Die Bybel se beskouing
Diskrimineer die Bybel teen vroue?
TERTULLIANUS, ’n derde-eeuse teoloog, het vroue eenkeer beskryf as “die duiwel se poort”. Ander het die Bybel gebruik om vroue as minder belangrik as mans uit te beeld. Gevolglik voel baie dat die Bybel teen vroue diskrimineer.
Elizabeth Cady Stanton, ’n 19de-eeuse kampvegter vir vroueregte in die Verenigde State, het gevoel dat “die Bybel en die Kerk die grootste struikelblokke is in die weg van vrouebevryding”. Stanton het eenkeer oor die eerste vyf boeke van die Bybel gesê: “Ek weet van geen ander boek wat so duidelik leer dat vroue onderwerp en verneder moet word nie.”
Hoewel party mense dalk vandag sulke uiterste standpunte inneem, meen baie nog steeds dat sekere dele van die Bybel diskriminasie teen vroue ondersteun. Is so ’n gevolgtrekking geregverdig?
Hoe vroue in die Hebreeuse Geskrifte beskou word
“Jou begeerte sal na jou man wees, en hy sal oor jou heers” (Genesis 3:16). Kritici sê dat God hier ’n oordeel oor Eva uitgespreek het en die onderwerping van vroue deur mans goedgekeur het. Dit was nie ’n bekendmaking van God se voorneme nie, maar eerder ’n akkurate beskrywing van die droewige gevolge van sonde en die verwerping van God se soewereiniteit. Vrouemishandeling is die direkte gevolg van die mensdom se onvolmaaktheid; dit is nie God se wil nie. In baie kulture het mans inderdaad oor hulle vrouens geheers, dikwels op baie wrede maniere. Maar dit was nie God se voorneme nie.
Adam en Eva is albei na God se beeld geskep. Verder het hulle ook dieselfde opdrag van God ontvang om vrugbaar te wees, die aarde te vul en dit te onderwerp. Hulle moes as ’n span saam werk (Genesis 1:27, 28). Dit is duidelik dat nie een van hulle op daardie stadium op ’n wrede wyse oor die ander geheers het nie. Genesis 1:31 sê: “Daarna het God alles gesien wat hy gemaak het, en kyk! dit was baie goed.”
In party gevalle dui Bybelverslae nie aan wat God se beskouing oor ’n saak is nie. Dit vertel dalk net wat destyds gebeur het. In die verslag van Lot wat sy dogters vir die Sodomiete aangebied het, word daar nie kommentaar gelewer oor die sedelike aanvaarbaarheid daarvan nie en ook nie wat God daarvan gedink het nie.—Genesis 19:6-8.a
Die feit is dat God alle vorme van uitbuiting en mishandeling haat (Eksodus 22:22; Deuteronomium 27:19; Jesaja 10:1, 2). Die Mosaïese Wet het verkragting en prostitusie veroordeel (Levitikus 19:29; Deuteronomium 22:23-29). Egbreuk is verbied, en die straf was die dood vir albei partye (Levitikus 20:10). Die Wet het nie teen vroue gediskrimineer nie, maar het hulle eerder verhef en beskerm teen die uitbuiting wat so algemeen was onder die omliggende nasies. ’n Bekwame Joodse vrou was ’n hoogs gewaardeerde en gerespekteerde persoon (Spreuke 31:10, 28-30). Die Israeliete se versuim om God se wette te volg en respek vir vroue te toon, was hulle eie skuld, nie God se wil nie (Deuteronomium 32:5). God het uiteindelik die nasie in sy geheel geoordeel en gestraf vir hulle moedswillige ongehoorsaamheid.
Kom onderworpenheid op diskriminasie neer?
Enige gemeenskap kan alleenlik goed funksioneer wanneer daar orde is. Dit vereis die toepassing van gesag. Die alternatief is chaos. “God is nie ’n God van wanorde nie, maar van vrede.”—1 Korintiërs 14:33.
Die apostel Paulus beskryf die hoofskapreëling in die gesin: “Die Christus [is] die hoof . . . van elke man; en die man is die hoof van die vrou; en God is die hoof van die Christus” (1 Korintiërs 11:3). Elkeen, behalwe God, is aan ’n hoër gesag onderhewig. Beteken die feit dat Jesus ’n hoof het dat daar teen hom gediskrimineer word? Natuurlik nie! Die feit dat mans die skriftuurlike toewysing het om in die gemeente en in die gesin die leiding te neem, beteken nie dat daar teen vroue gediskrimineer word nie. Om te floreer, het die gesin sowel as die gemeente vroue en mans nodig wat hulle onderskeie rolle met liefde en respek vervul.—Efesiërs 5:21-25, 28, 29, 33.
Jesus het vroue altyd met respek behandel. Hy het geweier om die diskriminerende tradisies en reëls te volg wat deur die Fariseërs geleer is. Hy het met nie-Joodse vroue gepraat (Matteus 15:22-28; Johannes 4:7-9). Hy het vroue onderrig (Lukas 10:38-42). Hy het vroue teen verwerping beskerm (Markus 10:11, 12). Die mees revolusionêre ding wat Jesus vir sy tyd gedoen het, is moontlik dat hy vroue in sy intieme vriendekring aanvaar het (Lukas 8:1-3). Jesus het, as die volmaakte verpersoonliking van al God se eienskappe, getoon dat mense van albei geslagte gelyke waarde in God se oë het. Trouens, onder die vroeë Christene het mans sowel as vroue die gawe van die heilige gees ontvang (Handelinge 2:1-4, 17, 18). Wat die gesalfdes betref, diegene wat die vooruitsig het om as konings en priesters saam met Christus te dien, word geen onderskeid op grond van geslag getref nadat hulle tot hemelse lewe opgewek is nie (Galasiërs 3:28). Die Outeur van die Bybel, Jehovah, diskrimineer nie teen vroue nie.
[Voetnoot]
[Prent op bladsy 18]
Jesus het, in teenstelling met baie van sy tydgenote, vroue met respek behandel