Die opstandingshoop is wis en seker!
“Ek het die hoop op God . . . dat daar ’n opstanding . . . gaan wees.”—HANDELINGE 24:15.
1. Waarom kan ons ons hoop op die opstanding vestig?
JEHOVAH het ons gegronde redes gegee om ons hoop op die opstanding te vestig. Ons het sy woord dat die dooies sal opstaan en weer sal lewe. En sy voorneme met betrekking tot diegene wat gesterf het, sal beslis vervul word (Jesaja 55:11; Lukas 18:27). Trouens, God het reeds getoon dat hy die mag het om die dooies op te wek.
2. Hoe kan die opstandingshoop ons baat?
2 Geloof in God se voorsiening om die dooies deur middel van sy Seun, Jesus Christus, op te wek, kan ons in moeilike tye onderskraag. Die sekerheid van die opstandingshoop kan ons ook help om ons onkreukbaarheid teenoor ons hemelse Vader te handhaaf, selfs tot die dood. Ons hoop op die opstanding sal heel waarskynlik versterk word deur ’n bespreking van die opstandings wat in die Bybel opgeteken is. Al hierdie wonderwerke is deur krag van die Soewereine Heer Jehovah verrig.
Hulle het hulle dooies deur opstanding ontvang
3. Wat het die krag wat Elia ontvang het hom in staat gestel om te doen toe die seun van ’n weduwee in Sarfat gesterf het?
3 In ’n aangrypende bespreking van die geloof wat deur Jehovah se voor-Christelike getuies geopenbaar is, het die apostel Paulus geskryf: “Vroue het hulle dooies deur opstanding ontvang” (Hebreërs 11:35; 12:1). Een van hierdie vroue was ’n arm weduwee in die Fenisiese stad Sarfat. Omdat sy gasvry teenoor God se profeet Elia was, het haar meel en olie op wonderdadige wyse nie opgeraak gedurende ’n hongersnood wat haar lewe en dié van haar seun kon geëis het nie. Toe die kind later gesterf het, het Elia hom op ’n bed neergelê, gebid, hom drie maal oor die seun uitgestrek en gepleit: “HERE my God, laat die siel van hierdie kind tog in hom terugkeer.” God het toe die siel, of lewe, in die seun laat terugkeer (1 Konings 17:8-24). Stel jou die vreugde van daardie weduwee voor toe haar geloof beloon is deur die eerste opgetekende opstanding—dié van haar eie geliefde seun!
4. Watter wonderwerk het Elisa in Sunem verrig?
4 ’n Ander vrou wat haar dooie seun deur opstanding ontvang het, het in die dorp Sunem gewoon. Sy was die vrou van ’n bejaarde man en het aan die profeet Elisa en sy kneg goedhartigheid bewys. Sy is geseën met ’n seun. ’n Paar jaar later het sy egter die profeet laat roep, en hy het die seun dood in haar huis aangetref. Nadat Elisa gebid en sekere dinge gedoen het, het “die vlees van die kind . . . warm geword”. Hy het “sewe maal genies; en die seun het sy oë oopgemaak”. Hierdie opstanding het ongetwyfeld vir die moeder sowel as haar seun groot blydskap verskaf (2 Konings 4:8-37; 8:1-6). Maar hoeveel gelukkiger sal hulle tog wees wanneer hulle tot lewe op die aarde opgewek word tydens die “beter opstanding”—een wat vir hulle die vooruitsig sal bied om nooit weer te sterf nie! Wat ’n rede is dit tog om dankbaar te wees teenoor die liefdevolle God van die opstanding, Jehovah!—Hebreërs 11:35.
5. Hoe was Elisa selfs ná sy dood by ’n wonderwerk betrokke?
5 Selfs nadat Elisa dood en begrawe was, het God sy beendere krag gegee deur middel van die heilige gees. Ons lees: “Terwyl [sekere Israeliete] besig was om ’n man te begrawe, sien hulle meteens [’n Moabitiese] bende; daarom het hulle die man in die graf van Elisa gegooi; en toe die [dooie] man met die gebeente van Elisa in aanraking kom, het hy lewendig geword en opgestaan op sy voete” (2 Konings 13:20, 21). Hoe verbaas en bly moes hierdie man tog gewees het! Stel jou die vreugde voor wat ons sal hê wanneer ons geliefdes tot lewe opgewek word in ooreenstemming met die onfeilbare voorneme van Jehovah God!
