-
Is alle “Christene” Christelik?Die Wagtoring — 2012 | Maart 1
-
-
Is alle “Christene” Christelik?
HOEVEEL Christene is daar? Volgens die Atlas of Global Christianity was daar in 2010 wêreldwyd byna 2,3 miljard Christene. Maar dieselfde publikasie dui ook aan dat daardie Christene aan meer as 41 000 kerke behoort—elk met sy eie leerstellings en gedragsreëls. Wanneer party mense kyk na hierdie verbysterende aantal “Christelike” godsdienste, is dit te verstane dat hulle verwar of selfs ontnugter word. Hulle wonder dalk: ‘Is almal wat beweer dat hulle Christene is, werklik Christelik?’
Kom ons beskou die saak uit ’n ander hoek. Daar word gewoonlik van ’n reisiger vereis om aan ’n grensbeampte te verklaar van watter land hy ’n burger is. Hy moet ook bewys dat hy is wie hy sê hy is deur die een of ander identiteitsbewys, moontlik ’n paspoort, te toon. Net so moet ’n ware Christen meer doen as om net te bely dat hy in Christus glo. Hy moet bykomende bewys van sy identiteit kan lewer. Wat behels dit?
Die woord “Christen” is vir die eerste keer die een of ander tyd ná 44 HJ gebruik. Die Bybelgeskiedskrywer Lukas het gesê: “Dit was in Antiogië dat die dissipels vir die eerste keer deur goddelike voorsienigheid Christene genoem is” (Handelinge 11:26). Let op dat diegene wat Christene genoem is, Christus se dissipels was. Wat maak van iemand ’n dissipel van Jesus Christus? The New International Dictionary of New Testament Theology verduidelik: “Om Jesus as ’n dissipel te volg, beteken dat [’n mens] jou hele lewe onvoorwaardelik en lewenslank opoffer.” ’n Ware Christen is dus iemand wat die leringe en instruksies van Jesus, die Stigter van die Christelike godsdiens, ten volle en onvoorwaardelik volg.
Is dit moontlik om sulke mense onder die talle te vind wat vandag sê dat hulle Christene is? Wat het Jesus self gesê sou sy ware volgelinge identifiseer? Ons nooi jou om te kyk hoe die Bybel hierdie vrae beantwoord. In die artikels wat volg, sal ons vyf van Jesus se verklarings ondersoek wat toon waaraan sy ware dissipels gekenmerk word en wat ons help om hulle te identifiseer. Ons gaan kyk na hoe die eerste-eeuse Christene in hierdie verband gevaar het. En ons sal probeer vasstel wie van die talle mense wat vandag sê dat hulle Christene is, aan die vereistes voldoen.
-
-
‘Bly in my woord’Die Wagtoring — 2012 | Maart 1
-
-
‘Bly in my woord’
“As julle in my woord bly, is julle werklik my dissipels, en julle sal die waarheid ken, en die waarheid sal julle vrymaak.”—JOHANNES 8:31, 32.
Wat dit beteken: Jesus se “woord” verwys na sy leringe, wat van ’n hoër bron gekom het. “Die Vader wat my gestuur het, het vir my ’n gebod gegee oor wat om te sê en wat om te spreek”, het Jesus gesê (Johannes 12:49). Jesus het in gebed tot sy hemelse Vader, Jehovah God, gesê: “U woord is die waarheid.” Hy het dikwels God se Woord aangehaal om sy leringe te staaf (Johannes 17:17; Matteus 4:4, 7, 10). Ware Christene ‘bly dus in sy woord’—met ander woorde, hulle aanvaar God se Woord, die Bybel, as “die waarheid” en die hoogste gesag wanneer dit by hulle opvattings en gebruike kom.
