Ons kan by die eerste mensepaar leer
GOD het na die planeet Aarde gekyk. Hy was besig om dit voor te berei sodat dit deur mense bewoon kon word. En hy het gesien dat alles wat hy gemaak het goed was. Trouens, toe hierdie werk voltooi is, het hy verklaar dat dit “baie goed” was (Genesis 1:12, 18, 21, 25, 31). Maar voordat God tot daardie volmaakte slotsom gekom het, het hy gepraat van iets wat “nie goed” was nie. God het natuurlik niks gemaak wat onvolmaak was nie. Dit was net dat sy skepping nog nie volkome was nie. “Dit is nie goed dat die mens alleen bly nie”, het Jehovah gesê. “Ek gaan vir hom ’n helper maak, as ’n komplement van hom.”—Genesis 2:18, NW.
Dit was Jehovah se voorneme dat die mensegemeenskap ewige lewe in gesondheid, geluk en oorvloed op ’n aardse paradys moes geniet. Adam was die vader van alle mense. Sy vrou, Eva, het die “moeder geword . . . van alles wat lewe” (Genesis 3:20). Hoewel die aarde nou gevul is met miljarde van hulle nakomelinge, is mense alles behalwe volmaak.
Ons ken die verhaal van Adam en Eva baie goed. Maar van watter praktiese waarde is dit vir ons? Wat kan ons uit die ondervindinge van die eerste mensepaar leer?
“Man en vrou het Hy hulle geskape”
Toe Adam die diere name gegee het, het hy gesien dat hulle maats het, maar nie hy nie. Toe hy dus die pragtige skepsel sien wat Jehovah uit sy rib gemaak het, was hy verheug. Adam het besef dat sy op unieke wyse ’n deel van hom was en het uitgeroep: “Dit is nou eindelik been van my gebeente en vlees van my vlees. Sy sal mannin genoem word, want sy is uit die man geneem.”—Genesis 2:18-23.
Die man het “’n helper” nodig gehad. Nou het hy een gehad wat net reg was. Eva was volkome geskik om Adam se komplement te wees—om na hulle tuintuiste en die diere om te sien, kinders voort te bring en die intellektuele stimulus en ondersteuning van ’n ware metgesel te voorsien.—Genesis 1:26-30.
Jehovah het alles voorsien wat die egpaar redelikerwys kon begeer. Toe God Eva na haar man gebring en hulle sodoende in die eg verbind het, het hy die huweliks- en gesinsreëling ingestel waardeur die samelewing georganiseer sou wees. Die Genesisverslag sê: “Die man [sal] sy vader en moeder verlaat en sy vrou aankleef. En hulle sal een vlees wees.” En toe Jehovah die eerste egpaar geseën en vir hulle gesê het om vrugbaar te wees, het hy ongetwyfeld in gedagte gehad dat elke kind in ’n liefdevolle gesin gebore moes word, met ’n vader en moeder wat vir hom sorg.—Genesis 1:28; 2:24.
“Na die beeld van God”
Adam was ’n volmaakte seun van God, gemaak na Sy ‘beeld en gelykenis’. Maar aangesien ‘God ’n Gees is’, kon die ooreenkoms nie fisies wees nie (Genesis 1:26; Johannes 4:24). Die gelykenis was in eienskappe wat die mens ver bo die diere verhef het. Ja, die eienskappe liefde, wysheid, krag en geregtigheid is al van die begin af by die mens ingeplant. Hy is met wilsvryheid en ’n sin vir geestelikheid geskep. ’n Ingebore sedelikheidsgevoel, of gewete, het hom in staat gestel om tussen reg en verkeerd te onderskei. Die mens het intellektuele vermoëns gehad, wat hom in staat gestel het om oor die rede vir die bestaan van mense te peins, om kennis van sy Skepper in te neem en om ’n intieme verhouding met Hom op te bou. Adam was dus toegerus met alles wat hy nodig gehad het om sy rol as die administrateur van God se aardse handewerk te vervul.
Eva sondig
Adam het Eva ongetwyfeld sonder versuim ingelig omtrent die een verbod wat Jehovah ingestel het: Hulle kon eet van die vrugte van al die bome in hulle tuintuiste, behalwe een—die boom van die kennis van goed en kwaad. Hulle moes daarvan nie eet nie. As hulle daarvan sou eet, sou hulle op daardie dag sterf.—Genesis 2:16, 17.
