Jehovah vertroos ons in al ons verdrukking
“Die God van alle vertroosting . . . [vertroos] ons in al ons verdrukking.”—2 KOR. 1:3, 4.
1, 2. Hoe vertroos Jehovah ons as ons verdruk word, en waarvan verseker die Bybel ons?
’N JONG broer het die woorde in 1 Korintiërs 7:28 gelees: ‘Diegene wat trou, sal verdrukking in hulle vlees hê.’ Hy het ’n ouer broer wat getroud is, gevra: “Van watter ‘verdrukking’ praat die Bybel hier en as ek trou, wat kan ek daaromtrent doen?” Maar voordat hy die vraag beantwoord het, het hulle iets anders bespreek wat die apostel Paulus gesê het: ‘Die God van alle vertroosting vertroos ons in al ons verdrukking.’—2 Kor. 1:3, 4.
2 Jehovah is werklik ’n liefdevolle Vader en hy vertroos ons wanneer ons verdruk word. Miskien het jy al self God se ondersteuning en leiding ervaar wat hy in sy Woord voorsien. Net soos vir sy knegte in die verlede wil Jehovah die beste vir ons hê.—Lees Jeremia 29:11, 12.
3. Watter vrae sal ons bespreek?
3 Dit sal natuurlik baie help om verdrukking te verduur as ons weet wat die oorsaak van ons probleme en beproewinge is. En dit geld ook vir verdrukking in die huwelik of in die gesin. Watter dinge kan ‘verdrukking in die vlees’ veroorsaak? Watter voorbeelde uit die verlede en die hede kan ons vertroos? Dit sal ons help om verdrukking te verduur.
PROBLEME IN DIE HUWELIK
4, 5. Wat is party van die oorsake van ‘verdrukking in die vlees’?
4 Kom ons kyk wat God vroeg in die mensegeskiedenis gesê het: “Daarom sal ’n man sy vader en sy moeder verlaat, en hy sal sy vrou aankleef en hulle sal een vlees word” (Gen. 2:24). Dit is wat Jehovah gesê het toe hy die eerste huwelik ingestel het. Omdat ons onvolmaak is, kan ons probleme verwag wanneer ons trou en huis opsit (Rom. 3:23). Voor hulle troue is die vrou gehoorsaam aan haar ouers. Maar ná hulle troue is die man volgens die Bybel die hoof van die vrou (1 Kor. 11:3). Vir party pasgetroudes is dit dalk nie so maklik nie. Die man sukkel dalk om die leiding te gee en die vrou vind dit dalk moeilik om sy leiding te aanvaar. Daar kan ook onenigheid tussen die skoonouers en die pasgetroudes ontstaan wat vir hulle ’n verdrukking kan wees.
5 Daar kan ook nuwe bekommernisse wees as die vrou sê dat sy swanger is. Alhoewel hulle opgewonde is, is hulle ook bekommerd of alles goed sal afloop en of die baba gesond sal wees. En hulle uitgawes sal heelwat meer wees. Nadat die baba gebore is, sal daar nog aanpassings wees. Die ma moet baie tyd en aandag aan die baba gee en die man voel dalk dat hy afgeskeep word. Die pa het ook nuwe verantwoordelikhede om na te kom. Hy moet nou harder werk om goed na sy vrou en kind te kyk.
6-8. Watter verdrukking het kinderlose egpare wat baie graag kinders wil hê?
6 Party egpare ondervind ’n ander soort verdrukking. Hulle wil baie graag kinders hê, maar hulle kan nie. Die vrou ondervind miskien baie emosionele pyn en angs as sy nie swanger kan raak nie. Om te trou en kinders te hê waarborg natuurlik nie ’n sorgvrye lewe nie. Maar as ’n vrou nie kinders kan hê nie, is dit ook ’n ‘verdrukking in die vlees’ (Spr. 13:12). In Bybeltye was dit ’n skande om kinderloos te wees. Jakob se vrou Ragel was baie bedroef toe haar suster kinders gehad het (Gen. 30:1, 2). In lande waar groot gesinne algemeen is, is mense verbaas dat sendelinge kinderloos is. Al verduidelik die sendelinge die saak ook hoe mooi, sê die mense dikwels: “O, ons sal vir julle bid!”
