Ons unieke sonnestelsel—Hoe dit ontstaan het
’N KOMBINASIE van baie faktore maak ons deel van die heelal uniek. Ons sonnestelsel is tussen twee spiraalarms van die Melkweg geleë, in ’n gebied met betreklik min sterre. Byna al die sterre wat ons snags kan sien, is so ver van ons af dat hulle net ligkolletjies bly al kyk ons deur die grootste teleskope na hulle. Is dit hoe dit moet wees?
As ons sonnestelsel naby die middelpunt van die Melkweg was, sou ons die skadelike gevolge daarvan ervaar het om in ’n digte konsentrasie van sterre geleë te wees. Byvoorbeeld, dit sou waarskynlik die Aarde se wentelbaan versteur het, wat ’n geweldige uitwerking op menselewe sou gehad het. Maar die sonnestelsel is blykbaar in net die regte posisie in die sterrestelsel om hierdie en ander gevare te vermy, soos oorverhitting wanneer daar deur gaswolke beweeg word en blootstelling aan ontploffende sterre en ander bronne van dodelike straling.
Die son is ’n ideale soort ster vir ons behoeftes. Dit het ’n bestendige verbrandingstempo en ’n lang leeftyd en is nie te groot of te warm nie. Die oorgrote meerderheid sterre in ons sterrestelsel is baie kleiner as ons son en voorsien nie die regte soort lig of die regte hoeveelheid hitte om lewe op ’n planeet soos die Aarde te onderhou nie. Daarbenewens word die meeste sterre deur swaartekrag met een of meer sterre in ’n groep saamgebind en wentel hulle om mekaar. Ons son daarenteen is onafhanklik. Dit is onwaarskynlik dat ons sonnestelsel stabiel sou gebly het as ons blootgestel was aan die aantrekkingskrag van twee of meer sonne.
Nog ’n faktor wat ons sonnestelsel uniek maak, is die posisie van die reusebuiteplanete waarvan die wentelbane byna sirkelvormig is en die aantrekkingskrag nie ’n gevaar inhou vir die binneste aardplanete nie.a Die buiteplanete vervul eerder ’n beskermende funksie deur gevaarlike voorwerpe te absorbeer of weg te keer. “Asteroïede en komete tref ons wel, maar nie ’n uitermatige aantal nie, danksy die teenwoordigheid van reusegasplanete soos Jupiter”, verduidelik die wetenskaplikes Peter D. Ward en Donald Brownlee in hulle boek Rare Earth—Why Complex Life Is Uncommon in the Universe. Ander sonnestelsels met reuseplanete is al ontdek. Maar die meeste van hierdie reuse het wentelbane wat gevaarlik sou wees vir ’n kleiner planeet soos die aarde.
Die rol van die maan
Van die vroegste tye af het ons maan die mensdom met wonder vervul. Dit het digters en musikante geïnspireer. ’n Eertydse Hebreeuse digter sê byvoorbeeld dat die maan “tot onbepaalde tyd stewig gevestig [sal] wees” en dat dit “soos ’n getroue getuie in die hemelruim” is.—Psalm 89:37.
Een belangrike manier waarop die maan lewe op die aarde raak, is dat sy aantrekkingskrag die eb en vloed van die getye veroorsaak. Die beweging van die getye is vermoedelik van fundamentele belang vir die seestrome, wat weer noodsaaklik is vir ons weerpatrone.
Nog ’n belangrike doel wat ons maan dien, is dat sy aantrekkingskrag die aardas stabiliseer in die aarde se wentelbaan om die son. As dit nie vir die maan was nie, sou die helling van die aardas oor lang tydperke tussen “byna 0 [grade] tot 85 [grade] gewissel het”, sê die wetenskaptydskrif Nature. Stel jou voor wat sou gebeur het as die aardas regop was! Ons sou nie die aangename seisoensveranderinge gehad het nie en sou te min reën gekry het. Die aarde se helling verhoed ook temperatuuruiterstes, wat lewe onmoontlik sou maak. “Ons huidige stabiele klimaat is te danke aan iets uitsonderliks: die teenwoordigheid van die Maan”, sê die sterrekundige Jacques Laskar. Om hierdie stabiliserende rol te vervul, is ons maan groot—in relatiewe sin groter as die mane van die reuseplanete.
