit ’n bevolking van slegs ongeveer 16 000 bewoners. En tog is Vaiatea en haar bure al deur Jehovah se Getuies besoek. Waarom? Omdat die Getuies vir almal oor die goeie nuus van God se Koninkryk wil vertel—ongeag waar hulle woon.
WAT TOON DIE FEITE? Die Koninkryksboodskap bereik elke uithoek van die aarde. In 2010 alleen het Jehovah se Getuies meer as 1,6 miljard uur daaraan bestee om hierdie goeie nuus in 236 lande te verkondig. Dit beteken dat elke Getuie as ’t ware elke dag gemiddeld 30 minute in die predikingswerk deurgebring het. Oor die afgelope dekade het hulle meer as 20 miljard stukke Bybellektuur gedruk en versprei.
WAT IS ’N ALGEMENE BESWAAR? Die Bybel se boodskap word al duisende jare lank verkondig.
IS DIT ’N GELDIGE BESWAAR? Baie het weliswaar al iets omtrent die Bybel se boodskap verkondig. Maar die meeste het dit vir slegs ’n kort tyd en op ’n beperkte skaal gedoen. In teenstelling hiermee voer Jehovah se Getuies ’n georganiseerde, wêreldwye predikingskampanje wat honderdmiljoene mense bereik. Die Getuies het met hulle predikingswerk volgehou ondanks kwaai teenstand deur party van die magtigste en genadeloosste organisasies in die mensegeskiedenis (Markus 13:13).a Daarbenewens word Jehovah se Getuies nie betaal om te preek nie. Hulle gee eerder vrywillig van hulle tyd en bied hulle lektuur kosteloos aan. Hulle werk word geheel en al deur vrywillige bydraes ondersteun.
WAT DINK JY? Word die “goeie nuus van die koninkryk” wêreldwyd verkondig? Kan die vervulling van hierdie profesie beteken dat iets beters op hande is?
[Voetnoot]
a Vir meer inligting, sien die drie dokumentêre video’s “Faithful Under Trials”, “Purple Triangles” en “Jehovah’s Witnesses Stand Firm Against Nazi Assault”, wat deur Jehovah se Getuies versprei word.
[Lokteks op bladsy 9]
“Solank Jehovah dit toelaat, sal ons aanhou om die goeie nuus van die Koninkryk ywerig te verkondig deur elke moontlike manier te gebruik om die mense in ons gebied te bereik.”—JAARBOEK VAN JEHOVAH SE GETUIES VIR 2010.
-
-
Beter tye is op hande!Die Wagtoring — 2011 | Mei 1
-
-
Beter tye is op hande!
“Nog net ’n klein rukkie en die goddelose sal daar nie meer wees nie . . . Maar die sagmoediges sal die aarde besit, en hulle sal hulle inderdaad verlustig in die oorvloed van vrede.”—PSALM 37:10, 11.
SAL jy graag wil sien dat die profesie hierbo vervul word? Jy wil ongetwyfeld. Daar is goeie redes om te glo dat dit binnekort sal gebeur.
Die voorafgaande artikels het net sommige van die Bybelprofesieë bespreek wat duidelik toon dat ons in “die laaste dae” lewe (2 Timoteus 3:1-5). God het die Bybelskrywers geïnspireer om hierdie gebeure te voorspel sodat ons hoop kan hê (Romeine 15:4). Die vervulling van hierdie profesieë beteken dat die probleme waarmee ons nou te kampe het, binnekort sal eindig.
Wat sal op die laaste dae volg? God se Koninkryk sal oor die hele mensdom regeer (Matteus 6:9). Kyk na die Bybel se beskrywing van toestande op die aarde gedurende daardie tyd:
● Hongersnood sal uit die weg geruim word. “Daar sal volop graan op die aarde wees; op die top van die berge sal daar ’n oorvloed wees.”—Psalm 72:16.
● Siekte sal uit die weg geruim word. “Geen inwoner sal sê: ‘Ek is siek’ nie.”—Jesaja 33:24.
● Die aarde sal hernieu word. “Die wildernis en die waterlose streek sal jubel, en die woestynvlakte sal bly wees en bloei soos die saffraan.”—Jesaja 35:1.
Dit is net ’n paar van die aanmoedigende Bybelprofesieë wat binnekort vervul sal word. Vra Jehovah se Getuies gerus om vir jou te wys waarom hulle so seker is dat beter tye op hande is.
-