Vrae van lesers
Na wie het Jehovah verwys toe hy in Genesis 3:22 gepraat het van “een van ons”?
Jehovah God het blykbaar na homself en sy enigverwekte Seun verwys toe hy gesê het: “Die mens het soos een van ons geword deur goed en kwaad te ken” (Genesis 3:22). Waarom sê ons so?
Jehovah het hierdie woorde geuiter nadat hy ’n vonnis oor die eerste mensepaar uitgespreek het. Sommige beskou die uitdrukking “een van ons” as die majesteitsmeervoud, soos wanneer ’n mensekoning dalk sê “ons is nie tevrede nie” wanneer hy slegs na homself verwys. Maar met verwysing na Genesis 1:26 en 3:22 sê die Bybelkenner Donald E. Gowan: “Daar is geen steun in die O[ou] T[estament] vir die meeste van die voorgestelde verduidelikings nie: die koninklike ‘ons‘ . . . of ’n aanduiding van meer as een persoon in die Godheid. . . . Nie een van hierdie verduidelikings maak veel sin in 3:22, waar dit van ‘een van ons’ praat nie.”
Het Jehovah miskien na Satan die Duiwel verwys, wat vir homself besluit het oor “goed en kwaad” en die eerste mense beïnvloed het om dieselfde te doen? Dit is nie redelik nie. Hier het Jehovah die uitdrukking “een van ons” gebruik. Satan was nie meer onder die menigte getroue engele van Jehovah nie; daarom kon hy nie ingesluit gewees het by diegene wat aan Jehovah se kant was nie.
Het God na die getroue engele verwys? Ons kan nie met sekerheid sê nie. Maar die ooreenkoms tussen die uitdrukkings in Genesis 1:26 en 3:22 gee ons ’n leidraad. In Genesis 1:26 lees ons dat Jehovah gesê het: “Laat ons mense maak na ons beeld, ooreenkomstig ons gelykenis.” Tot wie het hy hierdie woorde gerig? Die apostel Paulus het na die geesskepsel verwys wat die volmaakte man Jesus geword het, en gesê: “Hy is die beeld van die onsigbare God, die eersgeborene van die hele skepping; want deur middel van hom is alle ander dinge in die hemele en op die aarde geskep” (Kolossense 1:15, 16). Ja, dit lyk logies dat Jehovah in Genesis 1:26 gepraat het met sy enigverwekte Seun, die “meesterwerker”, wat gedurende die skepping van die hemel en die aarde aan sy sy was (Spreuke 8:22-31). Die ooreenkoms met die uitdrukking in Genesis 3:22 gee te kenne dat Jehovah weer eens met die een naaste aan hom, sy enigverwekte Seun, gepraat het.
God se enigverwekte Seun het blykbaar kennis van “goed en kwaad” gehad. Uit sy lang en intieme verhouding met Jehovah, het hy beslis sy Vader se denke, beginsels en standaarde goed leer ken. Oortuig daarvan dat sy Seun hierdie dinge geken het en lojaal daaraan was, het Jehovah hom dalk ’n sekere mate van vryheid gegee om sake te hanteer sonder om Hom elke keer direk te raadpleeg. Die Seun sou dus tot dié mate in staat wees en die gesag hê om te bepaal wat goed en kwaad is. Maar anders as Satan, Adam en Eva het hy nie ’n standaard vasgestel wat met Jehovah s’n gebots het nie.