Nog ’n funksie van die aarde se natuurlike satelliet, soos gemeld deur die skrywer van die eertydse Bybelboek Genesis, is dat die maan snags as ’n lig dien.—Genesis 1:16.
Blote toeval of doelbewuste ontwerp?
Hoe verklaar ’n mens die feit dat veelvoudige faktore saamval om die lewe op die aarde nie net moontlik te maak nie, maar ook genotvol? Daar is klaarblyklik net twee moontlikhede. Die eerste is dat al hierdie werklikhede die terloopse gevolg is van blote toeval. Die tweede is dat dit die een of ander intelligente doel het.
Duisende jare gelede het die Heilige Skrif gesê dat ons heelal ontwerp en gevorm is deur ’n Skepper—God die Almagtige. As dit waar is, beteken dit dat die toestande wat in ons sonnestelsel bestaan, nie die gevolg is van toeval nie, maar van doelbewuste ontwerp. Die Skepper het ons as ’t ware ’n verslag gegee van die stappe wat hy geneem het om lewe op die aarde moontlik te maak. Hoewel hierdie verslag ongeveer 3 500 jaar oud is, sal dit jou dalk verbaas om te weet dat die beskrywing wat dit gee van die gebeurtenisse in die geskiedenis van die heelal, basies ooreenstem met wat volgens die wetenskaplikes moes gebeur het. Hierdie verslag word gevind in die Bybelboek Genesis. Kyk na wat dit sê.
Die Genesisverslag van die skepping
“In die begin het God die hemel en die aarde geskep” (Genesis 1:1). Die Bybel se inleidende woorde verwys na die skepping van ons sonnestelsel, insluitende ons planeet, sowel as na die skepping van die sterre in die miljarde sterrestelsels wat ons heelal uitmaak. Volgens die Bybel was die aarde se oppervlak voorheen “vormloos en woes”. Daar was geen vastelande en geen vrugbare grond nie. Maar die volgende woorde vestig die aandag op wat volgens wetenskaplikes die belangrikste vereiste is vir ’n lewensonderhoudende planeet—’n oorvloed water. God se gees het “heen en weer oor die oppervlak van die waters beweeg”.—Genesis 1:2.
As oppervlakwater vloeibaar moet bly, moet ’n planeet die regte afstand van sy son af wees. “Mars is te koud, Venus is te warm, die Aarde is net reg”, verduidelik die planeetwetenskaplike Andrew Ingersoll. Daar moet eweneens genoeg lig wees sodat plante kan groei. En interessant genoeg, die Bybelverslag meld dat God gedurende ’n vroeë skeppingstydperk die son se lig laat deurdring het deur donker wolke van waterdamp wat die oseaan bedek het soos ’n “windsel” om ’n baba.—Job 38:4, 9; Genesis 1:3-5.
In die volgende verse van Genesis lees ons dat die Skepper gemaak het wat die Bybel “’n uitspansel” noem (Genesis 1:6-8). Hierdie uitspansel is vol gasse wat die aarde se atmosfeer uitmaak.
Die Bybel verduidelik dan dat God die vormlose oppervlak van die aarde verander het om droë grond te maak (Genesis 1:9, 10). Hy het klaarblyklik die aarde se kors laat buig en beweeg. Dit het moontlik tot gevolg gehad dat diep trôe vorm en vastelande uit die oseaan oprys.—Psalm 104:6-8.
Op die een of ander onbekende tyd in die aarde se verlede het God mikroskopiese alge in die oseane geskep. Deur energie van die son te gebruik, het hierdie selfvoortplantende eensellige organismes koolstofdioksied in voedsel begin omsit terwyl hulle suurstof in die atmosfeer vrygestel het. Hierdie wonderlike proses is tydens ’n derde skeppingstydperk bespoedig deur die skepping van plante wat uiteindelik die grond bedek het. Die hoeveelheid suurstof in die atmosfeer het dus toegeneem, wat dit vir mense en diere moontlik sou maak om deur asemhaling aan die lewe te bly.—Genesis 1:11, 12.
