STUDIEARTIKEL 37
Jy kan jou broers vertrou
“Liefde . . . glo alles, hoop alles.” – 1 KOR. 13:4, 7.
LIED 124 Bly lojaal
IN HIERDIE ARTIKELa
1. Hoekom is ons nie verbaas dat baie mense voel dat hulle niemand kan vertrou nie?
MENSE in Satan se wêreld weet nie wie hulle kan vertrou nie. Hulle word die heeltyd teleurgestel deur die dinge wat besigheidsmanne, politieke en godsdiensleiers doen. Baie voel ook dat hulle nie hulle vriende, bure en selfs hulle familielede kan vertrou nie. Dit behoort ons nie te verbaas nie. Die Bybel het voorspel: ‘In die laaste dae sal mense dislojaal wees. Hulle sal slegte dinge van mense sê en verraaiers wees.’ Met ander woorde, mense sou die persoonlikheid weerspieël van die god van hierdie wêreld, wat glad nie vertrou kan word nie. – 2 Tim. 3:1-4; 2 Kor. 4:4.
2. (a) Wie kan ons regtig vertrou? (b) Wat wonder party dalk?
2 Maar as Christene weet ons dat ons Jehovah heeltemal kan vertrou (Jer. 17:7, 8). Ons is oortuig dat hy ons liefhet en dat hy sy vriende ‘nooit sal verlaat nie’ (Ps. 9:10). Ons kan ook Christus Jesus vertrou omdat hy sy lewe vir ons gegee het (1 Pet. 3:18). En ons het uit persoonlike ondervinding geleer dat ons die Bybel se leiding kan vertrou (2 Tim. 3:16, 17). Ons is oortuig dat ons Jehovah, Jesus en die Bybel kan vertrou. Maar party wonder dalk of hulle altyd die broers en susters in die gemeente kan vertrou. As die antwoord ja is, hoekom kan ons hulle vertrou?
ONS HET ONS BROERS EN SUSTERS NODIG
3. Watter wonderlike voorreg het ons? (Markus 10:29, 30)
3 Jehovah het ons gekies om deel van sy wêreldwye familie van aanbidders te wees. Dink net wat ’n voorreg dit is en watter voordele dit bring! (Lees Markus 10:29, 30.) Ons het broers en susters regoor die wêreld wat net so lief is vir Jehovah soos ons en wat hulle bes probeer om volgens sy standaarde te lewe. Ons taal, kultuur en kleredrag verskil dalk van hulle s’n, maar ons voel na aan hulle selfs wanneer ons hulle vir die eerste keer ontmoet. Ons geniet dit veral om ons liefdevolle hemelse Vader saam met hulle te loof en te aanbid. – Ps. 133:1.
4. Hoekom het ons ons broers en susters nodig?
4 Ons moet nou meer as ooit tevore met ons broers en susters verenig bly. Soms help hulle ons om ons laste te dra (Rom. 15:1; Gal. 6:2). Hulle moedig ons ook aan om besig te bly in Jehovah se diens en om geestelik sterk te bly (1 Tess. 5:11; Heb. 10:23-25). Dink net hoe ons sou voel as ons nie die beskerming van die gemeente gehad het om ons te help om standvastig te bly teen ons vyande, Satan die Duiwel en sy slegte wêreld, nie. Satan en dié wat onder sy beheer is, gaan binnekort God se knegte aanval. Dink net hoe dankbaar ons sal wees om ons broers en susters se ondersteuning te hê!
5. Hoekom is dit dalk vir party moeilik om hulle broers en susters te vertrou?
5 Maar party vind dit moeilik om hulle broers en susters te vertrou, moontlik omdat een van hulle hulle vertroue gebreek het of nie ’n belofte nagekom het nie. Of dalk het iemand in die gemeente iets gesê of gedoen wat hulle diep seergemaak het. Sulke ondervindinge kan dit dalk moeilik maak om ander te vertrou. Wat kan ons dan help om ons vertroue in ons broers en susters te versterk?