7 Kom ons kyk na die voorbeeld van ’n suster in Engeland wat baie graag ’n baba wou hê, maar wat nie swanger kon raak nie. Toe sy in haar oorgangsjare was, het sy erken dat sy baie hartseer was. Sy het besef dat sy nie in hierdie stelsel kinders sou hê nie. Sy en haar man het toe besluit om ’n kind aan te neem. Sy het gesê: “Ek het ’n ruk lank nog steeds hartseer gevoel en getreur. Ek het geweet dat om ’n kind aan te neem nooit dieselfde sou wees as om my eie kind te hê nie.”
8 Die Bybel sê dat Christenvroue “veilig behoue bly deur kinders te baar” (1 Tim. 2:15). Dit beteken nie dat ’n vrou die ewige lewe sal beërf as sy kinders het nie. As ’n vrou haar kinders versorg en in haar huis werk, sal sy heel moontlik nie tyd hê om te skinder en haar met ander mense se sake te bemoei nie (1 Tim. 5:13). Maar dit beteken ook nie dat sy nie verdrukking in haar huwelik en in haar gesin sal hê nie.
9. Waarom is die dood van ’n huweliksmaat ’n baie moeilike toets?
9 Daar is een vorm van verdrukking waaraan getroude mense nie altyd dink nie. Die dood van ’n geliefde. Ja, die dood van ’n geliefde huweliksmaat is ’n baie moeilike toets. Dit is iets wat ’n huweliksmaat nie verwag nie. Christene glo vas aan die komende opstanding wat Jesus belowe het (Joh. 5:28, 29). Hoe help hierdie hoop die oorlewende huweliksmaat? Dit vertroos die huweliksmaat baie. Dit is nog ’n manier waarop ons liefdevolle Vader ons deur sy Woord vertroos en ondersteun. Kom ons kyk na ’n paar voorbeelde van God se knegte wat deur Jehovah vertroos is en hoe dit hulle gehelp het.
VERTROOSTING IN DIE VERDRUKKING
10. Hoe is Hanna vertroos? (Sien prent aan begin van artikel.)
10 Hanna, die geliefde vrou van Elkana, moes ook ’n beproewing verduur. Sy was kinderloos terwyl Elkana se ander vrou, Peninna, kinders gehad het. (Lees 1 Samuel 1:4-7.) Peninna het haar “jaar na jaar” getart. Dit het Hanna baie ontstel. Sy het Jehovah in gebed om hulp gevra. Sy het “lank voor Jehovah gebid”. Het sy gedink dat Jehovah haar gebed sou verhoor? Heel waarskynlik. Die Bybel sê: “Haar gesig het nie meer besorgdheid oor haar situasie getoon nie” (1 Sam. 1:12, 17, 18). Sy het vertrou dat Jehovah haar ’n kind sou gee of dat hy haar gebed op ’n ander manier sou verhoor.
11. Hoe kan gebed ons vertroos?
11 Ons sal beproewinge verduur so lank as wat ons onvolmaak is en in hierdie stelsel lewe wat onder Satan se beheer is (1 Joh. 5:19). Maar ons is baie bly om te weet dat Jehovah “die God van alle vertroosting” is! Gebed is een manier wat ons kan help om ons verdrukking en beproewing te verduur. Hanna het uit haar hart met Jehovah gepraat. Wanneer ons beproewing verduur, moet ons nie net ons probleme vir Jehovah noem nie. Ons moet hom ook uit die hart smeek en vir hom vertel hoe ons voel.—Fil. 4:6, 7.
12. Wat het Anna gehelp om nie haar vreugde te verloor nie?
12 Ons kan vertroos word al is ons baie bedroef omdat ons kinderloos is of omdat ons ’n geliefde aan die dood afgestaan het. Dink aan die profetes Anna wat in Jesus se dag gelewe het. Nadat sy slegs sewe jaar getroud was, is haar man oorlede. Die Bybel sê nie dat sy kinders gehad het nie. Wat het Anna nog steeds gedoen toe sy 84 jaar oud was? Lukas 2:37 sê: ‘Sy was nooit van die tempel afwesig nie en het nag en dag met vaste en smekinge heilige diens verrig.’ Ja, om Jehovah te dien, het Anna vertroos en vreugde verskaf.
