Die aarde het ’n “koors”—Kan dit genees word?
DIE simptome is sigbaar—die temperatuur styg. ’n Goeie voorbeeld is die subarktiese dorpie Newtok, in Alaska. Die eens bevrore ondergrond, oftewel ysgrond, waarop Newtok gebou is, is besig om te smelt. “Ek wil nie [langer] op ysgrond woon nie”, het ’n inwoner met die naam Frank gekla. “Dis te modderig.” Volgens studies kan hierdie kusdorpie binne tien jaar weggespoel wees.
Die “verwarming van die klimaatstelsel is onbetwisbaar”, is die slotsom waartoe die Interregeringspaneel oor Klimaatsverandering (IPCC) gekom het. Stygende temperature regoor die aarde bevestig hierdie feit. Die verskynsel wat wetenskaplikes klimaatsverandering noem, veroorsaak wêreldwyd uiterste weerstoestande, onder meer droogtes, swaar neerslae, hittegolwe en orkane. Wat sal van ons planeet word? Kan dit genees word?
Diagnose van die aarde
Soos ’n pasiënt in ’n hospitaal, word die aarde se toestand noukeurig deur klimaatswetenskaplikes gemonitor. Satelliete monitor die krimping van gletsers, weerstasies hou rekord van die reënval, weerboeie meet diepsee-temperature, lugvaartuie monitor die vlakke van atmosferiese gasse. Hierdie ontsaglike hoeveelheid klimaatsgegewens word in superrekenaars ingevoer. Simulasies van die klimaatstelsel word gebruik om te voorspel wat oor die volgende dekades, selfs eeue, sal gebeur.
Die diagnose? Party glo dat die atmosfeer met kweekhuisgasse oorlaai is. In 2006 alleen het die wêreld “byna ’n verbysterende 32 miljard ton” koolstofdioksied vrygestel, sê die tydskrif Time. Soos die glaspanele van ’n kweekhuis, vang sulke gasse die aarde se hitte vas sodat dit nie in die ruimte kan ontsnap nie, wat dan tot aardverwarming bydra. Wat hou die toekoms in? As gasse steeds teen die huidige vlakke vrygestel word, sê die IPCC, sal dit “baie veranderinge in die aarde se klimaatstelsel” tot gevolg hê, wat heel waarskynlik erger sal wees as wat reeds ondervind word. Baie is dit nou eens dat die oplossing daarin lê om die vrystelling van koolstofdioksied te verminder. Maar al sou die vrystelling van hierdie gasse op die een of ander manier gestabiliseer word, toon rekenaarsimulasies dat die “verwarming en [gevolglike] styging in seevlakke eeue lank kan voortduur”.
Waar antwoorde gevind kan word
Klimatologie is ongetwyfeld ’n ingewikkelde wetenskap. “Wat sal byvoorbeeld met wolke gebeur namate die aarde warmer word? Sal hoë, hitteabsorberende wolke wat verdere verwarming sal veroorsaak, meer dikwels voorkom as digte wolke wat sonlig keer?” vra Earth Observatory, ’n aanlynpublikasie. Die antwoord? “Tans kan wetenskaplikes hierdie vrae nie beantwoord nie.”
Aan die ander kant bevestig die Bybel dat Jehovah God die “Voortbringer van hemel en aarde” is, insluitende “die wolkmassas daar bo” (Genesis 14:19; Spreuke 8:28). Hy het homself in digterlike taal beskryf as die Een wat “wysheid in die wolklae” gelê het. Ja, Jehovah verstaan ten volle wat wetenskaplikes nie kan verstaan nie.—Job 38:36.