God se Seun het die dooies opgewek
6. Watter wonderwerk het Jesus naby die stad Nain verrig, en watter uitwerking kan hierdie gebeurtenis op ons hê?
6 God se Seun, Jesus Christus, het ons gegronde redes gegee om te glo dat die dooies opgewek kan word, met die vooruitsig op ewige lewe. Iets wat naby die stad Nain gebeur het, kan ons help besef dat so ’n wonderwerk deur godgegewe krag moontlik is. By een geleentheid het Jesus rouklaers teëgekom wat die lyk van ’n jong man uit die stad gedra het om begrawe te word. Hy was die enigste kind van ’n weduwee. Jesus het vir haar gesê: “Hou op huil.” Toe het hy die baar aangeraak en gesê: “Jong man, ek sê vir jou: Staan op!” Daarop het hy regop gesit en begin praat (Lukas 7:11-15). Hierdie wonderwerk versterk beslis ons oortuiging dat die opstandingshoop wis en seker is.
7. Wat het in die geval van Jaïrus se dogtertjie gebeur?
7 Dink ook aan ’n gebeurtenis waarby Jaïrus, ’n presiderende beampte van die sinagoge in Kapernaum, betrokke was. Hy het Jesus gevra om sy geliefde 12-jarige dogtertjie te kom help wat op sterwe gelê het. Kort daarna het hulle gehoor dat die meisie gesterf het. Jesus het die bedroefde Jaïrus aangemoedig om geloof te beoefen en hom na sy huis vergesel waar ’n skare geween het. Hulle het gelag toe Jesus vir hulle gesê het: “Die jong kind het nie gesterf nie, maar slaap.” Sy was werklik dood, maar Jesus sou net hierna toon dat mense tot lewe opgewek kan word net soos hulle uit ’n diep slaap wakker gemaak kan word. Hy het die meisie by die hand geneem en gesê: “Meisie, staan op!” Sy het oombliklik opgestaan, en “haar ouers was buite hulleself” van ekstase (Markus 5:35-43; Lukas 8:49-56). Gesinslede sal ongetwyfeld “buite hulleself” wees wanneer hulle afgestorwe dierbares tot lewe op ’n paradysaarde opgewek word.
8. Wat het Jesus by die graf van Lasarus gedoen?
8 Lasarus was al vier dae dood toe Jesus na sy graf gekom en die klip by die ingang laat wegneem het. Nadat Jesus in die openbaar gebid het sodat waarnemers kon weet dat hy op godgegewe krag staatmaak, het hy met ’n harde stem gesê: “Lasarus, kom uit!” En hy het uitgekom! Sy hande en voete was nog met grafdoeke gebind, en sy gesig was met ’n doek toegedraai. “Maak hom los en laat hom gaan”, het Jesus gesê. Baie wat daar was om Lasarus se susters, Maria en Marta, te vertroos, het geloof in Jesus gestel nadat hulle hierdie wonderwerk gesien het (Johannes 11:1-45). Vervul hierdie verslag jou nie met hoop dat jou geliefdes tot lewe in God se nuwe wêreld opgewek kan word nie?
9. Waarom kan ons seker wees dat Jesus nou die dooies kan opwek?
9 Toe Johannes die Doper in die gevangenis was, het Jesus hom hierdie bemoedigende boodskap gestuur: “Die blindes sien weer, . . . en die dooies word opgewek” (Matteus 11:4-6). Aangesien Jesus die dooies opgewek het terwyl hy op aarde was, kan hy dit beslis doen as ’n magtige geesskepsel wat krag van God ontvang het. Jesus is “die opstanding en die lewe”, en hoe bemoedigend is dit tog om te weet dat “almal wat in die gedenkgrafte is” in die nabye toekoms “sy stem sal hoor en sal uitkom”!—Johannes 5:28, 29; 11:25.
