Ons moet geloof hê soos dié van Abraham!
“Dié wat aan geloof vashou[, is] seuns van Abraham.”—GALASIËRS 3:7.
1. Hoe het Abram ’n nuwe toets in Kanaän die hoof gebied?
ABRAM het in gehoorsaamheid aan Jehovah se bevel ’n gerieflike lewe in Ur prysgegee. Die ongeriewe wat hy in die jare daarna verduur het, was bloot ’n voorspel van die toets van geloof wat hy in Egipte deurgemaak het. Die Bybelverslag sê: “En daar was hongersnood in die land.” Hoe maklik sou dit tog vir Abram gewees het om verbitterd te voel oor sy situasie! Maar hy het eerder praktiese stappe geneem om vir sy gesin te sorg. “Abram [het] na Egipte afgetrek . . . om daar as vreemdeling te vertoef; want die hongersnood was swaar in die land.” Abram se groot huishouding sou beslis nie ongemerk in Egipte bly nie. Sou Jehovah sy beloftes gestand doen en Abram teen kwaad beskerm?—Genesis 12:10; Exodus 16:2, 3.
2, 3. (a) Waarom het Abram sy vrou se ware identiteit verberg? (b) Hoe het Abram sy vrou in hierdie situasie behandel?
2 Ons lees in Genesis 12:11-13 (NW): “Net toe hy op die punt staan om in Egipte in te gaan, het hy vir sy vrou Sarai gesê: ‘Kyk tog! Ek weet goed dat jy ’n vrou is wat pragtig in voorkoms is. Daarom sal dit sekerlik gebeur dat die Egiptenaars jou sal sien en sal sê: “Dit is sy vrou.” En hulle sal my beslis doodmaak, maar jou sal hulle laat lewe. Sê asseblief dat jy my suster is, sodat dit met my goed kan gaan om jou onthalwe, en my siel sal sekerlik weens jou lewe.’” Hoewel Sarai oor die 65 jaar oud was, was sy nog steeds besonder mooi. Dit het Abram se lewe in gevaar gestela (Genesis 12:4, 5; 17:17). Nog belangriker, Jehovah se belange was op die spel, want hy het gesê dat al die nasies van die aarde deur middel van Abram se saad geseën sou word (Genesis 12:2, 3, 7). Aangesien Abram nog steeds kinderloos was, was dit baie belangrik dat hy bly lewe.
3 Abram het met sy vrou gepraat oor ’n plan waarop hulle vroeër besluit het, naamlik om te sê dat sy Abram se suster is. Let op dat hy haar samewerking gevra het en nie sy posisie misbruik het nie, al het hy patriargale gesag gehad (Genesis 12:11-13, NW; 20:13). Abram het hier ’n goeie voorbeeld vir mans gestel om hulle hoofskap liefdevol uit te oefen, en Sarai se onderdanigheid aan haar man is ’n voorbeeld vir vrouens van vandag.—Efesiërs 5:23-28; Kolossense 4:6.
4. Wat staan getroue knegte van God vandag te doen wanneer hulle broers se lewe op die spel is?
4 Sarai kon sê dat sy Abram se suster was, want sy was in werklikheid sy halfsuster (Genesis 20:12). Daarbenewens was hy nie onder verpligting om inligting aan mense te gee wat nie daarop geregtig was nie (Matteus 7:6). Vandag gehoorsaam getroue knegte van God die Bybel se opdrag om eerlik te wees (Hebreërs 13:18). Hulle sal byvoorbeeld nooit onder eed in ’n geregshof leuens vertel nie. Maar wanneer die fisiese of geestelike lewe van hulle broers in gevaar is, soos in tye van vervolging of burgerlike onrus, slaan hulle ag op Jesus se raad om “versigtig [te wees] soos slange en tog onskuldig soos duiwe”.—Matteus 10:16; sien Die Wagtoring, 1 November 1996, bladsy 18, paragraaf 19.