Let op wat God aangaande die aarde se atmosfeer gesê het, soos ongeveer 2 700 jaar gelede in die Bybel opgeteken, naamlik dat “die stortreën . . . uit die hemel neerdaal en nie daarheen terugkeer nie, tensy dit die aarde deurweek” (Jesaja 55:10). Hoe bondig beskryf dit die waterkringloop tog! Waterdamp in die wolke kondenseer en val as reën, wat “die aarde deurweek”. Sonverhitting laat vog verdamp en “daarheen terugkeer”, dit wil sê na die atmosfeer, om die kringloop weer te begin. Jehovah se Woord het eeue voor nie-Bybelse geskrifte verbasende besonderhede aangaande die aarde se klimaatstelsel geopenbaar. Bou dit nie jou vertroue op in die Skepper en in wat hy kan doen nie? Wanneer ons probeer uitvind wat die uiteinde van die huidige klimaatkrisis sal wees, sou dit nie redelik wees om ons te wend tot “die Skepper van die wind”, die “vader vir die reën”, die Een wat weet hoe hierdie planeet werk nie?—Amos 4:13; Job 38:28.
Die aarde is geskep met ’n doel
Hoewel menings oor ons planeet se toekoms verskil, is een ding seker: Die aarde is uniek. In teenstelling met ander planete onderhou dit ’n verstommende verskeidenheid van lewe. Wat maak dit moontlik? Wetenskaplikes wys op verskillende faktore. In die besonder: Die aarde het ’n oorvloed vloeibare water; dit is die regte afstand van die son af; en dit het die regte mengsel van atmosferiese gasse, insluitende groot hoeveelhede suurstof.
Jy sal dalk verbaas wees om uit te vind dat die Bybelboek Genesis in die skeppingsverslag na hierdie einste kenmerke verwys. Byvoorbeeld, Genesis 1:10 sê dat God ‘die waters wat hy Seë genoem het’, versamel het—’n duidelike verwysing na ’n oorvloed vloeibare water. In Genesis 1:3 lees ons: “Toe het God gesê: ‘Laat daar lig wees.’” Ons planeet is naby genoeg aan die son sodat die meeste van sy water vloeibaar bly, maar nie so naby aan die son dat al die water sal verdamp en in die ruimte sal ontsnap nie.
Genesis 1:6 sê dat God die “uitspansel”, of atmosfeer, voortgebring het. Dan vertel verse 11 en 12 dat God gras, plante en bome laat verskyn het. Dit alles is ’n bewys van die bestaan van suurstof, wat dit later vir mense en diere moontlik sou maak om deur asemhaling aan die lewe te bly.
Tot watter gevolgtrekking kan ons dus kom? Toe God die aarde geskep het—met ’n oorvloed vloeibare water, op presies die regte afstand van die son af en met die regte mengsel van gasse—moes hy sekerlik ’n rede, ’n doel, daarvoor gehad het. Die Bybel sê vir ons dat God die aarde “nie verniet geskep het nie, [maar] dit gevorm het om bewoon te word” (Jesaja 45:18). “Wat die hemel betref, aan Jehovah behoort die hemel”, sê Psalm 115:16, “maar die aarde het hy aan die mensekinders gegee.” Ja, die aarde is geskep om deur mense bewoon te word.
Volgens die Skrif het God die eerste mensepaar geskep en hulle in die tuin van Eden, ’n pragtige paradys, geplaas. Hulle moes ‘dit bewerk en daarvoor sorg’ (Genesis 2:15). God het ook vir hulle gesê: “Wees vrugbaar en word baie en vul die aarde en onderwerp dit” (Genesis 1:28). Dink net aan die wonderlike vooruitsig wat hulle gehad het! Hulle moes die Paradys oor die hele aarde uitbrei en vir ewig daarin woon. Wat ’n wonderlike toekoms!