Ander opstandings versterk ons hoop
10. Hoe sal jy die eerste opgetekende opstanding deur ’n apostel beskryf?
10 Toe Jesus sy apostels as Koninkryksverkondigers uitgestuur het, het hy gesê: “Wek dooies op” (Matteus 10:5-8). Hulle moes natuurlik op God se krag staatmaak om dit te doen. In 36 G.J. het die godvresende vrou Dorkas (Tabita) in Joppe gesterf. Van haar goeie dade was dat sy vir behoeftige weduwees klere gemaak het, en haar dood het hulle baie hartseer gemaak. Die dissipels het haar liggaam vir die begrafnis voorberei en die apostel Petrus laat roep, moontlik om hulle te vertroos (Handelinge 9:32-38). Hy het almal uit die bovertrek gestuur, gebid en gesê: “Tabita, staan op!” Sy het haar oë oopgemaak, regop gesit, Petrus se hand geneem, en hy het haar opgehelp. Hierdie eerste opgetekende opstanding deur ’n apostel het baie mense gelowiges laat word (Handelinge 9:39-42). Dit gee ons ook verdere rede om ons hoop op die opstanding te vestig.
11. Wat is die laaste opstanding wat in die Bybelverslag genoem word?
11 Die laaste opstanding wat in die Bybelverslag genoem word, het in Troas plaasgevind. Toe Paulus tydens sy derde sendingreis daar aangedoen het, het hy sy toespraak tot middernag verleng. ’n Jong man met die naam Eutigus, wat weens moegheid en moontlik weens die hitte van die talle lampe en die stampvol vergaderplek aan die slaap geraak het, het van ’n venster op die derde verdieping geval. Hy is “dood opgetel”, nie net bewusteloos nie. Paulus het hom op Eutigus gewerp, sy arms om hom geslaan en vir die omstanders gesê: “Hou op om ’n lawaai te maak, want sy siel is in hom.” Paulus het bedoel dat die jong man se lewe aan hom teruggegee is. Dié wat teenwoordig was, is “uitermate vertroos” (Handelinge 20:7-12). Vandag word God se knegte grootliks vertroos omdat hulle weet dat die opstandingshoop vir hulle medeknegte in God se diens verwesenlik sal word.
Die opstanding—’n Hoop wat mense al lank koester
12. Watter oortuiging het Paulus uitgespreek toe hy voor die Romeinse goewerneur Feliks verskyn het?
12 Toe Paulus deur die Romeinse goewerneur Feliks verhoor is, het hy getuig: “Ek [glo alles] wat in die Wet uiteengesit is en in die Profete geskrywe staan; en ek het die hoop op God . . . dat daar ’n opstanding van die regverdiges sowel as die onregverdiges gaan wees” (Handelinge 24:14, 15). Hoe wys dele van God se Woord, soos “die Wet”, na die opstanding van die dooies?
13. Waarom kan daar gesê word dat God indirek na die opstanding verwys het toe hy die eerste profesie gegee het?
13 God self het indirek na ’n opstanding verwys toe hy die eerste profesie in Eden gegee het. Toe hy oordeel oor “die oorspronklike slang”, Satan die Duiwel, uitgespreek het, het God gesê: “Ek sal vyandskap stel tussen jou en die vrou, en tussen jou saad en haar saad. Hý sal jou die kop vermorsel, en jý sal hom in die hakskeen byt” (Openbaring 12:9; Genesis 3:14, 15). Die vrou se saad wat in die hakskeen gebyt sou word, het beteken dat Jesus Christus doodgemaak sou word. Vir hierdie Saad om daarna die slang se kop te vermorsel, sou Christus uit die dood opgewek moes word.
14. Waarom kan daar gesê word dat Jehovah “’n God, nie van die dooies nie, maar van die lewendes” is?
14 Jesus het gesê: “Dat die dooies opgewek word, het ook Moses onthul, in die verslag oor die doringbos, wanneer hy Jehovah ‘die God van Abraham en die God van Isak en die God van Jakob’ noem. Hy is ’n God, nie van die dooies nie, maar van die lewendes, want vir hom lewe hulle almal” (Lukas 20:27, 37, 38; Exodus 3:6). Abraham, Isak en Jakob is dood, maar God se voorneme om hulle op te wek, sou so gewis vervul word dat hulle in sy oë so goed as lewend is.