5. Waarom was Sarai bereid om tot Abram se versoek in te stem?
5 Hoe het Sarai op Abram se versoek gereageer? Die apostel Petrus beskryf vroue soos sy as persone wat “op God gehoop het”. Sarai kon dus verstaan wat die geestelike implikasies was. Sy het buitendien haar man liefgehad en gerespekteer. Sarai het gevolglik besluit om ‘haar aan haar man te onderwerp’ en nie te sê dat sy getroud is nie (1 Petrus 3:5). Dit het haar natuurlik aan gevare blootgestel. “Toe Abram dan in Egipte gekom het, sien die Egiptenaars dat die vrou baie mooi was. Ook het die vorste van Farao haar gesien en haar by Farao geprys. En die vrou is na die paleis van Farao geneem.”—Genesis 12:14, 15.
Jehovah gee die uitkoms
6, 7. In watter angswekkende situasie het Abram en Sarai hulle bevind, en hoe het Jehovah Sarai verlos?
6 Hoe angswekkend moes dit tog vir Abram en Sarai gewees het! Dit het gelyk of Sarai onteer sou word. Daarbenewens het Farao, wat nie geweet het dat Sarai getroud was nie, Abram met geskenke oorlaai, sodat “hy kleinvee en beeste en esels, slawe en slavinne, eselinne en kamele in besit gekry het”b (Genesis 12:16). Hoe moes Abram tog nie daardie geskenke verag het nie! Hoewel die situasie hopeloos gelyk het, het Jehovah Abram nie verlaat nie.
7 Toe het “die HERE . . . Farao en sy huis met groot plae besoek ter wille van Sarai, die vrou van Abram” (Genesis 12:17). Op die een of ander onvermelde manier het die eintlike rede vir hierdie “plae” aan Farao bekend geword. Hy het onmiddellik gereageer: “Daarop het Farao Abram geroep en gesê: ‘Wat het jy my aangedoen? Waarom het jy my nie vertel dat sy jou vrou is nie? Waarom het jy gesê: “Sy is my suster”, sodat ek op die punt gestaan het om haar as my vrou te neem? Hier is jou vrou dan nou. Neem haar en gaan weg!’ En Farao het aan manne bevele uitgevaardig aangaande hom, en hulle het hom en sy vrou en alles wat hy gehad het, vergesel.”—Genesis 12:18-20, NW; Psalm 105:14, 15.
8. Watter soort beskerming belowe Jehovah aan Christene van vandag?
8 Vandag waarborg Jehovah ons nie beskerming teen die dood, misdaad, hongersnood of natuurrampe nie. Ons word wel belowe dat Jehovah ons altyd sal beskerm teen dinge wat ons geestelikheid in gevaar kan stel (Psalm 91:1-4). Hy doen dit hoofsaaklik deur ons tydige waarskuwings deur middel van sy Woord en “die getroue en verstandige slaaf” te gee (Matteus 24:45). Wat van tye van vervolging wanneer ons voor die dood te staan kom? Hoewel God sal toelaat dat individue sterf, sal hy nooit toelaat dat sy hele volk uitgewis word nie (Psalm 116:15). En as die dood ’n paar getroues eis, kan ons seker wees dat hulle opgewek sal word.—Johannes 5:28, 29.
Opofferinge ter wille van vrede
9. Wat toon dat Abram voortdurend in Kanaän rondgetrek het?
9 Toe die hongersnood in Kanaän blykbaar verby was, het “Abram . . . uit Egipte na die Suidland [die droë gebied suid van die berge van Juda] opgetrek, hy met sy vrou en sy hele besitting, en Lot saam met hom. En Abram was baie ryk aan vee, aan silwer en goud” (Genesis 13:1, 2). Die plaaslike inwoners sou hom dus as ’n groot en invloedryke man, ’n magtige vors sien (Genesis 23:6). Abram het geen begeerte gehad om hom te vestig en by die Kanaänitiese politiek betrokke te raak nie. Hy het eerder “van plek tot plek uit die Suidland getrek tot by Bet-el, na die plek waar sy tent in die begin gestaan het, tussen Bet-el en Ai”. Waar Abram ook al gegaan het, het hy soos altyd Jehovah se aanbidding eerste gestel.—Genesis 13:3, 4.