Ongelukkig het die eerste mensepaar God nie gehoorsaam nie, maar eerder ’n weg van uitdagende onafhanklikheid ingeslaan, ’n weg wat die meeste mense vandag nog volg (Genesis 3:1-6). Die resultaat? In plaas van die aarde te bewerk en daarvoor te sorg, is die mens besig om die “aarde te verderf” op ’n skaal wat mense hulle nooit sou kon voorstel nie (Openbaring 11:18). Nogtans kan ons vertroosting put uit die feit dat God se voorneme vir die aarde nie verander het nie. Die Bybel verseker ons: “[God] het die aarde op sy vaste plekke gegrondves; tot onbepaalde tyd of tot in ewigheid sal niks dit laat wankel nie” (Psalm 104:5). En Jesus het in die Bergpredikasie belowe: “Gelukkig is die saggeaardes, want hulle sal die aarde beërf” (Matteus 5:5). Hoe sal dit verwesenlik word?
’n Blink toekoms lê voor
“Klimaatsverandering is ’n wêreldwye probleem”, het ’n voormalige Amerikaanse president gesê. Sal jy dan nie saamstem dat ’n wêreldwye oplossing nodig is nie? Jesus Christus het op hierdie oplossing gewys—God se Koninkryk. Hy het sy volgelinge leer bid: “Laat u koninkryk kom” (Matteus 6:9, 10). Volgens Bybelprofesieë is hierdie hemelse Koninkryk ’n regering wat oor die hele aarde sal heers, en dit sal binnekort “al hierdie koninkryke [hedendaagse regerings] verbrysel en daar ’n einde aan maak” (Daniël 2:44). Wat meer is, dit sal “die verderwers van die aarde . . . verderf” (Openbaring 11:18). Dit is duidelik dat dié wat die aarde misbruik en sy hulpbronne verkwis, aanspreeklik gehou en vernietig sal word.
Maar wat sal van ons besoedelde planeet word? Dit is opmerkenswaardig dat Jesus, toe hy op die aarde was, wonderdadige mag oor natuurkragte soos die wind en die see uitgeoefen het. Met net ’n paar woorde het hy ’n hewige storm laat bedaar (Markus 4:35-41). As die “Here van die here en Koning van die konings” wat in die hemel regeer, sal Jesus selfs groter gesag oor die aarde en die natuurkragte uitoefen (Openbaring 17:14). Trouens, Jesus het sy heerskappy as die “herskepping” beskryf (Matteus 19:28). ’n Ander vertaling gebruik die uitdrukking “die hernuwing van alles” (New International Version). Jesus sal toestande op die aarde herskep, of hernieu, en dit soortgelyk maak aan dié wat in die tuin van Eden geheers het. Die Paradys sal herstel wees (Lukas 23:43). Die aarde sal van sy “koors” genees wees—deur middel van God se Koninkryk.
Jy kan nou al baat vind by die Koninkryksheerskappy. Hoe? Jesus het voorspel: “Hierdie goeie nuus van die koninkryk sal in die hele bewoonde aarde verkondig word as ’n getuienis vir al die nasies” (Matteus 24:14). Gevolglik reageer miljoene gunstig op die goeie nuus. Lewens word verander. Dodelike verslawings word oorkom. Gesinslewe verbeter. Rassehaat word met liefde vervang. Trouens, God se Koninkryk doen nou wat geen menseregering kan nie. Dit het amper sewemiljoen mense in meer as 235 lande in ’n waarlik internasionale broederskap verenig! Ja, as onderdane van God se Koninkryk word hulle voorberei vir ewige lewe in die Paradys op hierdie planeet.
Die aarde se toekoms is seker. Mag dit ook die geval wees met jou toekoms!
[Prent op bladsy 27]
Die Bybel het die aarde se waterkringloop eeue voor nie-Bybelse geskrifte beskryf
[Prent op bladsy 28]
Jesus het “die wind bestraf en vir die see gesê: ‘Bedaar! Wees stil!’ En die wind het gaan lê, en daar het ’n groot kalmte gekom”
[Prent op bladsy 29]
Wanneer die Paradys herstel is, sal die aarde van sy “koors” genees wees
[Foto-erkenning op bladsy 26]
Godo-Foto