Hoe die vroeë Christene gevaar het: Die apostel Paulus, wat meer boeke van die Bybel geskryf het as enige ander Christenbybelskrywer, het soos Jesus respek vir God se Woord gehad. Hy het geskryf: “Die hele Skrif is deur God geïnspireer en is nuttig” (2 Timoteus 3:16). Manne wat aangestel is om mede-Christene te onderrig, moes “vashou aan die onfeilbare en betroubare Woord van God” (Titus 1:7, 9, The Amplified Bible). Vroeë Christene is vermaan om “die filosofie en leë bedrog volgens die oorlewering van mense, volgens die elementêre dinge van die wêreld en nie volgens Christus nie”, te verwerp.—Kolossense 2:8.
Wie voldoen vandag aan hierdie vereiste?: Die Vatikaan se Dogmatic Constitution on Divine Revelation, wat in 1965 aangeneem en in die Catechism of the Catholic Church aangehaal is, sê: “Dit is nie net uit die heilige Skrif dat die [Katolieke] Kerk sekerheid kry oor alles wat geopenbaar is nie. Daarom moet heilige tradisie en die heilige Skrif met ewe veel toegewydheid en eerbied aanvaar en vereer word.” ’n Artikel in die tydskrif Maclean’s het ’n predikant in Toronto, Kanada, aangehaal wat gevra het: “Waarom het ons ’n ‘revolusionêre’ stem van tweeduisend jaar gelede nodig om ons te rig? Ons het ons eie fantastiese idees, wat voortdurend verswak word omdat ons ondersteuning daarvoor moet soek by Jesus en in die Skrif.”
Aangaande Jehovah se Getuies sê die New Catholic Encyclopedia: “Hulle beskou die Bybel as hulle enigste bron van geloof en gedragsreëls.” Onlangs het ’n man in Kanada een van Jehovah se Getuies in die rede geval terwyl sy haar voorgestel het. “Ek weet wie jy is”, het hy gesê terwyl hy na haar Bybel gewys het, “want jy het jou kenteken by jou.”
-
-
“Geen deel van die wêreld”Die Wagtoring — 2012 | Maart 1
-
-
“Geen deel van die wêreld”
“Die wêreld het hulle gehaat, omdat hulle geen deel van die wêreld is nie.”—JOHANNES 17:14.
Wat dit beteken: Omdat Jesus geen deel van die wêreld was nie, was hy neutraal ten opsigte van die maatskaplike en politieke konflikte van sy dag. “As my koninkryk ’n deel van hierdie wêreld was,” het hy verduidelik, “sou my dienaars geveg het sodat ek nie aan die Jode oorgelewer word nie. Maar my koninkryk is nou eenmaal nie uit hierdie bron nie” (Johannes 18:36). Hy het sy volgelinge ook aangespoor om gesindhede, spraak en gedrag te vermy wat in God se Woord veroordeel word.—Matteus 20:25-27.
Hoe die vroeë Christene gevaar het: Volgens die godsdiensskrywer Jonathan Dymond het die vroeë Christene “geweier om by [oorlog] betrokke te raak; ongeag die gevolge, hetsy skande, gevangenisstraf of die dood”. Hulle het verkies om te ly eerder as om hulle neutrale standpunt prys te gee. Hulle sedelike standaarde het hulle ook van ander onderskei. Daar is vir Christene gesê: “Omdat julle nie meer hierdie weg tot dieselfde lae poel van losbandigheid saam met hulle bewandel nie, vind hulle dit vreemd en hou hulle aan om julle te smaad” (1 Petrus 4:4). Die geskiedskrywer Will Durant het geskryf dat Christene “die genotsugtige heidense wêreld met hulle vroomheid en hulle welvoeglikheid gekwel het”.
Wie voldoen vandag aan hierdie vereiste? Die New Catholic Encyclopedia sê oor Christelike neutraliteit: “Gewetensbeswaar is sedelik onverdedigbaar.” ’n Artikel in die Reformierte Presse sê dat ’n verslag deur African Rights, ’n menseregte-organisasie, oor die volksmoord van 1994 in Rwanda bevestig het dat al die kerke aan die slagting deelgeneem het, “met die uitsondering van Jehovah se Getuies”.