10. Watter probleem het tussen die veewagters van Abram en Lot ontstaan, en waarom was dit belangrik dat dit gou opgelos moes word?
10 “En Lot, wat saam met Abram getrek het, het ook kleinvee en beeste en tente gehad. En die land kon hulle nie dra om saam te woon nie, want hulle besittings was groot, sodat hulle nie saam kon woon nie. En daar het twis ontstaan tussen die veewagters van Abram en die veewagters van Lot. Ook het die Kanaäniete en Feresiete destyds in die land gewoon” (Genesis 13:5-7). Daar was nie genoeg water en weiding in die gebied vir Abram en Lot se kuddes nie. Spanning en kwade gevoelens het dus tussen die veewagters ontstaan. Dit was nie reg dat aanbidders van die ware God so onder mekaar stry nie. As die rusie sou voortduur, kon dit ’n permanente breuk veroorsaak. Hoe sou Abram dus hierdie situasie hanteer? Hy het Lot ná die dood van Lot se vader aangeneem en hom moontlik as sy eie seun grootgemaak. Was Abram, as die oudste van die twee, nie daarop geregtig om die beste vir homself te neem nie?
11, 12. Watter groothartige aanbod het Abram aan Lot gemaak, en waarom was Lot se keuse onverstandig?
11 Maar “Abram [sê] vir Lot: Laat daar tog geen twis wees tussen my en jou, en tussen my wagters en jou wagters nie; ons is mos broers. Lê die hele land nie voor jou oop nie? Skei jou tog van my af; gaan jy links, dan sal ek regs gaan, en gaan jy regs, dan sal ek links gaan.” Naby Bet-el is daar ’n plek wat al “een van die beste uitkykpunte oor Palestina” genoem is. Lot het moontlik van daar af ‘sy oë opgeslaan en gesien dat die hele Jordaanstreek oral volop water het; voordat die HERE Sodom en Gomorra verwoes het, was dit in die rigting van Soar soos die tuin van die HERE, soos Egipteland’.—Genesis 13:8-10.
12 Hoewel die Bybel Lot as ’n “regverdige” man beskryf, het hy om die een of ander rede nie vir Abram die eerste keuse gegee nie, en dit lyk ook nie of hy die ouer man se raad gevra het nie (2 Petrus 2:7). “Lot het vir hom die hele Jordaanstreek gekies, en Lot het na die ooste weggetrek. So het hulle dan die een van die ander geskei. Abram het bly woon in die land Kanaän, en Lot het gaan woon in die stede van die Jordaanstreek en sy tente tot by Sodom opgeslaan” (Genesis 13:11, 12). Sodom was ’n welvarende stad en het baie materiële voordele gebied (Esegiël 16:49, 50). Hoewel Lot uit ’n materiële oogpunt skynbaar ’n verstandige keuse gemaak het, was dit uit ’n geestelike oogpunt ’n slegte keuse. Waarom? Want “die manne van Sodom was sleg en groot sondaars voor die HERE”, sê Genesis 13:13. Lot se besluit om soontoe te trek, sou vir sy gesin uiteindelik groot hartseer veroorsaak.
13. Hoe kan Abram se voorbeeld Christene help wat by ’n finansiële geskil betrokke raak?
13 Maar Abram het geloof in Jehovah se belofte gestel dat sy saad uiteindelik die hele land sou besit; hy het nie gekibbel oor ’n klein deel daarvan nie. Hy het op groothartige wyse in ooreenstemming met die beginsel opgetree wat later in 1 Korintiërs 10:24 opgeteken is: “Laat elkeen aanhou om nie sy eie voordeel te soek nie, maar dié van die ander persoon.” Dit is ’n goeie herinnering vir diegene wat betrokke raak by ’n finansiële geskil met ’n medegelowige. In plaas van die raad in Matteus 18:15-17 te volg, het party hulle broers hof toe geneem (1 Korintiërs 6:1, 7). Abram se voorbeeld toon dat dit beter is om ’n finansiële verlies te ly as om oneer op Jehovah se naam te bring of om die vrede van die Christengemeente te versteur.—Jakobus 3:18.