13. Gee ’n voorbeeld van hoe ware vriende ons kan vertroos as ons gesin dit nie doen nie.
13 Ware vriende wat ons in die gemeente gemaak het, kan ons ook vertroos (Spr. 18:24). Paula vertel dat sy vyf jaar oud was toe haar ma die waarheid verlaat het. Paula was baie hartseer en dit was vir haar baie moeilik. Maar Ann, ’n pioniersuster in die gemeente, het haar aangemoedig en haar onder haar vlerk geneem. Paula sê: “Al was ons nie familie nie, het ek Ann se liefde en besorgdheid baie waardeer. Dit het my gehelp om aan te hou om Jehovah te dien.” Paula dien Jehovah getrou en is baie bly dat haar ma weer in die waarheid is en Jehovah saam met haar dien. Ann is ook baie bly dat sy Paula kon help om aan te hou om Jehovah te dien.
14. Watter seëninge ontvang dié wat ander vertroos?
14 As ons liefdevolle belangstelling in ander toon, help dit ons om van ons eie probleme te vergeet. Getroude en ongetroude susters geniet dit om as medewerkers van God die goeie nuus te verkondig. Hulle doen God se wil met die doel om hom te verheerlik. Baie sê dat velddiens vir hulle net die regte medisyne is. Ons toon dat ons in mense belangstel as ons die goeie nuus aan hulle verkondig. En wanneer ons goed doen aan ons broers en susters, wys ons dat ons baie lief is vir hulle (Fil. 2:4). Die apostel Paulus was ’n goeie voorbeeld vir ons. Hy het soos ’n “sogende moeder” vir die gemeente in Tessalonika geword. Hy was ook soos ’n geestelike vader.—Lees 1 Tessalonisense 2:7, 11, 12.
VERTROOSTING IN DIE FAMILIE
15. Wie is hoofsaaklik verantwoordelik om die kinders die waarheid te leer?
15 Kom ons kyk hoe ons gesinne kan help en vertroos. Soms vra nuwelinge in die gemeente ervare verkondigers om hulle te help om hulle kinders die waarheid te leer of dalk om met hulle ’n Bybelstudie te hou. Volgens die Bybel het ouers die verantwoordelikheid om hulle kinders te leer en op te lei (Spr. 23:22; Ef. 6:1-4). Partykeer het ouers ’n bietjie hulp nodig en hulle waardeer dit baie. Maar dit bly die ouers se verantwoordelikheid. Hulle moet gereeld met hulle kinders praat en na hulle luister.
16. Wat moet ons in gedagte hou wanneer ons kinders help?
16 As ’n ouer iemand vra om ’n Bybelstudie met sy kinders te hou, moet hy nie die rol van die ouers probeer oorneem nie. Partykeer vra ouers wat nie in die waarheid belangstel nie die Getuies om met hulle kinders te studeer. Die Getuie moet onthou dat hy nie die kind se ouer word net omdat hy die kind geestelik help nie. Dit sal goed wees om die studie by die kinders se huis te hou wanneer die ouers of ’n ander ervare Getuie daar is. Anders sal dit beter wees om die studie in ’n openbare plek te hou. Dan sal niemand die verkeerde indruk kry nie. Hopelik sal die ouers mettertyd hulle godgegewe verantwoordelik nakom en hulle kinders self geestelik opvoed.
17. Hoe kan kinders ’n bron van vertroosting word?
17 Kinders wat Jehovah liefhet en sy leiding volg, kan ’n bron van vertroosting vir hulle gesin wees. Hulle sal hulle ouers respekteer en hulle op praktiese maniere help. Hulle kan ook die gesin geestelik help. Voor die vloed het Lameg Jehovah aanbid. Hy het die volgende oor sy seun Noag gesê: “Hý sal vir ons vertroosting bring van ons werk en van die pyn van ons hande as gevolg van die grond wat Jehovah vervloek het.” Die profesie is vervul toe Jehovah die vloek oor die grond verwyder het (Gen. 5:29; 8:21). Kinders wat Jehovah aanbid, vertroos hulle familie en help hulle om beproewinge nou en in die toekoms te kan verduur.
18. Wat sal ons help om verdrukking en beproewinge te kan verduur?
18 Ons sal vertroos word as ons bid, oor Bybelvoorbeelde nadink en na aan ons broers en susters bly. (Lees Psalm 145:18, 19.) Ons weet ook dat Jehovah ons altyd sal vertroos en dit sal ons help om enige beproewing te kan verduur.