Kort voor lank is ’n vraag oor die verbode vrug geopper. Eva is deur ’n slang genader, wat as die mondstuk van ’n onsigbare gees gedien het. Die slang het skynbaar onskuldig gevra: “Is dit ook so dat God gesê het: Julle mag nie eet van al die bome van die tuin nie?” Eva het geantwoord dat hulle wel van die vrugte van al die bome behalwe een kon eet. Maar toe het die slang God weerspreek en vir die vrou gesê: “Julle sal gewis nie sterwe nie; maar God weet dat as julle daarvan eet, julle oë sal oopgaan, sodat julle soos God sal wees deur goed en kwaad te ken.” Die vrou het die verbode boom in ’n ander lig begin sien. ‘Die boom was goed om van te eet en ’n lus vir die oë.’ Eva is geheel en al bedrieg en het God se wet verbreek.—Genesis 3:1-6; 1 Timoteus 2:14.
Was Eva se sonde onvermydelik? Hoegenaamd nie! Stel jou in haar plek. Die slang se bewering het God en Adam se woorde heeltemal verdraai. Hoe sou jy voel as ’n vreemdeling iemand wat jy liefhet en vertrou van oneerlikheid beskuldig? Eva moes anders gereageer het, sy moes afkeer en verontwaardiging getoon het en selfs geweier het om te luister. Watter reg het die slang per slot van rekening gehad om God se regverdigheid en haar man se woord in twyfel te trek? Uit eerbied vir die beginsel van hoofskap moes Eva eers raad gevra het voordat sy enige besluit geneem het. En ons moet dieselfde doen as ons ooit inligting ontvang wat met godgegewe wette bots. Maar Eva het die Versoeker se woorde vertrou, sy wou self oordeel oor wat goed en wat sleg is. Hoe meer sy oor die idee gedink het, hoe aanlokliker het dit vir haar gelyk. Wat ’n groot fout het sy tog begaan deur ’n verkeerde begeerte te koester, pleks van dit uit haar gedagtes te sit of sake met haar gesinshoof te bespreek!—1 Korintiërs 11:3; Jakobus 1:14, 15.
Adam luister na sy vrou se stem
Eva het Adam spoedig oorgehaal om saam met haar te sondig. Hoe moet ons die feit dat hy sommerso ingestem het, verduidelik? (Genesis 3:6, 17). Adam het voor botsende lojaliteite te staan gekom. Sou hy gehoorsaam wees aan sy Skepper, wat hom alles, insluitende sy geliefde maat, Eva, gegee het? Sou Adam God se leiding vra oor wat hom nou te doen staan? Of sou hy hom aan die kant van sy vrou skaar? Adam het baie goed geweet dat wat sy graag wou bereik deur die verbode vrug te eet, ’n illusie was. Die apostel Paulus het onder inspirasie geskryf: “Adam [is] nie bedrieg nie, maar die vrou is geheel en al bedrieg en het in oortreding gekom” (1 Timoteus 2:14). Adam het dus doelbewus gekies om aan Jehovah ongehoorsaam te wees. Sy vrees dat hy van sy vrou geskei sou word, was klaarblyklik groter as sy geloof in God se vermoë om die situasie reg te stel.
Adam se optrede was soos selfmoord. Dit het ook neergekom op die moord van al die nakomelinge wat Jehovah hom uit barmhartigheid toegelaat het om te verwek, aangesien hulle almal gebore is onder die veroordeling van sonde tot die dood (Romeine 5:12). Wat ’n hoë prys vir selfsugtige ongehoorsaamheid!
Die gevolge van sonde
Die onmiddellike gevolg van hulle sonde was skaamte. In plaas van bly te wees om met Jehovah te gaan praat, het die egpaar hulle verberg (Genesis 3:8). Hulle vriendskap met God is geruïneer. Toe hulle gevra is wat hulle gedoen het, het hulle geen berou getoon nie, hoewel hulle albei daarvan bewus was dat hulle God se wet verbreek het. Deur die verbode vrug te eet, het hulle hulle rug op God se goedheid gekeer.
Gevolglik het God gesê dat kinders met groter pyn gebaar sou word. Eva sou ’n sterk begeerte na haar man hê, en hy sou oor haar heers. Haar poging om onafhanklikheid te verkry, het dus presies die teenoorgestelde tot gevolg gehad. Adam sou nou die opbrengs van die land met moeite eet. In plaas van sy honger te stil sonder om te swoeg in Eden, sou hy moes sukkel om ’n bestaan te maak, totdat hy na die stof sou terugkeer waaruit hy gemaak is.—Genesis 3:16-19.