LIEFDE HELP ONS OM ONS VERTROUE IN ONS BROERS TE VERSTERK
6. Hoe kan liefde ons help om ons vertroue in ons broers te versterk? (1 Korintiërs 13:4-8)
6 Liefde is die grondslag vir vertroue. Eerste Korintiërs hoofstuk 13 beskryf baie aspekte van liefde wat ons kan help om ons vertroue in ander te versterk of weer op te bou. (Lees 1 Korintiërs 13:4-8.) Byvoorbeeld, vers 4 sê: “Liefde is geduldig en goedhartig.” Jehovah is geduldig met ons selfs wanneer ons teen hom sondig. So ons moet dan geduldig wees met ons broers en susters as hulle iets sê of doen wat ons irriteer of seermaak. En vers 5 sê: “[Liefde] raak nie gou kwaad nie. Dit hou nie boek van slegte dinge wat aan hom gedoen is nie.” Ons wil nie ‘boekhou van slegte dinge’ wat aan ons gedoen is nie, dit wil sê om die dinge wat ons broers en susters aan ons gedoen het, te bly onthou nie. Prediker 7:9 sê dat ons nie “gou aanstoot [moet] neem nie”. Dit is soveel beter om die woorde in Efesiërs 4:26 toe te pas: “Moenie toelaat dat die son ondergaan terwyl julle nog kwaad is nie”!
7. Hoe sal die beginsels in Matteus 7:1-5 ons help om ons vertroue in ons broers te versterk?
7 Nog iets wat ons kan help om ons vertroue in ons broers te versterk, is om hulle te sien soos Jehovah hulle sien. God is lief vir hulle, en hy hou nie boek van hulle sondes nie. En ons moet ook nie (Ps. 130:3). In plaas daarvan om op hulle foute te fokus, moet ons probeer om na hulle goeie eienskappe te soek en dink aan hulle potensiaal om goeie dinge te doen. (Lees Matteus 7:1-5.) Ons glo dat hulle goeie dinge wil doen en ons nooit wil seermaak nie, want liefde “glo alles” (1 Kor. 13:7). Dit beteken nie dat Jehovah verwag dat ons ander blindelings moet vertrou nie; hy verwag eerder dat ons hulle moet vertrou omdat hulle bewys het dat ons hulle kan vertrou.b
8. Hoe kan jy leer om jou broers te vertrou?
8 Net soos respek, moet vertroue verdien word, en dit vat tyd. Hoe kan jy leer om jou broers te vertrou? Leer ken hulle goed. Praat met hulle by die gemeentelike vergaderinge. Doen saam met hulle velddiens. Wees geduldig met hulle, en gee hulle die geleentheid om te wys dat hulle vertrou kan word. Aan die begin sal jy seker nie al jou persoonlike gedagtes en gevoelens met iemand deel wat jy nog nie goed ken nie. Wanneer jy hulle beter leer ken, sal jy dalk meer gemaklik voel om jou gevoelens met hulle te deel (Luk. 16:10). Maar wat kan jy doen as ’n broer jou vertroue breek? Moet hom nie vinnig afskryf nie. Laat eerder ’n bietjie tyd verbygaan. En moenie toelaat dat die gedrag van ’n paar jou keer om jou broers en susters te vertrou nie. In verband hiermee sal ons kyk na die voorbeeld van ’n hele paar getroue knegte van Jehovah wat hulle vertroue in ander behou het, al het party hulle teleurgestel.
LEER BY DIÉ WAT HULLE VERTROUE IN ANDER BEHOU HET
9. (a) Hoe het Hanna haar vertroue in Jehovah se reëling behou, al het party van sy verteenwoordigers foute gemaak? (b) Wat leer Hanna se ondervinding jou oor vertroue in Jehovah se reëling? (Sien prent.)
9 Was jy al ooit teleurgestel deur die gedrag van ’n verantwoordelike broer? Indien wel sal Hanna se voorbeeld jou dalk help. Die hoëpriester Eli het in haar tyd die leiding in Israel geneem in die aanbidding van Jehovah. Maar die lede van sy gesin het nie ’n goeie voorbeeld gestel nie. Sy seuns, wat priesters was, het gereeld skandelike, onsedelike dinge gedoen, maar hulle pa het hulle nie tereggewys nie. Jehovah het Eli nie onmiddellik uit sy posisie verwyder nie. Maar Hanna het nie haar rug op God se reëling gedraai deur te weier om by die tabernakel te aanbid terwyl Eli hoëpriester was nie. Toe Eli sien hoe ontsteld Hanna is terwyl sy gebid het, het hy verkeerdelik gedink dat sy dronk is. Sonder om seker te maak van die feite het hy hierdie ontstelde vrou gekritiseer (1 Sam. 1:12-16). Maar Hanna het nog steeds belowe dat sy, as sy ’n seun sou hê, hom sou bring om by die tabernakel te dien waar hy onder Eli se sorg sou wees (1 Sam. 1:11). Moes die saak waarby Eli se seuns betrokke was, reggestel word? Ja, en Jehovah het op die regte tyd opgetree (1 Sam. 4:17). Intussen het God Hanna met ’n seun, Samuel, beloon. – 1 Sam. 1:17-20.