In ’n bespreking oor die Nazi-slagting het ’n hoërskoolonderwyser gesê dat “geen groep of organisasie van gewone burgers beswaar aangeteken het teen al die leuens, wreedhede en gruweldade wat uiteindelik gepleeg is nie”. Nadat hy inligting ingewin het by die Verenigde State se Slagtingsgedenkmuseum, het hy geskryf: “Ek het die antwoord gevind.” Hy het uitgevind dat Jehovah se Getuies ferm by hulle oortuigings gebly het ten spyte van die mishandeling wat hulle verduur het.
Wat van hulle sedelike standaarde? “Die meeste van vandag se jong volwasse Katolieke stem nie saam met die kerk se leringe oor kwessies soos saamblyery [en] voorhuwelikse seks nie”, sê die tydskrif U.S. Catholic. Die tydskrif haal ’n diaken van die kerk aan, wat gesê het: “Ek sien dat baie paartjies—ek skat ver oor die 50 persent—reeds saambly wanneer hulle kom om te trou.” The New Encyclopædia Britannica sê dat Jehovah se Getuies “op hoë sedelike standaarde in persoonlike gedrag aandring”.
-
-
‘Julle moet liefde onder mekaar hê’Die Wagtoring — 2012 | Maart 1
-
-
‘Julle moet liefde onder mekaar hê’
“Ek gee julle ’n nuwe gebod, dat julle mekaar moet liefhê; net soos ek julle liefgehad het, moet julle ook mekaar liefhê. Hieraan sal almal weet dat julle my dissipels is, as julle liefde onder mekaar het.”—JOHANNES 13:34, 35.
Wat dit beteken: Christus het vir sy volgelinge gesê dat hulle mekaar moet liefhê soos hy hulle liefgehad het. Hoe het Jesus hulle liefgehad? Sy liefde is nie ingeperk deur die volksvooroordeel en geslagsdiskriminasie wat in sy dag algemeen was nie (Johannes 4:7-10). Liefde het Jesus beweeg om sy tyd, energie en persoonlike gerief op te offer om ander te help (Markus 6:30-34). Uiteindelik het Christus die heel grootste bewys van liefde gelewer. “Ek is die goeie herder”, het hy gesê. “Die goeie herder doen afstand van sy siel ten behoewe van die skape.”—Johannes 10:11.
Hoe die vroeë Christene gevaar het: In die eerste eeu het Christene mekaar “broer” of “suster” genoem (Filemon 1, 2). Die Christengemeente het mense van alle nasies verwelkom omdat hulle geglo het dat daar “geen onderskeid [is] tussen Jood en Griek nie, want oor almal is daar dieselfde Here” (Romeine 10:11, 12). Ná Pinkster 33 HJ het die dissipels in Jerusalem “hulle besittings en eiendomme verkoop en die opbrengs onder almal verdeel, volgens elkeen se behoefte”. Waarom het hulle dit gedoen? Sodat dié wat kort tevore gedoop is, in Jerusalem kon bly en kon voortgaan “om hulle toe te lê op die leer van die apostels” (Handelinge 2:41-45). Wat het hulle beweeg om dit te doen? Minder as 200 jaar ná die dood van die apostels het Tertullianus aangehaal wat ander oor Christene gesê het: “Hoe lief het hulle mekaar tog . . . en hoe bereid is hulle tog om selfs vir mekaar te sterf.”
Wie voldoen vandag aan hierdie vereiste? Die boek The History of the Decline and Fall of the Roman Empire (1837) het gesê dat diegene wat deur die eeue heen bely het dat hulle Christene is, “mekaar baie meer leed aangedoen het as wat hulle deur die toedoen van die ongelowiges ondervind het”. ’n Onlangse Amerikaanse studie het getoon dat daar ’n sterk verband bestaan tussen godsdienstige mense—waarvan die meeste sê dat hulle Christene is—en rassevooroordeel. Kerkgangers in een land het dikwels geen verbintenisse met mense van dieselfde kerk in ’n ander land nie en is dus nie in staat of bereid om medegelowiges te help wanneer hulle hulp nodig het nie.
