Die Bybel verander lewens
WAT was vir ’n man van Skotland meer bevredigend as ’n suksesvolle loopbaan as ’n sakeman? Wat het ’n man van Brasilië gehelp om los te breek van ’n onsedelike lewenswyse en om op te hou om crack-kokaïen te gebruik? Hoe het ’n man van Slowenië dit reggekry om weg te breek van sy gewoonte om hom aan drank te vergryp? Lees wat hierdie mense te sê het.
“Dit het gelyk of die lewe my goed behandel.”—JOHN RICKETTS
GEBORE: 1958
GEBOORTELAND: SKOTLAND
GESKIEDENIS: SUKSESVOLLE SAKEMAN
MY VERLEDE: Ek het in ’n welgestelde gesin grootgeword. My pa was ’n offisier in die Britse weermag, en ons gesin het dus baie rondgetrek. Buiten Skotland het ons ook in Engeland, Duitsland, Kenia, Maleisië, Ierland en Siprus gewoon. Van agtjarige ouderdom af was ek in verskillende kosskole in Skotland. Ek het uiteindelik aan die Universiteit van Cambridge gegradueer.
Toe ek 20 was, het ek ’n agt jaar lange loopbaan in die oliebedryf begin. Ek het eers in Suid-Amerika, toe later in Afrika en uiteindelik in Wes-Australië gewerk. Nadat ek Australië toe getrek het, het ek ’n beleggingsmaatskappy op die been gebring, wat ek later verkoop het.
Die geld wat ek gemaak het toe ek die maatskappy verkoop het, het my in staat gestel om af te tree toe ek 40 was. Ek het my nuutgevonde vryheid gebruik om te reis. Ek het twee keer per motorfiets om Australië en een keer om die wêreld gereis. Dit het gelyk of die lewe my goed behandel.
HOE DIE BYBEL MY LEWE VERANDER HET: Selfs voordat ek afgetree het, wou ek ’n manier vind om God te dank vir die goeie lewe wat ek gelei het. Ek het weer na die Anglikaanse Kerk begin gaan, waarin ek grootgeword het. Maar die kerk het nie juis veel Bybelonderrig voorsien nie. Toe het ek met die Mormone begin studeer, maar ek het belangstelling verloor weens hulle gebrek aan vertroue in die Bybel.
Eendag het Jehovah se Getuies aan my deur geklop. Ek kon dadelik sien dat hulle hulle leringe geheel en al op die Bybel baseer. Een teks wat hulle my gewys het, was 1 Timoteus 2:3, 4. Hierdie verse sê dat dit God se wil is dat “alle soorte mense gered moet word en tot juiste kennis van die waarheid moet kom”. Dit het my beïndruk dat die Getuies nie net die belangrikheid van kennis beklemtoon het nie, maar juiste kennis gebaseer op die Bybel.
My studie van die Bybel met Jehovah se Getuies het my gehelp om hierdie juiste kennis op te doen. Ek het byvoorbeeld geleer dat God en Jesus nie deel is van ’n geheimsinnige Drie-eenheid nie; hulle is eerder twee afsonderlike persone (Johannes 14:28; 1 Korintiërs 11:3). Ek was verheug om hierdie eenvoudige waarheid te leer. Ek was ook ontsteld omdat ek in die verlede heeltemal verniet probeer het om die onbegryplike te begryp!
Ek het kort voor lank die vergaderinge van Jehovah se Getuies begin bywoon. Ek was beïndruk deur almal se vriendelikheid en karaktervastheid—hulle het almal so heilig gelyk. Hulle opregte liefde het my daarvan oortuig dat ek die ware godsdiens gevind het.—Johannes 13:35.
HOE EK BAAT GEVIND HET: Nadat ek gedoop is, het ek ’n wonderlike vrou, Diane, ontmoet. Sy is as een van Jehovah se Getuies grootgemaak, en sy het talle goeie eienskappe wat ek aantreklik gevind het. Ons is mettertyd getroud. Diane se vriendskap en ondersteuning is ’n ware seën van Jehovah.
Ek en Diane wou baie graag na ’n gebied trek waar meer verkondigers van die goeie nuus van die Bybel nodig is. In 2010 het ons na Belize, Sentraal-Amerika, getrek. Hier preek ons vir mense wat lief is vir God en dors na Bybelkennis.
Ek geniet nou gemoedsrus omdat ek uiteindelik die waarheid omtrent God en sy Woord, die Bybel, ken. As ’n voltydse bedienaar het ek die vreugde gesmaak om ’n aantal mense die Bybel te leer. Daar is geen groter voorreg as om te sien hoe Bybelwaarheid iemand se lewe verbeter nie—net soos dit myne verbeter het. Uiteindelik het ek die beste manier gevind om God te dank vir die lewe wat ek lei.