Ten laaste is Adam en Eva uit die tuin van Eden gesit. Jehovah het gesê: “Kyk, die mens het soos een van ons geword deur goed en kwaad te ken, en nou, sodat hy nie sy hand uitsteek en werklik ook vrugte van die boom van die lewe neem en eet en tot onbepaalde tyd lewe nie . . . ” “Die sin eindig in die lug”, sê die geleerde Gordon Wenham, en ons moet die res van God se gedagte invul—vermoedelik: “Laat ek hulle uit die tuin verdryf.” Gewoonlik gee ’n Bybelskrywer God se volledige gedagte. Maar hier, sê Wenham voorts, “dui die weglating van die slot die spoed van God se optrede aan. Hy het skaars klaar gepraat toe hy hulle uit die tuin gestuur het” (Genesis 3:22, 23, NW). Toe het alle kommunikasie tussen Jehovah en die eerste mensepaar klaarblyklik tot ’n einde gekom.
Adam en Eva het nie fisies gesterf gedurende daardie dag van 24 uur nie. Maar hulle het in geestelike sin gesterf. Hulle vervreemding van die Bron van lewe was onherstelbaar, en hulle het begin agteruitgaan totdat hulle gesterf het. Stel jou voor hoe pynlik hulle eerste ondervinding met die dood moes gewees het toe hulle tweede seun, Abel, deur Kain, hulle eersgeborene, vermoor is!—Genesis 4:1-16.
Hierna is daar betreklik min inligting oor die eerste mensepaar. Hulle derde seun, Set, is gebore toe Adam 130 jaar oud was. Adam het 800 jaar later, op die ouderdom van 930, gesterf nadat hy die vader van “seuns en dogters” geword het.—Genesis 4:25; 5:3-5.
’n Les vir ons
Die verslag van die eerste egpaar openbaar nie net die rede vir die verdorwe toestand van vandag se mensegemeenskap nie, maar dit leer ons ook ’n baie belangrike les. Enige poging om onafhanklik van Jehovah God te wees, is volslae dwaasheid. Diegene wat waarlik verstandig is, beoefen geloof in Jehovah en sy Woord, nie in hulle sogenaamd toereikende kennis nie. Jehovah bepaal wat goed en sleg is, en om te doen wat reg is, behels basies om gehoorsaam aan hom te wees. Om te sondig, beteken om sy wette te skend en sy beginsels te ignoreer.
God het nog altyd alles aangebied wat die mensdom hoegenaamd kan begeer—die ewige lewe, vryheid, bevrediging, geluk, gesondheid, vrede, voorspoed en die ontdekking van nuwe dinge. Maar as ons dit alles wil geniet, moet ons ons algehele afhanklikheid van ons hemelse Vader, Jehovah, erken.—Prediker 3:10-13; Jesaja 55:6-13.
[Venster/Prent op bladsy 26]
Adam en Eva—BLOOT ’N MITE?
Die eertydse Babiloniërs, Assiriërs, Egiptenaars en ander het oor die algemeen geglo dat daar ’n oorspronklike paradys was wat weens sonde verlore gegaan het. Baie van die verhale praat van ’n boom van die lewe waarvan die vrugte ewige lewe kon gee aan diegene wat daarvan eet. Die mensdom onthou dus dat iets tragies in Eden plaasgevind het.
Vandag verwerp baie die Bybelverslag van Adam en Eva as blote mite. En tog erken die meeste wetenskaplikes dat die menseras ’n enkele familie met ’n gemeenskaplike oorsprong is. Baie teoloë vind dit onmoontlik om te ontken dat die mensdom die gevolge geërf het van ’n eerste sonde wat deur ’n gemeenskaplike voorouer gepleeg is. As hulle sou glo dat die mens meer as een oorsprong het, sou dit hulle noodsaak om te sê dat ’n eerste sonde deur etlike voorvaders gepleeg is. Dit sou hulle dan dwing om te ontken dat Christus, “die laaste Adam”, die mensdom losgekoop het. Maar Jesus en sy dissipels het nie voor so ’n dilemma te staan gekom nie. Hulle het erken dat die Genesisverslag op feite berus.—1 Korintiërs 15:22, 45; Genesis 1:27; 2:24; Matteus 19:4, 5; Romeine 5:12-19.