In 2004, nadat Florida binne twee maande deur vier orkane getref is, het die voorsitter van Florida se Komitee vir Rampnoodleniging nagegaan of hulle voorraad reg gebruik word. Hy het gesê dat geen ander groep so goed georganiseer is soos Jehovah se Getuies nie, en hy het aangebied om die Getuies enige voorraad te gee wat hulle nodig het. Vroeër, in 1997, het ’n noodlenigingspan van Jehovah se Getuies met medisyne, kos en klere na die Demokratiese Republiek van die Kongo gereis om hulle Christenbroers en ander wat hulp nodig gehad het, te help. Mede-Getuies in Europa het voorraad ter waarde van R7 980 000 geskenk.
-
-
‘Ek het u naam bekend gemaak’Die Wagtoring — 2012 | Maart 1
-
-
‘Ek het u naam bekend gemaak’
“Ek het u naam openbaar gemaak aan die mense wat u my uit die wêreld gegee het. . . . Ek het u naam aan hulle bekend gemaak en sal dit bekend maak.”—JOHANNES 17:6, 26.
Wat dit beteken: Jesus het God se naam bekend gemaak deur dit in sy bediening te gebruik. Wanneer Jesus uit die Skrif gelees het, soos hy dikwels gedoen het, het hy ongetwyfeld God se persoonlike naam uitgespreek (Lukas 4:16-21). Hy het sy volgelinge leer bid: “Vader, laat u naam geheilig word.”—Lukas 11:2.
Hoe die vroeë Christene gevaar het: Die apostel Petrus het vir die ouer manne in Jerusalem gesê dat God “’n volk vir sy naam” uit die nasies geneem het (Handelinge 15:14). Die apostels en ander het verkondig dat ‘elkeen wat die naam van Jehovah aanroep, gered sal word’ (Handelinge 2:21; Romeine 10:13). Hulle het die goddelike naam ook in hulle geskrifte gebruik. The Tosefta, ’n versameling Joodse wette wat omstreeks 300 HJ voltooi is, sê aangaande die verbranding van Christelike geskrifte deur teenstanders: “Die boeke van die Evangeliste en die boeke van die minim [vermoedelik Joodse Christene] red hulle nie uit ’n vuur nie. Maar hulle word toegelaat om te brand, . . . tesame met die verwysings na die goddelike Naam wat in hulle voorkom.”
Wie voldoen vandag aan hierdie vereiste? Die Revised Standard Version van die Bybel, wat deur die Nasionale Raad van die Kerke van Christus in die Verenigde State goedgekeur is, sê in sy voorwoord: “Die gebruik van enige eienaam vir die enigste God, asof daar ander gode is waarvan hy onderskei moet word, het voor die Christelike era in Judaïsme in onbruik verval en is heeltemal onvanpas vir die universele geloof van die Christelike Kerk.” Dit het die goddelike naam dus met ’n titel, “HERE”, vervang. Meer onlangs het die Vatikaan sy biskoppe die opdrag gegee: “In liedere en gebede moet die naam van God in die vorm van die tetragrammaton JHWHa nie gebruik of uitgespreek word nie.”
Wie gebruik vandag God se persoonlike naam en maak dit ook bekend? Toe Sergei ’n tiener in Kirgistan was, het hy ’n rolprent gekyk waarin God se naam as Jehovah geïdentifiseer is. Ongeveer tien jaar het verbygegaan voordat hy die goddelike naam weer gehoor het. Nadat Sergei na die Verenigde State getrek het, het twee Getuies van Jehovah hom by sy huis besoek en hom God se naam in die Bybel gewys. Sergei was verheug om ’n groep te vind wat die naam Jehovah gebruik. Dit is interessant dat Webster’s Third New International Dictionary onder die inskrywing “Jehovah God” die volgende definisie gee: “’n Oppermagtige god wat deur Jehovah se Getuies erken word en die enigste god wat deur hulle aanbid word.”
[Voetnoot]
a In Afrikaans word die goddelike naam as “Jehovah” getranslitereer.