“Hulle het my baie goed behandel.”—MAURÍCIO ARAÚJO
GEBORE: 1967
GEBOORTELAND: BRASILIË
GESKIEDENIS: ONSEDELIKE LEWENSWYSE
MY VERLEDE: Ek het in Avaré, ’n klein dorpie in die staat São Paulo, grootgeword. Die inwoners is hoofsaaklik van die werkersklas.
My pa is dood toe my ma met my swanger was. As ’n jong seun het ek my ma se klere aangetrek wanneer sy nie by die huis was nie. Ek het vroulike maniere aangeleer en mense het begin dink dat ek gay is. Kort voor lank het ek geslagsomgang met ander seuns en mans begin hê.
Teen die tyd dat ek in my laat tienerjare was, het ek oral na seksmaats (mans en vrouens) gesoek—in kroeë, nagklubs en selfs kerke. Gedurende die karnavaltyd het ek soos ’n vrou aangetrek en in sambaskool-parades gedans. Ek was baie gewild.
Ek het gays, prostitute en dwelmverslaafdes as vriende gehad. Party van hulle het my oorreed om crack-kokaïen te probeer, en kort voor lank was ek daaraan verslaaf. Soms het ons dit die hele nag gerook. Op ander tye het ek die hele dag crack-kokaïen op my eie sit en rook. Ek het so uitgeteer dat ’n gerug die ronde gedoen het dat ek vigs het.
HOE DIE BYBEL MY LEWE VERANDER HET: Dit was in dié tyd dat ek met Jehovah se Getuies in aanraking gekom het. Hulle het my baie goed behandel. Een van die Bybeltekste wat hulle vir my gelees het, was Romeine 10:13, wat sê: “Elkeen wat die naam van Jehovah aanroep, sal gered word.” Hierdie woorde het my laat besef hoe belangrik dit is om Jehovah se naam te gebruik. Baie keer, nadat ek die hele nag crack-kokaïen gerook het, het ek die venster oopgemaak, opgekyk en Jehovah met trane in my oë om hulp gesmeek.
Omdat ek bekommerd was oor my ma, vir wie dit baie erg was om te sien hoe ek my lewe met dwelms verwoes, het ek besluit om op te hou om dit te gebruik. Kort daarna het ek die Getuies se aanbod van ’n Bybelstudie aanvaar. Hulle het my verseker dat die studie my sal help om op te hou om dwelms te gebruik—en dit het ook!
Terwyl ek voortgegaan het om die Bybel te studeer, het ek besef dat ek my lewenswyse moet verander. Dit was veral moeilik om my homoseksuele gewoontes te laat vaar, aangesien dit so lank as wat ek kan onthou deel van my lewe was. Iets wat my egter gehelp het, was om ontslae te raak van die slegte invloede in my lewe. Ek het my vorige vriendskappe beëindig en opgehou om na kroeë en nagklubs te gaan.
Hoewel dit nie maklik was om hierdie veranderinge te maak nie, het dit my vertroos om te weet dat Jehovah vir my omgee en begrip het vir die stryd wat ek voer (1 Johannes 3:19, 20). Teen 2002 het ek al my homoseksuele gewoontes verbreek, en in daardie jaar is ek as een van Jehovah se Getuies gedoop.
HOE EK BAAT GEVIND HET: Die veranderinge wat ek gemaak het, het my ma so beïndruk dat sy ook die Bybel begin studeer het. Intussen het sy ongelukkig ’n beroerte gehad. Nietemin het sy voortgegaan om ’n liefde vir Jehovah en vir Bybelwaarheid aan te kweek.
Ek is die afgelope agt jaar in die voltydse diens en gebruik die meeste van my tyd om Bybelwaarheid aan ander te leer. Ek moet erken dat ek soms met verkeerde begeertes worstel. Maar die wete dat ek Jehovah behaag omdat ek nie daardie begeertes bevredig nie, is ’n bron van bemoediging vir my.
Ek het nou groter selfrespek omdat ek nader aan Jehovah gekom het en op ’n manier lewe wat hom behaag. Vandag is ek ’n gelukkige mens.