15. Waarom het Abraham rede gehad om in die opstanding te glo?
15 Abraham het rede gehad om op die opstanding te hoop, want toe hy en sy vrou, Sara, baie oud was en hulle dood was wat hulle vermoë betref om kinders voort te bring, het God hulle voorplantingsvermoëns wonderbaarlik herstel. Dit was soos ’n opstanding (Genesis 18:9-11; 21:1-3; Hebreërs 11:11, 12). Toe hulle seun, Isak, omtrent 25 jaar oud was, het God vir Abraham gesê om hom te offer. Maar net toe Abraham sy hand uitgesteek het om Isak dood te maak, het Jehovah se engel hom gekeer. Abraham het “gereken dat God [Isak] selfs uit die dode kon opwek; en daaruit het hy hom dan ook, by wyse van illustrasie, ontvang”.—Hebreërs 11:17-19; Genesis 22:1-18.
16. Waarvoor wag Abraham nou in die graf?
16 Abraham het gehoop op ’n opstanding onder die heerskappy van die Messias, die beloofde Saad. Uit sy voormenslike posisie het God se Seun Abraham se geloof gesien. Gevolglik het hy as die mens Jesus Christus vir die Jode gesê: “Abraham, julle vader, het hom grootliks verheug in die vooruitsig om my dag te sien” (Johannes 8:56-58; Spreuke 8:30, 31). Abraham is nou in die graf en wag vir ’n opstanding tot lewe op aarde onder God se Messiaanse Koninkryk.—Hebreërs 11:8-10, 13.
Getuienis uit die Wet en die Psalms
17. Hoe het dit “wat in die Wet uiteengesit is” na Jesus Christus se opstanding verwys?
17 Paulus se hoop op die opstanding was in ooreenstemming met “wat in die Wet uiteengesit is”. God het vir die Israeliete gesê: “Julle [moet] die eerstelingsgerf van julle oes na die priester bring. En hy moet [op 16 Nisan] die gerf voor die aangesig van die HERE beweeg, sodat julle welgevallig kan wees” (Levitikus 23:9-14). Paulus het moontlik hierdie wet in gedagte gehad toe hy geskryf het: “Christus [is] uit die dode opgewek, die eersteling van dié wat ontslaap het.” Jesus is op 16 Nisan 33 G.J. as “die eersteling” opgewek. Later, gedurende sy teenwoordigheid, sou daar ’n opstanding wees van die ‘na-oes’—sy geesgesalfde volgelinge.—1 Korintiërs 15:20-23; 2 Korintiërs 1:21; 1 Johannes 2:20, 27.
18. Hoe het Petrus getoon dat Jesus se opstanding in die Psalms voorspel is?
18 Die Psalms bevat ook getuienis ter stawing van die opstanding. Op Pinksterdag 33 G.J. het die apostel Petrus uit Psalm 16:8-11 aangehaal en gesê: “Dawid sê aangaande [Christus]: ‘Ek het Jehovah voortdurend voor my oë gehad; want hy is aan my regterhand sodat ek nooit sal wankel nie. Om dié rede het my hart vrolik geword en my tong hom grootliks verheug. Bowendien sal selfs my vlees in hoop woon; want u sal my siel nie in Hades laat nie, nog sal u toelaat dat hy wat teenoor u lojaal is verderwing sien.’” Petrus het bygevoeg: “[Dawid het] die opstanding van die Christus vooraf gesien en daaroor gepraat, dat hy nie in Hades verlaat is en sy vlees ook nie verderwing gesien het nie. Hierdie Jesus het God opgewek.”—Handelinge 2:25-32.
19, 20. Wanneer het Petrus uit Psalm 118:22 aangehaal, en hoe is dit met Jesus se dood en opstanding verbind?
19 ’n Paar dae later het Petrus voor die Sanhedrin gestaan en weer uit die Psalms aangehaal. Toe hy gevra is hoe hy ’n verlamde bedelaar genees het, het die apostel gesê: “Laat dit dan aan julle almal en aan die hele volk Israel bekend wees dat in die naam van Jesus Christus die Nasarener, wat julle aan die paal gehang het maar wat God uit die dode opgewek het, dat deur hóm hierdie man hier gesond voor julle staan. [Jesus] is ‘die steen wat deur julle, die bouers, behandel is asof hy van geen belang was nie, wat die hoof van die hoek geword het’. Daarbenewens is daar geen redding in enigiemand anders nie, want daar is nie ’n ander naam onder die hemel wat onder die mense gegee is waardeur ons gered moet word nie.”—Handelinge 4:10-12.