-
-
‘Hierdie goeie nuus van die koninkryk sal verkondig word’Die Wagtoring — 2012 | Maart 1
-
-
‘Hierdie goeie nuus van die koninkryk sal verkondig word’
“Hierdie goeie nuus van die koninkryk sal in die hele bewoonde aarde verkondig word as ’n getuienis vir al die nasies; en dan sal die einde kom.”—MATTEUS 24:14.
Wat dit beteken: Die Evangelieskrywer Lukas het aangaande Jesus gesê: “Hy [het] van stad tot stad en van dorpie tot dorpie begin reis en gepreek en die goeie nuus van die koninkryk van God bekend gemaak” (Lukas 8:1). Jesus self het gesê: “Ek [moet] die goeie nuus van die koninkryk van God bekend maak, want hiervoor is ek uitgestuur” (Lukas 4:43). Hy het sy dissipels uitgestuur om die goeie nuus in die stede en dorpies te verkondig en het hulle later beveel: “Julle sal getuies van my wees . . . tot in die mees afgeleë deel van die aarde.”—Handelinge 1:8; Lukas 10:1.
Hoe die vroeë Christene gevaar het: Jesus se dissipels het geen tyd verspil om Jesus se opdrag uit te voer nie. “Hulle het elke dag in die tempel en van huis tot huis sonder ophou voortgegaan om te leer en die goeie nuus oor die Christus . . . bekend te maak” (Handelinge 5:42). Dit was nie net ’n uitgesoekte groep wat gepreek het nie. Die geskiedkundige Neander het gesê dat “Celsus, die eerste skrywer teen die Christelike geloof, honend [ge]praat [het] oor die feit dat wolbereiders, skoenmakers, leerlooiers, die mees ongeletterde en laagste klas van die mensdom, ywerige predikers van die evangelie was”. In sy boek The Early Centuries of the Church het Jean Bernardi geskryf: “[Christene] moes uitgaan en oral met almal praat. Op die hoofweë en in die stede, op die openbare pleine en in die huise. Welkom of onwelkom. . . . Na die uithoeke van die aarde.”
Wie voldoen vandag aan hierdie vereiste? “Die kerk se versuim om die predikings- en onderrigtingswerk ernstig op te neem, is een rede vir die wydverspreide geestelike traak-my-nieagtigheid wat vandag heers”, skryf die Anglikaanse priester David Watson. In sy boek Why Are the Catholics Leaving? het José Luis Pérez Guadalupe geskryf oor die bedrywighede van die Evangeliste, die Adventiste en ander en gesê dat “hulle nie van huis tot huis gaan nie”. Aangaande Jehovah se Getuies het hy geskryf: “Hulle gaan op stelselmatige wyse van huis tot huis.”
’n Interessante en realistiese opmerking deur Jonathan Turley word in die Cato Supreme Court Review, 2001-2002 gevind: “Noem net die naam Jehovah se Getuies, dan dink die meeste mense onmiddellik aan predikers wat ons op ongeleë tye by ons huise besoek. Jehovah se Getuies proseliteer nie van deur tot deur net om hulle geloof te bevorder nie, maar beskou hierdie werk eerder as ’n ononderhandelbare deel van hulle geloof.”
[Venster op bladsy 9]
Kan jy die ware Christene uitken?
As jy kyk na die skriftuurlike vereistes wat in hierdie reeks artikels bespreek is, wie dink jy het vandag die kenmerke van die ware Christelike geloof? Hoewel daar tienduisende groepe en kerke is wat beweer dat hulle Christelik is, moet ’n mens in gedagte hou wat Jesus vir sy volgelinge gesê het: “Nie elkeen wat vir my sê: ‘Here, Here’, sal in die koninkryk van die hemele ingaan nie, maar hy wat die wil doen van my Vader wat in die hemele is” (Matteus 7:21). As jy diegene identifiseer wat die wil van die Vader doen—en daardeur toon dat hulle ware Christene is—en met hulle assosieer, kan dit tot ewige seëninge onder God se Koninkryk lei. Ons nooi jou om Jehovah se Getuies, wat hierdie tydskrif vir jou gegee het, vir meer inligting te vra oor God se Koninkryk en die seëninge wat dit sal bring.—Lukas 4:43.
-