“Ek was ’n bodemlose vaatjie.”—LUKA ŠUC
GEBORE: 1975
GEBOORTELAND: SLOWENIË
GESKIEDENIS: FUIFDRINKER
MY VERLEDE: Ek is in Ljubljana, die hoofstad van Slowenië, gebore. My kinderjare was aangenaam, totdat ek vier was. Toe het my pa selfmoord gepleeg. Ná hierdie tragedie moes my ma hard werk om die pot aan die kook te hou, aangesien sy twee groeiende seuns, ek en my ouer broer, gehad het.
Ek het by my ouma ingetrek toe ek 15 was. Dit was vir my lekker om by haar te woon, want baie van my vriende het in dieselfde buurt gewoon. Ek het ook meer vryheid as by die huis gehad. Toe ek 16 was, het ek met mense begin assosieer wat oor naweke baie gedrink het. Ek het my hare laat groei, soos ’n rebel begin aantrek en later ook begin rook.
Hoewel ek met verskillende dwelms geëksperimenteer het, het ek drank verkies omdat ek dit die meeste geniet het. Kort voor lank het ek nie net ’n paar glase wyn gedrink nie, maar meer as ’n bottel op ’n slag. Mettertyd kon ek die feit dat ek dronk was heeltemal wegsteek. Dikwels was dit net die reuk van drank op my asem wat weggegee het dat ek gedrink het. Selfs dan het niemand eens geweet dat ek dalk al ’n paar liter wyn of bier—en boonop met vodka gemeng—gedrink het nie!
Dikwels was ek die een wat my vriende moes help om op hulle voete te bly ná ’n aand by die disko, hoewel ek heel waarskynlik twee keer soveel as hulle gedrink het. Eendag het ek gehoor hoe een van my vriende sê dat ek ’n bodemlose vaatjie is—’n neerhalende uitdrukking in Sloweens vir iemand wat baie meer as ander kan drink. Hierdie opmerking het my werklik seergemaak.
Ek het begin nadink oor wat ek met my lewe doen. Ek was oorweldig deur gevoelens van waardeloosheid. Dit het gevoel of niks in my lewe enige sin het nie.
HOE DIE BYBEL MY LEWE VERANDER HET: Gedurende hierdie tyd het ek opgemerk dat een van my klasmaats verander het; hy het meer saggeaard geword. Ek was nuuskierig oor hierdie verandering en het hom na ’n koffiewinkel genooi. Tydens ons gesprek het hy verduidelik dat hy die Bybel met Jehovah se Getuies begin studeer het. Hy het my vertel van sommige van die dinge wat hy geleer het, dinge waarvan ek nog nooit gehoor het nie omdat ek glad nie godsdienstig grootgeword het nie. Ek het die vergaderinge van die Getuies begin bywoon en die Bybel met hulle begin studeer.
My studie van die Bybel het my oë vir talle kragtige, motiverende waarhede geopen. Ek het byvoorbeeld geleer dat die Bybel sê dat ons in “die laaste dae” lewe (2 Timoteus 3:1-5). Ek het ook geleer dat God slegte mense binnekort van die aarde sal verwyder en dat hy goeie mense die geleentheid sal bied om vir ewig in die Paradys te lewe (Psalm 37:29). Ek het ’n sterk begeerte ontwikkel om my lewe in orde te bring sodat ek ook een van daardie goeie mense kan wees.
Ek het my vriende begin vertel van die Bybelwaarhede wat ek geleer het. Die meeste van hulle het my gespot oor wat ek hulle vertel het, maar dit was eintlik ’n bedekte seën. Hulle reaksie het dit vir my duidelik gemaak dat hulle nie ware vriende is nie. Ek het begin besef dat my drankprobleem ten nouste verband gehou het met my keuse van assosiasie. Hulle het heel week na die naweek uitgesien, net sodat hulle weer kon dronk word.
Ek het hierdie vriendskappe beëindig en dit met opbouende assosiasie met Jehovah se Getuies vervang. Hulle assosiasie was ’n bron van groot aanmoediging—hulle is mense wat God opreg liefhet en wat werklik probeer om volgens sy standaarde te lewe. Mettertyd het ek dit reggekry om my gewoonte om my aan drank te vergryp, te verbreek.
HOE EK BAAT GEVIND HET: Ek is dankbaar teenoor Jehovah dat ek nie meer drank nodig het om gelukkig te voel nie. Ek weet werklik nie wat van my sou geword het as ek nie my vorige lewensweg laat vaar het nie. Maar ek is oortuig dat ek nou ’n beter lewe lei.
Die afgelope sewe jaar geniet ek die voorreg om by die takkantoor van Jehovah se Getuies in Slowenië te dien. Noudat ek Jehovah ken en hom dien, is my lewe waarlik sinvol.