20 Petrus het hier uit Psalm 118:22 aangehaal en dit op Jesus se dood en opstanding toegepas. Die Jode wat deur hulle godsdiensleiers aangehits is, het Jesus verwerp (Johannes 19:14-18; Handelinge 3:14, 15). ‘Die bouers het die steen verwerp’, wat tot Christus se dood gelei het, maar ‘die steen het die hoof van die hoek geword’, wat beteken dat hy tot heerlikheid as ’n gees in die hemel opgewek is. Soos die psalmis voorspel het, het ‘Jehovah dit teweeggebring’ (Psalm 118:23, NW). Die feit dat “die steen” die Hoof van die hoek gemaak is, het behels dat hy tot aangewese Koning verhef moes word.—Efesiërs 1:19, 20.
Onderskraag deur die opstandingshoop
21, 22. Watter hoop het Job volgens Job 14:13-15 uitgespreek, en hoe kan dit vandag bedroefdes vertroos?
21 Hoewel ons nog nooit self enigeen uit die dood sien opstaan het nie, het ons sekere verslae in die Skrif ondersoek wat ons van die opstanding oortuig. Ons kan derhalwe die hoop koester wat die regverdige man Job uitgespreek het. Toe hy gely het, het hy gesmeek: “Ag, as U [Jehovah] my maar in die doderyk wou wegsteek, . . . my ’n bepaalde tyd wou stel en dan aan my wou dink! As ’n mens sterwe, sal hy weer lewe? . . . U sou roep, en ek sou U antwoord, na die maaksel van u hande sou U verlang” (Job 14:13-15). God ‘sal na die maaksel van sy hande verlang’, dit wil sê die opregte begeerte hê om Job op te wek. Watter hoop gee dit tog vir ons!
22 ’n Godvresende gesinslid word dalk ernstig siek, soos Job, en word moontlik selfs deur die vyand, die dood, oorweldig. Die bedroefdes sal dalk ween, net soos Jesus oor die dood van Lasarus geween het (Johannes 11:35). Maar hoe vertroostend is dit tog om te weet dat God diegene in sy geheue sal roep en dat hulle sal antwoord! Dit sal wees asof hulle van ’n reis teruggekeer het—nie siek of met gebreke nie, maar blakend gesond.
23. Hoe het party hulle vertroue in die opstandingshoop uitgespreek?
23 Ná die dood van ’n getroue bejaarde Christen het medegelowiges die volgende geskryf: “Ons innige meegevoel met die verlies van julle moeder. Dit sal net ’n kort rukkie wees voor ons haar sal terugverwelkom—mooi en vol lewenslus!” Ouers wat hulle seun verloor het, het gesê: “Ons sien werklik uit na die dag wanneer Jason wakker sal word! Hy sal om hom kyk en die Paradys sien waarna hy so uitgesien het. . . . Wat ’n aansporing is dit tog vir dié van ons wat hom liefgehad het om ook daar te wees.” Ja, en hoe dankbaar kan ons tog wees dat die opstandingshoop wis en seker is!
Hoe sal jy antwoord?
• Hoe kan geloof in God se voorsiening van die opstanding ons baat?
• Watter gebeurtenisse wat in die Skrif opgeteken is, gee ons rede tot hoop in die opstanding?
• Waarom kan daar gesê word dat die opstanding ’n hoop is wat mense al lank koester?
• Watter bemoedigende hoop kan ons aangaande die dood koester?
[Prent op bladsy 10]
Elia het deur Jehovah se krag ’n weduwee se jong seun opgewek
[Prent op bladsy 12]
Toe Jesus Jaïrus se dogtertjie opgewek het, was haar ouers buite hulleself van ekstase
[Prent op bladsy 15]
Op Pinksterdag 33 G.J. het die apostel Petrus moedig getuig dat Jesus uit die dood opgewek is