14. Hoe sou Abram vir sy groothartigheid geseën word?
14 Abram sou geseën word weens sy groothartigheid. God het gesê: “Ek sal jou nageslag maak soos die stof van die aarde, sodat as iemand die stof van die aarde kan tel, jou nageslag ook getel kan word.” Hoe bemoedigend moes hierdie woorde tog vir die kinderlose Abram gewees het! Daarna het God beveel: “Maak jou klaar, trek die land deur in sy lengte en sy breedte, want Ek sal dit aan jou gee” (Genesis 13:16, 17). Nee, Abram sou nie toegelaat word om hom in ’n stad te vestig en die geriewe daarvan te geniet nie. Hy moes afgeskeie van die Kanaäniete bly. Vandag moet Christene ook afgeskeie van die wêreld bly. Hulle dink nie dat hulle beter as ander is nie, maar hulle vermy noue omgang met enigeen wat hulle kan verlok om iets onskriftuurliks te doen.—1 Petrus 4:3, 4.
15. (a) Wat het Abram se reise moontlik vir hom beteken? (b) Watter voorbeeld het Abram vir hedendaagse Christengesinne gestel?
15 In Bybeltye het iemand wat ’n stuk land wou koop, die reg gehad om dit eers te inspekteer. Die feit dat Abram rondgetrek het, het moontlik dus as ’n voortdurende herinnering gedien dat daardie land eendag aan sy nageslag sou behoort. Abram was gehoorsaam en “het in tente bly woon. Later het hy gaan woon tussen die groot bome van Mamre, wat in Hebron is; en daar het hy ’n altaar vir Jehovah gebou” (Genesis 13:18, NW). Abram het weer eens getoon dat hy aanbidding as iets baie belangriks geag het. Beskou jou gesin gesinstudie, gesinsgebed en vergaderingbywoning as baie belangrik?
Die vyand val aan
16. (a) Waarom het die inleidende woorde van Genesis 14:1 ’n onheilspellende klank? (b) Waarom het die vier konings uit die ooste die land ingeval?
16 “En in die dae van Amrafel, die koning van Sinear, Ariog, die koning van Ellasar, Kedorlaomer, die koning van Elam,c en Tidal, die koning van Gojim, het hulle oorlog gevoer.” In die oorspronklike Hebreeus het die inleidingswoorde (“En in die dae van . . . ”) ’n onheilspellende klank wat wys “na ’n tydperk van beproewing wat met ’n seën eindig” (Genesis 14:1, 2, NW, voetnoot). Die beproewing het begin toe hierdie vier konings uit die ooste en hulle leërs hulle verwoestende inval in Kanaän gedoen het. Wat was hulle doel? Om die opstand van die vyf stede Sodom, Gomorra, Adma, Seboim en Bela te onderdruk. Hulle het alle weerstand verpletter en “almal hulle leërs verenig in die laagte Siddim, dit is die Soutsee”. Lot en sy gesin het daar naby gewoon.—Genesis 14:3-7.