10. Hoe het koning Dawid sy vertroue in ander behou, al het hy ’n slegte ondervinding gehad?
10 Het jy al ooit gevoel dat ’n goeie vriend jou in die rug gesteek het? As jy het, dink aan koning Dawid se ondervinding. Een van sy vriende was ’n man met die naam Agitofel. Maar toe Dawid se seun Absalom probeer het om die koningskap van sy pa weg te neem, het Agitofel saam met Absalom in opstand gekom. Wat ’n klap in die gesig moes dit vir Dawid gewees het om die ondersteuning te verloor van sy seun en ’n man wat hy gedink het sy vriend was! Maar Dawid het nie toegelaat dat dit hom keer om ander te vertrou nie. Hy het nog steeds ’n ander lojale vriend, Husai, vertrou, wat geweier het om in opstand te kom. Dawid het goeie rede gehad om Husai te vertrou. Husai het gewys dat hy ’n goeie vriend is en het selfs sy lewe gewaag om Dawid te help. – 2 Sam. 17:1-16.
11. Hoe het een van Nabal se knegte gewys dat hy ander vertrou?
11 Kyk ook na die voorbeeld van een van Nabal se knegte. Dawid en sy manne was goedhartig en het die knegte van ’n Israelitiese man met die naam Nabal beskerm. Later het Dawid die ryk Nabal gevra om kos vir sy manne te gee, wat Nabal ook al kon gee. Toe Nabal hierdie redelike versoek geweier het, het Dawid so kwaad geword dat hy besluit het om elke man in Nabal se huishouding dood te maak. ’n Kneg het Nabal se vrou, Abigail, daarvan vertel. As ’n lid van die huishouding het hy geweet dat sy lewe in Abigail se hande is. Eerder as om weg te hardloop, het hy vertrou dat Abigail die situasie sou kon regstel. Hy kon sulke vertroue hê omdat almal geweet het dat sy ’n verstandige vrou is. Die manier hoe die situasie uitgedraai het, wys dat hy goeie rede gehad het om haar te vertrou. Abigail het moedig opgetree om Dawid te keer om sy plan uit te voer (1 Sam. 25:2-35). Sy het vertrou dat Dawid redelik sou wees.
12. Hoe het Jesus gewys dat hy sy dissipels vertrou, al het hulle foute gemaak?
12 Jesus het sy dissipels vertrou, al het hulle foute gemaak (Joh. 15:15, 16). Toe Jakobus en Johannes Jesus vir ’n spesiale posisie in die Koninkryk gevra het, het Jesus nie die rede hoekom hulle Jehovah dien, bevraagteken nie of vir hulle gesê dat hulle nie meer apostels mag wees nie (Mark. 10:35-40). Later het al Jesus se dissipels hom verlaat op die aand toe hy in hegtenis geneem is (Matt. 26:56). Maar Jesus het nooit geloof in hulle verloor nie. Hy was heeltemal bewus van hulle onvolmaakthede, maar hy “het hulle tot die einde toe liefgehad” (Joh. 13:1). Ná Jesus se opstanding het hy selfs sy 11 getroue apostels die belangrike verantwoordelikheid gegee om die leiding in die dissipelmaakwerk te neem en om vir sy kosbare skape te sorg (Matt. 28:19, 20; Joh. 21:15-17). Hy het goeie redes gehad om hierdie onvolmaakte manne te vertrou. Hulle almal het tot die einde van hulle lewe op aarde getrou gedien. Hanna, Dawid, Nabal se kneg, Abigail en Jesus het beslis ’n goeie voorbeeld daarin gestel om onvolmaakte mense te vertrou.
HOE OM ONS VERTROUE IN ONS BROERS WEER OP TE BOU
13. Wat kan dit vir ons moeilik maak om ander te vertrou?
13 Het jy al ooit ’n broer met vertroulike inligting vertrou net om later uit te vind dat hy jou vertroue gebreek het? Dit kan jou diep seermaak. Eenkeer het ’n suster ’n ouerman in haar vertroue geneem en hom iets persoonliks vertel. Die volgende dag het die ouerman se vrou die suster gebel om haar aan te moedig, en dit was duidelik dat sy geweet het wat die suster vir die ouerman vertel het. Dit is te verstane dat dit vir die suster baie moeilik was om die ouerman te vertrou. Maar die suster het die regte ding gedoen en vir hulp gevra. Sy het met ’n ander ouerman daaroor gepraat, en hy het haar gehelp om weer haar vertroue in die ouermanne op te bou.