Om die grond vrugbaar te maak, het die Skepper ’n verskeidenheid organismes daarin laat lewe (Jeremia 51:15). Hierdie klein diertjies breek dooie materie af en voorsien sodoende elemente wat plante gebruik om te groei. Spesiale soorte grondbakterieë neem stikstof uit die lug en stel hierdie noodsaaklike element aan plante beskikbaar sodat hulle kan groei. Verbasend genoeg, ’n gemiddelde hand vol vrugbare grond kan tot sesmiljard mikro-organismes bevat!
Genesis 1:14-19 beskryf hoe die son, maan en sterre tydens ’n vierde skeppingstydperk gevorm is. Op die oog af lyk dit dalk na ’n weerspreking van die voorgaande skriftuurlike verduideliking. Maar hou in gedagte dat Moses, die skrywer van Genesis, die skeppingsverslag geskryf het uit die oogpunt van ’n waarnemer op aarde, as een teenwoordig sou gewees het. Die son, maan en sterre het blykbaar op daardie stadium deur die aarde se atmosfeer sigbaar geword.
Volgens die Genesisverslag het seediere tydens ’n vyfde skeppingstydperk verskyn en landdiere en die mens tydens ’n sesde skeppingstydperk.—Genesis 1:20-31.
Die aarde is gemaak om geniet te word
Lyk dit nie vir jou asof lewe op die aarde, wat ontstaan het soos dit in die Genesisverslag beskryf word, bedoel is om genotvol te wees nie? Het jy al ooit op ’n sonnige dag wakker geword, die vars lug ingeasem en bly gevoel dat jy lewe? Dalk het jy in ’n tuin gaan stap en die prag en geur van die blomme geniet. Of dalk het jy in ’n boord gestap en van die heerlike vrugte gepluk. Hierdie vreugdes sou onmoontlik gewees het as dit nie vir die volgende was nie: (1) die aarde se oorvloedige water, (2) die regte hoeveelheid hitte en lig van die son, (3) ons atmosfeer, met die regte mengsel van gasse en (4) vrugbare grond.
Al hierdie dinge—wat nie op Mars, Venus en die ander planete in ons sonnestelsel gevind word nie—is nie die gevolg van blinde toeval nie. Dit is fyn ingestel om lewe op die aarde genotvol te maak. Soos die volgende artikel sal toon, sê die Bybel ook dat die Skepper ons pragtige planeet ontwerp het om vir ewig te bly staan.
[Voetnoot]
a Die vier binneplanete van ons sonnestelsel—Mercurius, Venus, Aarde en Mars—word aardplanete genoem omdat hulle rotsagtige oppervlakke het. Die reusebuiteplanete—Jupiter, Saturnus, Uranus en Neptunus—bestaan hoofsaaklik uit gas.
[Venster op bladsy 6]
“As ek as geoloog gevra sou word om ons heden- daagse idees omtrent die oorsprong van die aarde en die ontwikkeling van lewe daarop kortliks te verduidelik aan ’n een- voudige herdersvolk, soos die stamme tot wie die boek Genesis gerig is, sou ek nouliks beter kon doen as om baie van die bewoording van die eerste hoofstuk van Genesis taamlik noukeurig te volg.”—Die geoloog Wallace Pratt.
[Venster op bladsy 7]
OOK NET REG VIR STERREKUNDE
As die son êrens anders in ons sterrestelsel was, sou ons die sterre nie so goed kon gesien het nie. “Ons sonnestelsel”, verduidelik die boek The Privileged Planet, “is . . . ver van stowwerige, ligbesoedelde gebiede geleë, sodat ons nabygeleë sterre sowel as verafgeleë dele van die heelal oor die algemeen baie goed kan sien.”
Die maan se grootte en afstand van die aarde is ook net reg sodat die maan die son tydens ’n sonsverduistering kan bedek. Hierdie seldsame, ontsagwekkende gebeurtenisse maak dit vir sterrekundiges moontlik om die son te bestudeer. Dié studies het hulle in staat gestel om baie geheime te ontrafel oor hoe sterre skyn.
[Prent op bladsy 5]
Die maan se massa is groot genoeg om die helling van die aardas te stabiliseer
[Prente op bladsy 7]
Wat maak lewe op die aarde moontlik? Die oorvloedige water, regte hoeveelheid lig en hitte, atmosfeer en vrugbare grond
[Erkennings]
Aardbol: Based on NASA Photo; koring: Pictorial Archive (Near Eastern History) Est.