17. Waarom was dit vir Abram ’n toets van geloof toe Lot gevange geneem is?
17 Die Kanaänitiese konings het sterk weerstand gebied teen die invallers, maar hulle het ’n verpletterende nederlaag gely. “Toe het die oorwinnaars al die goed van Sodom en Gomorra en al hulle voedsel geneem en weggegaan. Hulle het ook Lot, die seun van Abram se broer, en sy goed geneem en verder gegaan. Hy het toe in Sodom gewoon.” Nuus van hierdie tragiese gebeure het Abram kort daarna bereik: “Daarna het ’n man wat ontkom het vir Abram, die Hebreër, kom vertel. Hy was toe woonagtig tussen die groot bome van Mamre, die Amoriet, die broer van Eskol en die broer van Aner; en hulle was bondgenote van Abram. So het Abram te hore gekom dat sy broer gevange geneem is” (Genesis 14:8-14, NW). Wat ’n toets van geloof! Sou Abram ’n wrok teen sy neef koester omdat hy die beste deel van die land geneem het? Onthou ook dat hierdie invallers van sy geboorteland Sinear afkomstig was. As hy teen hulle sou optrek, sou hy nooit weer huis toe kon gaan nie. Wat kon Abram buitendien doen teen ’n leër wat nie deur die gesamentlike magte van Kanaän verslaan kon word nie?
18, 19. (a) Wat het Abram in staat gestel om Lot te red? (b) Wie het die eer vir sy oorwinning ontvang?
18 Abram het weer eens onwankelbare vertroue in Jehovah gestel. “Hy [het] sy geoefende manne wat in sy huis gebore is, laat uittrek, driehonderd-en-agttien, en hulle tot by Dan agtervolg—hy het hulle in die nag van verskillende kante aangeval, hy en sy dienaars, en hulle verslaan en hulle agtervolg tot by Hoba wat noord van Damaskus lê. En hy het al die goed teruggebring, en ook sy broer Lot en sy goed teruggebring; en ook die vroue en die manskappe” (Genesis 14:14-16). Met sterk geloof in Jehovah het Abram sy troepe teen ’n oorweldigende oormag tot oorwinning gelei en Lot en sy gesin gered. Abram het toe vir Melgisedek, die koning-priester van Salem, teëgekom. “Melgisedek, die koning van Salem, het brood en wyn uitgebring, en hy was priester van die Allerhoogste God. Toe het hy hom geseën en gesê: ‘Mag Abram geseën word deur die Allerhoogste God, Voortbringer van hemel en aarde; en mag die Allerhoogste God geloof word, wat u onderdrukkers in u hand oorgelewer het!’ Daarop het Abram hom ’n tiende van alles gegee.”—Genesis 14:18-20, NW.
19 Ja, Jehovah het die oorwinning gegee. Weens sy geloof is Abram weer eens deur Jehovah verlos. God se volk neem nie vandag aan vleeslike oorlogvoering deel nie, maar hulle kom wel voor baie toetse en uitdagings te staan. Ons volgende artikel sal toon hoe Abram se voorbeeld ons kan help om dit met welslae die hoof te bied.
[Voetnote]
a Volgens Insight on the Scriptures (uitgegee deur Jehovah se Getuies) “vertel ’n antieke papirus van ’n Farao wat gewapende manne beveel het om ’n aantreklike vrou te ontvoer en haar man dood te maak”. Abram se vrees was dus nie ongegrond nie.
b Hagar, wat later Abram se byvrou geword het, was dalk een van die slavinne wat by daardie geleentheid aan Abram gegee is.—Genesis 16:1.
c Kritici het vroeër beweer dat Elam nooit so ’n invloed in Sinear gehad het nie en dat die verslag van Kedorlaomer se aanval versin is. Sien Die Wagtoring, 1 Julie 1989, bladsye 4-7, vir ’n bespreking van die argeologiese bewyse wat die Bybelverslag staaf.
Het jy opgemerk?
• Hoe was die hongersnood in die land Kanaän ’n toets van geloof vir Abram?
• Hoe het Abram en Sarai ’n goeie voorbeeld vir mans en vrouens van vandag gestel?
• Watter lesse kan ons leer uit die manier waarop Abram die geskil tussen sy dienaars en dié van Lot hanteer het?
[Prent op bladsy 22]
Abram het nie op sy regte aangedring nie, maar het Lot se belange voor sy eie gestel
[Prent op bladsy 24]
Abram het vertroue in Jehovah gestel toe hy sy broerskind Lot gered het