14. Wat het een broer gehelp om weer vertroue in ander op te bou?
14 ’n Broer was lank kwaad vir twee ouermanne, en hy het gevoel dat hy hulle nie kon vertrou nie. Maar hy het gedink aan iets wat ’n broer wat hy baie respekteer, gesê het. Hierdie eenvoudige maar kragtige stelling was: “Satan is die vyand, nie ons broers nie.” Die broer het mooi oor daardie woorde gedink en oor wat hy moes doen, en nadat hy tot Jehovah vir hulp gebid het, kon hy uiteindelik vrede met albei ouermanne maak.
15. Hoekom sal dit dalk tyd neem om weer vertroue in ander op te bou? Gee ’n voorbeeld.
15 Het jy al ooit ’n voorreg verloor? Dit kan ’n baie moeilike ondervinding wees. Grete en haar ma was getroue Getuies in Nazi-Duitsland gedurende die 1930’s toe ons werk verbied was. Grete het die voorreg gehad om kopieë van Die Wagtoring vir haar broers en susters te tik. Maar toe die broers uitvind dat haar pa teen die waarheid gekant is, het hulle daardie voorreg weggeneem omdat hulle bang was dat haar pa inligting oor die gemeente vir hulle teenstanders sou gee. Grete se probleme het nie daar opgehou nie. Gedurende die Tweede Wêreldoorlog wou die broers nie vir Grete en haar ma vertrou met kopieë van die tydskrifte nie, en hulle het geweier om met hulle te praat wanneer hulle hulle raakgeloop het. Dit het hulle baie seergemaak! Die wonde was baie diep, en Grete het gesê dat dit haar lank gevat het om daardie broers te vergewe en om hulle weer te vertrou. Maar later het sy besef dat Jehovah hulle vergewe het, so sy moet ook.c
“Satan is die vyand, nie ons broers nie”
16. Hoekom moet ons hard werk om te leer om ons broers en susters te vertrou?
16 As jy deur ’n soortgelyke moeilike ondervinding gegaan het, moet jy hard werk om weer jou vertroue in ander op te bou. Jy sal dalk tyd nodig hê, maar dit sal die moeite werd wees. Om te illustreer, as ons al ooit voedselvergiftiging gehad het, sal ons dalk twee keer dink voordat ons iets eet. Maar een slegte ondervinding sal nie veroorsaak dat ons ophou eet nie. Net so moet ons nie toelaat dat een slegte ondervinding ons vertroue in al ons broers en susters verswak nie, want ons weet dat hulle onvolmaak is. Wanneer ons weer ons vertroue in ander opbou, sal ons gelukkiger wees, en dit sal ons help om te verstaan wat ons kan doen om by te dra tot die vertroue in ons gemeente.
17. Hoekom is vertroue so belangrik, en wat gaan ons in die volgende artikel bespreek?
17 Vertroue is skaars in Satan wêreld, maar vertroue gebaseer op liefde kan regdeur ons wêreldwye broederskap gevind word. Sulke vertroue dra nou by tot ons vreugde en eenheid en sal ons in die toekoms beskerm wanneer ons deur moeilike tye gaan. Wat moet jy doen as iemand jou teleurgestel het en jy vertrou hulle nie meer nie? Probeer om dinge te sien soos Jehovah dit sien, pas Bybelbeginsels toe, ontwikkel ’n diep liefde vir jou broers en leer uit Bybelvoorbeelde. Ons kan ons seergemaakte gevoelens oorkom en weer ons vertroue in ander opbou. As ons dit doen, sal ons baie vriende hê “wat lojaler is as ’n broer” (Spr. 18:24). Maar dit is nie genoeg om ander te vertrou nie; hulle moet weet dat hulle ons ook kan vertrou. In die volgende artikel sal ons bespreek hoe ons kan bewys dat ons broers ons kan vertrou.
LIED 99 Duisende broers
a Ons moet ons broers vertrou. Dit is nie altyd maklik nie, want soms stel hulle ons teleur. In hierdie artikel sal ons Bybelbeginsels en voorbeelde uit die verlede bespreek wat ons kan help om ons vertroue in ons broers en susters te versterk of om weer vertroue in hulle op te bou as hulle ons teleurgestel het.
b Die Bybel waarsku dat party in die gemeente moontlik nie verdien om vertrou te word nie (Jud. 4). In uitsonderlike gevalle sal valse broers dalk probeer om ander te mislei deur “die waarheid [te] verdraai” (Hand. 20:30). Ons kies om nie na sulke mense te luister nie en om hulle nie te vertrou nie.
c Vir meer inligting oor Grete se ondervinding, sien die 1974 Yearbook of Jehovah’s Witnesses, bl. 129-131.